Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Islām—Die weg na God deur onderwerping

Die Islām—Die weg na God deur onderwerping

Hoofstuk 12

Die Islām—Die weg na God deur onderwerping

[Artwork—Arabic characters]

1, 2. (a) Wat is die openingswoorde van die Qurʼān? (b) Waarom is hierdie woorde vir Moslems betekenisvol? (c) In watter taal is die Qurʼān oorspronklik geskryf, en wat beteken “Qurʼān”?

“IN DIE Naam van Allah, die Barmhartige, die Genadige.” Hierdie sin is die vertaling van die Arabiese teks, hierbo, uit die Qurʼān. Dit sê voorts: “Alle lof kom Allah toe, die Heer van die Wêrelde, die Barmhartige, die Genadige, Meester van die Oordeelsdag. U alleen aanbid ons, en U alleen smeek ons om hulp. Lei ons op die regte weg, die weg van hulle aan wie U guns bewys het; nie die weg van hulle op wie U toorn neergedaal het, of die weg van hulle wat afgedwaal het nie.”—Die Qurʼān, sura 1:1-7. *

2 Hierdie woorde is Al-Fātiḥa (“Die Aanhef”), die eerste hoofstuk, of sura, van die Moslems se heilige boek, die Heilige Qurʼān, of Koran. Aangesien feitlik 1 uit 6 van die wêreldbevolking ’n Moslem is en vroom Moslems hierdie verse ten minste vyf keer in hul daaglikse gebede herhaal, word hierdie woorde seker die meeste op aarde opgesê.

3. Hoe wydverspreid is die Islām vandag?

3 Volgens een bron is daar meer as 900 miljoen Moslems in die wêreld, sodat net die Rooms-Katolieke Kerk meer aanhangers as die Islām het. Dit is moontlik die vinnigs groeiende van die wêreld se vernaamste godsdienste, en die Moslembeweging in Afrika en die Westerse wêreld brei vinnig uit.

4. (a) Wat beteken “Islām”? (b) Wat beteken “Moslem”?

4 Die naam Islām is vir ’n Moslem van groot belang, want dit beteken “onderwerping”, “oorgawe” of “gebondenheid” aan Allāh, en volgens een geskiedskrywer “is dit ’n uitdrukking van die innerlike gesindheid van diegene wat aan die prediking van Mohammed gehoor gegee het”. “Moslem” beteken ‘iemand wat Islām verrig of doen’.

5. (a) Wat glo Moslems aangaande die Islām? (b) Watter ooreenkomste is daar tussen die Bybel en die Qurʼān?

5 Moslems glo dat hulle geloof die hoogtepunt is van die openbaringe wat aan die getroue Hebreërs en Christene van die ou tyd gegee is. Maar hulle opvattings verskil in party opsigte van die Bybel, hoewel hulle die Hebreeuse sowel as die Griekse Skrifte in die Qurʼān aanhaal. * (Sien venster, bladsy 285.) Om die Moslemgeloof beter te verstaan, moet ons weet hoe, waar en wanneer hierdie godsdiens ontstaan het.

Muḥammad word geroep

6. (a) Waar het die Arabiere in Muḥammad se tyd aanbid? (b) Watter tradisie het aangaande die Kaʽba bestaan?

6 Muḥammad * is omstreeks 570 G.J. in Mekka (Arabies, Makka), Saoedi-Arabië, gebore. Sy vader, ʽAbd Allāh, het voor Muḥammad se geboorte gesterf. Sy moeder, Āmina, het gesterf toe hy omtrent ses jaar oud was. Op daardie tydstip het die Arabiere Allāh in die Mekka-vallei aanbid, by die heilige terrein van die Kaʽba, ’n eenvoudige kubusagtige gebou waar ’n swart meteoriet vereer is. Volgens die Islāmitiese tradisie het Adam “die Kaʽba oorspronklik volgens ’n hemelse prototipe gebou en ná die Sondvloed het Abraham en Ismael dit herbou” (History of the Arabs, deur Philip K. Hitti). Dit het ’n heiligdom vir 360 afgode geword, een vir elke dag van die maanjaar.

7. Watter godsdiensgebruike het Muḥammad verontrus?

7 Terwyl Muḥammad grootgeword het, het hy die godsdiensgebruike van sy tyd bevraagteken. John Noss sê in sy boek Man’s Religions: “[Muḥammad] was verontrus oor die onophoudelike getwis onder die Quraisj-hoofmanne [Muḥammad het tot daardie stam behoort] in die uitgesproke belang van godsdiens en eer. En hy was selfs meer ontevrede oor die primitiewe oorblyfsels in Arabiese godsdiens, die afgodiese politeïsme en animisme, die onsedelikheid by godsdiensbyeenkomste en -feeste, die drinkery, dobbelary en danse wat in die mode was en die feit dat ongewenste babadogters nie net in Mekka nie maar deur die hele Arabië lewendig begrawe is.”—Sura 6:137.

