Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Boeddhisme—’n Soeke na verligting sonder God

Boeddhisme—’n Soeke na verligting sonder God

Hoofstuk 6

Boeddhisme—’n Soeke na verligting sonder God

1. (a) Hoe het Boeddhisme hom in die Westerse gemeenskap geopenbaar? (b) Wat is die oorsake van hierdie Westerse ontwikkeling?

BOEDDHISME, wat aan die begin van die 20ste eeu feitlik glad nie buite Asië bekend was nie, is vandag ’n wêreldgodsdiens. Trouens, baie mense in die Weste is nogal verbaas om te vind dat Boeddhisme in hul eie buurt floreer. Dit is in groot mate die resultaat van internasionale vlugtelinghervestiging. Groot Asiatiese gemeenskappe het hulle in Wes-Europa, Noord-Amerika, Australië en elders gevestig. Namate al hoe meer immigrante hulle in hul nuwe land vestig, bring hulle ook hul godsdiens saam. Terselfdertyd kom meer mense in die Weste vir die eerste keer in aanraking met Boeddhisme. Dit, tesame met die permissiwiteit en geestelike agteruitgang in die tradisionele kerke, het meegebring dat party mense tot die “nuwe” godsdiens bekeer is.—2 Timotheüs 3:1, 5.

2. Waar word aanhangers van Boeddhisme vandag aangetref?

2 Volgens die 1989 Britannica Book of the Year maak Boeddhisme dus aanspraak op ’n wêreldwye lidmaatskap van sowat 300 miljoen, met ongeveer 200 000 lidmate in Wes-Europa en ewe veel in Noord-Amerika, 500 000 in Latyns-Amerika en 300 000 in die Sowjetunie. Die meeste aanhangers van Boeddhisme word egter steeds in Asiatiese lande, soos Sri Lanka, Myanma (Birma), Thailand, Japan, Korea en China, aangetref. Maar wie was die Boeddha? Hoe het hierdie godsdiens ontstaan? Wat is die leringe en gebruike van Boeddhisme?

Die kwessie van ’n betroubare bron

3. Watter bronnemateriaal oor die Boeddha se lewe is beskikbaar?

3 “Wat oor die Boeddha se lewe bekend is, is hoofsaaklik gegrond op die getuienis van die kanonieke tekste, waarvan die omvattendste en uitvoerigste in Pali, ’n taal van eertydse Indië, geskryf is”, sê die boek World Religions—From Ancient History to the Present. Dit beteken dat daar geen bronnemateriaal van sy tyd is om ons in te lig oor Siddhārtha Gautama, die stigter van hierdie godsdiens, wat in die sesde eeu v.G.J. in Noord-Indië gelewe het nie. Dit skep natuurlik ’n probleem. Maar wanneer en hoe die “kanonieke tekste” opgestel is, is selfs ’n ernstiger vraag.

4. Hoe is die egte lering van die Boeddha aanvanklik bewaar?

4 Volgens Boeddhistiese tradisie is ’n konsilie van 500 monnike kort na die dood van Gautama byeengeroep om te besluit wat die egte lering van die Meester was. Of so ’n konsilie wel plaasgevind het, is ’n onderwerp waaroor Boeddhistiese geleerdes en geskiedkundiges baie debatteer. Maar die belangrike punt waarop ons moet let, is dat selfs Boeddhistiese tekste erken dat die egte lering ten gunste waarvan besluit is nie op skrif gestel is nie maar deur die dissipels gememoriseer is. Die heilige tekste is eers baie later op skrif gestel.

5. Wanneer is die Pali tekste op skrif gestel?

5 Volgens Srilankaanse kronieke uit die vierde en sesde eeu G.J. is die eerste van hierdie “kanonieke tekste” in Pali tydens die bewind van koning Vattagamani Abhaja in die eerste eeu v.G.J. op skrif gestel. Ander verslae oor die Boeddha se lewe het moontlik eers in die eerste of selfs die vyfde eeu G.J., byna duisend jaar na sy tyd, op skrif verskyn.

6. Watter kritiek is op die “kanonieke tekste” uitgeoefen? (Vergelyk 2 Timotheüs 3:16, 17.)

6 Die Abingdon Dictionary of Living Religions sê dus: “Die ‘biografieë’ is van ’n latere oorsprong en bevat baie legendariese en mitiese materiaal, en die oudste kanonieke tekste is die produkte van ’n lang proses van mondelinge oorlewering, wat blykbaar ’n bietjie hersiening en baie byvoegings ingesluit het.” Een geleerde het selfs “beweer dat nie ’n enkele woord van die opgetekende lering met algehele sekerheid aan Gautama self toegeskryf kan word nie”. Is sulke kritiek geregverdig?

Die Boeddha se ontvangenis en geboorte

7. Hoe het die Boeddha se moeder volgens Boeddhistiese tekste swanger geword?

7 Beskou die volgende uittreksels uit Jataka, ’n deel van die Pali kanon, en Boeddha-tsjarita, ’n Sanskritteks van die tweede eeu G.J. oor die lewe van die Boeddha. Lees eerstens die verslag oor hoe die Boeddha se moeder, koningin Maha-Maya, in ’n droom swanger geword het.

“Die vier beskermengele het gekom, haar saam met haar slaapbank opgetel en haar na die Himalaja geneem. . . . Toe het hierdie beskermengele se vrouens gekom, haar na Anotattameer vergesel en haar gebad om elke menslike klad te verwyder. . . . Nie ver daarvandaan nie was Silwerheuwel, waar ’n goue herehuis was. Daar het hulle ’n goddelike slaapbank met sy koppenent na die ooste gereedgemaak en haar daarop neergelê. Die toekomstige Boeddha het reeds ’n pragtige wit olifant geword . . . Hy het Silwerheuwel geklim en . . . met sy regtersy na die bank drie keer om sy moeder se slaapbank geloop, en dit het gelyk asof hy haar baarmoeder binnedring deur haar op haar regtersy te slaan. So het die ontvangenis tydens die midsomerfees plaasgevind.”

8. Wat is aangaande die Boeddha se toekoms voorspel?

8 Toe die koningin haar man, die koning, van die droom vertel het, het hy 64 hoogstaande Hindoepriesters ontbied, hulle kos en klere gegee en ’n uitlegging gevra. Hulle antwoord was:

“Wees nie besorg nie, groot koning! . . . U sal ’n seun hê. En hy sal, as hy aanhou om ’n huislike lewe te lei, ’n universele heerser word; maar as hy die huislike lewe laat vaar en hom aan die wêreld onttrek, sal hy ’n Boeddha word en die wolke van sonde en dwaasheid oor hierdie wêreld wegrol.”

9. Watter buitengewone gebeure het na bewering op die verklaring oor die Boeddha se toekoms gevolg?

9 Daarna het daar glo 32 wonderwerke plaasgevind:

“Al tienduisend wêrelde het skielik gebewe, getril en geskud. . . . Die vure het in al die helle uitgegaan; . . . siektes onder mense het opgehou; . . . alle musiekinstrumente het hul klanke afgegee sonder dat hulle bespeel is; . . . in die magtige oseaan het die water soet geword; . . . die hele tienduisend wêrelde het ’n massa van die allerpragtigste sierkranse geword.”

