Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Hervorming—’n Nuwe wending in die soektog

Die Hervorming—’n Nuwe wending in die soektog

Hoofstuk 13

Die Hervorming—’n Nuwe wending in die soektog

1, 2. (a) Hoe beskryf een boek oor die Hervorming die Middeleeuse Rooms-Katolieke Kerk? (b) Watter vrae word aangaande die toestand van die Kerk van Rome gestel?

“DIE ware tragedie van die Middeleeuse kerk is dat dit nie met die tyd tred gehou het nie. . . . In plaas van progressief te wees, in plaas van die geestelike leiding te gee, was dit retrograde en dekadent, en korrup in al sy lede.” Dit is wat die boek The Story of the Reformation van die magtige Rooms-Katolieke Kerk sê, wat die grootste deel van Europa van die 5de tot die 15de eeu G.J. oorheers het.

2 Hoe het die Kerk van Rome sy oppermagtige posisie verloor en ‘dekadent en korrup’ geword? Hoe het die pousdom, wat op apostoliese opvolging aanspraak gemaak het, versuim om selfs “geestelike leiding” te voorsien? En waartoe het hierdie versuim gelei? Om die antwoorde te vind, moet ons kortliks ondersoek instel na watter soort kerk dit geword het en watter rol dit in die mensdom se soeke na die ware God gespeel het.

Die Kerk in verval

3. (a) Wat was die materiële toestand van die Roomse Kerk teen die einde van die 15de eeu? (b) Hoe het die kerk sy praal probeer behou?

3 Teen die einde van die 15de eeu het die Kerk van Rome, met gemeentes, monnikekloosters en nonnekloosters deur sy hele ryk, die grootste grondeienaar in die hele Europa geword. Daar is gesê dat dit tot die helfte van die grond in Frankryk en Duitsland en twee vyfdes of meer in Swede en Engeland besit het. Die gevolg? Die “glorie van Rome het gedurende die laat 1400’s en vroeë 1500’s oneindig toegeneem en sy politieke belangrikheid het tydelik gedy”, sê die boek A History of Civilization. Maar al die praal het ’n prys gehad, en die pousdom moes nuwe bronne van inkomste vind om dit te handhaaf. Geskiedskrywer Will Durant het aangaande die verskillende maniere wat hulle gebruik het, geskryf:

“Elkeen wat deur die kerk aangestel is, moes in die eerste jaar die helfte van die inkomste van sy amp (“annate”) en daarna jaarliks ’n tiende daarvan aan die pouslike Kurie—die administratiewe kantore van die pousdom—betaal. ’n Nuwe aartsbiskop moes die pous ’n aansienlike bedrag betaal vir die pallium—’n wit wolband wat die bekragtiging en onderskeidingsteken van sy gesag was. Wanneer enige kardinaal, aartsbiskop, biskop of ab gesterf het, het sy persoonlike besittings na die pousdom teruggekeer. . . . ’n Geskenk as dankbetuiging is verwag vir elke uitspraak of guns wat van die Kurie verkry is, en die uitspraak is soms deur die geskenk bepaal.”

4. Hoe het die rykdom wat in die kerk ingestroom het die pousdom beïnvloed?

4 Die groot bedrae geld wat jaar na jaar in die pouslike skatkiste ingestroom het, het uiteindelik tot baie misbruike en korrupsie gelei. Daar is al gesê dat ‘selfs ’n pous nie aan pik kan vat sonder om sy vingers te besmeer nie’, en volgens een geskiedskrywer was daar in die kerkgeskiedenis van hierdie tydperk “’n opvolging van uiters wêreldse pouse”. Hulle was onder andere Sixtus IV (pous, 1471-84), wat groot bedrae bestee het om die Sixtynse Kapel, wat na hom vernoem is, te bou en om sy baie neefs en niggies te verryk; Alexander VI (pous, 1492-1503), die berugte Rodrigo Borgia, wat sy onegte kinders openlik erken en begunstig het; en Julius II (pous, 1503-13), ’n neef van Sixtus IV, wat meer in oorloë, politiek en kuns as in sy kerklike pligte belanggestel het. Die Nederlandse Katolieke geleerde Erasmus kon met volle regverdiging in 1518 skryf: “Die Roomse Kurie se skaamteloosheid het ’n hoogtepunt bereik.”

5. Wat het destydse verslae aangaande die sedelike gedrag van die geestelikes getoon?

5 Korrupsie en onsedelikheid het nie net in die pousdom voorgekom nie. ’n Algemene gesegde was destyds: “As jy jou seun in die ongeluk wil stort, maak hom ’n priester.” Dit word deur die verslae van daardie tyd gestaaf. Durant vertel dat, in Engeland, onder “aanklagte van ontugtigheid wat in 1499 ingedien is . . . geestelikes in sowat 23 persent van die gevalle die skuldiges was, ofskoon die geestelikes waarskynlik minder as 2 persent van die bevolking uitgemaak het. Party biegvaders het vroulike boetelinge seksuele gunste gevra. Duisende priesters het houvroue gehad; in Duitsland feitlik almal.” (Vergelyk 1 Korinthiërs 6:9-11; Efesiërs 5:5.) Sedebederf het ook in ander gebiede voorgekom. ’n Spanjaard van die tyd het glo gekla: “Ek sien dat ons sonder geld feitlik niks uit Christus se bedienaars kan kry nie; by die doop, geld . . . by die huwelik, geld; by die belydenis, geld—nee, geen laaste oliesel [sterfsakrament] sonder geld nie! Hulle sal geen klokke lui sonder geld nie, geen begrafnis in die kerk waarneem sonder geld nie; dit lyk of die Paradys toegesluit is vir diegene wat nie geld het nie.”—Vergelyk 1 Timotheüs 6:10.

