Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Profesieë wat bewaarheid is

Profesieë wat bewaarheid is

Hoofstuk 9

Profesieë wat bewaarheid is

Mense kan nie die toekoms met enige sekerheid voorspel nie. Hulle pogings om voorspellings te maak, misluk telkens jammerlik. ’n Boek met profesieë wat wel bewaarheid is, moet dus ons aandag trek. Die Bybel is so ’n boek.

1. (Sluit die inleiding in.) Wat word bewys deur die feit dat die Bybel profesieë bevat wat bewaarheid is?

TALLE Bybelprofesieë is so haarfyn bewaarheid dat kritici beweer dat dit ná die vervulling geskryf is. Maar sulke bewerings is onwaar. Aangesien God almagtig is, is hy heeltemal in staat om te profeteer (Jesaja 41:21-26; 42:8, 9; 46:8-10). Bybelprofesieë wat bewaarheid is, is ’n bewys van goddelike inspirasie, nie ’n bewys dat dit later geskryf is nie. Ons sal nou ’n paar merkwaardige profesieë ondersoek wat bewaarheid is—bykomende bewys dat die Bybel God se woord is, nie maar net die mens s’n nie.

Die ballingskap in Babilon

2, 3. Wat het meegebring dat koning Hiskia gesante van Babilon al die skatte van sy huis en koninkryk gewys het?

2 Hiskia was ongeveer 30 jaar lank die koning in Jerusalem. In 740 v.G.J. het hy gesien hoe sy noordelike buurland Israel deur Assirië verwoes word. In 732 v.G.J. het hy God se reddingsmag ondervind, toe die Assiriese poging om Jerusalem te verower met rampspoedige gevolge vir die invaller misluk het.—Jesaja 37:33-38.

3 Nou ontvang Hiskia ’n afvaardiging van Merodag Baladan, die koning van Babilon. Die ambassadeurs is oënskynlik daar om Hiskia met sy herstel van ’n ernstige siekte geluk te wens. Maar Merodag Baladan beskou Hiskia waarskynlik as ’n moontlike bondgenoot teen die wêreldmoondheid Assirië. Hiskia verdryf glad nie daardie idee wanneer hy die besoekende Babiloniërs al die rykdom van sy huis en koninkryk wys nie. Dalk wil hy ook bondgenote hê ingeval die Assiriërs terugkeer.—Jesaja 39:1, 2.

4. Watter tragiese gevolg van Hiskia se fout het Jesaja voorspel?

4 Jesaja is op daardie tydstip die vernaamste profeet, en hy besef gou dat Hiskia onbesonne opgetree het. Hy weet dat Hiskia se beste verdediging Jehovah is, nie Babilon nie, en vertel hom dat sy daad—toe hy die Babiloniërs sy rykdom gewys het—tragiese gevolge sal hê. “Kyk, daar kom dae”, sê Jesaja, “dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders opgehoop het tot vandag toe, na Babel weggevoer sal word.” Jehovah het verorden: “Daar sal niks oorbly nie.”—Jesaja 39:5, 6.

5, 6. (a) Wat het Jeremia ter bevestiging van Jesaja se profesie gesê? (b) Hoe is die profesieë van Jesaja en Jeremia vervul?

5 Dalk het dit in die agtste eeu v.G.J. onwaarskynlik gelyk dat daardie profesie vervul sou word. Maar eenhonderd jaar later het die situasie verander. Babilon het Assirië as die heersende wêreldmoondheid vervang, terwyl Juda godsdienstig gesproke so versleg het dat God sy seën onttrek het. Toe is nog ’n profeet, Jeremia, geïnspireer om Jesaja se waarskuwing te herhaal. Jeremia het aangekondig: “Ek sal [die Babiloniërs] bring oor hierdie land en sy inwoners . . . En hierdie hele land sal ’n puinhoop, ’n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien.”—Jeremia 25:9, 11.