10. Hoe beskryf Boeddhistiese heilige tekste die Boeddha se geboorte?

10 Toe het die ongewone geboorte van die Boeddha in ’n tuin van salbome wat Loembinibos genoem word, plaasgevind. Toe die koningin ’n tak van die hoogste salboom in die bos wou vasgryp, het die boom haar gehelp deur tot binne haar bereik neer te buig. Terwyl sy gestaan en die tak vasgehou het, het sy geboorte gegee.

“Hy het uit sy moeder se baarmoeder voortgekom soos ’n prediker wat van sy preekstoel afkom, of ’n man wat by ’n trap afloop, met albei hande en albei voete uitgestrek, onbevlek deur enige onsuiwerheid van sy moeder se baarmoeder. . . . ”

“Net nadat hy gebore is, het die [toekomstige Boeddha] albei voete stewig op die grond neergesit en terwyl hy ’n wit sonskerm bo sy kop gehou het sewe tree na die noorde gegee. Toe het hy elke kant van die wêreld bekyk en in ’n ongeëwenaarde stem gesê: In die hele wêreld is ek die vernaamste, beste en mees vooraanstaande; dit is my laaste geboorte; ek sal nooit weer gebore word nie.”

11. Watter gevolgtrekking het party geleerdes gemaak aangaande die heilige tekste se verslae oor die Boeddha se lewe?

11 Daar is ook ewe vergesogte verhale oor sy kinderdae, sy ontmoetings met jong vroulike bewonderaars, sy omswerwinge en feitlik elke gebeurtenis in sy lewe. Dit is nie verbasend dat die meeste geleerdes al hierdie verslae as legendes en mites afmaak nie. ’n Amptenaar van die Britse Museum meen selfs dat dit weens “al die legendes en wonderwerke . . . onmoontlik is om ’n geskiedkundige lewe van die Boeddha te herwin”.

12, 13. (a) Wat is die tradisionele verslag oor die Boeddha se lewe? (b) Wat word algemeen aanvaar met betrekking tot die tyd van die Boeddha se geboorte? (Vergelyk Lukas 1:1-4.)

12 Ondanks hierdie mites word ’n tradisionele verslag oor die Boeddha se lewe alom versprei. ’n Moderne teks, A Manual of Buddhism, wat in Colombo, Sri Lanka, uitgegee word, gee die volgende vereenvoudigde verslag.

“Op die dag van die volmaan in Mei 623 v.C. is ’n Indiese Sjakya-prins, Siddhattha Gotama, * in die distrik Nepal gebore. Koning Sjoeddhodana was sy vader, en koningin Mahā Māyā was sy moeder. Sy is ’n paar dae na die geboorte van die kind oorlede en Mahā Pajāpati Gotamī het sy pleegmoeder geword.

“Toe hy sestien was, het hy met sy niggie, die pragtige prinses Jasodharā, getrou.

“Hy het byna dertien jaar ’n gelukkige huwelik en ’n weelderige lewe geniet, salig onbewus van die wederwaardighede van die lewe buite die paleispoorte.

“Na verloop van tyd het die waarheid geleidelik tot hom deurgedring. In sy 29ste jaar, wat die keerpunt van sy loopbaan was, is sy seun Rāhoela gebore. Hy het sy kind as ’n hindernis beskou, want hy het besef dat almal sonder uitsondering aan geboorte, siekte en die dood onderworpe is. Toe hy gevolglik besef het hoe algemeen droefheid is, het hy besluit om ’n genesing vir hierdie universele siekte van die mensdom te vind.

“Hy het dus van sy koninklike genietinge afstand gedoen en sy huis een nag verlaat . . . sy hare gesny, die eenvoudige klere van ’n askeet aangetrek en as ’n Soeker na Waarheid begin rondswerf.”

13 Dit is duidelik dat hierdie paar biografiese besonderhede ’n skerp kontras vorm met die fantastiese verslae in die “kanonieke tekste”. En met die uitsondering van sy geboortejaar word hierdie besonderhede algemeen aanvaar.

Die verligting—Hoe dit plaasgevind het

14. Wat was die keerpunt van Gautama se lewe?

14 Wat was die voormelde “keerpunt van sy loopbaan”? Dit was toe hy vir die eerste keer in sy lewe ’n sieke, ’n grysaard en ’n lyk gesien het. Weens hierdie ondervinding het hy hom oor die betekenis van die lewe begin kwel—Waarom word mense gebore bloot om te ly, oud te word en te sterf? Daar word gesê dat hy toe ’n heilige gesien het, iemand wat hom aan die wêreld onttrek het om die waarheid na te jaag. Dit het Gautama beweeg om sy gesin, sy besittings en sy prinslike naam prys te gee en ses jaar lank by Hindoeleraars en -ghoeroes die antwoord te soek, maar sonder sukses. Die verslae deel ons mee dat hy ’n weg van meditasie, vaste, Joga en uiterste selfverloëning gevolg het en tog geen geestelike vrede of verligting gevind het nie.

15. Hoe het Gautama uiteindelik sy vermeende verligting verkry?

15 Uiteindelik het hy besef dat sy ekstremistiese weg van selfverloëning net so nutteloos soos sy vroeëre gemaksugtige lewe was. Hy het toe die Middeweg, soos hy dit genoem het, aangeneem en die uiterstes van die lewenswyses wat hy gevolg het, vermy. Hy het besluit dat die antwoord in sy eie bewustheid lê en het onder ’n pipalboom, of Indiese vyeboom, gesit en mediteer. Hy het die duiwel Mara se aanvalle en versoekings weerstaan en vier weke (party sê sewe weke) met sy meditasie volhard totdat hy kwansuis bokant alle kennis en begrip uitgestyg en verligting verkry het.

16. (a) Wat het Gautama geword? (b) Watter verskillende beskouings word oor die Boeddha gehuldig?

16 Deur hierdie proses het Gautama in Boeddhistiese terminologie die Boeddha geword—die Gewekte, of Verligte. Hy het die eindelike doel, Nirwana, die toestand van volmaakte vrede en verligting, vry van begeerte en lyding, bereik. Hy het ook bekend geword as Sjakyamoeni (wysgeer van die Sjakya-stam), en hy het homself dikwels Tathagata (een wat só gekom het [om te onderrig]) genoem. Maar verskillende Boeddhistiese sektes huldig verskillende beskouings oor hierdie onderwerp. Party beskou hom net as ’n mens wat die pad tot verligting vir homself gevind en dit aan sy volgelinge geleer het. Ander beskou hom as die laaste van ’n reeks Boeddhas wat in die wêreld ingekom het om die dharma (Pali, Dhamma), die lering of weg van die Boeddha, te verkondig of te laat herleef. Nog ander beskou hom as ’n bodhisattva, iemand wat verligting verkry het maar sy ingang in Nirwana uitgestel het sodat hy ander kon help om verligting te verkry. Watter beskouing ook al gehuldig word, hierdie gebeurtenis, die Verligting, is vir alle denkrigtings van Boeddhisme uiters belangrik.