8. Onder watter omstandighede is Muḥammad geroep om ’n profeet te wees?

8 Muḥammad is geroep om ’n profeet te wees toe hy omtrent 40 jaar oud was. Dit was sy gewoonte om alleen na ’n nabygeleë grot in die berg, genaamd Ghār Ḥirāʼ, te gaan om te mediteer, en hy het beweer dat hy by een van hierdie geleenthede geroep is om ’n profeet te wees. Moslemtradisie sê dat terwyl hy daar was ’n engel, wat later as Gabriël geïdentifiseer is, hom beveel het om in die naam van Allāh voor te dra. Muḥammad het nie gereageer nie, en die engel ‘het hom vasgegryp en hom so hard gedruk dat hy dit nie meer kon verduur nie’. Toe het die engel die bevel herhaal. Muḥammad het weer nie gereageer nie, en daarom het die engel hom weer ‘gewurg’. Dit het drie keer gebeur voordat Muḥammad woorde begin voordra het wat beskou word as die eerste van ’n reeks openbarings wat die Qurʼān uitmaak. Volgens ’n ander tradisie is goddelike inspirasie soos die gelui van ’n klok aan Muḥammad geopenbaar.—The Book of Revelation van Ṣaḥīḥ Al-Bukhārī.

Die openbaring van die Qurʼān

9. Wat was glo Muḥammad se eerste openbaring? (Vergelyk Openbaring 22:18, 19.)

9 Wat was na bewering die eerste openbaring wat Muḥammad ontvang het? Islamitiese gesaghebbendes is dit oor die algemeen eens dat dit die eerste vyf verse van sura 96, getitel Al-ʽAlaq, “Die Bloedstolsel”, was wat lui:

“In die Naam van Allah, die Barmhartige, die Genadige.

Lees in die Naam van u Here, die Skepper

—wat die mens uit ’n bloeddruppel skep.

Lees, want u Here is die mees Eerbiedwaardige,

wat deur middel van die pen onderwys,

die mens leer wat hy nie geken het nie.”

10-12. Hoe is die Qurʼān bewaar?

10 Volgens die Arabiese bron The Book of Revelation het Muḥammad geantwoord: “Ek kan nie lees nie.” Daarom moes hy die openbarings memoriseer sodat hy hulle kon herhaal en voordra. Die Arabiere was bedrewe in die gebruik van hulle geheue, en Muḥammad was geen uitsondering nie. Hoe lank het dit geduur voordat hy die volledige boodskap van die Qurʼān ontvang het? Daar word oor die algemeen geglo dat die openbarings oor ’n tydperk van sowat 20 tot 23 jaar ontvang is, van ongeveer 610 G.J. tot sy dood in 632 G.J.

11 Moslembronne verduidelik dat Muḥammad elke openbaring onmiddellik nadat hy dit ontvang het, voorgedra het aan diegene wat toevallig daar naby was. Hulle het die openbaring dan gememoriseer en dit deur voordrag lewend gehou. Aangesien die Arabiere nie geweet het hoe om papier te vervaardig nie, het Muḥammad die openbarings deur skrywers laat oorskryf op die primitiewe materiaal wat toe beskikbaar was, soos skouerbene van kamele, palmblare, hout en perkament. Maar die Qurʼān is eers na die profeet se dood onder leiding van Muḥammad se opvolgers en metgeselle in die huidige vorm saamgestel. Dit was gedurende die heerskappy van die eerste drie kaliefs, of Moslemleiers.

12 Vertaler Muhammad Pickthall skryf: “Al die suras van die Qurʼan is voor die Profeet se dood op skrif gestel, en baie Moslems het die hele Qurʼan gememoriseer. Maar die geskrewe suras is onder die mense versprei; en toe . . . baie van dié wat die hele Qurʼan uit die hoof geken het in ’n geveg gesneuwel het, is die hele Qurʼan byeengebring en op skrif gestel.”

13. (a) Wat is drie bronne van Islamitiese onderrig en leiding? (b) Hoe beskou sommige Islamitiese geleerdes die vertaling van die Qurʼān?

13 Die Islamitiese lewe word deur drie dinge beheers—die Qurʼān, die Ḥadīth en die Sjarīʽa. (Sien venster, bladsy 291.) Moslems glo dat die Qurʼān in Arabies die suiwerste vorm van die openbaring is, aangesien dit volgens hulle die taal was wat God gebruik het toe hy deur Gabriël gepraat het. Sura 43:3 sê: “Ons het dit ’n Arabiese Qurʼān gemaak sodat julle dit kan verstaan (en wysheid verkry)” (AYA). Gevolglik word enige vertaling bloot as ’n verwatering beskou wat suiwerheid verlore laat gaan. Trouens, party Islamitiese geleerdes weier om die Qurʼān te vertaal. Hulle beskouing is dat “’n vertaling altyd verraad is”, en daarom “het Moslems nog altyd enige poging om dit in ’n ander taal weer te gee, afgekeur en soms verbied”, sê dr. J. A. Williams, lektor in Islamitiese geskiedenis.

Die uitbreiding van die Islām

14. Watter gebeurtenis het ’n belangrike tydstip in die Islamitiese geskiedenis aangedui?

14 Muḥammad het sy nuwe geloof ondanks groot teenstand gestig. Die mense van Mekka, selfs van sy eie stam, het hom verwerp. Na 13 jaar van vervolging en haat het hy noordwaarts na Jathrib verhuis, wat toe as al-Madīna (Medina), die stad van die profeet, bekend geword het. Hierdie verhuising, of die hidjra, in 622 G.J. was ’n belangrike gebeurtenis in die Islamitiese geskiedenis, en die datum is later as die beginpunt van die Islamitiese kalender aangeneem. *

15. Hoe het Mekka die Islām se vernaamste sentrum van pelgrimstogte geword?

15 Uiteindelik het Muḥammad die oorheersende posisie verkry toe Mekka in Januarie 630 G.J. (8 A.H.) aan hom oorgegee en hy die heerser geword het. Aangesien hy op sekulêre en op godsdienstige gebied die hef in die hand gehad het, kon hy die afgodsbeelde uit die Kaʽba verwyder en dit die brandpunt maak van pelgrimstogte na Mekka, wat vandag nog voortduur.—Sien bladsye 289, 303.

