Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Christelike godsdiens—Was Jesus die weg na God?

Die Christelike godsdiens—Was Jesus die weg na God?

Hoofstuk 10

Die Christelike godsdiens—Was Jesus die weg na God?

Tot dusver het ons, met die uitsondering van die hoofstuk oor Judaïsme, vername godsdienste ondersoek wat in groot mate op mites berus. Nou sal ons nog ’n godsdiens ondersoek wat beweer dat dit die mensdom nader aan God bring—die Christelike godsdiens. Wat is die grondslag van die Christelike godsdiens—mites of geskiedkundige feite?

1. (a) Waarom laat die geskiedenis van die Christendom party ernstig twyfel aan die Christelike godsdiens? (b) Watter onderskeid maak ons tussen die Christendom en die Christelike godsdiens?

DIE geskiedenis van die Christendom, * met sy oorloë, inkwisisies, kruistogte en godsdiensgeveinsdheid, het nie die saak van die Christelike godsdiens bevorder nie. Vroom Moslems en ander verwerp die Christelike godsdiens op grond van die sedebederf en die verwording van die Westerse, “Christelike” wêreld. Trouens, die sogenaamd Christelike nasies is sedelik gesproke stuurloos en het skipbreuk gely op die rotse van ongelowigheid, hebsug en selfbevrediging.

2, 3. (a) Watter kontras is daar tussen die gedrag van vroeë Christene en dié van mense in die hedendaagse Christendom? (b) Wat is party vrae wat beantwoord moet word?

2 Professor Elaine Pagels getuig van die feit dat die standaarde van die oorspronklike Christelike godsdiens baie anders was as die hedendaagse permissiewe sedes. Sy sê in haar boek Adam, Eve, and the Serpent: “Baie Christene van die eerste vier eeue was trots op hulle seksuele selfbeheersing; hulle het veelwywery en dikwels ook egskeiding vermy, hoewel laasgenoemde volgens Joodse tradisie toelaatbaar was; en hulle het buite-egtelike seksgebruike verwerp wat algemeen aanvaarbaar was onder hulle heidense tydgenote, waaronder gebruike soos prostitusie en homoseksualiteit.”

3 Dit is derhalwe redelik om te vra: Weerspieël die Christendom se geskiedenis en sy hedendaagse sedetoestand waarlik die leringe van Jesus Christus? Watter soort mens was Jesus? Het hy gehelp om die mensdom nader aan God te bring? Was hy die beloofde Messias van Hebreeuse profesieë? Dit is party van die vrae wat ons in hierdie hoofstuk sal ondersoek.

JesusHet hy aan die voorvereistes voldoen?

4. Watter duidelike verskil tussen die Christelike godsdiens en sy oorsprong en die wêreld se vername godsdienste het in ons studie na vore gekom?

4 In vorige hoofstukke het ons gesien watter prominente rol die mitologie in feitlik al die vername godsdienste van die wêreld gespeel het. Maar toe ons die oorsprong van Judaïsme in ons vorige hoofstuk ondersoek het, het ons nie met ’n mite begin nie, maar met die geskiedkundige werklikheid van Abraham, sy voorsate en sy nakomelinge. In ons ondersoek van die Christelike godsdiens en die stigter daarvan, Jesus, begin ons eweneens nie met mites nie, maar met ’n geskiedkundige persoon.—Sien venster, bladsy 237.

5. (a) Wat is drie van die voorvereistes waaraan Jesus voldoen het wat bewys dat hy die beloofde “saad” van Abraham was? (b) Wie het die Christelike Griekse Skrifte geskryf?

5 Die eerste vers van die Christelike Griekse Skrifte, alom bekend as die Nuwe Testament (sien venster, bladsy 241), sê: “Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham” (Mattheüs 1:1). Is dit ’n ongegronde bewering van Mattheüs, ’n voormalige Joodse tollenaar en ’n onmiddellike dissipel en lewensbeskrywer van Jesus? Nee. Die daaropvolgende 15 verse is ’n noukeurige weergawe van Abraham se geslagslyn tot by Jakob, “die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word”. Jesus was derhalwe werklik ’n afstammeling van Abraham, Juda en Dawid en het gevolglik voldoen aan drie van die voorvereistes vir die voorspelde “saad” van Genesis 3:15 en van Abraham.—Genesis 22:18, vgl. NW; 49:10; 1 Kronieke 17:11.

6, 7. Waarom was Jesus se geboorteplek belangrik?

6 Nog ’n voorvereiste vir die Messiaanse Saad sou sy geboorteplek wees. Waar is Jesus gebore? Mattheüs deel ons mee dat Jesus “te Betlehem in Judea gebore is, in die dae van koning Herodes” (Mattheüs 2:1). Die geneesheer Lukas se verslag bevestig daardie feit en sê aangaande Jesus se toekomstige pleegvader: “Josef het ook opgegaan van Galilea, uit die stad Nasaret, na Judea, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was.”—Lukas 2:4, 5.

7 Waarom was dit belangrik dat Jesus in Betlehem eerder as in Nasaret of enige ander dorp gebore word? Vanweë ’n profesie wat gedurende die agtste eeu v.G.J. deur die Hebreeuse profeet Miga uitgespreek is: “En jy, Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” (Miga 5:1). Jesus het dus deur sy geboorteplek aan nog een van die voorvereistes voldoen om die beloofde Saad en Messias te wees.—Johannes 7:42.