Die Verligting—Wat is dit?

17. (a) Waar het die Boeddha sy eerste preek gehou, en wie het hy toegespreek? (b) Verduidelik kortliks die Vier Edele Waarhede.

17 Nadat die Boeddha verligting verkry het en ’n bietjie aanvanklike huiwering te bowe gekom het, het hy vertrek om sy nuutgevonde waarheid, sy dharma, aan ander te verkondig. Hy het sy eerste en waarskynlik belangrikste preek in die stad Benares, in ’n hertekamp, gehou en vyf bhikkoes—dissipels of monnike—toegespreek. Daarin het hy gesê dat ’n mens die weg van vleeslike bevrediging sowel as dié van asketisme moet vermy en die Middeweg moet volg om gered te word. Dan moet ’n mens ook die Vier Edele Waarhede (sien venster, oorkantste bladsy) verstaan en volg. Dit kan kortliks soos volg opgesom word:

(1) Alle bestaan is lyding.

(2) Lyding ontstaan uit begeerte of verlange.

(3) Die beëindiging van begeerte beteken die einde van lyding.

(4) Begeerte word beëindig deur die Agtvoudige Pad te volg, wat ’n mens se gedrag, denke en geloof beheer.

18. Wat het die Boeddha oor die bron van sy verligting gesê? (Vergelyk Job 28:20, 21, 28; Psalm 111:10.)

18 Hierdie preek oor die Middeweg en oor die Vier Edele Waarhede omvat die wese van die Verligting en word as die samevatting van al die Boeddha se leringe beskou. (Vergelyk in teenstelling hiermee Mattheüs 6:25-34; 1 Timotheüs 6:17-19; Jakobus 4:1-3; 1 Johannes 2:15-17.) Gautama het nie beweer dat hierdie preek deur God geïnspireer is nie, maar het homself die eer gegee met die woorde “ontdek deur die Tathagata”. Daar word gesê dat die Boeddha op sy sterfbed vir sy dissipels gesê het: “Soek na redding alleenlik in die waarheid; wend julle nie tot enigiemand buiten julself om hulp nie.” Volgens die Boeddha is verligting dus nie van God afkomstig nie, maar van persoonlike inspanning om die regte denke en goeie dade aan te kweek.

19. Waarom is die Boeddha se boodskap destyds verwelkom?

19 Dit is nie moeilik om te verstaan waarom hierdie lering in die destydse Indiese gemeenskap verwelkom is nie. Dit was enersyds ’n veroordeling van die Hindoe-Brahmane, of priesterlike kaste, se hebsugtige en verdorwe godsdiensgebruike en andersyds ’n veroordeling van die Djainas en ander mistieke kultusse se streng asketisme. Dit het ook ontslae geraak van die offerandes en rituele, die tallose gode en godinne en die kastestelsel wat elke aspek van die mense se lewe oorheers en hulle verkneg het. Kortom, dit het bevryding beloof aan almal wat bereid was om die Boeddha se weg te volg.

Boeddhisme brei sy invloed uit

20. (a) Wat is die “Drie Juwele” van Boeddhisme? (b) Hoe omvattend was die Boeddha se predikingsveldtog?

20 Toe die vyf bhikkoes die Boeddha se lering aanvaar het, het hulle die eerste sangha, of monnike-orde, geword. Sodoende is die “Drie Juwele” (Triratna) van Boeddhisme voltooi, naamlik, die Boeddha, die dharma en die sangha, wat veronderstel was om die mense te help om die weg na verligting te betree. Gautama die Boeddha het na hierdie voorbereiding dwarsdeur die Gangesvallei gepreek. Mense van elke maatskaplike stand en status het na hom kom luister en sy dissipels geword. Toe hy op 80-jarige leeftyd oorlede is, was hy ’n bekende en geëerde persoon. Daar word gesê dat sy laaste woorde aan sy dissipels was: “Verval is eie aan alle samestellende dinge. Bewerk julle eie redding met ywer.”

21. (a) Wie het tot Boeddhisme se uitbreiding bygedra? (b) Wat was die resultaat van sy ywer?

21 In die derde eeu v.G.J., ongeveer 200 jaar na die Boeddha se dood, het Boeddhisme se grootste kampvegter verskyn, naamlik keiser Asjoka, wat die grootste deel van Indië aan sy heerskappy onderwerp het. Droefheid oor die slagting en ontwrigting wat deur sy oorwinnings veroorsaak is, het hom Boeddhisme laat aanneem en staatsteun daaraan laat verleen. Hy het godsdiensmonumente opgerig, konsilies byeengeroep en die mense aangespoor om die leringe van die Boeddha na te leef. Asjoka het ook Boeddhistiese sendelinge na alle dele van Indië en na Sri Lanka, Sirië, Egipte en Griekeland gestuur. Hoofsaaklik danksy Asjoka se ywer het Boeddhisme van ’n Indiese sekte tot ’n wêreldgodsdiens ontwikkel. Sommige beskou hom tereg as die tweede stigter van Boeddhisme.

22. Hoe het Boeddhisme dwarsdeur Asië posgevat?

22 Boeddhisme het van Sri Lanka af ooswaarts na Myanma (Birma), Thailand en ander dele van Indo-China versprei. Boeddhisme het noordwaarts na Kasjmir en Sentraal-Asië versprei. Reeds in die eerste eeu G.J. het Boeddhistiese monnike vanuit hierdie gebiede oor die afskrikwekkende berge en woestyne gereis en hulle godsdiens na China geneem. Boeddhisme het maklik van China na Korea en Japan versprei. Boeddhisme is ook in Tibet, Indië se noordelike buurland, ingebring. Nadat dit met plaaslike opvattings vermeng is, het dit as Lamaïsme te voorskyn gekom, wat die godsdienslewe sowel as die politieke lewe aldaar oorheers het. Teen die sesde of sewende eeu G.J. was Boeddhisme goed gevestig in die hele Suidoos-Asië en Verre Ooste. Maar wat het in Indië gebeur?

23. Wat het in Indië met Boeddhisme gebeur?

23 Terwyl Boeddhisme sy invloed in ander lande uitgebrei het, het dit in Indië geleidelik gekwyn. Omdat die monnike baie betrokke was by filosofie en metafisika het hulle voeling met hulle lekevolgelinge begin verloor. Daarbenewens het die verlies van koninklike ondersteuning en die aanneming van Hindoe-opvattings en -gebruike die dood van Boeddhisme in Indië bespoedig. Selfs Boeddhistiese heilige plekke, soos Loembini, waar Gautama gebore is, en Bodh Gaja, waar hy “verligting” verkry het, het in puin gestort. Teen die 13de eeu het Boeddhisme feitlik verdwyn uit Indië, die land van sy oorsprong.