16. Hoe ver het die Islām uitgebrei?

16 Binne ’n paar dekades na Muḥammad se dood in 632 G.J. het die Islām reeds tot in Afganistan en selfs Tunisië in Noord-Afrika versprei. Vroeg in die agtste eeu het die geloof van die Qurʼān Spanje reeds binnegedring en tot by die Franse grens uitgebrei. Soos professor Ninian Smart in sy boek Background to the Long Search gesê het: “Uit ’n menslike oogpunt beskou, is die prestasie van ’n Arabiese profeet wat in die sesde en sewende eeu na Christus gelewe het ongelooflik. Menslik gesproke was hy die bron van ’n nuwe beskawing. Maar volgens die Moslems was die werk natuurlik goddelik en was dit Allah se prestasie.”

Muḥammad se dood lei tot verdeeldheid

17. Voor watter groot probleem het die Islām na die dood van Muḥammad te staan gekom?

17 Die profeet se dood het ’n krisis veroorsaak. Hy het sonder enige manlike afstammelinge en sonder ’n duidelik aangewese opvolger gesterf. Soos Philip Hitti sê: “Die kalifaat [amp van die kalief] is derhalwe die oudste probleem waarvoor die Islam te staan gekom het. Dit is steeds ’n lewende geskil. . . . Soos Moslemgeskiedskrywer al-Sjarastāni [1086-1153] geskryf het: ‘Geen Islamitiese geskil het meer bloedvergieting veroorsaak as die kalifaat (imāma) nie.’” Hoe is die probleem in 632 G.J. opgelos? “Abu-Bakr . . . is (op 8 Junie 632) as Muḥammad se opvolger aangewys ná ’n soort verkiesing waaraan die leiers wat teenwoordig was in die hoofstad, al-Madīna, deelgeneem het.”—History of the Arabs.

18, 19. Watter bewerings skei die Sunnitiese en die Sjiïtiese Moslems?

18 Die profeet se opvolger sou ’n heerser, ’n khalīfa, of kalief, wees. Maar die geskil oor Muḥammad se ware opvolgers het die geledere van die Islām verdeel. Die Sunnitiese Moslems aanvaar die beginsel van verkose amp eerder as afstamming van die profeet. Daarom glo hulle dat die eerste drie kaliefs, Abū Bakr (Muḥammad se skoonvader), ʽUmar (die profeet se raadgewer) en ʽUtmān (die profeet se skoonseun), Muḥammad se regmatige opvolgers was.

19 Die Sjiïtiese Moslems betwis daardie bewering. Hulle sê dat die ware leierskap oorgedra is deur die profeet se geslagslyn en deur sy neef en skoonseun, ʽAlī ibn Abī Ṭālib, die eerste imām (leier en opvolger), wat met Muḥammad se lieflingsdogter, Fāṭima, getrou het. Uit hulle huwelik is Muḥammad se kleinseuns Ḥasan en Ḥusein gebore. Die Sjiïete sê ook “dat ʽAli van die begin af duidelik deur Allah en Sy Profeet aangewys is as die enigste regmatige opvolger maar dat die eerste drie kaliefs hom van sy regmatige amp beroof het” (History of the Arabs). Die Sunnitiese Moslems het natuurlik ’n ander beskouing daarvan.

20. Wat het met Muḥammad se skoonseun ʽAlī gebeur?

20 Wat het met ʽAlī gebeur? Gedurende sy heerskappy as die vierde kalief (656-661 G.J.) het hy en die goewerneur van Sirië, Muʽāwija, in ’n stryd om leierskap gewikkel geraak. Hulle het teen mekaar begin veg en toe hulle geskil vir arbitrasie oopgestel om verdere Moslembloedvergieting te voorkom. ʽAlī se aanvaarding van arbitrasie het sy saak verswak en baie van sy volgelinge van hom vervreem, waaronder die Khawāridj (Uittreders), wat sy aartsvyande geword het. In die jaar 661 G.J. het ’n Khāridjī-yweraar ʽAlī met ’n gifsabel vermoor. Die twee groepe (die Sunnī en die Sjīʽa) was haaks met mekaar. Die Sunnitiese vertakking van die Islām het toe ’n leier uit die Umajjade, welgestelde Mekkaanse hoofmanne, wat nie lede van die profeet se familie was nie, gekies.