6 Sowat vier jaar nadat Jeremia daardie profesie uitgespreek het, het die Babiloniërs Juda ’n deel van hulle ryk gemaak. Drie jaar later het hulle etlike Joodse gevangenes en ’n deel van die rykdom van die tempel in Jerusalem na Babilon geneem. Agt jaar later het Juda in opstand gekom en is dit weer deur die Babiloniese koning, Nebukadnesar, binnegeval. Hierdie keer is die stad en sy tempel verwoes. Al sy rykdom, en die Jode self, is na vergeleë Babilon weggevoer, net soos Jesaja en Jeremia voorspel het.—2 Kronieke 36:6, 7, 12, 13, 17-21.

7. Hoe getuig argeologie van die vervulling van Jesaja en Jeremia se profesieë aangaande Jerusalem?

7 The Archaeological Encyclopedia of the Holy Land sê dat “die stad [Jerusalem] heeltemal verwoes was” na die Babiloniese aanval.1 Argeoloog W. F. Albright sê: “Opgrawings en bogrondse ondersoeke in Juda bewys dat die stede van Juda nie net deur die Chaldeërs in hulle twee veroweringstogte heeltemal verwoes is nie, maar dat hulle geslagte lank nie weer bewoon is nie—dikwels nooit weer in die geskiedenis nie.”2 Argeologie bevestig dus die skokkende vervulling van hierdie profesie.

Die lot van Tirus

8, 9. Watter profesie het Esegiël teen Tirus uitgespreek?

8 Esegiël was nog ’n eertydse skrywer wat goddelik geïnspireerde profesieë opgeteken het. Hy het van die einde van die sewende eeu v.G.J. tot in die sesde eeu geprofeteer—dit wil sê, gedurende die jare voor die vernietiging van Jerusalem en toe gedurende die eerste dekades van die Jode se ballingskap in Babilon. Selfs party hedendaagse kritici is dit eens dat die boek omstreeks hierdie tyd geskryf is.

9 Esegiël het ’n merkwaardige profesie opgeteken oor die vernietiging van Israel se noordelike buurgebied, Tirus, wat eers ’n vriend van God se volk was, maar toe ’n vyand geword het (1 Konings 5:1-9; Psalm 83:3-9). Hy het geskryf: “So sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Tirus! en Ek laat baie nasies teen jou optrek soos die see sy golwe laat optrek. Húlle sal die mure van Tirus verwoes en sy torings afbreek; ja, Ek sal sy puin van hom af wegvee en hom ’n kaal rots maak. . . . En hulle sal jou klippe en jou houte en jou puin in die water slinger.”—Esegiël 26:3, 4, 12.

10-12. Wanneer is Esegiël se profesie uiteindelik vervul, en hoe?

10 Het dit werklik gebeur? Wel, ’n paar jaar nadat Esegiël die profesie uitgespreek het, het die koning van Babilon, Nebukadnesar, Tirus beleër (Esegiël 29:17, 18). Maar dit was nie ’n maklike beleëring nie. ’n Deel van Tirus was op die vasteland geleë (die gedeelte wat Ou Tirus genoem is). Maar ’n deel van die stad was op ’n eiland ongeveer 800 meter van die kus af. Nebukadnesar het die eiland 13 jaar lank beleër voordat dit uiteindelik voor hom gebuig het.

11 Dit was egter in 332 v.G.J. dat Esegiël se profesie uiteindelik in die fynste besonderhede vervul is. Alexander die Grote, die veroweraar uit Macedonië, was toe besig om Asië binne te val. Tirus, veilig op sy eiland, het geweier om hom te laat onderwerp. Alexander wou nie ’n potensiële vyand agter hom laat nie, maar hy wou Tirus nie, soos Nebukadnesar, jare lank beleër nie.

12 Hoe het hy hierdie militêre probleem opgelos? Hy het ’n seehoof, of pier, na die eiland toe gebou, sodat sy soldate tot by die eilandstad kon optrek en dit kon aanval. Maar let op wat hy gebruik het om die pier te bou. The Encyclopedia Americana sê: “Met die puin van die deel van die stad op die vasteland het hy in 332 ’n groot pier gebou om die eiland met die vasteland te verbind.” Na ’n betreklik kort beleëring is die eilandstad verwoes. En Esegiël se profesie is in die fynste besonderhede vervul. Selfs die ‘klippe en houte en puin’ van Ou Tirus is ‘in die water geslinger’.