6. Hoe het Machiavelli die Roomse Kerk beskryf? (Romeine 2:21-24).

6 Ter opsomming van die Roomse Kerk se toestand aan die begin van die 16de eeu haal ons die woorde van Machiavelli, ’n beroemde destydse Italiaanse filosoof, aan:

“As die Christelike godsdiens volgens die instellings van die Stigter bewaar is, sou die staat en die ryk van die Christendom baie meer eensgesind en gelukkiger gewees het as wat die geval is. En daar kan geen groter bewys van sy dekadensie wees nie as die feit dat mense minder godsdienstig is hoe nader hulle aan die Roomse Kerk, die hoof van hulle godsdiens, is.”

Die eerste pogings tot hervorming

7. Watter swak pogings het die kerk aangewend om party van die misbruike te ondersoek?

7 Die krisis in die kerk is nie net deur mense soos Erasmus en Machiavelli opgemerk nie, maar ook deur die kerk self. Kerkkonsilies is belê om party van die klagtes en misbruike te ondersoek, maar sonder blywende resultate. Die pouse, wat persoonlike mag en eer geniet het, het enige werklike pogings tot hervorming teëgegaan.

8. Wat was die resultaat van die kerk se voortdurende nalatigheid?

8 As die kerk ’n ernstiger poging aangewend het om sake reg te stel, sou daar moontlik nie ’n Hervorming gewees het nie. Maar binne en buite die kerk het mense hervorming begin eis. In Hoofstuk 11 het ons reeds die Waldense en die Albigense genoem. Hoewel hulle as ketters veroordeel en meedoënloos onderdruk is, het hulle mense se ontevredenheid oor die misbruike van die Katolieke geestelikes laat ontwaak en ’n begeerte gewek om na die Bybel terug te keer. Hierdie gevoelens het deur middel van etlike vroeë Hervormers tot uiting gekom.

Protes van binne die Kerk

9. Wie was John Wycliffe, en waarteen het hy hom uitgespreek?

9 John Wycliffe (1330?-84) wat dikwels “die môrester van die Hervorming” genoem word, was ’n Katolieke priester en ’n professor in die teologie aan Oxford, Engeland. Hy was terdeë bewus van die misbruike in die kerk en het hom in sy geskrifte en preke uitgespreek teen dinge soos korrupsie in die monnike-ordes, pouslike belasting, die leerstelling oor transsubstansiasie (die bewering dat die brood en wyn wat tydens die Mis gebruik word letterlik in die liggaam en bloed van Jesus Christus verander), die belydenis en die kerk se betrokkenheid in wêreldlike aangeleenthede.

10. Hoe het Wycliffe sy gehegtheid aan die Bybel getoon?

10 Wycliffe het hom besonder reguit uitgespreek oor die kerk se versuim om ander die Bybel te leer. Hy het eenkeer gesê: “Mag God gee dat elke parogiekerk in hierdie land ’n goeie Bybel en goeie uiteensettings van die evangelie het, en dat die priesters dit goed bestudeer en waarlik die evangelie en God se bevele aan die mense leer!” Met dié doel het Wycliffe in sy laaste lewensjare die taak aangepak om die Latynse Vulgaat in Engels te vertaal. Met die hulp van sy metgeselle, in die besonder Nicholas van Hereford, het hy die eerste volledige Bybel in Engels beskikbaar gestel. Dit was ongetwyfeld Wycliffe se grootste bydrae tot die mensdom se soeke na God.

11. (a) Wat het Wycliffe se volgelinge bereik? (b) Wat het met die Lollarde gebeur?

11 ’n Groep predikers wat dikwels “Arm Priesters” genoem is omdat hulle eenvoudige klere gedra het, kaalvoet was en geen materiële besittings gehad het nie, het Wycliffe se geskrifte en dele van die Bybel deur die hele Engeland versprei. Hulle is ook spottend die Lollarde genoem, wat afgelei is uit die Middelnederlandse woord Lollaerd, of “iemand wat gebede of gesange mompel” (Brewer’s Dictionary of Phrase and Fable). “Binne ’n paar jaar het hulle ’n aansienlike gevolg gehad”, sê die boek The Lollards. “Na raming het ten minste ’n kwart van die nasie hierdie opvattings daadwerklik of in naam gesteun.” Die kerk was natuurlik bewus van al hierdie ontwikkelinge. Wycliffe is weens sy prominente posisie onder die heersende en geleerde klas toegelaat om op die laaste dag van 1384 in vrede te sterf. Sy volgelinge was nie so gelukkig nie. Hulle is gedurende die heerskappy van Hendrik IV van Engeland as ketters bestempel, en baie van hulle is opgesluit, gemartel of verbrand.

12. Wie was Johannes Hus, en waarteen het hy hom uitgespreek?

12 Die Bohemer (Tsjeg) Johannes Hus (1369?-1415), ook ’n Katolieke priester en rektor van die Universiteit van Praag, is grootliks deur John Wycliffe beïnvloed. Hus het, soos Wycliffe, die korrupsie van die Roomse Kerk veroordeel en die belangrikheid van Skriflesing beklemtoon. Dit het hom gou die toorn van die hiërargie op die hals gehaal. In 1403 het die owerheid hom beveel om op te hou om die anti-pouslike idees van Wycliffe, wie se boeke hulle ook in die openbaar verbrand het, te verkondig. Maar Hus het party van die snydendste aanvalle teen die gebruike van die kerk, waaronder die verkoop van aflaatbriewe, geskryf. * Hy is in 1410 veroordeel en geëkskommuniseer.

13. (a) Wat was volgens Hus die ware kerk? (b) Wat was die resultaat van Hus se standvastigheid?