8. Wat is party profesieë wat Jesus vervul het?

8 Trouens, Jesus het baie ander profesieë van die Hebreeuse Skrifte vervul en sodoende bewys dat hy voldoen aan al die voorvereistes om die beloofde Messias te wees. Jy kan party hiervan in die Bybel nagaan. (Sien venster, bladsy 245.) * Maar kom ons ondersoek nou kortliks Jesus se boodskap en sy bediening.

Jesus se lewe dui die weg aan

9. (a) Hoe het Jesus met sy openbare bediening begin? (b) Hoe weet ons dat Jesus God se goedkeuring geniet het?

9 Die Bybelverslag deel ons mee dat Jesus soos ’n normale Joodse seun van sy tyd grootgemaak is en die plaaslike sinagoge en die tempel in Jerusalem besoek het (Lukas 2:41-52). Toe hy 30 jaar oud was, het hy met sy openbare bediening begin. Hy het eerstens na sy neef Johannes gegaan, wat Jode in die Jordaanrivier gedoop het as ’n simbool van hulle berou. Lukas se verslag deel ons mee: “En toe die hele volk gedoop en Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan; en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos ’n duif op Hom neergedaal; en ’n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek ’n welbehae.”—Lukas 3:21-23; Johannes 1:32-34.

10, 11. (a) Wat was sommige kenmerke van Jesus se predikings- en onderrigtingsmetodes? (b) Hoe het Jesus die belangrikheid van sy Vader se naam getoon?

10 Mettertyd het Jesus as die gesalfde Seun van God met sy bediening begin. Hy het deur die hele Galilea en Judea gereis, die boodskap van die Koninkryk van God verkondig en wonderwerke gedoen, soos om die siekes te genees. Hy het geen betaling aanvaar nie en het nie rykdom of selfverheffing gesoek nie. Trouens, hy het gesê dat dit saliger is om te gee as om te ontvang. Hy het sy dissipels ook geleer hoe om te preek.—Mattheüs 8:20; 10:7-13; Handelinge 20:35.

11 Wanneer ons Jesus se boodskap en die metodes wat hy gebruik het, ontleed, sien ons dat sy styl en dié van baie van die Christendom se predikers hemelsbreed verskil. Hy het nie die massa gemanipuleer deur middel van waardelose emosionele vertoon of deur bangmaakpraatjies oor die helse vuur nie. Jesus het eerder eenvoudige logika en gelykenisse, of illustrasies, uit die alledaagse lewe gebruik wat by die hart en die verstand ingang gevind het. Sy beroemde Bergpredikasie is ’n voortreflike voorbeeld van sy leringe en sy metodes. Daardie predikasie sluit Jesus se modelgebed in, waarin hy duidelik toon waaraan Christene die voorkeur moet gee deur die heiliging van God se naam eerste te noem. (Sien venster, bladsye 258-9.)—Mattheüs 5:1–7:29; 13:3-53; Lukas 6:17-49.

12. (a) Hoe het Jesus liefde in sy leringe en dade geopenbaar? (b) Hoe anders sal die wêreld wees as Christelike liefde waarlik aan die dag gelê word?

12 In sy handelinge met sy volgelinge en die gewone publiek het Jesus liefde en medelye geopenbaar (Markus 6:30-34). Terwyl hy die boodskap van God se Koninkryk verkondig het, het hy ook persoonlik liefde en nederigheid aan die dag gelê. In sy laaste lewensure kon hy dus vir sy dissipels sê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Die kern van die aktiewe Christelike godsdiens is derhalwe selfopofferende liefde gegrond op beginsel (Mattheüs 22:37-40). In die praktyk beteken dit dat ’n Christen selfs sy vyande moet liefhê, hoewel hy hulle bose werke haat (Lukas 6:27-31). Dink ’n bietjie daaroor na. Hoe anders sal hierdie wêreld tog nie wees as almal werklik daardie soort liefde aan die dag lê nie!—Romeine 12:17-21; 13:8-10.

13. In watter opsig was Jesus se lering anders as dié van Confucius, Lao-tse en die Boeddha?

13 Maar Jesus se leringe was baie meer as etiek of filosofie, soos dié wat Confucius en Lao-tse verkondig het. Daarbenewens het Jesus nie soos die Boeddha gesê dat ’n mens jou eie redding deur die weg van kennis en verligting kan bewerk nie. In plaas daarvan het hy getoon dat God die bron van redding is toe hy gesê het: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.”—Johannes 3:16, 17.

14. Waarom kon Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”?

14 Jesus het mense nader aan God gebring deur sy Vader se liefde in sy eie woorde en dade te openbaar. Dit is een rede waarom hy kon sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. . . . Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. . . . Julle het gehoor dat Ek aan julle gesê het: Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek” (Johannes 14:6-28). Ja, Jesus was “die weg en die waarheid en die lewe” omdat hy daardie Jode teruggelei het na sy Vader, hulle ware God, Jehovah. Gevolglik het die mensdom se soeke na God skielik vaart gekry toe Jesus verskyn het, want God het sy grootse liefde betoon deur Jesus as ’n baken van lig en waarheid na die aarde te stuur om mense na die Vader te lei.—Johannes 1:9-14; 6:44; 8:31, 32.