13. Hoe het ’n 19de-eeuse reisiger die terrein van eertydse Tirus beskryf?

13 ’n Negentiende-eeuse reisiger het kommentaar gelewer oor wat in sy tyd van eertydse Tirus oorgebly het en gesê: “Van die oorspronklike Tirus wat aan Salomo en die profete van Israel bekend was, bly daar behalwe sy rotsgrafte teen die berghange en die fondamentmure geen spoor oor nie . . . Selfs die eiland, wat Alexander die Grote tydens sy beleëring van die stad tot ’n kaap omgeskep het deur die [strook] water tussen die stad en die vasteland op te vul, bevat geen herkenbare oorblyfsels van ’n tydperk vroeër as dié van die Kruistogte nie. Die hedendaagse stad, wat in sy geheel betreklik nuut is, beslaan die noordelike helfte van wat vroeër die eiland was, terwyl feitlik die hele oorblywende oppervlak met onherkenbare ruïnes bedek is.”3

Babilon se beurt

14, 15. Watter profesieë teen Babilon het Jesaja en Jeremia opgeteken?

14 In die agtste eeu v.G.J. het Jesaja, die profeet wat die Jode teen hulle komende onderwerping deur Babilon gewaarsku het, ook iets verstommends voorspel: die algehele uitwissing van Babilon self. Hy het dit in beeldende besonderhede voorspel: “Kyk, Ek verwek die Meders teen hulle . . . So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. Mense sal daar in ewigheid nie woon nie, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie.”—Jesaja 13:17-20.

15 Die profeet Jeremia het ook die val van Babilon voorspel, wat eers jare later sou plaasvind. En hy het ’n interessante besonderheid ingesluit: “Droogte oor sy waters, dat hulle kan uitdroog! . . . Die helde van Babel het opgehou om te veg, hulle het gebly in die bergvestings; hulle mag het verdwyn.”—Jeremia 50:38; 51:30.

16. Wanneer is Babilon verower, en deur wie?

16 In 539 v.G.J. het Babilon se tydperk van heerskappy as die vernaamste wêreldmoondheid geëindig toe die sterk Persiese heerser Kores, vergesel van die leër van Medië, teen die stad opgeruk het. Maar Kores se vyand was gedug. Babilon is deur ontsaglike mure omring en het onneembaar gelyk. Die groot Eufraatrivier het ook deur die stad gevloei en het sy verdedigingswerke aansienlik versterk.

17, 18. (a) Hoe was daar “droogte oor [Babilon se] waters”? (b) Waarom het Babilon se ‘helde opgehou om te veg’?

17 Die Griekse geskiedskrywer Herodotus beskryf hoe Kores die probleem aangepak het: “Hy het ’n gedeelte van sy leër gestasioneer op die plek waar die rivier die stad binnevloei, en ’n ander afdeling ’n ent verby die plek waar dit weer die stad verlaat, met bevele om met die stroombedding langs teen die stad op te trek sodra die water vlak genoeg is . . . Hy het die Eufraatrivier deur middel van ’n kanaal afgekeer in die kom [’n kunsmatige meer wat deur ’n vorige heerser van Babilon gegrawe is], wat toe ’n moeras was, sodat die rivier se watervlak so gedaal het dat die natuurlike stroombedding deurwaadbaar geword het. Toe het die Perse wat met dié doel by Babilon op die rivierwal gelaat is in die stroom ingegaan, wat nou gedaal het sodat dit tot sowat die middel van ’n man se bobeen gereik het, en sodoende in die stad ingekom.”4