13 Hus het die Bybel beginselvas voorgestaan. “Opstand teen ’n dwalende pous is gehoorsaamheid aan Christus”, het hy geskryf. Hy het ook gesê dat die ware kerk allesbehalwe die pous en die Roomse magsbestel is, maar eerder “die versameling uitverkorenes en die mistieke liggaam van Christus, waarvan Christus die hoof is; en die bruid van Christus, wat hy in sy groot liefde met sy eie bloed vrygekoop het”. (Vergelyk Efesiërs 1:22, 23; 5:25-27.) As gevolg hiervan is hy by die Konsilie van Konstanz verhoor en as ’n ketter veroordeel. Hy het geweier om sy beskouing te herroep deur te sê dat “dit beter is om goed te sterf as om sleg te lewe” en het in 1415 op die brandstapel gesterf. Dieselfde konsilie het ook beveel dat Wycliffe se oorskot opgegrawe en verbrand word, hoewel hy al meer as 30 jaar dood en begrawe was!

14. (a) Wie was Girolamo Savonarola? (b) Wat het Savonarola probeer doen, en wat was die resultaat daarvan?

14 Nog ’n vroeë Hervormer was die Dominikaanse monnik Girolamo Savonarola (1452-98) van die San Marcos-klooster in Florence, Italië. Meegevoer deur die gees van die Italiaanse Renaissance, het Savonarola hom teen die korrupsie in die Kerk sowel as die Staat uitgespreek. Hy het hom beroep op die Skrif, sowel as op visioene en openbaringe wat hy glo ontvang het, en op grond daarvan probeer om ’n Christelike staat, of teokratiese orde, op te rig. In 1497 het die pous hom geëkskommuniseer. Hy is die daaropvolgende jaar gearresteer, gemartel en gehang. Sy laaste woorde was: “My Heer het vir my sondes gesterf; sou ek dan nie hierdie armsalige lewe met graagte vir hom aflê nie?” Sy liggaam is verbrand en die as is in die Arnorivier gegooi. Savonarola het homself gepas “’n voorloper en ’n offerande” genoem. Net ’n paar jaar later het die Hervorming ten volle dwarsdeur Europa uitgebreek.

’n Verdeelde huis

15. Hoe is die Christendom in Wes-Europa deur die Hervormingsbeweging verdeel?

15 Toe die storm van die Hervorming uiteindelik losgebars het, het dit die godsdienshuis van die Christendom in Wes-Europa verbrysel. Hoewel dit vroeër feitlik geheel en al deur die Rooms-Katolieke Kerk oorheers is, het dit nou ’n verdeelde huis geword. Suid-Europa—Italië, Spanje, Oostenryk en dele van Frankryk—het merendeels Katoliek gebly. Die res is in drie hoofafdelings verdeel: Luthers in Duitsland en Skandinawië; Calvinisties (of Hervormd) in Switserland, Nederland, Skotland en dele van Frankryk; en Anglikaans in Engeland. Tussen hulle was daar kleiner maar radikaler groepe, eers die Anabaptiste en later die Mennoniete, Hutteriete en Puriteine, wat mettertyd hulle opvattings na Noord-Amerika uitgedra het.

16. Wat het uiteindelik met die Christendom se huis gebeur? (Markus 3:25).

16 Deur die jare heen het hierdie vernaamste afdelings verder versplinter in die honderde hedendaagse kerke—onder andere Presbiteriane, Anglikane, Metodiste, Baptiste en Kongregasionaliste. Die Christendom het waarlik ’n verdeelde huis geword. Hoe het hierdie verdelings ontstaan?

Luther en sy stellinge

17. Wat kan as die amptelike beginpunt van die Protestantse Hervorming aangegee word?

17 As ’n mens ’n besliste beginpunt van die Protestantse Hervorming moet aangee, sal dit 31 Oktober 1517 wees, toe die Augustynse monnik Martin Luther (1483-1546) sy 95 stellinge aan die deur van die slotkerk in Wittenberg in die Duitse staat Sakse vasgespyker het. Maar wat het tot hierdie dramatiese gebeurtenis aanleiding gegee? Wie was Martin Luther? En waarteen het hy geprotesteer?

18. (a) Wie was Martin Luther? (b) Wat het Luther beweeg om sy stellinge bekend te maak?

18 Martin Luther was, soos Wycliffe en Hus voor hom, ’n monnik-geleerde. Hy was ook ’n doktor in die teologie en ’n professor in Bybelkunde aan die Universiteit van Wittenberg. Luther het groot bekendheid verwerf vanweë sy insig in die Bybel. Hoewel hy sterk menings gehuldig het oor redding, of regverdiging, deur geloof in plaas van deur werke of boetedoening, het hy nie daaraan gedink om van die Kerk van Rome weg te breek nie. Trouens, sy stellinge was sy reaksie op ’n spesifieke gebeurtenis en was nie ’n beplande opstand nie. Hy het teen die verkoop van aflaatbriewe beswaar gemaak.

19. Hoe is aflaatbriewe in Luther se tyd vir uitbuiting gebruik?

19 In Luther se tyd is pouslike aflaatbriewe nie net vir die lewendes nie maar ook vir die dooies in die openbaar verkoop. “Sodra die muntstuk in die skatkis klink, word die siel uit die Vaevuur bevry”, was ’n algemene gesegde. ’n Aflaatbrief het vir die gewone mense feitlik ’n versekeringspolis teen straf vir enige sonde geword, en berou het onbelangrik geword. “Oral”, het Erasmus geskryf, “word die kwytskelding van pyniging in die vaevuur verkoop; nie net word dit verkoop nie, maar dit word opgedwing aan diegene wat dit weier.”

20. (a) Waarom het Johannes Tetzel na Jüterbog gegaan? (b) Hoe het Luther op Tetzel se verkoop van aflaatbriewe gereageer?