24, 25. Watter ontwikkelinge het in die 20ste eeu in Boeddhisme plaasgevind?

24 Gedurende die 20ste eeu het Boeddhisme weer verander. Politieke omwentelinge in China, Mongolië, Tibet en lande in Suidoos-Asië het dit ’n verwoestende slag toegedien. Duisende kloosters en tempels is verwoes en honderdduisende monnike en nonne is verdryf, opgesluit of selfs doodgemaak. Nietemin het Boeddhisme steeds ’n groot invloed op die denke en gewoontes van die mense in hierdie lande.

25 In Europa en Noord-Amerika lyk dit of Boeddhisme se opvatting dat “waarheid” in die individu self gesoek moet word alom ingang vind, en die meditasie wat daarmee gepaard gaan, bied ontvlugting van die gewoel van die Westerse lewe. Interessant genoeg het Tenzin Gyatso, die verbanne Dalai Lama van Tibet, in die voorwoord van die boek Living Buddhism geskryf: “Boeddhisme sal moontlik vandag kan help om Westerlinge aan die geestelike dimensie van hul lewe te herinner.”

Boeddhisme se uiteenlopende weë

26. In watter opsigte is Boeddhisme verdeel?

26 Hoewel dit gebruiklik is om van Boeddhisme as een godsdiens te praat, is dit in werklikheid in etlike denkrigtings verdeel. Elk het sy eie leerstellings, gebruike en geskrifte wat op verskillende vertolkings van die natuur van die Boeddha en die aard van sy leringe gegrond is. Hierdie denkrigtings is verder verdeel in baie groepe en sektes, waarvan talle in groot mate deur plaaslike kulture en tradisies beïnvloed word.

27, 28. Hoe sou jy Theravada-Boeddhisme beskryf? (Vergelyk Filippense 2:12; Johannes 17:15, 16.)

27 Die Theravada-denkrigting van Boeddhisme (Weg van die Oudstes), of die Hinajana (Klein Voertuig), floreer in Sri Lanka, Myanma (Birma), Thailand, Kampuchea (Kambodja) en Laos. Party beskou dit as die konserwatiewe denkrigting. Dit lê klem daarop dat ’n mens wysheid moet verkry en jou eie redding moet bewerk deur jou aan die wêreld te onttrek en ’n monnikelewe te lei, wat beteken dat jy jou in ’n klooster aan meditasie en studie moet wy.

28 In party van hierdie lande sien ’n mens dikwels groepe jong mans met kaal geskeerde koppe wat in saffraangeel mantels geklee en kaalvoet met hul bedelbakke rondloop om hul daaglikse lewensmiddele te ontvang van die lekegelowiges wat hulle moet onderhou. Dit is gebruiklik dat mans ten minste ’n deel van hul lewe in ’n klooster deurbring. Die uiteindelike doel van die monnikelewe is om ’n arhat te word, dit wil sê, iemand wat geestelike volmaaktheid en bevryding van die pyn en lyding in die siklusse van wedergeboorte bereik het. Die Boeddha het die weg aangewys; dit word aan elkeen oorgelaat om dit te volg.

29. Wat is die kenmerke van Mahajana-Boeddhisme? (Vergelyk 1 Timotheüs 2: 3, 4; Johannes 3:16.)

29 Die Mahajana-denkrigting van Boeddhisme (Groot Voertuig) kom algemeen in China, Korea, Japan en Viëtnam voor. Die naam is gebaseer op die klem wat dit lê op die Boeddha se lering dat “waarheid en die weg van redding vir almal is, hetsy ’n mens in ’n grot, ’n klooster, of ’n huis woon . . . Dit is nie net vir diegene wat hulle aan die wêreld onttrek nie.” Die basiese Mahajana-konsep is dat die Boeddha soveel liefde en medelye het dat hy nie redding van enigiemand sal weerhou nie. Dit verkondig dat almal ’n Boeddha, ’n verligte, of ’n bodhisattva kan word omdat ons almal die Boeddha-natuur het. Verligting kom, nie deur streng selfdissipline nie, maar deur geloof in die Boeddha en medelye vir alle lewende dinge. Dit vind natuurlik groter ingang by die praktiese volksmassa. Maar weens hierdie liberaler gesindheid het etlike groepe en kultusse ontwikkel.

30. Watter doel probeer aanhangers van “Rein Land”-Boeddhisme bereik? (Vergelyk Mattheüs 6:7, 8; 1 Konings 18:26, 29.)

30 Onder die talle Mahajana-sektes wat in China en Japan ontwikkel het, tel die Rein Land- en Zen-denkrigting van Boeddhisme. Eersgenoemde baseer sy opvattings op geloof in die reddingsvermoë van Amida Boeddha, wat sy volgelinge ’n wedergeboorte in die Rein Land, of Westerse Paradys, beloof het, ’n land van vreugde en genot wat deur gode en mense bewoon word. Dit is maklik om Nirwana van daar af te bereik. Deur die gebed: “Ek stel my geloof in Amida Boeddha” soms duisende kere per dag te herhaal, suiwer die aanbidder homself om verligting te verkry of weer gebore te word in die Westerse Paradys.

31. Wat is die kenmerke van Zen-Boeddhisme? (Vergelyk Filippense 4:8.)

31 Zen-Boeddhisme (Tsj’an-denkrigting in China) het sy naam aan meditasie ontleen. Die woorde tsj’an (Chinees) en zen (Japannees) is variasies van die Sanskritwoord dhjāna, wat “meditasie” beteken. Hierdie dissipline leer dat studie, goeie werke en rituele min waarde het. ’n Mens kan verligting verkry bloot deur te peins oor onberekenbare raaisels soos: ‘Wat is die geluid van een hand wat klap?’ en ‘Wat vind ons wanneer daar niks is nie?’ Die mistieke aard van Zen-Boeddhisme het tot uiting gekom in die verfynde kunste van blommerangskikking, kalligrafie, skilderkuns in ink, poësie, tuinmaak, ensovoorts, en dié kunste is gunstig ontvang in die Weste. Vandag is daar Zen-meditasiesentrums in talle Westerse lande.

32. Hoe word Tibettaanse Boeddhisme beoefen?

32 Laastens is daar Tibettaanse Boeddhisme, of Lamaïsme. Hierdie vorm van Boeddhisme word soms Mantrajana (Mantra-voertuig) genoem omdat mantras, ’n reeks lettergrepe met of sonder betekenis, in lang voordragte gebruik word. Pleks van wysheid of medelye te beklemtoon, lê hierdie vorm van Boeddhisme klem op die gebruik van rituele, gebede, die toorkuns en spiritisme in aanbidding. Gebede word duisende kere per dag met behulp van bidkrale en gebedswiele herhaal. Die ingewikkelde rituele kan slegs geleer word deur middel van mondelinge onderrig deur lamas, of monnikeleiers, van wie die bekendste die Dalai Lama en die Pantsjen Lama is. Na die dood van ’n lama word daar gesoek na ’n kind in wie die lama kwansuis gereïnkarneer is om die volgende geestelike leier te wees. Die term word egter ook oor die algemeen op alle monnike toegepas, wat volgens een raming vroeër nagenoeg ’n vyfde van die hele bevolking van Tibet uitgemaak het. Lamas het ook as onderwysers, dokters, landhere en politieke figure gedien.