18 Dit is hoe die stad geval het, soos Jeremia en Jesaja gewaarsku het. Maar let op hoe haarfyn die profesie vervul is. Daar was letterlik ‘’n droogte oor sy waters, en hulle het opgedroog’. Dit was die daling van die Eufraatrivier se watervlak wat Kores in staat gestel het om toegang tot die stad te verkry. Het ‘die helde van Babel opgehou om te veg’, soos Jeremia gewaarsku het? Die Bybel—sowel as die Griekse geskiedskrywers Herodotus en Xenophon—sê dat die Babiloniërs in werklikheid feesgevier het ten tyde van die Persiese aanval.5 Die Naboniduskroniek, ’n amptelike spykerskrifinskripsie, sê dat Kores se troepe Babilon “sonder stryd” binnegegaan het, wat waarskynlik beteken sonder ’n groot, hewige geveg.6 Babilon se helde het klaarblyklik nie veel gedoen om die stad te beskerm nie.

19. Is die profesie dat mense “in ewigheid” nie in Babilon sou woon nie, vervul? Verduidelik.

19 Wat van die voorspelling dat mense “in ewigheid” nie weer in Babilon sou woon nie? Dit is nie onmiddellik in 539 v.G.J. vervul nie. Maar die profesie is in die fynste besonderhede bewaarheid. Na die val van Babilon het etlike opstande daar plaasgevind, totdat dit in 478 v.G.J. deur Xerxes vernietig is. Teen die einde van die vierde eeu het Alexander die Grote beplan om dit te herbou, maar hy het gesterf voordat die werk veel gevorder het. Van toe af het die stad eenvoudig agteruitgegaan. In die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling was daar nog mense wat daar gewoon het, maar vandag is puinhope in Irak al wat van eertydse Babilon oorbly. Selfs al word die ruïnes gedeeltelik herbou, sal Babilon net ’n besienswaardigheid vir toeriste wees, nie ’n lewendige, bedrywige stad nie. Die stad se verlate terrein getuig van die finale vervulling van die geïnspireerde profesieë daarteen.

Die opmars van wêreldmoondhede

20, 21. Watter profesie het Daniël oor die opmars van wêreldmoondhede gesien, en hoe is dit vervul?

20 In die sesde eeu v.G.J., gedurende die Joodse ballingskap in Babilon, is ’n ander profeet, Daniël, geïnspireer om merkwaardige visioene op te teken wat die toekomstige verloop van wêreldgebeure voorspel het. In een visioen beskryf Daniël etlike simboliese diere wat mekaar op die wêreldtoneel opvolg. ’n Engel verduidelik dat hierdie diere ’n voorstelling is van die opmars van wêreldmoondhede sedert daardie tyd. Hy sê aangaande die laaste twee diere: “Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse. En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning. En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het—vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie.”—Daniël 8:20-22.

21 Hierdie profetiese voorskou is baie akkuraat vervul. Die Babiloniese Ryk is deur Medo-Persië omvergewerp, wat 200 jaar later voor die Griekse wêreldmoondheid geswig het. Alexander die Grote, “die groot horing”, het aan die spits gestaan van die Griekse Ryk. Maar na Alexander se dood het sy generaals onder mekaar om mag gestry, en uiteindelik is die wydgestrekte ryk in vier kleiner ryke, “vier koninkryke”, verdeel.

22. Watter bykomende wêreldmoondheid is in ’n verwante profesie oor die opmars van wêreldmoondhede voorspel?

22 In Daniël hoofstuk 7 het ’n ietwat soortgelyke visioen ook ver die toekoms in gekyk. Die Babiloniese wêreldmoondheid is deur ’n leeu afgebeeld, die Persiese deur ’n beer en die Griekse deur ’n luiperd met vier vlerke op sy rug en vier koppe. Daarna sien Daniël nog ’n wilde dier, “vreeslik en skrikwekkend en baie sterk . . . , en dit het tien horings gehad” (Daniël 7:2-7). Hierdie vierde wilde dier het die magtige Romeinse Ryk voorafgeskadu, wat sowat drie eeue nadat Daniël hierdie profesie opgeteken het, begin ontwikkel het.