20 In 1517 het Johannes Tetzel, ’n Dominikaanse monnik, na Jüterbog, naby Wittenberg, gegaan om aflaatbriewe te verkoop. Die geld wat op hierdie manier verkry is, is deels gebruik om die herbouing van die St. Pieterskerk in Rome te finansier. Dit is ook gebruik om Albert van Brandenburg te help om die geld terug te betaal wat hy geleen het om die Roomse Kurie vir die pos van aartsbiskop van Mainz te betaal. Tetzel het al sy verkoopvaardighede ingespan, en die mense het na hom toe gestroom. Luther was verontwaardig, en hy het die vinnigste manier beskikbaar gebruik om sy mening oor die hele sirkusagtige aangeleentheid in die openbaar uit te druk—deur 95 debatspunte aan die kerkdeur vas te spyker.

21. Watter argumente het Luther teen die verkoop van aflaatbriewe gebruik?

21 Luther het sy 95 stellinge ’n Redetwis vir die verduideliking van die krag van aflaatbriewe genoem. Sy doel was nie om die gesag van die kerk uit te daag nie, maar om die aandag te vestig op die onmatighede en misbruike met betrekking tot die verkoop van pouslike aflaatbriewe. Dit blyk uit die volgende stellinge:

“5. Die pous het nòg die wil nòg die mag om enige straf kwyt te skeld, behalwe dié wat hy op eie gesag opgelê het. . . . 

20. Wanneer die pous praat van die volle kwytskelding van alle straf, bedoel hy gevolglik nie werklik alle straf nie, maar net dié wat hy self opgelê het. . . . 

36. Elke Christen wat waarlik berou het, is eintlik ten volle kwytgeskeld van straf en skuld, selfs sonder genadebriewe.”

22. (a) Wat het ontwikkel namate Luther se boodskap versprei het? (b) Wat het in 1520 gebeur, en wat was die resultaat daarvan?

22 Danksy die drukpers wat kort tevore uitgevind is, het hierdie kontroversiële idees weldra ander dele van Duitsland—en Rome—bereik. Iets wat begin het as ’n akademiese debat oor die verkoop van aflaatbriewe het gou ’n getwis oor geloof en pouslike gesag geword. Aanvanklik het die Kerk van Rome met Luther ’n debat gevoer en hom beveel om sy bewerings te herroep. Toe Luther geweier het, het die kerklike sowel as die politieke owerheid druk op hom begin uitoefen. In 1520 het die pous ’n bul, of edik, uitgereik wat Luther verbied het om te preek en beveel het dat sy boeke verbrand word. Uit verset het Luther die pouslike bul in die openbaar verbrand. Die pous het hom in 1521 geëkskommuniseer.

23. (a) Wat was die Ryksdag van Worms? (b) Hoe het Luther in Worms sy standpunt ingeneem, en wat was die resultaat?

23 Luther is later daardie jaar na die ryksdag, of vergadering, in Worms ontbied. Hy is verhoor deur die keiser van die Heilige Romeinse Ryk, Karel V, ’n onversetlike Katoliek, sowel as deur die ses keurvorste van die Duitse state en ander godsdienstige en wêreldlike leiers en hoogwaardigheidsbekleërs. Toe druk weer eens op Luther uitgeoefen is om sy bewerings te herroep, het hy sy beroemde woorde geuiter: “Tensy ek deur die Skrif of deur die rede veroordeel word . . . , kan en sal ek niks herroep nie, want om teen die gewete op te tree, is nòg veilig, nòg geoorloof. God help my. Amen.” Die keiser het hom gevolglik voëlvry verklaar. Maar die heerser van sy eie Duitse staat, keurvors Frederik van Sakse, het hom gehelp en hom in Wartburg-kasteel skuiling gegee.

24. Wat het Luther gedoen terwyl hy in Wartburg-kasteel was?

24 Hierdie maatreëls het egter nie die verspreiding van Luther se idees gekeer nie. Luther het hom tien maande lank in die veiligheid van Wartburg aan skryfwerk en Bybelvertaling gewy. Hy het die Griekse Skrifte uit Erasmus se Griekse teks in Duits vertaal. Later het die Hebreeuse Skrifte ook gevolg. Luther se Bybel was presies wat die gewone mense nodig gehad het. Daar is berig dat “vyfduisend eksemplare in twee maande en tweehonderdduisend in twaalf jaar verkoop is”. Die invloed daarvan op die Duitse taal en kultuur word dikwels vergelyk met dié van die King James Version op die Engelse taal en kultuur.

25. (a) Hoe is die naam Protestant gesmee? (b) Wat was die Augsburgse Geloofsbelydenis?

25 In die jare ná die Ryksdag van Worms het die Hervormingsbeweging so baie volksondersteuning gekry dat die keiser in 1526 aan elke Duitse staat die reg toegestaan het om sy eie vorm van godsdiens, Luthers of Rooms-Katoliek, te kies. Maar in 1529, toe die keiser die besluit herroep het, het party van die Duitse vorste geprotesteer; gevolglik is die naam Protestant vir die Hervormingsbeweging gesmee. Die volgende jaar, 1530, het die keiser by die Ryksdag van Augsburg probeer om die verskille tussen die twee partye uit die weg te ruim. Die Lutherane het hulle opvattings uiteengesit in ’n dokument, die Augsburgse Geloofsbelydenis, wat deur Philippus Melanchton opgestel is maar op Luther se opvattings gebaseer was. Hoewel die dokument baie tegemoetkomend bewoord was, het die Roomse Kerk dit verwerp en het die kloof tussen Protestantisme en Katolisisme onoorbrugbaar geword. Baie Duitse state het hulle aan Luther se kant geskaar, en die Skandinawiese state het gou dieselfde gedoen.

Hervorming of opstand?