21. Wat is die Sjiïtiese beskouings van Muḥammad se opvolgers?

21 Die Sjīʽa het ʽAlī se eersgeborene, Ḥasan, die profeet se kleinseun, as die ware opvolger beskou. Maar hy het sy amp neergelê en is vermoor. Sy broer Ḥusein het die nuwe imām geword, maar hy is ook op 10 Oktober 680 G.J. deur Umajjade-troepe doodgemaak. Sy dood of martelaarskap, soos die Sjīʽa dit beskou, het tot vandag toe ’n belangrike uitwerking op die Sjīʽat ʽAlī, die party van ʽAlī. Hulle glo dat ʽAlī die ware opvolger van Muḥammad was en die eerste “imām [leier] wat goddelike beskerming teen foute en sonde geniet het”. Die Sjīʽa beskou ʽAlī en sy opvolgers as onfeilbare leraars met “die goddelike gawe van sondeloosheid”. Die meeste van die Sjīʽa glo dat daar net 12 ware imāms was, en die laaste van hulle, Muḥammad al-Muntaẓar, het “sonder om afstammelinge na te laat in die grot van die groot moskee in Sāmarra” verdwyn (878 G.J.). Sodoende “het hy ‘die verborge (mustatir)’ of ‘die verwagte (muntaẓar) imām’ geword. . . . Hy sal op die regte tyd verskyn as die Mahdi (goddelik gerigte) wat die ware Islam sal herstel, die hele wêreld sal oorwin en ’n kort millennium voor die einde van alle dinge sal inlui.”—History of the Arabs.

22. Hoe herdenk die Sjīʽa Ḥusein se marteldood?

22 Die Sjīʽa herdenk elke jaar die marteldood van imam Ḥusein. Hulle het optogte waartydens party hulself met messe en swaarde sny en op ander maniere lyding oor hulleself bring. In onlangser jare het Sjiïtiese Moslems baie publisiteit ontvang weens hulle ywer vir Islamitiese sake. Maar hulle verteenwoordig net ongeveer 20 persent van die wêreld se Moslems, terwyl die meerderheid Sunnitiese Moslems is. Maar kom ons ondersoek nou party van die Islām se leringe en let op hoe die Islamitiese geloof Moslems se daaglikse gedrag beïnvloed.

God is oppermagtig, nie Jesus nie

23, 24. Hoe het Muḥammad en die Moslems Judaïsme en die Christelike godsdiens beskou?

23 Die drie vernaamste monoteïstiese godsdienste van die wêreld is Judaïsme, die Christelike godsdiens en die Islām. Maar toe Muḥammad teen die begin van die sewende eeu G.J. verskyn het, het die eerste twee godsdienste, wat hom betref, reeds van die weg van waarheid afgewyk. Trouens, volgens sommige Islamitiese kommentators, impliseer die Qurʼān verwerping van Jode en van Christene wanneer dit sê: “Nie die weg van hulle op wie U toorn neergedaal het, of die weg van hulle wat afgedwaal het nie” (Sura 1:7). Waarom is dit die geval?

24 ’n Kommentaar oor die Qurʼān sê: “Die Mense van die Boek het ’n fout begaan: Die Jode deur hulle Verbond te verbreek en Maria en Jesus te belaster . . . en die Christene deur Jesus die Apostel aan God gelyk te maak” deur middel van die Drie-eenheidsleer.—Sura 4:153-176, AYA.

25. Watter ooreenstemmende uitdrukkings vind ons in die Qurʼān en die Bybel?

25 Die hoofleerstelling van die Islām is, uiters eenvoudig gestel, die sogenaamde sjahāda, of geloofsbelydenis, wat elke Moslem uit die hoof ken: “La ilā illa Allāh; Muḥammad rasūl Allāh” (Geen god buiten Allah nie; Muḥammad is die boodskapper van Allah). Dit strook met die uitdrukking in die Qurʼān: “Julle God is ’n enige God; buiten Hom is daar geen God nie! Hy is die Barmhartige, die Genadige” (Sura 2:163). Hierdie gedagte is 2 000 jaar vroeër uitgespreek in die eertydse verklaring aan Israel: “Luister, o Israel: Jehovah ons God is een Jehovah” (Deuteronomium 6:4, NW). Jesus het hierdie baie belangrike gebod, wat in Markus 12:29 (NW) opgeteken is, ongeveer 600 jaar voor Muḥammad herhaal, en Jesus het nêrens beweer dat hy God is of gelyk aan Hom is nie.—Markus 13:32; Johannes 14:28; 1 Korinthiërs 15:28.

26. (a) Hoe beskou Moslems die Drie-eenheid? (b) Is die Drie-eenheid Bybels?

26 Die Qurʼān sê aangaande God se enigheid: “Glo daarom in God en Sy apostels. Sê nie ‘Drie-eenheid’ nie: moenie: dit sal vir julle beter wees: want God is Een God” (Sura 4:171, AYA). Ons moet egter daarop let dat die ware Christelike godsdiens nie ’n Drie-eenheid verkondig nie. Dit is ’n heidense leerstelling wat ná die dood van Christus en die apostels deur afvalliges van die Christendom ingebring is.—Sien Hoofstuk 11. *

Die siel, opstanding, paradys en helse vuur

27. Wat sê die Qurʼān oor die siel en oor die opstanding? (Vergelyk Levitikus 24:17, 18, NW; Prediker 9:5, 10; Johannes 5:28, 29.)

27 Die Islām leer dat die mens ’n siel het wat na die hiernamaals gaan. Die Qurʼān sê: “As hulle sterwe, neem Allah die siele van mense, en ook die siele van die wat nie sterwe nie, wanneer hulle slaap. Dan hou hy diegene oor wie die dood verorden is” (Sura 39:42). Terselfdertyd is sura 75 heeltemal gewy aan “Qijāmat, of die Opstanding” (AYA), of “Die Herrysenis”. Dit sê ten dele: “Ek sweer by die Dag van Herrysenis . . . Dink die mens dat Ons nie sy beendere bymekaar sal versamel nie? . . . Hy vra: Wanneer is die Dag van Herrysenis? . . . Is Hy [Allāh] dan nie by magte om die dooie te laat herlewe nie?”—Sura 75:1, 3, 6, 40.