33. Hoe is Boeddhisme se sektes soortgelyk aan dié van die Christendom? (Vergelyk 1 Korinthiërs 1:10.)

33 Hierdie vernaamste afdelings van Boeddhisme word op hul beurt in talle groepe, of sektes, onderverdeel. Party is gewy aan ’n besondere leier, soos Nitsjiren in Japan, wat verkondig het dat net die Mahajana-denkrigting se Lotus Soetra die definitiewe leringe van die Boeddha bevat, en Noen Tsj’in-Hai in Taiwan, wat ’n groot aanhang het. In hierdie opsig is Boeddhisme nie veel anders as die Christendom met sy baie kerkverbande en sektes nie. Trouens, ’n mens sien dikwels dat mense wat sê dat hulle Boeddhiste is die gebruike van Taoïsme, die Sjinto, vooroueraanbidding en selfs dié van die Christendom volg. * Al hierdie Boeddhistiese sektes beweer dat hulle hul opvattings en gebruike op die leringe van die Boeddha baseer.

Die Drie Korwe en ander Boeddhistiese geskrifte

34. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons die leringe van Boeddhisme ondersoek?

34 Leringe wat aan die Boeddha toegeskryf word, is mondeling oorgelewer en is eers eeue na sy dood op skrif gestel. Hulle is dus hoogstens ’n weergawe van wat sy volgelinge in later geslagte gedink het hy gesê en gedoen het. Die saak word verder bemoeilik deur die feit dat Boeddhisme toe reeds in talle denkrigtings versplinter het. Verskillende tekste bevat dus heeltemal verskillende weergawes van Boeddhisme.

35. Wat is die eerste Boeddhistiese heilige tekste?

35 Die eerste Boeddhistiese tekste is omstreeks die eerste eeu v.G.J. in Pali geskryf, wat na bewering verwant aan die Boeddha se moedertaal was. Hulle word deur die Theravada-denkrigting as die egte tekste aanvaar. Hulle bestaan uit 31 boeke verdeel in drie versamelings wat Tipitaka (Sanskrit, Tripitaka) genoem word, wat “Drie Korwe”, of “Drie Versamelings”, beteken. Die Vinaja Pitaka (Korf van Dissipline) dek hoofsaaklik reëls en regulasies vir monnike en nonne. Die Soetta Pitaka (Korf van Gesprekke) bevat die preke, gelykenisse en spreuke wat deur die Boeddha en sy vooraanstaande dissipels uitgespreek is. Laastens bestaan die Abhidhamma Pitaka (Korf van Hoogste Leerstelling) uit kommentare oor Boeddhistiese leerstellings.

36. Wat kenmerk die geskrifte van die Mahajana-Boeddhisme?

36 Daarenteen is die geskrifte van die Mahajana-denkrigting hoofsaaklik in Sanskrit, Chinees en Tibettaans en bestaan dit uit baie dele. Die Chinese tekste alleen bestaan uit meer as 5 000 dele. Hulle bevat talle opvattings wat nie in die vroeëre geskrifte was nie, soos verslae oor Boeddhas so talryk soos die sand van die Ganges, wat na bewering tallose miljoene jare geleef het en elk oor sy eie Boeddha-wêreld toesig gehad het. Dit is geen oordrywing nie wanneer een skrywer sê dat hierdie tekste “deur verskeidenheid, buitensporige verbeelding, kleurryke persoonlikhede en oordrewe herhalings gekenmerk word”.

37. Watter probleme het die Mahajana-geskrifte opgelewer? (Vergelyk Filippense 2:2, 3.)

37 Dit is onnodig om te sê dat min mense hierdie uiters abstrakte verhandelings kan verstaan. Gevolglik het hierdie latere ontwikkelinge Boeddhisme ver verwyder van wat die Boeddha oorspronklik in gedagte gehad het. Volgens die Vinaja Pitaka wou die Boeddha gehad het dat nie net die geleerde stand nie, maar allerhande mense sy leringe moes verstaan. Daarom het hy volgehou dat sy opvattings in die taal van die gewone mense verkondig moet word, nie in die heilige, dooie taal van Hindoeïsme nie. Wanneer die Theravada-Boeddhiste beswaar maak dat hierdie boeke apokrief is, antwoord die Mahajana-aanhangers dus dat Gautama die Boeddha eers die eenvoudige en onkundige mense geleer het, maar dat hy die leringe wat later in die Mahajana-boeke opgeteken is aan die geleerdes en wyse mense geopenbaar het.

Die siklus van Karma en samsara

38. (a) Hoe vergelyk Boeddhistiese leringe en Hindoeleringe? (b) Wat is die Boeddhistiese opvatting van die siel in teorie en in die werklikheid?

38 Hoewel Boeddhisme die mense in sekere mate uit die boeie van Hindoeïsme bevry het, is sy grondopvattings steeds ’n erfenis van die Hindoeleringe oor Karma en samsara. Boeddhisme, soos dit oorspronklik deur die Boeddha verkondig is, verskil van Hindoeïsme in dié opsig dat dit die bestaan van ’n onsterflike siel loën maar die individu beskryf as “’n kombinasie van fisiese en verstandelike kragte of energieë”. * Desnieteenstaande berus die leringe daarvan steeds op die opvattings dat alle mense deur tallose wedergeboortes van lewe tot lewe wandel (samsara) en weens die gevolge van vorige en huidige dade ly (Karma). Hoewel sy boodskap oor verligting van en bevryding uit hierdie siklus dalk aantreklik lyk, vra party: Hoe solied is die grondslag? Watter bewyse is daar dat alle lyding die gevolg van ’n mens se dade in ’n vorige lewe is? En watter getuienis bestaan daar trouens dat daar wel ’n vorige lewe is?

39. Hoe verduidelik een Boeddhistiese teks die wet van Karma?

39 Een verduideliking van die wet van Karma sê:

“Kamma [Pali ekwivalent van Karma] is ’n wet op sigself. Maar dit is nie te sê dat daar ’n wetgewer moet wees nie. Gewone natuurwette, soos swaartekrag, het nie ’n wetgewer nodig nie. Die wet van Kamma het ook nie ’n wetgewer nodig nie. Dit tree op in sy eie veld sonder die tussenkoms van ’n eksterne, onafhanklike heersende mag.”—A Manual of Buddhism.

40. (a) Waarop dui die bestaan van natuurwette? (b) Wat sê die Bybel oor oorsaak en gevolg?