23. In watter opsig het die vierde wilde dier van Daniël se profesie “verskil van al die koninkryke”?

23 Die engel het aangaande Rome voorspel: “Die vierde dier—die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel” (Daniël 7:23). H. G. Wells sê in sy boek A Pocket History of the World: “Hierdie nuwe Romeinse moondheid wat na sy ontstaan die westerse wêreld in die tweede en eerste eeu vC oorheers het, was in verskeie opsigte anders as enige van die groot ryke wat tot op daardie stadium in die beskaafde wêreld geheers het.”7 Dit het as ’n republiek begin en as ’n monargie voortbestaan. In teenstelling met vorige ryke is dit nie deur een veroweraar geskep nie, maar het dit deur die eeue heen onstuitbaar gegroei. Dit het baie, baie langer bestaan en oor ’n baie groter gebied geheers as enige vorige ryk.

24, 25. (a) Hoe het die tien horings van die wilde dier verskyn? (b) Watter stryd tussen die horings van die wilde dier het Daniël vooruitgesien?

24 Maar wat van die tien horings van hierdie groot dier? Die engel het gesê: “En die tien horings—uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en ’n ander een sal ná hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp” (Daniël 7:24). Hoe is dit vervul?

25 Wel, toe die Romeinse Ryk in die vyfde eeu G.J. begin agteruitgaan het, is dit nie onmiddellik deur ’n ander wêreldmoondheid vervang nie. Dit het eerder in ’n aantal koninkryke, “tien konings”, verbrokkel. Uiteindelik het die Britse Ryk die drie wedywerende ryke Spanje, Frankryk en Nederland verslaan en sodoende die vernaamste wêreldmoondheid geword. Op hierdie manier het die nuwe ‘horing’ “drie konings” neergewerp.

Daniël se profesieë—Na die feit?

26. Wanneer sê kritici is Daniël geskryf, en waarom?

26 Die Bybel dui aan dat die boek Daniël gedurende die sesde eeu v.G.J. geskryf is. Maar die vervulling van die profesieë daarin is so akkuraat dat kritici beweer dat dit omstreeks 165 v.G.J. geskryf moes gewees het, toe etlike profesieë reeds vervul was.8 Ondanks die feit dat die enigste werklike rede vir hierdie bewering die vervulling van Daniël se profesieë is, word hierdie latere datum vir die opskrifstelling van Daniël in baie naslaanwerke as ’n vasstaande feit aangegee.

27, 28. Wat is party van die feite wat bewys dat Daniël nie in 165 v.G.J. geskryf is nie?

27 Maar ons moet so ’n teorie teen die volgende feite opweeg. Eerstens is daar sinspelings op die boek in Joodse werke wat gedurende die tweede eeu v.G.J. geskryf is, soos die eerste boek van die Makkabeërs. Dit is ook in die Griekse Septuaginta ingesluit, wat in die derde eeu v.G.J. begin vertaal is.9 Derdens was fragmente van afskrifte van Daniël tussen die werke wat meer dikwels in die Dooie See-rolle voorgekom het—en daar word algemeen aangeneem dat hierdie fragmente uit omstreeks 100 v.G.J. dateer.10 Dit is duidelik dat Daniël reeds kort na die jaartal waarin kritici beweer dit geskryf is alom bekend was en gerespekteer is: ’n kragtige bewys dat dit baie vroeër geskryf is as wat kritici sê.

28 Bowendien bevat Daniël geskiedkundige besonderhede wat vir ’n tweede-eeuse skrywer onbekend sou gewees het. Die geval van Belsasar, die heerser van Babilon wat doodgemaak is toe Babilon in 539 v.G.J. geval het, is buitengewoon. Die vernaamste nie-Bybelse bronne van ons kennis van Babilon se val is Herodotus (vyfde eeu), Xenophon (vyfde en vierde eeu) en Berossus (derde eeu). Nie een van hulle het van Belsasar geweet nie.11 Hoe onwaarskynlik is dit tog dat ’n tweede-eeuse skrywer inligting sou gehad het wat nie vir hierdie vroeëre skrywers beskikbaar was nie! Die verslag aangaande Belsasar in Daniël hoofstuk 5 is ’n kragtige argument dat Daniël sy boek geskryf het voordat hierdie ander skrywers hulle boeke geskryf het. *

29. Waarom is dit onmoontlik dat die boek Daniël ná die vervulling van die profesieë daarin geskryf is?

29 Ten slotte is daar etlike profesieë in Daniël wat lank na 165 v.G.J. vervul is. Een hiervan was die profesie aangaande die Romeinse Ryk, wat vroeër gemeld is. ’n Ander is ’n merkwaardige profesie wat die koms van Jesus, die Messias, voorspel het.