28. Wat sê die Qurʼān oor die hel? (Vergelyk Job 14:13; Jeremia 19:5; 32:35; Handelinge 2:25-27; Romeine 6:7, 23.)

28 Volgens die Qurʼān kan die siel verskillende bestemmings hê, hetsy ’n hemelse paradystuin of die straf van ’n brandende hel. Soos die Qurʼān sê: “Hulle vra: Wanneer sal die Dag van Oordeel wees? Dit sal die Dag wees wanneer hulle in die Vuur beproef sal word. Daar sal gesê word: Smaak nou julle vervolging! Dit is wat julle wou verhaas” (Sura 51:12-14). “Daar is vir hulle [die sondaars] ’n straf in hierdie lewe; maar die straf van die Hiernamaals is gewis swaarder. En hulle het geen verdediger teen Allah nie” (Sura 13:34). Die vraag word gevra: “En wat sal aan julle verduidelik wat dit is? (Dit is) ’n Vuur wat hewig brand!” (Sura 101:10, 11, AYA). Hierdie verskriklike lot word in besonderhede beskryf: “Hulle wat nie in Ons boodskappe glo nie, sal ons weldra die vuur laat binnegaan. En as hulle velle verbrand is, sal Ons dit telkens met ’n nuwe vervang, sodat hulle die volle straf kan kry. Waarlik, Allah is Almagtig, Alwys” (Sura 4:56). ’n Ander beskrywing sê: “Voorwaar, die hel wag soos ’n hinderlaag . . . waarin hulle baie lank sal vertoef. Hulle sal daarin geen koelte hê nie, en geen drank sal oor hulle lippe gaan nie, behalwe kokende water en verskriklike koue water.”—Sura 78:21, 23-25.

29. Vergelyk die Bybelse en die Islamitiese lering oor die siel en sy bestemming.

29 Moslems glo ’n oorledene se siel gaan na die Barzak, of “Versperring”, “die plek of toestand waarin mense na die dood en voor die Oordeel sal wees” (Sura 23:99, 100, voetnoot in AYA). Die siel is bewus en ondervind daar die sogenaamde “Tugtiging van die Graf” as die persoon goddeloos was, of geniet geluk as hy getrou was. Maar die getroues moet ook ’n bietjie gepynig word weens hulle paar sondes toe hulle lewend was. Op die oordeelsdag gaan elkeen sy ewige lot tegemoet, wat daardie tussenstadium beëindig. *

30. Wat word regverdiges volgens die Qurʼān belowe? (Vergelyk Jesaja 65:17, 21-25; Lukas 23:43, NW; Openbaring 21:1-5.)

30 In teenstelling daarmee word hemelse paradystuine aan die regverdiges belowe: “En hulle wat glo en goeie dade doen, sal Ons die tuine waardeur riviere vloei, laat binnegaan, om vir ewig daarin te vertoef” (Sura 4:57). “Op daardie dag sal die bewoners van die Paradys aan niks behalwe hulle geluk dink nie. Hulle sal saam met hul vroue in skaduryke bosse op sagte sofa’s rus” (Sura 36:55, 56, NJD). “Ons het tevore in die Psalms geskryf, na die Boodskap (wat aan Moses gegee is): ‘My dienaars, die regverdiges, sal die aarde beërwe.’” Die voetnoot by hierdie sura verwys die leser na Psalm 25:13 en 37:11, 29, asook na Jesus se woorde in Mattheüs 5:5 (Sura 21:105, AYA). Die melding van vrouens laat ons ons aandag op nog ’n vraag vestig.

Monogamie of poligamie?

31. Wat sê die Qurʼān oor poligamie? (Vergelyk 1 Korinthiërs 7:2; 1 Timotheüs 3:2, 12.)

31 Is poligamie die reël onder Moslems? Hoewel die Qurʼān poligamie toelaat, het baie Moslems net een vrou. Weens die baie weduwees wat agtergelaat is na gevegte wat baie slagoffers geëis het, het die Qurʼān toelating gemaak vir poligamie: “En as julle bevrees is dat julle nie regverdig sal wees teenoor die wese nie, tree dan in die huwelik met vroue wat vir julle geskik sal wees, twee of drie of vier. Maar as julle vrees dat julle nie regverdig sal wees nie, trou dan net een, of net wat julle regterhand besit” (Sura 4:3). Ibn-Hisjām se biografie oor Muḥammad meld dat hy met ’n welgestelde weduwee, Khadīja, wat 15 jaar ouer as hy was, getrou het. Na haar dood het hy met baie vroue getrou. Toe hy gesterf het, het hy nege weduwees agtergelaat.