40 Is dit ’n grondige redenasie? Het natuurwette werklik nie ’n wetgewer nodig nie? Vuurpyldeskundige dr. Wernher von Braun het eenkeer gesê: “Die natuurwette van die heelal is so noukeurig dat ons heel maklik ’n ruimtetuig kan bou om na die maan te vlieg en die vlugtyd op ’n breukdeel van ’n sekonde akkuraat kan bepaal. Iemand moes hierdie wette daargestel het.” Die Bybel praat ook van die wet van oorsaak en gevolg. Dit deel ons mee: “God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Pleks van te sê dat hierdie wet geen wetgewer nodig het nie, wys dit daarop dat ‘God Hom nie laat bespot nie’, en dit toon sodoende dat hierdie wet deur die Skepper daarvan, Jehovah, in werking gestel is.

41. (a) Watter vergelyking kan gemaak word tussen die wet van Karma en die wet van die howe? (b) Vergelyk Karma met die Bybel se belofte.

41 Daarbenewens sê die Bybel: “Die loon van die sonde is die dood” en “hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde”. Selfs geregshowe erken dat niemand twee keer vir enige misdaad aan straf blootgestel moet word nie. Waarom moet iemand wat reeds vir sy sondes geboet het deur te sterf weer gebore word om opnuut die gevolge van sy vorige dade te ly? En hoe kan ’n mens berou hê en jou verbeter as jy nie weet vir watter vorige dade jy gestraf word nie? Kan dit as geregtigheid beskou word? Strook dit met genade, wat na bewering die Boeddha se vernaamste eienskap is? In teenstelling hiermee sê die Bybel voorts, nadat dit gesê het dat ‘die loon van die sonde die dood is’: “Maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” Ja, dit beloof dat God ontslae gaan raak van alle verdorwenheid, sonde en die dood en vir die hele mensdom vryheid en volmaaktheid gaan bewerkstellig.—Romeine 6:7, 23; 8:21; Jesaja 25:8.

42. Hoe verduidelik ’n Boeddhistiese geleerde wedergeboorte?

42 Hier is ’n verduideliking van wedergeboorte deur die Boeddhistiese geleerde dr. Walpola Rahoela:

“’n Wese is niks anders nie as ’n kombinasie van fisiese en verstandelike kragte of energieë. Wat ons die dood noem, is die algehele nie-werking van die fisiese liggaam. Hou al hierdie kragte en energieë geheel en al op wanneer die liggaam ophou werk? Boeddhisme sê: ‘Nee.’ Wil, wilskrag, begeerte, die dors om te bestaan, om voort te gaan, om al hoe meer te word, is ’n ontsaglike krag wat hele lewens en die hele bestaan aandryf, wat selfs die hele wêreld aandryf. Dit is die grootste krag, die grootste energie ter wêreld. Volgens Boeddhisme hou hierdie krag nie op wanneer die liggaam ophou funksioneer nie, wat die dood is; maar dit word voortdurend in ’n ander vorm geopenbaar, wat lei tot herbestaan, die sogenaamde wedergeboorte.”

43. (a) Hoe word ’n mens se genetiese samestelling biologies bepaal? (b) Wat word soms gebruik om wedergeboorte te probeer “bewys”? (c) Strook hierdie “bewys” vir wedergeboorte met die algemene ondervinding?

43 Wanneer bevrugting plaasvind, erf ’n persoon 50 persent van sy gene van elke ouer. Dit is dus onmoontlik dat hy 100 persent soos iemand in ’n vorige bestaan kan wees. Trouens, die proses van wedergeboorte kan nie deur enige bekende beginsel van die wetenskap gestaaf word nie. Dikwels probeer diegene wat aan die leerstelling oor wedergeboorte glo dit staaf deur die ervaring van mense te meld wat beweer dat hulle gesigte, gebeure en plekke wat hulle nie voorheen geken het nie, onthou. Is dit logies? As ’n mens sê dat iemand wat dinge uit die verlede kan vertel in daardie tydperk moes gelewe het, sou ’n mens ook moes sê dat iemand wat die toekoms kan voorspel—en daar is baie wat sê dat hulle dit kan doen—in die toekoms moes gelewe het. Dit is natuurlik nie die geval nie.

44. Vergelyk die Bybel se lering oor die “gees” met die Boeddhistiese leerstelling oor wedergeboorte.

44 Meer as 400 jaar voor die Boeddha het die Bybel van ’n lewenskrag gepraat. Dit beskryf wat by ’n mens se dood gebeur wanneer dit praat van ’n tyd wanneer “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Prediker 12:7). Die woord “gees” word vertaal uit die Hebreeuse woord ruʹach, wat dui op die lewenskrag wat alle lewende skepsele, mense en diere, lewend maak (Prediker 3:18-22). Maar die belangrike verskil is dat ruʹach ’n onpersoonlike krag is; dit het nie ’n eie wil nie en behou nie die persoonlikheid of enige kenmerke van die afgestorwene nie. By die dood gaan dit nie van een persoon na ’n ander nie, maar dit ‘keer terug na God wat dit gegee het’. Met ander woorde, die persoon se hoop op toekomstige lewe—die hoop op ’n opstanding—berus nou geheel en al by God.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 17:31.

Nirwana—Die bereiking van die onbereikbare?

45. Wat is die Boeddhistiese konsep van Nirwana?

45 Dit bring ons by die Boeddha se lering oor verligting en redding. Volgens Boeddhiste beteken redding basies bevryding van die wette van Karma en samsara, sowel as die bereiking van Nirwana. En wat is Nirwana? Boeddhistiese tekste sê dat dit onmoontlik is om dit te beskryf of te verduidelik maar dat dit net ervaar kan word. Dit is nie ’n hemel waarheen ’n mens na die dood gaan nie, maar ’n doel wat hier en nou binne almal se bereik is. Die woord beteken na bewering “om uit te blaas, uit te doof”. Party definieer Nirwana dus as die beëindiging van alle hartstog en begeerte; ’n bestaan vry van alle sintuiglike gevoelens, soos pyn, vrees, behoefte, liefde of haat; ’n toestand van ewige vrede, rus en onveranderlikheid. In wese word daar gesê dat dit die beëindiging van individuele bestaan is.

46, 47. (a) Wat is volgens Boeddhistiese leringe die bron van redding? (b) Waarom is die Boeddhistiese beskouing van die bron van redding in stryd met die algemene ondervinding?

46 Die Boeddha het verkondig dat verligting en redding—die volmaakte Nirwana—nie van enige God of eksterne krag kom nie, maar vanuit ’n mens self deur middel van jou eie inspanning om goeie dade te doen en aan die regte dinge te dink. Dit laat die vraag ontstaan: Kan iets volmaaks uit iets onvolmaaks kom? Weet ons nie almal uit ondervinding, soos die Hebreeuse profeet Jeremia geweet het, dat “aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie”? (Jeremia 10:23). As niemand selfs in eenvoudige, alledaagse aangeleenthede algehele beheer oor sy dade kan hê nie, is dit dan logies om te dink dat enigiemand sy ewige redding heeltemal alleen kan bewerk?—Psalm 146:3, 4.