Die koms van die gesalfde

30, 31. (a) Watter profesie van Daniël het voorspel wanneer die Messias sou verskyn? (b) Hoe kan ons op grond van Daniël se profesie bereken in watter jaar die Messias moes verskyn?

30 Hierdie profesie is in Daniël hoofstuk 9 opgeteken en lui soos volg: “Sewentig weke [van jare, of vierhonderd-en-negentig jaar] is oor jou volk en oor jou heilige stad bepaal” * (Daniël 9:24, The Amplified Bible). Wat sou gedurende hierdie 490 jaar gebeur? Ons lees: “Vandat die bevel uitgaan om Jerusalem te herstel en te bou tot [die koms van] die gesalfde, ’n prins, sal sewe weke [van jare] en twee-en-sestig weke [van jare] wees” (Daniël 9:25, The Amplified Bible). Dit is dus ’n profesie oor die tyd van “die gesalfde”, die Messias, se koms. Hoe is dit vervul?

31 Die bevel om Jerusalem te herstel en te bou, het in “die twintigste jaar van koning Artasasta” van Persië, dit wil sê in 455 v.G.J., ‘uitgegaan’ (Nehemia 2:1-9). Teen die einde van 49 jaar (7 weke van jare) was ’n groot deel van Jerusalem se glorie reeds herstel. En as ons dan die volle 483 jaar (7 plus 62 weke van jare) vanaf 455 v.G.J. tel, kom ons by 29 G.J. uit. Dit was in werklikheid “die vyftiende jaar van die regering van keiser Tiberius”, die jaar toe Jesus deur Johannes die Doper gedoop is (Lukas 3:1). Dit was toe dat Jesus in die openbaar as God se Seun geïdentifiseer is en sy bediening, die verkondiging van die goeie nuus aan die Joodse volk, begin het (Mattheüs 3:13-17; 4:23). Hy het die “gesalfde”, of Messias, geword.

32. Hoe lank sou Jesus se aardse bediening volgens Daniël se profesie wees, en wat sou aan die einde daarvan gebeur?

32 Die profesie voeg by: “En na die twee-en-sestig weke [van jare] sal die gesalfde afgesny word.” Dit sê ook: “En hy sal vir een week [sewe jaar] ’n sterk en vaste verbond met die baie sluit; en in die middel van die week sal hy die offerande en offergawe laat ophou” (Daniël 9:26, 27, The Amplified Bible). In ooreenstemming hiermee het Jesus uitsluitlik na “die baie”, die vleeslike Jode, gegaan. Hy het soms ook vir die Samaritane gepreek, wat gedeeltes van die Skrif geglo het maar ’n sekte apart van erkende Judaïsme gevorm het. Toe, “in die middel van die week”, nadat hy drie en ’n half jaar lank gepreek het, het hy sy lewe as ’n offerande gegee en is hy sodoende “afgesny”. Dit het die einde van die Mosaiese Wet met sy offerandes en offergawes beteken (Galasiërs 3:13, 24, 25). Jesus het dus deur sy dood “die offerande en offergawe laat ophou”.

33. Hoe lank sou Jehovah uitsluitlik met die Jode handel, en watter gebeurtenis het die einde van hierdie tydperk aangedui?

33 Nietemin het die pasgebore Christengemeente nog drie en ’n half jaar lank net vir Jode en, later, vir die verwante Samaritane getuig. Maar in 36 G.J., aan die einde van die 70 weke van jare, is die apostel Petrus deur God gelei om vir ’n nie-Jood, Cornelius, te preek (Handelinge 10:1-48). Die “verbond met die baie” was toe nie meer tot die Jode beperk nie. Redding is ook aan die onbesnede nie-Jode verkondig.