32. Wat is mutʽa?

32 ’n Ander vorm van die huwelik in die Islām word mutʽa genoem. Dit word gedefinieer as “’n spesiale kontrak wat ’n man en ’n vrou aangaan wanneer die huwelik vir ’n beperkte tyd aangebied en aanvaar word, met ’n vasgestelde bruidskat soos die kontrak vir ’n permanente huwelik” (Islamuna, deur Muṣṭafā al-Rāfiʽī). Die Sunnīs noem dit ’n huwelik vir genot, en die Sjīʽa noem dit ’n huwelik wat binne ’n vasgestelde tydperk beëindig moet word. Dieselfde bron sê: “Die kinders [uit sulke huwelike] is wettig en het dieselfde regte as die kinders uit ’n permanente huwelik.” Hierdie tipe tydelike huwelik is blykbaar in Muḥammad se tyd beoefen, en hy het toegelaat dat dit voortduur. Sunnī’s hou vol dat dit later verbied is, terwyl die Imāmiete, die grootste Sjiïtiese groep, glo dat dit steeds van krag is. Trouens, baie beoefen dit, veral wanneer ’n man lank van sy vrou weg is.

Die Islām en die daaglikse lewe

33. Wat is die Vyf Pilare van Onderhouding en van Geloof?

33 Die Islām omvat vyf vername verpligtinge en vyf basiese opvattings. (Sien vensters, bladsye 296, 303.) Een van die verpligtinge is dat die vroom Moslem sy gesig vyf keer per dag in gebed (ṣalāt) na Mekka draai. Op die Moslemsabbat (Vrydag) stroom die mans na die moskee om te bid wanneer hulle die dralende geroep van die muezzin op die minaret van die moskee hoor. Deesdae speel baie moskees ’n opname in plaas dat iemand die oproep doen.

34. Wat is ’n moskee, en hoe word dit gebruik?

34 Die moskee (Arabies, masjid) is die Moslems se plek van aanbidding, wat deur koning Fahd Bin Abdul Aziz van Saoedi-Arabië bestempel word as “die hoeksteen van die roeping tot God”. Hy het die moskee beskryf as “’n plek van gebed, studie, wetlike en geregtelike bedrywighede, beraadslaging, prediking, leiding, opvoeding en voorbereiding. . . . Die moskee is die hart van die Moslemgemeenskap.” Hierdie plekke van aanbidding word nou oor die hele wêreld aangetref. Een van die beroemdste in die geskiedenis is die Mezquita (Moskee) van Córdoba, Spanje, wat eeue lank die grootste ter wêreld was. Daar is nou ’n Katolieke katedraal in die middelste deel daarvan.

Konflik met en binne die Christendom

35. Watter situasie het in die verlede tussen die Islām en Katolisisme bestaan?

35 Vanaf die sewende eeu het die Islām weswaarts na Noord-Afrika, ooswaarts na Pakistan, Indië en Bangladesj en suidwaarts na Indonesië versprei. (Sien kaart, voorste skutblad.) Hierdie verspreiding het dit in botsing gebring met ’n militante Katolieke Kerk, wat Kruistogte gereël het om die Heilige Land van die Moslems te herower. In 1492 het koningin Isabella en koning Ferdinand van Spanje die Katolieke herowering van Spanje voltooi. Moslems en Jode moes hulle bekeer of hulle sou uit Spanje verban word. Die wedersydse verdraagsaamheid wat onder Moslemheerskappy in Spanje bestaan het, het later onder die invloed van die Katolieke Inkwisisie verdwyn. Maar die Islām het behoue gebly en het in die 20ste eeu herlewe en vinnig gegroei.

36. Watter verwikkelinge het in die Katolieke Kerk plaasgevind terwyl die Islām uitgebrei het?

36 Terwyl die Islām uitgebrei het, het die Katolieke Kerk sy eie beroeringe deurgemaak en probeer om sy geledere verenig te hou. Maar twee kragtige invloede sou binnekort verskyn, en hulle sou die monolitiese beeld van daardie kerk selfs verder verbrysel. Dit was die drukpers en die Bybel in die volkstaal. Ons volgende hoofstuk sal die verdere versplintering van die Christendom onder daardie en ander invloede bespreek.

[Voetnote]

^ par. 1 “Qurʼān” (wat “Voordrag” beteken) is die spelwyse wat deur Moslemskrywers voorgestaan word en wat ons hier sal gebruik. Dit is belangrik om daarop te let dat Arabies die oorspronklike taal van die Qurʼān is, en dat daar geen alom aanvaarde vertaling in Afrikaans is nie. In aanhalings stel die eerste syfer die hoofstuk, of sura, voor, en die tweede die vers.

^ par. 5 Moslems glo dat die Bybel openbaringe van God bevat maar dat party daarvan later vervals is.

^ par. 6 Die profeet se naam word in Afrikaans op verskillende maniere gespel (Mohammed, Muḥammad, Muchammad). Die meeste Moslembronne verkies Muḥammad, wat ons sal gebruik. Turkse Moslems verkies Muhammed.

^ par. 14 Die Moslemjaar word dus aangegee as A.H. (Latyn, Anno Hegirae, jaar van die uittog) eerder as A.D. (Anno Domini, jaar van die Here) of G.J. (Gewone Jaartelling).

^ par. 26 Sien die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo? wat in 1989 deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee is vir verdere inligting oor die Drie-eenheid en die Bybel.

^ par. 29 Vergelyk hierdie Bybeltekste oor die siel en die helse vuur: Genesis 2:7; Esegiël 18:4; Handelinge 3:23. Sien Redenering uit die Skrif, wat in 1985 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, bladsye 187-94; 374-9.