47 Net soos dit onwaarskynlik is dat iemand wat in dryfsand vassit homself daaruit sal kan bevry, so is die hele mensdom in sonde en die dood vasgevang, en niemand kan homself uit hierdie verstrikking losmaak nie (Romeine 5:12). En tog het die Boeddha verkondig dat redding alleenlik van ’n mens se eie inspanning afhang. Sy afskeidsvermaning aan sy dissipels was: “Vertrou op julself en vertrou nie op eksterne hulp nie; hou vas aan die waarheid soos ’n lamp; soek redding alleenlik in die waarheid; wend julle nie tot enigiemand buiten julself om hulp nie.”

Verligting of ontnugtering?

48. (a) Hoe beskryf een boek die uitwerking van ingewikkelde Boeddhistiese opvattings soos Nirwana? (b) Wat het die onlangse belangstelling in Boeddhistiese leringe in party gebiede tot gevolg gehad?

48 Wat is die uitwerking van so ’n leerstelling? Vuur dit mense wat dit glo tot ware geloof en toewyding aan? Die boek Living Buddhism berig dat selfs monnike in party Boeddhistiese lande “min dink aan die verhewenhede van hulle godsdiens. Die bereiking van Nirwana word alom as ’n hopeloos onrealistiese ambisie beskou, en meditasie word selde beoefen. Buiten ongereelde studie van die Tipitaka lê hulle hul daarop toe om ’n welwillende en harmoniese invloed in die gemeenskap uit te oefen.” World Encyclopedia (Japannees) sê eweneens oor die onlangse herlewing van belangstelling in Boeddhistiese leringe: “Hoe meer gespesialiseerd die studie van Boeddhisme word, hoe meer wyk dit af van die oorspronklike doel daarvan—om die mense te lei. Uit hierdie oogpunt beskou, beteken die onlangse tendens om ’n diep studie van Boeddhisme te maak nie noodwendig die herlewing van ’n lewende geloof nie. Daar moet eerder gesê word dat ’n godsdiens sy ware lewenskrag as ’n geloof verloor wanneer dit aan ingewikkelde, metafisiese geleerdheid blootgestel word.”

49. Wat het Boeddhisme vir baie geword?

49 Die fundamentele konsep van Boeddhisme is dat kennis en begrip tot verligting en redding lei. Maar die ingewikkelde leerstellings van die verskillende denkrigtings van Boeddhisme het bloot die bogemelde “hopeloos onrealistiese” situasie meegebring wat vir die meeste gelowiges onbegryplik is. Vir hulle kom Boeddhisme nou daarop neer dat hulle die goeie doen en ’n paar rituele en eenvoudige voorskrifte volg. Dit beantwoord nie die lewe se verwarrende vrae nie, soos: Waar kom ons vandaan? Waarom is ons hier? En wat is die toekoms vir die mens en die aarde?

50. Watter vraag ontstaan met die oog op die ondervindinge van party opregte Boeddhiste? (Vergelyk Kolossense 2:8.)

50 Party opregte Boeddhiste het erken dat die ingewikkelde leerstellings en swaar rituele van Boeddhisme soos dit vandag beoefen word tot verwarring en ontnugtering lei. Die filantropie van Boeddhistiese groepe en verenigings in party lande het moontlik vir baie mense verligting van pyn en lyding gebring. Maar het Boeddhisme as ’n bron van ware verligting en bevryding vir almal sy belofte nagekom?

Verligting sonder God?

51. (a) Wat sê een staaltjie oor die Boeddha se leringe? (b) Watter belangrike feit is uit die Boeddha se leringe weggelaat? (Vergelyk 2 Kronieke 16:9; Psalm 46:2; 145:18.)

51 Volgens verhale oor die lewe van die Boeddha was hy en sy dissipels eenkeer in ’n woud. Hy het ’n handvol blare opgetel en vir sy dissipels gesê: “Wat ek julle geleer het, kan vergelyk word met die blare in my hand, wat ek julle nie geleer het nie, kan vergelyk word met die aantal blare in die woud.” Die implikasie was natuurlik dat die Boeddha net ’n deel van sy kennis oorgedra het. Maar daar is een belangrike weglating—Gautama die Boeddha het feitlik niks oor God gesê nie; en hy het ook nooit beweer dat hy God is nie. Trouens, hy het glo vir sy dissipels gesê: “As daar ’n God is, is dit ondenkbaar dat Hy in my daaglikse aangeleenthede sal belangstel”, en: “Daar is geen gode wat die mens kan of sal help nie.”

52. (a) Wat is Boeddhisme se beskouing van God? (b) Wat het Boeddhisme geïgnoreer?

52 In hierdie opsig is Boeddhisme se rol in die mensdom se soeke na die ware God baie klein. The Encyclopedia of World Faiths sê dat “vroeë Boeddhisme skynbaar glad nie met die kwessie van God rekening gehou het nie en beslis nie geloof in God verkondig of vereis het nie”. Aangesien Boeddhisme soveel klem daarop plaas dat elke persoon op sy eie na redding moet soek, hom inwaarts tot sy eie verstand of bewustheid om verligting moet wend, is dit in werklikheid agnosties, indien nie ateïsties nie. (Sien venster, bladsy 145.) In ’n poging om van Hindoeïsme se boeie van bygeloof en sy verwarrende reeks mitiese gode ontslae te raak, het Boeddhisme na die ander uiterste oorgehel. Dit het die fundamentele konsep van ’n Opperwese, deur wie se wil alles bestaan en werk, geïgnoreer.—Handelinge 17:24, 25.

53. Wat kan omtrent ’n soeke na verligting sonder God gesê word? (Vergelyk Spreuke 9:10; Jeremia 8:9.)

53 Hierdie selfgerigte en onafhanklike denkwyse het gelei tot ’n ware doolhof van legendes, tradisies, ingewikkelde leerstellings en vertolkings wat deur die eeue heen deur die talle denkrigtings en sektes voortgebring is. Wat veronderstel was om ’n eenvoudige oplossing vir die ingewikkelde lewensprobleme te bring, het gelei tot ’n godsdiens- en filosofiese stelsel wat vir die meeste mense onbegryplik is. Om die waarheid te sê, die gewone Boeddhis is eenvoudig verdiep in die aanbidding van afgode en relieke, gode en demone, geeste en voorouers en die nakoming van talle ander rituele en gebruike wat min te doen het met wat Gautama die Boeddha verkondig het. Dit is duidelik dat die soeke na verligting sonder God vrugteloos is.

54. Watter ander Oosterse godsdiensdenkers se leringe sal vervolgens bespreek word?

54 Omstreeks die tyd toe Gautama die Boeddha na die weg tot verligting gesoek het, het twee filosowe wie se idees miljoene mense beïnvloed het in ’n ander deel van die Asiatiese kontinent gelewe. Hulle was Lao-tse en Confucius, die twee wysgere wat al geslagte lank deur Chinese en ander vereer word. Wat het hulle verkondig, en watter uitwerking het hulle op die mensdom se soeke na God gehad? Dit is wat ons in die volgende hoofstuk gaan bespreek.