15. (a) Wat moet ons doen om God te vind? (b) Watter getuienis van God se liefde is daar hier op aarde?

15 Op grond van Jesus se bediening en voorbeeld kon die sendeling Paulus later vir die Grieke in Athene sê: “En [God] het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” (Handelinge 17:26-28). Ja, God kan gevind word as ’n mens bereid is om jou in te span en na hom te soek (Mattheüs 7:7, 8). God het homself en sy liefde geopenbaar deur ’n aarde te voorsien wat ’n oënskynlik oneindige verskeidenheid lewe onderhou. Hy voorsien die dinge wat die hele mensdom, hetsy regverdig of onregverdig, nodig het. Hy het die mensdom ook sy geskrewe Woord, die Bybel, gegee en sy Seun as ’n soenoffer gestuur. * Bowendien het God die nodige bystand voorsien om mense te help om die weg na Hom te vind.—Mattheüs 5:43-45; Handelinge 14:16, 17; Romeine 3:23-26.

16, 17. Hoe moet ware Christelike liefde betoon word?

16 Christelike liefde moet natuurlik nie net deur woorde geopenbaar word nie, maar nog belangriker deur dade. Daarom het die apostel Paulus geskryf: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer.”—1 Korinthiërs 13:4-8.

17 Jesus het dit ook duidelik gestel hoe belangrik dit is om die Koninkryk van die hemele—God se heerskappy oor die onderdanige mensdom—te verkondig.—Mattheüs 10:7; Markus 13:10.

Elke Christen is ’n evangeliedienaar

18. (a) Waarop het Jesus in sy Bergpredikasie klem gelê? (b) Watter verantwoordelikheid het elke Christen? (c) Hoe het Jesus sy dissipels vir hulle bediening voorberei, en watter boodskap moes hulle verkondig?

18 In sy Bergpredikasie het Jesus die skare hulle verantwoordelikheid op die hart gedruk om ander deur hul woorde en dade te verlig. Hy het gesê: “Julle is die lig van die wêreld. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ’n mens steek ook nie ’n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mattheüs 5:14-16). Jesus het sy dissipels opgelei sodat hulle sou weet hoe om as reisende bedienaars hul boodskap te verkondig en ander te leer. En wat moes hulle boodskap wees? Dít wat Jesus self verkondig het, die Koninkryk van God, wat ’n regverdige heerskappy oor die aarde sou wees. Soos Jesus eenkeer verduidelik het: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Lukas 4:43; 8:1; 10:1-12). Hy het ook gesê dat een deel van die kenmerkende teken van die laaste dae sou wees dat “hierdie evangelie van die koninkryk . . . verkondig [sal] word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom”.—Mattheüs 24:3-14.

19, 20. (a) Waarom was die ware Christelike godsdiens nog altyd ’n aktiewe, evangeliserende godsdiens? (b) Watter basiese vrae moet nou beantwoord word?

19 In 33 G.J., voordat hy uiteindelik na die hemel opgevaar het, het die verrese Jesus sy dissipels beveel: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:18-20). Dit is een rede waarom die Christelike godsdiens, reg van die begin af, ’n aktiewe godsdiens was wat proseliete gemaak het. Dit het die aanhangers van die destydse Griekse en Romeinse godsdienste, wat op mites gebaseer was, kwaad en jaloers gemaak. Die vervolging van Paulus in Efese het daardie feit duidelik toegelig.—Handelinge 19:23-40.

20 Die vrae is nou: Wat het die boodskap oor die Koninkryk van God aangaande die dode geleer? Watter hoop vir die dode het Christus verkondig? Het hy gesê dat hy die “onsterflike siele” van sy gelowiges uit die “helse vuur” sou red? Of wat het hy gesê?—Mattheüs 4:17.

Hoop op die ewige lewe

21, 22. (a) Waarmee het Jesus die ontslape Lasarus se toestand vergelyk, en waarom? (b) Watter hoop het Martha vir haar oorlede broer gekoester?

21 Ons kan die hoop wat Jesus verkondig het moontlik die beste verstaan as ons kyk na wat hy gesê en gedoen het toe sy vriend Lasarus gesterf het. Hoe het Jesus hierdie dood beskou? Onderweg na Lasarus se huis het Jesus vir sy dissipels gesê: “Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak” (Johannes 11:11). Jesus het Lasarus se dooie toestand met slaap vergelyk. As ons vas slaap, is ons van niks bewus nie, wat strook met die Hebreeuse verklaring in Prediker 9:5: “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie.”

22 Hoewel Lasarus vier dae dood was, sien ons Jesus het nie gesê dat Lasarus se siel in die hemel, hel of vaevuur is nie! Toe Jesus in Betanië aangekom en Martha, Lasarus se suster, hom tegemoetgekom het, het hy vir haar gesê: “Jou broer sal opstaan.” Wat het sy geantwoord? Het sy gesê dat hy reeds in die hemel is? Martha het geantwoord: “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.” Dit toon duidelik dat die opstanding, ’n terugkeer tot lewe hier op aarde, destyds die Joodse hoop was.—Johannes 11:23, 24, 38, 39.