26. Wat was volgens Luther die fundamentele punte wat Protestantisme en Katolisisme geskei het?

26 Wat was die fundamentele punte wat die Protestante van die Rooms-Katolieke geskei het? Volgens Luther was daar drie. Eerstens het Luther geglo dat redding die resultaat is van “regverdigmaking deur geloof alleen” (Latyn, sola fide) * en nie van priesterlike kwytskelding of boetedoening nie. Tweedens het hy gesê dat vergifnis alleenlik danksy God se genade (sola gratia) geskenk word en nie deur die gesag van priesters of pouse nie. Ten slotte het Luther aangevoer dat alle leerstellige sake bloot deur die Skrif bevestig moet word (sola scriptura) en nie deur pouse of kerkkonsilies nie.

27. (a) Watter onskriftuurlike Katolieke leerstellings en gebruike het die Protestante behou? (b) Watter veranderinge het die Protestante geëis?

27 Ondanks hierdie feit het Luther, volgens The Catholic Encyclopedia, “soveel van die ou opvattinge en liturgie behou as wat hy in sy buitengewone beskouings oor sonde en regverdiging kon laat inpas”. Die Augsburgse Geloofsbelydenis sê die Lutherse geloof “is hoegenaamd nie strydig met die Skrif of met die Algemene Kerk, of selfs met die Roomse Kerk, sover daardie Kerk deur skrywers bekendgemaak word nie”. Trouens, die Lutherse geloof, soos dit in die Augsburgse Geloofsbelydenis uiteengesit word, het onskriftuurlike leerstellings soos die Drie-eenheid, onsterflike siel en ewige pyniging sowel as gebruike soos kinderdoop en kerkvakansiedae en -feeste ingesluit. Daarenteen het die Lutherane sekere veranderinge geëis, soos dat mense wyn en brood by die Nagmaal moet ontvang en dat die selibaat, kloostergeloftes en verpligte belydenis afgeskaf word. *

28. Waarin het die Hervorming geslaag, en wat het dit nie gedoen nie?

28 In sy geheel het die Hervorming, soos dit deur Luther en sy volgelinge verkondig is, daarin geslaag om die pouslike juk af te werp. Maar soos Jesus in Johannes 4:24 gesê het: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Daar kan gesê word dat die mensdom se soeke na die ware God net ’n nuwe wending geneem het toe Martin Luther op die toneel verskyn het; die smal pad van waarheid was nog ver weg.—Mattheüs 7:13, 14; Johannes 8:31, 32.

Zwingli se Hervorming in Switserland

29. (a) Wie was Ulrich Zwingli, en waarteen het hy hom uitgespreek? (b) Hoe het Zwingli se hervorming van Luther s’n verskil?

29 Terwyl Luther teen die pouslike gesante en die burgerlike owerheid in Duitsland gestry het, het die Katolieke priester Ulrich Zwingli (1484-1531) met sy hervormingsbeweging in Zürich, Switserland, begin. Aangesien daardie gebied Duitssprekend was, is die mense reeds deur die Hervormingsgety uit die noorde beïnvloed. Omstreeks 1519 het Zwingli hom teen aflaatbriewe, Maria-aanbidding, die priesterselibaat en ander leerstellings van die Katolieke Kerk begin uitspreek. Hoewel Zwingli beweer het dat hy onafhanklik van Luther optree, het hy in baie opsigte met Luther saamgestem en Luther se traktate dwarsdeur die land versprei. Maar in teenstelling met die konserwatiewer Luther het Zwingli die verwydering van alle spore van die Roomse Kerk voorgestaan—beelde, kruisbeelde, die geestelike kleed en selfs liturgiese musiek.

30. Wat was ’n sleutelgeskil wat Zwingli en Luther verdeel het?

30 ’n Ernstiger twispunt tussen die twee Hervormers was egter oor die geskil van die Eucharistie, of Mis (Nagmaal). Luther het volgehou dat Jesus se woorde: ‘Dit is my liggaam’ letterlik vertolk moet word en het geglo dat die liggaam en bloed van Christus op wonderdadige wyse aanwesig was in die brood en wyn wat by die Nagmaal bedien is. Zwingli het daarenteen in sy verhandeling Oor die Here se Aandmaal aangevoer dat Jesus se woorde “figuurlik of metafories vertolk moet word; ‘Dit is my liggaam’ beteken: ‘die brood dui my liggaam aan’, of ‘is ’n simbool van my liggaam’”. Weens hierdie verskil het die twee Hervormers uiteengegaan.

31. Wat was die resultaat van Zwingli se werk in Switserland?

31 Zwingli het aangehou om sy hervormingsleerstellings in Zürich te verkondig en het baie veranderinge aldaar aangebring. Ander stede het gou sy voorbeeld gevolg, maar die meeste mense op die platteland, wat konserwatiewer was, het aan Katolisisme vasgeklou. Die konflik tussen die twee partye het so groot geword dat ’n burgeroorlog tussen Switserse Protestante en Rooms-Katolieke uitgebreek het. Zwingli, wat ’n veldkapelaan was, het in 1531 in die veldslag van Kappel, naby die Zugmeer, gesneuwel. Toe vrede uiteindelik bereik is, is elke streek die reg toegestaan om sy eie godsdiensvorm, Protestants of Katoliek, te kies.

Anabaptiste, Mennoniete en Hutteriete

32. Wie was die Anabaptiste, en hoe het hulle daardie naam gekry?

32 Party Protestante het egter gemeen dat die Hervormers hulle veroordeling van die tekortkominge van die Katolieke pouslike kerk nie ver genoeg gevoer het nie. Hulle het gemeen dat die Christelike kerk alleenlik uit die aktiewe gelowiges wat gedoop is, eerder as uit al die mense in ’n gemeenskap of nasie, moes bestaan. Daarom het hulle kinderdoop verwerp en aangedring op die skeiding van Kerk en Staat. Hulle het hul medegelowiges in die geheim herdoop en sodoende die naam Anabaptiste (ana beteken “weer” in Grieks) verkry. Omdat hulle geweier het om die wapen op te neem, ’n eed af te lê of ’n openbare amp te aanvaar, is hulle as ’n bedreiging vir die gemeenskap beskou en deur Katolieke sowel as Protestante vervolg.