[Voetnote]

^ par. 12 Dit is die transliterasie van die Pali spelling van sy naam. Die transliterasie van die Sanskrit is Siddhārtha Gautama. Sy geboortejaar is egter al as 560, 563 of 567 v.G.J. aangegee. Die meeste gesaghebbendes aanvaar die jaar 560 of plaas sy geboorte ten minste in die sesde eeu v.G.J.

^ par. 33 Talle Boeddhiste in Japan vier ’n vertonerige “Kersfees”.

^ par. 38 Boeddhistiese leerstellings, soos anatta (geen self nie), loën die bestaan van ’n onveranderlike of ewige siel. Maar die meeste hedendaagse Boeddhiste, veral dié in die Verre Ooste, glo aan die verhuising van ’n onsterflike siel. Die feit dat hulle vooroueraanbidding beoefen en aan nadoodse pyniging in ’n hel glo, is ’n duidelike bewys hiervan.

[Studievrae]

[Venster op bladsy 139]

Die Boeddha se Vier Edele Waarhede

Die Boeddha het sy fundamentele lering in die sogenaamde Vier Edele Waarhede uiteengesit. Hier haal ons aan uit die Dhammacakkappavattana Soetta (Die Grondslag van die Koninkryk van Regverdigheid), in ’n vertaling deur T. W. Rhys Davids:

▪ “Dít, o Bhikkoes, is die edele waarheid van lyding. Geboorte gaan gepaard met pyn, verval is pynlik, siekte is pynlik, die dood is pynlik. Gebondenheid aan die onaangename is pynlik, skeiding van die aangename is pynlik; en enige begeerte wat nie bevredig word nie, is ook pynlik. . . .

▪ “Dít, o Bhikkoes, is die edele waarheid van die oorsprong van lyding. Dit is waarlik daardie dors, wat die bestaan hernuwe, wat met sinsgenot gepaard gaan, wat nou hier en dan daar bevrediging soek—dit wil sê, die begeerte om die hartstogte te bevredig, of die begeerte na die lewe, of die begeerte na sukses. . . .

▪ “Dít, o Bhikkoes, is die edele waarheid van die opheffing van lyding. Dit is waarlik die opheffing van hierdie selfde dors, sodat geen hartstog oorbly nie; die aflegging van, die wegdoening van, die bevryding van, die afwesigheid van hierdie dors. . . .

▪ “Dít, o Bhikkoes, is die edele waarheid van die weg wat tot die opheffing van droefheid lei. Dit is waarlik hierdie edele agtvoudige pad; dit wil sê: regte beskouings; regte strewes; regte spraak; regte gedrag; regte leefwyse; regte inspanning; regte bedagsaamheid en regte oorpeinsing.”

[Venster op bladsy 145]

Boeddhisme en God

“Boeddhisme leer die weg tot volmaakte goedheid en wysheid sonder ’n persoonlike God; die hoogste kennis sonder ’n ‘openbaring’; . . . die moontlikheid van verlossing sonder ’n plaasvervangende verlosser, ’n redding waarin elkeen sy eie saligmaker is.”—The Message of Buddhism, deur die bhikkhoe Soebhadra, aangehaal in What is Buddhism?

Is Boeddhiste dan ateïste? Die boek What is Buddhism?, wat deur die Boeddhistiese Losie, Londen, uitgegee word, antwoord: “As jy met ateïs iemand bedoel wat die opvatting van ’n persoonlike God verwerp, is ons ateïste.” Dan sê dit voorts: “Dit is net so moeilik vir ’n groeiende verstand om die konsep te aanvaar van ’n Heelal wat deur onwrikbare Wet gerig word as om die konsep te aanvaar van ’n vae Persoonlikheid wat dalk nooit gesien sal word nie, wat op ’n onbekende plek woon en wat op die een of ander tyd uit niks ’n Heelal geskep het wat deurtrek is van vyandskap, onreg, ongelyke geleenthede en eindelose lyding en tweedrag.”

Boeddhisme is dus in teorie nie ’n voorstander van geloof in God of ’n Skepper nie. Maar vandag is daar Boeddhistiese tempels en stoepas in feitlik elke land waar Boeddhisme beoefen word, en beelde en relieke van Boeddhas en bodhisattvas het vir vroom Boeddhiste voorwerpe van gebed, offerandes en toewyding geword. Die Boeddha, wat nooit beweer het dat hy God is nie, het in elke sin van die woord ’n god geword.

[Kaart op bladsy 142]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Teen die sewende eeu G.J. het Boeddhisme reeds van Indië na die hele oostelike Asië versprei

INDIË

Benares

Bodh Gaja

3DE EEU v.G.J. SRI LANKA

1STE EEU v.G.J. KASJMIR

SENTRAAL-ASIË

1STE EEU G.J. CHINA

MYANMA

THAILAND

KAMPUCHEA

JAVA

4DE EEU G.J. KOREA

6DE EEU G.J. JAPAN

7DE EEU G.J. TIBET

[Prente op bladsy 131]

Die styl van Boeddhistiese tempels verskil wêreldwyd

Tsjengteh, Noord-China

Kofoe, Japan

Die stad New York, VSA

Tsjiang Mai, Thailand

[Prent op bladsy 133]

Klipreliëf, Droom van Maya, van Gandhara, Pakistan, waarop die toekomstige Boeddha uitgebeeld word as ’n wit olifant met ’n stralekrans wat die regtersy van koningin Maya binnedring om haar swanger te maak

[Prente op bladsy 134]

Boeddhistiese monnike en aanbidders in ’n tempel in die stad New York

[Prente op bladsy 141]

Beelde van die Boeddha met gestileerde gebare waar hy

Nirwana binnegaan

onderrig

mediteer

versoeking weerstaan

[Prent op bladsy 147]

Optog ter ere van die Boeddha se verjaarsdag, in Tokio, Japan. Die wit olifant agter simboliseer die Boeddha

[Prente op bladsy 150]

Bladsye van die Lotus Soetra (10de eeu), in Chinees, beskryf die mag van die bodhisattva Koean-jin om mense uit vuur en oorstromings te red. Bodhisattva Ksitigarbha, regs, was in die 14de eeu gewild in Korea

[Prent op bladsy 155]

’n Boeddhistiese boekrol van Kioto, Japan, beeld die pyniging in die “hel” uit

[Prente op bladsy 157]

Boeddhiste aanbid vandag voor, regs om van links bo, ’n lingam in Bangkok, Thailand; die reliek van die Boeddha se Tand in Kandy, Sri Lanka; beelde van die Boeddha in Singapoer en New York

[Prente op bladsy 158]

’n Boeddhistiese vrou wat voor ’n familie-altaar bid en kinders wat tempeldiens doen