23. Watter wonderwerk het Jesus gedoen, en watter uitwerking het dit op die toeskouers gehad?

23 Jesus het geantwoord: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?” (Johannes 11:25, 26). Ter stawing van sy woorde het Jesus na die spelonk gegaan waar Lasarus begrawe was en hom ten aanskoue van sy susters, Maria en Martha, en bure lewend te voorskyn geroep. Die verslag sê voorts: “En baie van die Jode wat na Maria gekom het en aanskouers was van wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo. . . . En die skare wat by Hom was toe Hy Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dode opgewek het, het daarvan getuig” (Johannes 11:45; 12:17). Hulle het self die wonderwerk aanskou, en hulle het geglo en getuig dat dit werklik gebeur het. Jesus se godsdiensteenstanders moes ook die gebeurtenis geglo het, want die verslag deel ons mee dat die owerpriesters en die Fariseërs planne beraam het om Jesus dood te maak, “want hierdie man doen baie tekens”.—Johannes 11:30-53.

24. (a) Waar was Lasarus vier dae lank? (b) Wat sê die Bybel oor onsterflikheid?

24 Waar was Lasarus gedurende die vier dae wat hy dood was? Nêrens. Hy het bewusteloos in die graf geslaap en op ’n opstanding gewag. Jesus het hom geseën deur hom wonderbaarlik uit die dood op te wek. Maar volgens Johannes se verslag het Lasarus nie gesê dat hy gedurende daardie vier dae in die hemel, hel of vaevuur was nie. Waarom nie? Bloot omdat hy nie ’n onsterflike siel gehad het wat na sulke plekke kon reis nie. *Job 36:14; Esegiël 18:4.

25. (a) Wat bedoel die Bybel wanneer dit van die ewige lewe praat? (b) Waarvan hang die koms van God se beloofde Koninkryk af?

25 Toe Jesus van die ewige lewe gepraat het, het hy derhalwe òf van die ewige lewe in die hemele as ’n veranderde, onsterflike geestelike medeheerser saam met hom in sy Koninkryk, òf van die ewige lewe as ’n mens op ’n paradysaarde onder daardie Koninkryksheerskappy gepraat * (Lukas 23:43; Johannes 17:3). Ooreenkomstig God se belofte sal die aarde oorvloedig geseën word wanneer hy figuurlik gesproke saam met die gehoorsame mensdom op aarde woon. Dit hang natuurlik alles af van die vraag of Jesus werklik deur God gestuur en goedgekeur is.—Lukas 22:28-30; Titus 1:1, 2; Openbaring 21:1-4.

God se goedkeuring’n werklikheid, nie ’n mite nie

26. Watter merkwaardige gebeurtenis het in die teenwoordigheid van die dissipels Petrus, Jakobus en Johannes plaasgevind?

26 Hoe weet ons dat Jesus deur God goedgekeur is? Vir eers is ’n stem uit die hemel gehoor toe Jesus gedoop is. Dit het gesê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het [“wat ek goedgekeur het”, NW]” (Mattheüs 3:17). Later het ander getuies gehoor hoe hierdie goedkeuring bevestig word. Die dissipels Petrus, Jakobus en Johannes, wat vroeër vissers in Galilea was, het Jesus na ’n hoë berg vergesel (waarskynlik die berg Hermon, wat 2 814 meter hoog is). Daar het iets merkwaardigs voor hulle oë plaasgevind: “En [Jesus] het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elia in gesprek met Hom . . . ’n helderligte wolk [oordek] hulle meteens en daar sê ’n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het [“wat ek goedgekeur het”, NW]. Luister na Hom! En toe die dissipels dit hoor, het hulle op hul aangesig geval en was baie bevrees.”—Mattheüs 17:1-6; Lukas 9:28-36.

27. (a) Watter uitwerking het die gedaantewisseling op die dissipels gehad? (b) Hoe weet ons dat Jesus nie ’n mite was nie?

27 Hierdie hoorbare en sigbare bevestiging van God het Petrus se geloof baie versterk, want hy het later geskryf: “Ons het nie kunstig verdigte fabels [Grieks: myʹthois, mites] nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit; want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het [“wat Ek goedgekeur het”, NW]. En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was” (2 Petrus 1:16-18). Die Joodse dissipels Petrus, Jakobus en Johannes het werklik gesien hoe Jesus wonderdadig verheerlik word en het God se goedkeurende stem uit die hemele gehoor. Hulle geloof was gegrond op ’n werklikheid wat hulle gesien en gehoor het, nie op mites of op “Joodse fabels” nie. (Sien venster, bladsy 237.)—Mattheüs 17:9; Titus 1:13, 14. *

Jesus se dood en nog ’n wonderwerk

28. Hoe is Jesus in die jaar 33 G.J. vals beskuldig?

28 In die jaar 33 G.J. is Jesus in hegtenis geneem en deur die Joodse godsdiensowerheid op ’n valse aanklag van godslastering verhoor omdat hy homself die Seun van God genoem het (Mattheüs 26:3, 4, 59-67). Aangesien daardie Jode nie die wetlike gesag gehad het om hom dood te maak nie, het hulle hom na die Romeinse heersers gestuur en hom weer vals beskuldig. Die aanklag was hierdie keer dat hy die volk verbied het om aan die keiser belasting te betaal en dat hy gesê het dat hy ’n koning was.—Markus 12:14-17; Lukas 23:1-11; Johannes 18:28-31.