33. (a) Wat het tot gewelddadige optrede teen die Anabaptiste gelei? (b) Hoe het die Anabaptiste se invloed versprei?

33 Aanvanklik het die Anabaptiste in klein groepies dwarsdeur dele van Switserland, Duitsland en Nederland gewoon. Aangesien hulle hulle opvattings verkondig het waar hulle ook al gegaan het, het hulle lidmaatskap vinnig toegeneem. ’n Groep Anabaptiste, meegevoer deur hulle godsdiensywer, het hulle pasifisme laat vaar, die stad Münster in 1534 ingeneem en probeer om dit ’n gemeenskaplike, poligame Nuwe Jerusalem te maak. Die beweging is gou met groot geweld onderdruk. Dit het die Anabaptiste ’n slegte reputasie gegee, en hulle is feitlik uitgeroei. In werklikheid was die meeste Anabaptiste eenvoudige, godsdienstige mense wat probeer het om ’n afgeskeie, stil lewe te lei. Onder die beter georganiseerde afstammelinge van die Anabaptiste was die Mennoniete, volgelinge van die Duitse hervormer Menno Simons, en die Hutteriete, onder die leierskap van die Tiroler Jakob Hutter. Om vervolging te ontkom het party van hulle na Oos-Europa—Pole, Hongarye, selfs Rusland—en ander na Noord-Amerika verhuis, waar hulle uiteindelik as Hutteriete- en Amish-gemeenskappe te voorskyn gekom het.

Die verskyning van Calvinisme

34. (a) Wie was Johannes Calvyn? (b) Watter belangrike boek het hy geskryf?

34 Die hervorming in Switserland het voortgegaan onder die leierskap van ’n Fransman genaamd Jean Cauvin, of Johannes Calvyn (1509-64), wat gedurende sy studentetyd in Frankryk met Protestantse leerstellings in aanraking gekom het. In 1534 het Calvyn Parys weens godsdienstige vervolging verlaat en hom in Basel, Switserland, gevestig. Ter verdediging van die Protestante het hy Die Institusie van die Christelike Geloof uitgegee, waarin hy die opvattings van die vroeë kerkvaders en Middeleeuse teoloë, sowel as dié van Luther en Zwingli, opgesom het. Die werk is mettertyd beskou as die leerstellige grondslag van al die Hervormde kerke wat later in Europa en Amerika gestig is.

35. (a) Hoe het Calvyn sy leerstelling oor voorbestemming verduidelik? (b) Hoe is die strengheid van hierdie leerstelling in ander aspekte van Calvyn se lering weerspieël?

35 In die Institusie het hy sy teologie uiteengesit. Volgens Calvyn is God die absolute soewerein, wie se wil alles bepaal en oorheers. In teenstelling daarmee is die gevalle mens sondig en heeltemal onverdienstelik. Redding hang derhalwe nie van die mens se goeie werke af nie, maar van God—en daarop berus Calvyn se leerstelling oor voorbestemming, waaroor hy geskryf het:

“Ons verklaar dat God met ’n ewige en onveranderlike plan eens en vir altyd bepaal het wie Hy sal red en wie Hy tot vernietiging sal veroordeel. Ons bevestig dat hierdie plan, wat die uitverkorenes betref, glad nie op menslike verdienste berus nie maar op Sy vrye barmhartigheid; maar dat die poort van die lewe in die geval van diegene wat Hy veroordeel, gesluit is deur ’n regverdige en onberispelike, maar onverstaanbare, oordeel.”

Die strengheid van so ’n leerstelling word ook op ander gebiede weerspieël. Calvyn het daarop aangedring dat Christene ’n heilige en rein lewe lei en hulle nie net van sonde nie maar ook van genot en ligsinnigheid weerhou. Daarbenewens het hy aangevoer dat die kerk, wat uit die uitverkorenes bestaan, van alle burgerlike beperkinge bevry moet word en dat ’n waarlik godvrugtige gemeenskap net deur middel van die kerk opgerig kan word.

36. (a) Wat het Calvyn en Farel in Genève probeer doen? (b) Watter streng regulasies is ingestel? (c) Wat was een bekende gevolg van Calvyn se uiterste maatreëls, en hoe het hy sy optrede geregverdig?

36 Kort nadat hy die Institusie uitgegee het, is Calvyn deur William Farel, nog ’n Hervormer van Frankryk, oorreed om hom in Genève te vestig. Hulle het saamgewerk om Calvinisme toe te pas. Hulle doelwit was om Genève ’n stad van God te maak, ’n teokrasie van goddelike heerskappy wat die funksies van Kerk en Staat kombineer. Hulle het streng regulasies en strafmaatreëls ingestel oor alles van godsdiensonderrig en kerkdienste tot die openbare sedelikheid en selfs aangeleenthede soos sanitasie en brandvoorkoming. ’n Geskiedenisteks sê dat “’n haarkapper byvoorbeeld twee dae lank opgesluit is omdat hy ’n bruid se hare onwelvoeglik opgedoen het; en die moeder, saam met twee vriendinne, wat gehelp het, is dieselfde straf opgelê. Dans en kaartspelery is ook deur die magistraat gestraf.” Diegene wat oor die teologie met Calvyn verskil het, is ook wreed behandel. Die bekendste geval is die verbranding van die Spanjaard Miguel Serveto, of Michael Servetus.—Sien venster, bladsy 322.