[Studievrae]

[Venster op bladsy 285]

Die Qurʼān en die Bybel

“Hy het die Boek met die waarheid aan jou geopenbaar en die voorafgaande geskrifte bevestig; want Hy het reeds die Tora en die Evangelie geopenbaar om mense te lei en die onderskeid tussen reg en verkeerd te toon.”—Sura 3:2, NJD.

“Feitlik al die geskiedverhale in die Koran toon ’n ooreenkoms met die Bybel . . . Die Ou-Testamentiese karakters Adam, Noag, Abraham (wat ongeveer sewentig keer in vyf-en-twintig verskillende sūras gemeld word en wie se naam die titel vir sūra 14 is), Ismael, Lot, Josef (aan wie sūra 12 gewy is), Moses (wie se naam in vier-en-dertig sūras verskyn), Saul, Dawid, Salomo, Elia, Job en Jona (wie se naam die titel van sūra 10 is) speel ’n belangrike rol. Die verhaal oor die skepping en Adam se sondeval word vyf keer gemeld, die vloed agt keer en Sodom agt keer. Trouens, die Koran toon meer ooreenkomste met die Pentateug as met enige ander deel van die Bybel. . . .

“Sagaria, Johannes die Doper, Jesus (ʽĪsa) en Maria is die enigste nieu-Testamentiese karakters wat beklemtoon word. . . .

“’n Vergelykende studie van die . . . verhale in die Koran en die Bybel . . . toon geen woordelikse afhanklikheid [geen direkte aanhaling] nie.”—History of the Arabs.

[Venster op bladsy 291]

Die drie bronne van onderrig en leiding

Die Heilige Qurʼān, wat glo deur die engel Gabriël aan Muammad geopenbaar is. Die Qurʼān se betekenis en woorde in Arabies word as geïnspireerd beskou.

Die Ḥadīth, of Sunna, “die dade, uitinge en stille goedkeuring (taqrīr) van die Profeet . . . wat gedurende die tweede eeu [A.H.] in die vorm van geskrewe adīths vasgelê is. ’n adīth is derhalwe ’n verslag oor ’n daad of woorde van die Profeet.” Dit kan ook toegepas word op die dade of woorde van enige van Muammad se “Metgeselle of hulle Opvolgers”. Net die betekenis van ’n adīth word as geïnspireerd beskou.—History of the Arabs.

Die Sjarīʽa, of wet, gebaseer op beginsels van die Qurʼān, rig ’n Moslem se hele lewe op godsdienstige, politieke en maatskaplike gebied. “Al ’n mens se dade word in vyf wetlike kategorieë ingedeel: (1) dinge wat as ’n absolute plig beskou word (farḍ) [dit behels ’n beloning vir optrede of straf vir versuim om op te tree]; (2) prysenswaardige of verdienstelike dade (mustaḥabb) [wat ’n beloning behels maar geen straf vir versuim nie]; (3) toelaatbare dade (jā’iz, mubāḥ), wat wetlik neutraal is; (4) afkeurenswaardige dade (makrū), wat afgekeur is maar nie strafbaar is nie; (5) verbode dade (ḥarām), wat straf vereis.”—History of the Arabs.

[Venster op bladsy 296]

Die Vyf Pilare van geloof

1. Geloof in een God, Allāh (Sura 23:116, 117)

2. Geloof in engele (Sura 2:177)

3. Geloof in baie profete maar een boodskap. Adam was die eerste profeet. Ander was onder meer Abraham, Moses, Jesus en “die Seël van die Profete”, Muḥammad (Sura 4:136; 33:40)

4. Geloof in ’n oordeelsdag (Sura 15:35, 36)

5. Geloof in God se alwetendheid, voorkennis en bepaling van alle gebeure. Tog het die mens keusevryheid wat sy dade betref. [Islamitiese sektes is verdeeld oor die kwessie van wilsvryheid] (Sura 9:51)

[Venster op bladsy 303]

Die Vyf Pilare van Onderhouding

1. Herhaal die geloofsbelydenis (sjahāda): “Geen god behalwe Allah nie; Muḥammad is die boodskapper van Allah” (Sura 33:40)

2. Gebed (ṣalāt) vyf keer per dag in die rigting van Mekka (Sura 2:144)

3. Liefdadigheid (zakā), die verpligting om ’n persentasie van jou inkomste en van die waarde van sekere eiendom te gee (Sura 24:56)

4. Die vas (ṣawm), veral gedurende die maandlange viering van Ramaḍān (Sura 2:183-185)

5. Bedevaart (ḥadj). Elke manlike Moslem moet een keer in sy lewe na Mekka reis. Slegs siekte en armoede is geoorloofde verskonings (Sura 3:97)

[Venster/Prent op bladsy 304, 305]

Die Bahāʼī-geloof—’n soeke na wêreldeenheid

1 Die Bahāʼī-geloof is nie ’n sekte van die Islām nie maar ’n vertakking van die Bābī-godsdiens, ’n groep in Persië (vandag Iran) wat in 1844 van die Sjiïtiese vertakking van die Islām afgestig het. Die leier van die Bābī’s was Mīrzā ʽAlī Moḥammed van Sjīrāz, wat homself die Bāb (“die Hek”) en die imām-mahdī (“welgeleide leier”) in die geslag van Muḥammad genoem het. Hy is in 1850 deur die Persiese owerheid tereggestel. In 1863 het Mīrzā Ḥosain Alī Nūrī, ’n prominente lid van die Bābī-groep, “verklaar dat hy die een is ‘wat deur God geopenbaar sal word’, wat die Bāb voorspel het”. Hy het homself ook Bahāʼ Ullā (“Eer van God”) genoem en ’n nuwe godsdiens, die Bahāʼī-geloof, gestig.