29. Hoe het Jesus gesterf?

29 Nadat Jesus van die een heerser na die ander gestuur is, het die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus, op aandrang van die skare wat deur die godsdiensleiers opgesweep is, die maklikste weg gevolg en Jesus ter dood veroordeel. Gevolglik het Jesus in skande aan ’n paal gesterf, en sy liggaam is in ’n graf geplaas. Maar binne drie dae het iets gebeur wat Jesus se verslae dissipels in vreugdevolle gelowiges en ywerige evangeliedienaars verander het.—Johannes 19:16-22; Galasiërs 3:13.

30. Watter stappe het die godsdiensleiers gedoen om bedrog te voorkom?

30 Die godsdiensleiers, wat bang was dat Jesus se volgelinge hulle tot bedrog sou wend, het Pilatus gaan vra: “My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan ek op. Gee dan bevel dat die graf verseker word tot die derde dag toe, dat sy dissipels nie miskien in die nag kom en Hom steel nie, en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode. En die laaste dwaling sal erger wees as die eerste. Daarop sê Pilatus vir hulle: Julle sal ’n wag kry; gaan verseker dit soos julle dit verstaan. En hulle het gegaan en die graf verseker deur die steen te verseël in die teenwoordigheid van die wag” (Mattheüs 27:62-66). Hoe veilig was dit toe?

31. Wat het gebeur toe getroue vroue na Jesus se graf gegaan het?

31 Op die derde dag na Jesus se dood het drie vroue na die graf gegaan om die liggaam met geparfumeerde olie te salf. Wat het hulle gevind? “En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf. En hulle sê vir mekaar: Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol? En toe hulle opkyk, sien hulle dat die steen weggerol was, want dit was baie groot. En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle ’n jongman, met ’n lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik. En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasarener wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het. Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galilea. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het” (Markus 16:1-7; Lukas 24:1-12). Ondanks die godsdiensleiers se spesiale wag is Jesus deur sy Vader opgewek. Is dit ’n mite of ’n geskiedkundige feit?

32. Om watter gegronde redes het Paulus geglo dat Jesus opgewek is?

32 Ongeveer 22 jaar na hierdie gebeurtenis het Paulus, ’n voormalige vervolger van Christene, geskryf en verduidelik hoe hy begin glo het dat Christus opgewek is: “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Cefas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels” (1 Korinthiërs 15:3-7). Ja, Paulus het ’n feitelike grondslag gehad om sy lewe ter wille van die verrese Jesus te waag, en dit het die getuienis ingesluit van sowat 500 ooggetuies wat die verrese Jesus in lewende lywe gesien het! (Romeine 1:1-4). Paulus het geweet dat Jesus reeds opgewek was, en hy het ’n selfs kragtiger rede gehad om dit te sê, soos hy verder verduidelik het: “En laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.”—1 Korinthiërs 15:8, 9; Handelinge 9:1-19.

33. Waarom was die vroeë Christene bereid om martelaars vir hulle geloof te wees?

33 Die vroeë Christene was bereid om as martelaars in die Romeinse arenas te sterf. Waarom? Omdat hulle geweet het dat hulle geloof op geskiedkundige werklikhede gegrond was, nie op mites nie. Dit was ’n werklikheid dat Jesus die Christus was, oftewel die Messias, wat in profesieë beloof is en dat hy deur God aarde toe gestuur is, God se goedkeuring ontvang het, as God se Seun wat onkreukbaarheid gehandhaaf het aan ’n paal gesterf het en uit die dode opgewek is.—1 Petrus 1:3, 4.

34. Waarom is Jesus se opstanding volgens die apostel Paulus so noodsaaklik vir die Christelike geloof?

34 Ons stel voor dat jy hoofstuk 15 van Paulus se eerste brief aan die Korinthiërs in sy geheel lees om te verstaan wat Paulus aangaande die opstanding geglo het en waarom dit vir die Christelike geloof noodsaaklik is. Die kern van sy boodskap word in hierdie woorde uitgedruk: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ’n mens [Adam] is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.”—1 Korinthiërs 15:20-22.

35. Watter seëninge beloof God vir die aarde en vir die mensdom? (Jesaja 65:17-25).

35 Christus Jesus se opstanding het dus ’n doel gehad wat die hele mensdom uiteindelik tot voordeel sal strek. * Dit het ook die weg gebaan vir Jesus om uiteindelik die res van die Messiaanse profesieë te vervul. Sy regverdige heerskappy uit die onsigbare hemele moet binnekort tot ’n gereinigde aarde uitgebrei word. Dan sal daar iets wees wat die Bybel beskryf as “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” waarin God “al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan”.—Openbaring 21:1-4.

Afvalligheid en vervolging word verwag

36. Wat het op Pinkster 33 G.J. plaasgevind, en wat het dit tot gevolg gehad?

36 Kort na Jesus se dood en opstanding het nog ’n wonderwerk plaasgevind wat die predikingswerk van daardie vroeë Christene versterk en versnel het. Op Pinksterdag van die jaar 33 G.J. het God sy heilige gees, of werkende krag, uit die hemel op sowat 120 Christene uitgestort wat in Jerusalem vergader het. Die gevolg? “Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek” (Handelinge 2:3, 4). Die andertalige Jode wat op daardie tydstip in Jerusalem was, was verstom om te hoor hoe hierdie Galilese Jode wat kwansuis onkundig was in vreemde tale praat. Die resultaat was dat baie geglo het. Die Christelike boodskap het soos ’n veldbrand versprei toe hierdie nuwe Joodse gelowiges na hulle lande van verblyf teruggekeer het.—Handelinge 2:5-21.