34. Wat het in ooreenstemming met Daniël se profesie met vleeslike Israel gebeur omdat hulle die Messias verwerp het?

34 Omdat die Joodse nasie Jesus verwerp en saamgesweer het om hom te laat teregstel, het Jehovah hulle nie beskerm toe die Romeine in 70 G.J. gekom en Jerusalem vernietig het nie. Daniël se verdere woorde is sodoende vervul: “En die volk van die ander prins wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes. Sy einde sal met ’n oorstroming kom, en tot die einde toe sal daar oorlog wees” (Daniël 9:26b, The Amplified Bible). Hierdie tweede “prins” was Titus, die Romeinse generaal wat Jerusalem in 70 G.J. verwoes het.

Geïnspireerde profesieë

35. Watter bykomende profesieë aangaande Jesus is bewaarheid?

35 Sodoende is Daniël se profesie van die 70 weke op ’n merkwaardig akkurate manier vervul. Trouens, baie van die profesieë wat in die Hebreeuse Skrifte opgeteken is, is gedurende die eerste eeu vervul, en talle daarvan het met Jesus verband gehou. Jesus se geboorteplek, sy ywer vir God se huis, sy predikingswerk, dat hy vir 30 silwerstukke verraai sou word, hoe hy sou sterf, die feit dat die lot oor sy klere gewerp sou word—al hierdie besonderhede is in die Hebreeuse Skrifte voorspel. Die vervulling daarvan het sonder twyfel bewys dat Jesus die Messias was, en dit het weer bewys dat die profesieë geïnspireer is.—Miga 5:2; Lukas 2:1-7; Sagaria 11:12; 12:10; Mattheüs 26:15; 27:35; Psalm 22:19; 34:21; Johannes 19:33-37.

36, 37. Wat leer ons uit die feit dat Bybelprofesieë bewaarheid is, en watter vertroue gee hierdie kennis ons?

36 In werklikheid is al die Bybel se profesieë op hul bestemde tyd vervul. Dinge het gebeur presies soos die Bybel gesê het dit sou. Dit is ’n kragtige bewys dat die Bybel God se Woord is. Daardie profetiese woorde moes op meer as menslike wysheid berus het om so akkuraat te wees.

37 Maar daar is ander voorspellings in die Bybel wat nie destyds vervul is nie. Waarom nie? Omdat hulle in ons tyd, en selfs in ons toekoms, vervul moet word. Die betroubaarheid van daardie eertydse profesieë gee ons volle vertroue dat hierdie ander voorspellings gewis bewaarheid sal word. Soos ons in die volgende hoofstuk sal sien, is dit inderdaad die geval.

[Voetnote]

^ par. 28 Kyk Hoofstuk 4, “Hoe geloofwaardig is die ‘Ou Testament’?”, paragrawe 16 en 17.

^ par. 30 In hierdie vertaling is die woorde tussen hakies deur die Bybelvertaler bygevoeg om die betekenis te verduidelik.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 133]

Alle profesieë is op hul bestemde tyd vervul. Dinge het gebeur presies soos die Bybel gesê het dit sou

[Prent op bladsy 118]

Argeoloë het ontdek dat Jerusalem geheel en al deur Nebukadnesar vernietig is

[Prent op bladsy 121]

’n Foto van hedendaagse Tirus. Daar is nouliks ’n spoor van die Tirus wat die profete van Israel geken het

[Prent op bladsy 123]

Toeriste wat die terrein van eertydse Babilon besoek, is getuies van die vervulling van die profesieë teen die stad

[Prente op bladsy 126]

Daniël se profesieë oor die opmars van wêreld-moondhede is so akku-raat vervul dat heden-daagse kritici meen dat dit ná die vervulling geskryf is

BABILON

PERSIË

GRIEKELAND

ROME

BRITTANJE

[Prent op bladsy 130]

Daniël het voorspel presies wanneer die Messias in Israel sou verskyn