2 Bahāʼ Ullā is uit Persië verban en is uiteindelik in Akko (vandag Acre, Israel) opgesluit. Daar het hy sy vernaamste werk, al-Kitāb al-Aqdas (Die Allerheiligste Boek), geskryf en die leerstelling van die Bahāʼī-geloof tot ’n omvattende lering ontwikkel. Na Bahā Ullā se dood is die leierskap van die jong godsdiens oorgedra aan sy seun ʽAbd ol-Bahā’, toe aan sy agterkleinseun, Sjoghi Effendi Rabbānī, en in 1963 aan ’n verkose administratiewe liggaam wat as die Universele Huis van Geregtigheid bekendstaan.

3 Bahāʼīs glo dat God hom deur middel van “Goddelike Manifestasies”, waaronder Abraham, Moses, Krisjna, Zoroaster, die Boeddha, Jesus, Muḥammad, die Bāb en Bahāʼ Ullā, aan die mens geopenbaar het. Hulle glo dat hierdie boodskappers voorsien is om die mens deur ’n evolusionêre proses te lei waartydens die verskyning van die Bāb ’n nuwe tydperk vir die mensdom ingelui het. Die Bahāʼīs sê dat sy boodskap tot op hede die volledigste openbaring van God se wil is en dat dit die vernaamste Godgegewe instrument is wat wêreldeenheid moontlik sal maak.—1 Timotheüs 2:5, 6.

4 Een van die grondreëls van Bahāʼī is “dat al die groot godsdienste van die wêreld ’n goddelike oorsprong het, dat hulle basiese beginsels in volkome harmonie is”. Hulle “verskil net wat die oortollige aspekte van hulle leerstellings betref”.—2 Korinthiërs 6:14-18; 1 Johannes 5:19, 20.

5 ’n Paar Bahāʼī-opvattings is die enigheid van God, die onsterflikheid van die siel en die evolusie (biologies, geestelik en maatskaplik) van die mensdom. Daarenteen verwerp hulle die algemene opvatting oor engele. Hulle verwerp ook die Drie-eenheid, Hindoeïsme se leerstelling oor reïnkarnasie, en die mens se sondeval en daaropvolgende bevryding deur die bloed van Jesus Christus.—Romeine 5:12; Mattheüs 20:28.

6 Die broederskap van die mens en die gelykheid van vroue is vername aspekte van die Bahāʼī-geloof. Bahāʼīs beoefen monogamie. Hulle bid ten minste een keer per dag enige van drie gebede wat deur Bahāʼ Ullā geopenbaar is. Hulle vas van sonop tot sononder gedurende die 19 dae van die Bahāʼī-maand ʽAlā, wat in Maart val. (Die Bahāʼī-kalender bestaan uit 19 maande, wat elk 19 dae het, en sekere skrikkeldae.)

7 Die Bahāʼī-geloof het nie talle vasgestelde rituele of ’n geestelikeklas nie. Enigiemand wat bely dat hy in Bahāʼ Ullā glo en sy leringe aanvaar, kan as lidmate aangeneem word. Hulle vergader op die eerste dag van elke Bahāʼī-maand vir aanbidding.

8 Bahāʼīs meen dat hulle opdrag die geestelike oorwinning van die planeet is. Hulle probeer om hulle geloof deur gesprekke, voorbeeld, deelname aan gemeenskapsprojekte en inligtingsveldtogte te versprei. Hulle glo aan absolute gehoorsaamheid aan die wette van die land waar hulle woon, en hoewel hulle stem, neem hulle nie aan die politiek deel nie. Hulle verkies waar moontlik nie-strydende diens in die leër, maar is nie gewetensbeswaardes nie.

9 As ’n sendinggodsdiens het Bahāʼī die afgelope paar jaar vinnig gegroei. Die Bahāʼīs skat dat daar wêreldwyd nagenoeg 5 000 000 gelowiges is, hoewel die werklike lidmaatskap van volwassenes in die geloof tans ’n bietjie meer as 2 300 000 is.

[Studievrae]

1, 2. Hoe het die Bahāʼī-geloof ontstaan?

3-7. (a) Wat is party Bahāʼī-opvattings? (b) Hoe verskil Bahāʼī-opvattings van Bybelleringe?

8, 9. Wat is die Bahāʼī-sending?

[Prent]

Die Bahāʼī-heiligdom by die wêreldhoofkwartier in Haifa, Israel

[Prente op bladsy 286]

Volgens Moslemtradisie het Muḥammad van hierdie rots in die Rotskoepel, Jerusalem, na die hemel opgevaar

[Prente op bladsy 289]

Moslempelgrims in Mekka loop sewe keer om die Kaʽba en raak aan die Swart Klip of soen dit, links onder

[Prent op bladsy 290]

Arabies is die taal waarin die Qurʼān gelees moet word

[Prente op bladsy 298]

Regsom van links bo: Rotskoepel, Jerusalem; moskees in Iran, Suid-Afrika en Turkye

[Prente op bladsy 303]

Die Mezquita van Córdoba was vroeër die grootste moskee ter wêreld (’n Katolieke katedraal staan nou in die middel daarvan)