37. Hoe het party Romeinse heersers op die nuwe Christelike godsdiens gereageer?

37 Maar stormwolke het gou saamgepak. Die Romeine het lugtig geword vir hierdie nuwe en skynbaar ateïstiese godsdiens wat geen afgode gehad het nie. Keiser Nero en party van sy opvolgers het die Christene verskriklik vervolg in die eerste drie eeue van ons Gewone Jaartelling. * Baie Christene is tot ’n dood in die arenas veroordeel, waar hulle die sadistiese bloeddors moes bevredig van die keisers en die skares wat saamgedrom het om te sien hoe gevangenes vir wilde diere gegooi word.

38. Watter toestand is voorspel wat die vroeë Christengemeente sou ontwrig?

38 Nog ’n ontstellende faktor in daardie tyd was iets wat die apostels voorspel het. Petrus het byvoorbeeld gesê: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring” (2 Petrus 2:1-3). Afvalligheid! Dit was ’n afval van ware aanbidding, ’n kompromis met die destydse godsdienstendense van die Romeinse wêreld, wat deurtrek was van Griekse filosofie en denke. Hoe het dit plaasgevind? Ons volgende hoofstuk sal dit en verwante vrae beantwoord.—Handelinge 20:30; 2 Timotheüs 2:16-18; 2 Thessalonicense 2:3.

[Voetnote]

^ par. 1 Met “die Christendom” bedoel ons die ryk van sektariese bedrywigheid wat oorheers word deur godsdienste wat beweer dat hulle Christelik is. “Die Christelike godsdiens” slaan op die oorspronklike vorm van aanbidding en toegang tot God wat deur Jesus Christus verkondig is.

^ par. 8 Sien ook Insight on the Scriptures, wat in 1988 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, Deel 2, bladsye 385-9, onder “Messiah”.

^ par. 15 Die Bybellering oor die losprys en die belangrikheid daarvan sal in Hoofstuk 15 verduidelik word.

^ par. 24 Die uitdrukking “onsterflike siel” kom nêrens in die Bybel voor nie. Die Griekse woord wat met “onsterflik” en “onsterflikheid” weergegee word, kom net drie keer voor en het betrekking op ’n nuwe geesliggaam wat aangeneem of verkry word, nie iets inherents nie. Dit is van toepassing op Christus en op gesalfde Christene wat medeheersers saam met hom in sy hemelse Koninkryk word.—1 Korinthiërs 15:53, 54; 1 Timotheüs 6:16; Romeine 8:17; Efesiërs 3:6; Openbaring 7:4; 14:1-5.

^ par. 25 Sien Hoofstuk 15 vir ’n uitvoeriger bespreking van hierdie Koninkryksheerskappy.

^ par. 27 “Moses” en “Elia” in die gesig het die Wet en die Profete gesimboliseer wat in Jesus vervul is. Sien Insight on the Scriptures, 1988, Deel 2, bladsye 1120-1, vir ’n uitvoeriger verduideliking van die gedaantewisseling.

^ par. 37 Volgens Romeinse biograaf Suetonius (ca. 69-140 G.J.) is daar gedurende Nero se bewind “strawwe . . . opgelê aan die Christene, ’n sekte wat ’n nuwe en verderflike godsdiensopvatting bely het”.

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 237]

Was Jesus ’n mite?

“Is die lewensverhaal van die stigter van die Christelike godsdiens die produk van menslike smart, verbeelding en hoop—’n mite wat vergelyk kan word met die legendes oor Krisjna, Osiris, Attis, Adonis, Dionysus en Mithras?” vra geskiedskrywer Will Durant. Hy antwoord dat dit in die eerste eeu “blykbaar nooit eens by die bitterste heidense of Joodse teenstanders van die opkomende Christelike godsdiens” opgekom het om te ontken dat Christus bestaan het nie.—The Story of Civilization: Part III—Caesar and Christ.

Die Romeinse geskiedskrywer Suetonius (ca. 69-140 G.J.) het in sy geskiedverhaal The Twelve Caesars aangaande keiser Claudius gesê: “Aangesien die Jode in Rome voortdurend op aanstigting van Chrestus [Christus] oproerigheid veroorsaak het, het hy hulle uit die stad verdryf.” Dit het omstreeks 52 G.J. plaasgevind. (Vergelyk Handelinge 18:1, 2.) Let daarop dat Suetonius glad nie aan die bestaan van Christus getwyfel het nie. Op grond van hierdie feite en ondanks lewensgevaarlike vervolging was die vroeë Christene baie aktief in die verkondiging van hulle geloof. Dit is nouliks waarskynlik dat hulle hul lewe op grond van ’n mite sou gewaag het. Jesus se dood en opstanding het in hulle leeftyd plaasgevind, en sommige van hulle het self daardie gebeure gesien.