37. Hoe het Calvyn se invloed ver buite die grense van Switserland uitgebrei?

37 Calvyn het tot en met sy dood in 1564 sy soort hervorming in Genève toegepas, en die Hervormde kerk is stewig gevestig. Protestantse hervormers wat van vervolging in ander lande gevlug het, het na Genève gestroom, Calvinistiese idees ingeneem en bygedra tot die stigting van hervormingsbewegings in hulle onderskeie vaderlande. Calvinisme het gou na Frankryk versprei, waar die Hugenote (soos die Franse Calvinistiese Protestante genoem is) kwaai deur die Katolieke vervolg is. In Nederland het Calviniste gehelp om die Nederduits Gereformeerde Kerk te stig. In Skotland, onder die ywerige leierskap van die voormalige Katolieke priester John Knox, is die Presbiteriaanse Kerk van Skotland volgens Calvinistiese beginsels gestig. Calvinisme het ook ’n rol gespeel in die Hervorming in Engeland, en van daar het die Puriteine dit na Noord-Amerika uitgedra. Hoewel Luther die Protestantse Hervorming aan die gang gesit het, het Calvyn dus uit hierdie oogpunt beskou verreweg die grootste invloed op die ontwikkeling daarvan gehad.

Die Hervorming in Engeland

38. Hoe is die Protestantse gees in Engeland deur die werk van John Wycliffe verwek?

38 Die Engelse Hervorming, wat heeltemal afsonderlik van die Hervormingsbewegings in Duitsland en Switserland plaasgevind het, kan sy oorsprong terugvoer na die tyd van John Wycliffe, wie se prediking teen die geestelikes en klem op die Bybel die Protestantse gees in Engeland verwek het. Sy voorbeeld wat die vertaling van die Bybel in Engels betref, is deur ander gevolg. William Tyndale, wat uit Engeland moes vlug, het sy Nuwe Testament in 1526 uitgegee. Hy is later in Antwerpen verraai en op die brandstapel verwurg, en sy liggaam is verbrand. Miles Coverdale het Tyndale se vertaalwerk afgehandel, en die hele Bybel is in 1535 uitgegee. Die verskyning van die Bybel in die volkstaal was ongetwyfeld die belangrikste faktor wat tot die Hervorming in Engeland bygedra het.

39. Watter rol het Hendrik VIII in die Hervorming in Engeland gespeel?

39 Die formele afskeiding van Rooms-Katolisisme het plaasgevind toe Hendrik VIII (1491-1547), wat deur die pous die Beskermer van die Geloof genoem is, in 1534 die Akte van Oppergesag uitgereik en homself tot hoof van die Kerk van Engeland uitgeroep het. Hendrik het ook die kloosters gesluit en hulle eiendom onder die burgery uitgedeel. Daarbenewens het hy beveel dat ’n eksemplaar van die Bybel in Engels in elke kerk geplaas word. Maar Hendrik se optrede was meer polities as godsdienstig. Hy wou onafhanklik wees van pouslike gesag, veral ten opsigte van sy huwelikslewe. * Wat godsdiens betref, het hy in elke opsig, behalwe in naam, ’n Katoliek gebly.

40. (a) Watter veranderinge is gedurende die bewind van Elizabeth I in die Kerk van Engeland aangebring? (b) Watter andersdenkende groepe het uiteindelik in Engeland, Nederland en Noord-Amerika ontwikkel?

40 Dit was gedurende die lang bewind (1558-1603) van Elizabeth I dat die Kerk van Engeland in die praktyk Protestants geword het, hoewel dit wat struktuur betref grootliks Katoliek gebly het. Dit het getrouheid aan die pous, die priesterselibaat, belydenis en ander Katolieke gebruike afgeskaf, maar dit het ’n episkopaalse kerkstruktuur in sy hiërargie van aartsbiskoppe en biskoppe sowel as monnike- en nonne-ordes behou. * Hierdie konservatisme het aansienlike ontevredenheid gewek, en verskeie andersdenkende groepe het verskyn. Die Puriteine het ’n deegliker hervorming geëis om die kerk van alle Rooms-Katolieke gebruike te suiwer; die Separatiste en Independente het daarop aangedring dat plaaslike ouderlinge (presbiters) kerkaangeleenthede moet beheer. Baie van die andersdenkendes het na Nederland of na Noord-Amerika gevlug, waar hulle hul Kongregasionalistiese en Baptistekerke verder ontwikkel het. Die Genootskap van Vriende (Kwakers) onder die leierskap van George Fox (1624-91) en die Metodiste onder die leiding van John Wesley (1703-91) het ook in Engeland verskyn.—Sien diagram hieronder.

Wat het dit tot gevolg gehad?

41. (a) Watter uitwerking het die Hervorming volgens party geleerdes op die mensegeskiedenis gehad? (b) Watter vrae is uiters belangrik?

41 Noudat ons die drie vernaamste strominge van die Hervorming—Luthers, Calvinisties en Anglikaans—ondersoek het, moet ons kyk na wat die Hervorming bereik het. Dit het ongetwyfeld die gang van die geskiedenis van die Westerse wêreld verander. “Die Hervorming het ’n dors na vryheid by mense gewek en hulle tot ’n hoër en suiwerder burgerskap verhef. Oral waar die Protestantse saak gevestig is, het dit die massa meer aanmatigend gemaak”, het John F. Hurst in sy boek Short History of the Reformation geskryf. Baie geleerdes meen dat die Westerse beskawing soos ons dit vandag ken onmoontlik sou gewees het sonder die Hervorming. Hoe dit ook al sy, ons moet vra: Wat het die Hervorming op godsdienstige gebied bereik? Wat het dit in die belang van die mensdom se soeke na die ware God gedoen?

42. (a) Wat was ongetwyfeld die Hervorming se beste prestasie? (b) Watter vraag moet aangaande die Hervorming se ware prestasies gestel word?