Geskiedskrywer Durant maak die gevolgtrekking: “Dat ’n paar eenvoudige manne in een geslag so ’n sterk en aantreklike persoonlikheid, so ’n verhewe etiek en so ’n besielende vergesig van mensebroederskap versin het, sou ’n ongeloofliker wonderwerk wees as enige wat in die Evangelies opgeteken is.”

[Prent]

Jesus het in hierdie Galilese gebied van antieke Palestina gepreek en wonderwerke gedoen

[Venster/Prent op bladsy 241]

Wie het die Bybel geskryf?

Die Christene se Bybel bestaan uit die 39 boeke van die Hebreeuse Skrifte (sien venster, bladsy 220), wat deur baie die Ou Testament genoem word, en die 27 boeke van die Christelike Griekse Skrifte, wat dikwels die Nuwe Testament genoem word. * Die Bybel is dus ’n miniatuurbiblioteek van 66 boeke wat oor ’n tydperk van 1 600 jaar van die geskiedenis (van 1513 v.G.J. tot 98 G.J.) deur sowat 40 manne geskryf is.

Die Griekse Skrifte sluit vier Evangelies in, of verslae oor die lewe van Jesus en die goeie nuus wat hy verkondig het. Twee hiervan is geskryf deur onmiddellike volgelinge van Christus, Mattheüs, ’n tollenaar, en Johannes, ’n visser. Die ander twee is geskryf deur die vroeë gelowiges Markus en Lukas, die geneesheer (Kolossense 4:14). Die Evangelies word gevolg deur die Handelinge van die Apostels, ’n verslag oor die vroeë Christelike sendingwerk wat deur Lukas saamgestel is. Dan volg 14 briewe van die apostel Paulus aan verskeie Christene en gemeentes, gevolg deur briewe van Jakobus, Petrus, Johannes en Judas. Die laaste boek is Openbaring, wat deur Johannes geskryf is.

Dat so baie mense met uiteenlopende agtergronde en wat in verskillende tye en kulture gelewe het so ’n harmoniese boek kon voortbring, is ’n kragtige bewys dat die Bybel nie bloot die produk van menslike intelligensie is nie maar deur God geïnspireer is. Die Bybel self sê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer [letterlik, “deur God geasem”] en nuttig tot lering.” Die Skrif is derhalwe onder die invloed van God se heilige gees, of werkende krag, geskryf.—2 Timotheüs 3:16, 17, Int.

[Prent]

Hierdie onvolledige Romeinse inskripsie met Pontius Pilatus se naam in Latyn (tweede reël, “IVS PILATVS”) bevestig dat hy ’n invloedryke figuur in Palestina was, soos die Bybel sê

[Voetnote]

^ par. 100 Die Katolieke Bybel sluit ’n paar bykomende boeke in, wat die Apokriewe Boeke uitmaak en nie deur Jode en Protestante as kanoniek beskou word nie.

[Venster op bladsy 245]

Die Messias in Bybelprofesie

Profesie Gebeurtenis Vervulling

Gen. 49:10 Gebore uit die Matt. 1:2-16; Luk. 3:23-33

stam van Juda

Ps. 132:11; Uit die geslag Matt. 1:1, 6-16; 9:27; 

Jes. 9:6 van Dawid Hand. 13:22, 23

die seun van Isai

Miga 5:1 Gebore in Betlehem Luk. 2:4-11; Joh. 7:42

Jes. 7:14 Gebore uit ’n maagd Matt. 1:18-23;

Luk. 1:30-35

Hos. 11:1 Uit Egipte geroep Matt. 2:15

Jes. 61:1, 2 Aangestel Luk. 4:18-21

Jes. 53:4 Het ons siektes Matt. 8:16, 17

gedra

Ps. 69:10 Ywer vir Jehovah Matt. 21:12, 13;

se huis Joh. 2:13-17

Jes. 53:1 Nie geglo nie Joh. 12:37,38;

Rom. 10:11, 16

Sag. 9:9; Verwelkom as koning Matt. 21:1-9; Mark. 11:7-11

Ps. 118:26 en as die een wat

in Jehovah se naam kom

Jes. 28:16; Is verwerp, maar het Matt. 21:42, 45, 46;

Ps. 118:22, 23 die hoeksteen geword Hand. 3:14; 4:11;

1 Pet. 2:7

Ps. 41:10; Een apostel Matt. 26:47-50;

109:8

verraai hom Joh. 13:18, 26-30

Sag. 11:12 Vir 30 silwerstukke Matt. 26:15; 27:3-10;

verraai Mark. 14:10, 11

Jes. 53:8 Verhoor en veroordeel Matt. 26:57-68;

27:1, 2, 11-26

Jes. 53:7 Stom voor Matt. 27:12-14;

sy aanklaers Mark. 14:61; 15:4, 5

Ps. 69:5 Gehaat sonder oorsaak Luk. 23:13-25;

Joh. 15:24, 25

Jes. 50:6; Geslaan, gespoeg Matt. 26:67; 27:26, 30; 

Miga 4:14 Joh. 19:3

Ps. 22:19 Die lot is oor Matt. 27:35;

sy klere gewerp Joh. 19:23, 24

Jes. 53:12 Is saam met sondaars Matt. 26:55, 56; 27:38

gereken Luk. 22:37

Ps. 69:22 Is asyn en gal gegee Matt. 27:34, 48;