42 Die beste prestasie van die Hervorming was ongetwyfeld dat dit die Bybel in hul eie taal aan die gewone mense beskikbaar gestel het. Vir die eerste keer kon mense die hele Woord van God lees sodat hulle geestelik gevoed kon word. Maar meer as blote Skriflesing is natuurlik nodig. Het die Hervorming mense bevry, nie net van die pouslike gesag nie maar ook van die foutiewe leerstellings en dogmas waaraan hulle eeue lank onderwerp is?—Johannes 8:32.

43.(a) Watter geloofsbelydenisse onderskryf die meeste hedendaagse Protestantse kerke, en watter opvattings bely hulle? (b) Watter uitwerking het die vrye gees en verskeidenheid wat uit die Hervorming voortgespruit het op die mensdom se soeke na die ware God gehad?

43 Feitlik al die Protestantse kerke onderskryf dieselfde geloofsbelydenisse—die Niceense, Athanasiaanse en Apostoliese geloofsbelydenis—wat party van dieselfde leerstellings bely as wat Katolisisme al eeue lank verkondig, soos die Drie-eenheid, die onsterflike siel en die helse vuur. Sulke onskriftuurlike leerstellings het die mense ’n verwronge voorstelling van God en sy voorneme gegee. Pleks van hulle met hul soeke na die ware God te help, het die talle sektes en kerke wat as gevolg van die vrye gees van die Protestantse Hervorming ontstaan het mense eenvoudig in baie uiteenlopende rigtings gestuur. Trouens, die verskeidenheid en verwarring het veroorsaak dat baie selfs die bestaan van God in twyfel trek. Die gevolg? In die 19de eeu was daar ’n stygende gety van ateïsme en agnostisisme. Dit sal die onderwerp van ons volgende hoofstuk wees.

[Voetnote]

^ par. 12 Genadebriewe wat die pous vir sondes uitgereik het.

^ par. 26 Luther was so oortuig van die konsep “regverdigmaking deur geloof alleen” dat hy die woord “alleen” in sy vertaling van die Bybel in Romeine 3:28 ingevoeg het. Hy het die boek Jakobus ook gewantrou weens die woorde “die geloof sonder die werke [is] dood” (Jakobus 2:17, 26). Hy het nie besef dat Paulus in Romeine van die werke van die Joodse Wet gepraat het nie.—Romeine 3:19, 20, 28.

^ par. 27 Martin Luther het in 1525 met Katharina von Bora, ’n voormalige non wat uit ’n Cisterciënser-klooster ontsnap het, getrou. Hulle het ses kinders gehad. Hy het gesê dat hy om drie redes getrou het: om sy vader te behaag, om die pous en die Duiwel te vermaak en om sy getuienis voor sy marteldood te bevestig.

^ par. 39 Hendrik VIII het ses vrouens gehad. Téén die pous se wense is sy eerste huwelik ongeldig verklaar en het ’n ander op ’n egskeiding uitgeloop. Hy het twee vrouens laat onthoof, en twee het ’n natuurlike dood gesterf.

^ par. 40 Die Griekse woord e·piʹsko·pos word in Engelse Bybels soos die King James Version met “bishop” (biskop) vertaal.

[Studievrae]

[Venster/Prente op bladsy 322]

“Foute van die Drie-eenheid”

Op die ouderdom van 20 het Michael Servetus (1511-53), ’n Spanjaard wat in die reg en geneeskunde opgelei was, De Trinitatis erroribus (Foute van die Drie-eenheid) uitgegee, waarin hy gesê het dat hy “nie die woord Drie-eenheid sal gebruik nie, aangesien dit nie in die Skrif voorkom nie en blykbaar filosofiese dwaling laat voortbestaan”. Hy het die Drie-eenheid veroordeel as ’n leerstelling “wat nie verstaan kan word nie, wat uit die aard van die saak onmoontlik is en selfs as godslasterlik beskou kan word!”

Die Katolieke Kerk het Servetus weens sy uitgesprokenheid veroordeel. Maar dit was die Calviniste wat hom laat arresteer het, hom verhoor en hom deur stadige verbranding tereggestel het. Calvyn het sy optrede met hierdie woorde geregverdig: “As die pousgesindes hul bygelowe so streng en gewelddadig verdedig dat hulle onskuldige bloed wreed vergiet, is Christelike magistrate dan nie skaam dat hulle minder hartstogtelik is in hul verdediging van die gewisse waarheid nie?” Calvyn se godsdiensfanatisme en persoonlike haat het sy oordeel verdraai en Christelike beginsels gesmoor.—Vergelyk Mattheüs 5:44.

[Prente]

Johannes Calvyn, links, het Michael Servetus, regs, as ’n ketter laat verbrand

[Tabel op bladsy 327]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

’n Vereenvoudigde oorsig van die Christendom se vernaamste godsdienste

Die begin van die afvalligheid - 2de eeu

Rooms-Katolieke Kerk

4de eeu (Konstantyn)

5de eeu Koptiese

Jakobitiese

1054 G.J. Oosters-Ortodokse

Russiese

Griekse

Roemeense en ander

16de eeu Die Hervorming

Lutherse

Duitse

Sweedse

Amerikaanse en ander

Anglikaanse

Episkopaalse

Metodistiese

Die Heilsleër

Baptistekerk

Pinksterkerk

Kongregasionalistiese

Calvinisme

Presbiteriaanse

Hervormde Kerke

[Prente op bladsy 307]

Hierdie 16de-eeuse houtsneë kontrasteer Christus se verwerping van geldwisselaars met die pous se verkoop van aflaatbriewe

[Prente op bladsy 311]

Johannes Hus op die brandstapel

Die Engelse Hervormer en Bybelvertaler John Wycliffe

[Prente op bladsy 314]

Martin Luther, regs, het protes aangeteken teen die verkoop van aflaatbriewe deur die monnik Johannes Tetzel