Mark. 15:23, 36

Ps. 22:2 Is deur God verlaat Matt. 27:46; Mark. 15:34

Ps. 34:21; Geen bene is Joh. 19:33, 36

gebreek nie Ex. 12:46

Jes. 53:5; Deurboor Matt. 27:49 ,NW;

Sag. 12:10 Joh. 19:34, Openb. 1:7

Jes. 53:5, 8, Sterf ’n offerdood Matt. 20:28; Joh. 1:29; 

Jes. 53:9 om sondes weg te Rom. 3:24 ,vgl. NW; 4:25

neem

Jes. 53:9 Is saam met die Matt. 27:57-60;

Joh. 19:38-42

Jona 1:17; Was dele van drie Matt. 12:39, 40; 16:21;

2:10

dae in die graf, 17:23;

27:64

is toe opgewek

[Venster/Prent op bladsy 258, 259]

Jesus en die naam van God

Toe Jesus sy dissipels leer bid het, het hy gesê: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Mattheüs 6:9, 10.

Jesus het geweet hoe lewensbelangrik sy Vader se naam is en het dit beklemtoon. Hy het gevolglik vir sy godsdiensvyande gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ’n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem. . . . Ek het dit vir julle gesê, en julle glo nie. Die werke wat Ek doen in die Naam van my Vader, dié getuig van My.”—Johannes 5:43; 10:25; Markus 12:29, 30.

In gebed tot sy Vader het Jesus gesê: “Vader, verheerlik u Naam! Daar het toe ’n stem uit die hemel gekom: Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”

Later het Jesus gebid: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het U woord bewaar. En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.”—Johannes 12:28; 17:6, 26.

As ’n Jood moes Jesus vertroud gewees het met sy Vader se naam, Jehovah, of Jahweh, want hy het die teks geken wat sê: “Jullé is my getuies, spreek [Jehovah], en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is—voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie. . . . En julle is my getuies, spreek [Jehovah], en Ek is God.”—Jesaja 43:10, 12, vgl. NW.

Die Joodse volk is dus as Jehovah se getuies gekies. As ’n Jood was Jesus ook ’n getuie van Jehovah.—Openbaring 3:14.

Teen die eerste eeu het die meeste Jode blykbaar nie meer God se geopenbaarde naam uitgespreek nie. Maar daar is manuskripte wat bewys dat vroeë Christene wat die Griekse Septuagint-vertaling van die Hebreeuse Skrifte gebruik het die Hebreeuse Tetragrammaton in die Griekse teks kon sien. Soos George Howard, ’n professor in godsdiens en Hebreeus, gesê het: “Wanneer die Septuagint wat die Nieu-Testamentiese kerk gebruik en aangehaal het die Hebreeuse vorm van die goddelike naam bevat het, het die skrywers van die Nuwe Testament ongetwyfeld die Tetragrammaton in hulle aanhalings ingesluit. Maar toe die Hebreeuse vorm van die goddelike naam [later] uitgehaal en in die Septuagint deur Griekse plaasvervangers vervang is, is dit ook uit die Nieu-Testamentiese aanhalings uit die Septuagint uitgehaal.”

Professor Howard sê derhalwe dat eerste-eeuse Christene ’n duidelike begrip moes gehad het van tekste soos Mattheüs 22:44, waar Jesus die Hebreeuse Skrifte vir sy vyande aangehaal het. Howard sê: “Die eerste-eeuse kerk het waarskynlik gelees: ‘JHWH het tot my Here gespreek’” pleks van die latere weergawe: “‘Die Here het tot my Here gespreek’, . . . wat nie net dubbelsinnig is nie, maar ook onnoukeurig.”—Psalm 110:1.

Die feit dat Jesus die goddelike naam gebruik het, word bevestig deur die Joodse beskuldiging eeue na sy dood dat as hy wonderwerke gedoen het, dit “alleenlik [was] omdat hy homself ’n kenner van die ‘heilige’ naam van God gemaak het”.—The Book of Jewish Knowledge.

Jesus het beslis God se unieke naam geken. Ondanks destydse Joodse tradisie sou Jesus beslis daardie naam gebruik het. Hy het nie toegelaat dat mensetradisies die wet van God kragteloos maak nie.—Markus 7:9-13; Johannes 1:1-3, 18; Kolossense 1:15, 16.

[Prent]

Papirusfragment (eerste eeu v.G.J.) met die Hebreeuse naam van God in die teks van die Griekse Septuagint

[Prente op bladsy 238]

Jesus het baie illustrasies in sy onderrigting gebruik—onder andere saadsaaiery, oeste, visvangste, ’n pêrel wat gevind word, gemengde kuddes en ’n wingerd (Mattheüs 13:3-47; 25:32)

[Prent op bladsy 243]

Deur God se mag het Jesus baie wonderwerke gedoen, onder andere ’n storm gestil

[Prent op bladsy 246]

Die Tetra- grammaton, of vier konsonante JHWH (Jehovah)

[Prent op bladsy 251]

In die verslag oor die opwekking van Lasarus word daar glad nie gemeld of te kenne gegee dat hy ’n onsterflike siel gehad het nie

[Prent op bladsy 253]

Petrus, Jakobus en Johannes het geweet dat God se goedkeuring van Jesus nie ’n mite was nie—hulle het dit tydens die gedaantewisseling gehoor en gesien