Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Sjinto—Japan se soeke na God

Die Sjinto—Japan se soeke na God

Hoofstuk 8

Die Sjinto—Japan se soeke na God

“Omdat my vader ’n Sjinto-priester was, is ons aangesê om elke oggend voor ontbyt ’n glas water en ’n bakkie gestoomde rys op die kamidana [Sjinto-huisaltaar] te offer. Na daardie aanbiddingsdaad het ons die bakkie rys afgehaal en daaruit geëet. Ek was seker dat die gode ons sou beskerm as ons dit doen.

“Wanneer ons ’n huis gekoop het, het ons seker gemaak dat dit ’n gunstige ligging ten opsigte van ons ou huis gehad het deur ’n sjamaan, of ’n medium, te raadpleeg. Hy het ons teen drie demonpoorte gewaarsku en ons beveel om die reinigingsprosedure wat my vader voorgeskryf het te volg. Ons het daardie vertrekke dus een keer per maand met sout gereinig.”—Majoemi T.

1. (Sluit die inleiding in.) Hoofsaaklik waar word die Sjinto-godsdiens beoefen, en wat behels dit vir party van die gelowiges?

DIE SJINTO is hoofsaaklik ’n Japannese godsdiens. Die Nihon Sjoekjo Jiten (Ensiklopedie van Japannese Godsdienste) sê: “Die ontstaan van Sjintoïsme is feitlik dieselfde as die Japannese volkskultuur, en dit is ’n godsdienskultuur wat nooit afgeskeie van hierdie volksgemeenskap beoefen is nie.” Maar Japannese sake- en kulturele invloede is nou so algemeen dat dit vir ons interessant behoort te wees om te weet watter godsdiensfaktore Japan se geskiedenis en die Japannese persoonlikheid gevorm het.

2. In watter mate beïnvloed die Sjinto die lewe van die Japannese?

2 Hoewel die Sjinto in Japan op ’n lidmaatskap van meer as 91 000 000 aanspraak maak, wat ongeveer driekwart van Japan se bevolking is, toon ’n opname dat net 2 000 000 mense, of 3 persent van die volwassenes, werklik bely dat hulle in die Sjinto glo. Maar Soegata Masaaki, ’n navorser van die Sjinto, sê: “Die Sjinto is so ’n onafskeibare deel van die Japannese daaglikse lewe dat mense skaars van sy bestaan bewus is. Vir die Japannese is dit nie soseer ’n godsdiens as ’n onopvallende, vaste omgewingsinstelling nie, soos die lug wat hulle inasem.” Selfs diegene wat sê dat hulle onverskillig staan teenoor godsdiens sal Sjinto-amulette vir verkeersveiligheid koop, hulle troue volgens die Sjinto-tradisie reël en geld op jaarlikse Sjinto-feeste uitgee.

Hoe het dit ontstaan?

3, 4. Hoe het Japannese godsdiens aanvanklik as die Sjinto bekend geword?

3 Die naam “Sjinto” is in die sesde eeu G.J. in gebruik geneem om die plaaslike godsdiens te onderskei van Boeddhisme, wat toe in Japan ingebring is. “‘Die Godsdiens van die Japannese’ het natuurlik . . . voor die invoering van Boeddhisme bestaan”, verduidelik Satsjija Hiro, ’n navorser van Japannese godsdienste, “maar dit was ’n onderbewuste godsdiens wat uit gebruike en ‘sedes’ bestaan het. Toe Boeddhisme ingevoer is, het mense egter besef dat daardie sedes ’n Japannese godsdiens uitgemaak het wat verskil het van Boeddhisme, wat ’n vreemde godsdiens was.” Hoe het hierdie Japannese godsdiens ontwikkel?

4 Dit is moeilik om ’n jaartal te bepaal waarin die oorspronklike Sjinto, of “Godsdiens van die Japannese”, ontstaan het. Toe daar begin is met die nat verbouing van rys “het nat verbouing goed georganiseerde en stabiele gemeenskappe noodsaaklik gemaak”, verduidelik die Kodansha Encyclopedia of Japan, “en landbouritusse—wat later so ’n belangrike rol in die Sjinto gespeel het—is ontwikkel”. Daardie vroeë volke het talle natuurgode versin en aanbid.

5. (a) Wat is die Sjinto-beskouing van die dode? (b) Hoe vergelyk die Sjinto-beskouing van die dode met dié van die Bybel?

5 Benewens hierdie verering het vrees vir heengegane siele aanleiding gegee tot ritusse om hulle te paai. Dit het later tot die aanbidding van voorouergeeste ontwikkel. Volgens die Sjinto-opvatting het ’n “heengegane” siel steeds sy persoonlikheid en word dit onmiddellik na die dood met doodsbesoedeling beklad. Wanneer die bedroefde persone gedenkritusse uitvoer, word die siel dermate gereinig dat alle kwaadwilligheid verwyder word en neem dit ’n vreedsame en welwillende karakter aan. Mettertyd bereik die voorouergees die hoër posisie van ’n voorouerlike godheid, of beskermgodheid. Ons vind dus dat die opvatting oor die onsterflike siel die grondslag van nog ’n godsdiens uitmaak en die gesindhede en dade van die gelowiges vorm.—Psalm 146:4; Prediker 9:5, 6, 10.

6, 7. (a) Hoe het Sjintoïste hulle gode beskou? (b) Wat is ’n sjintai, en waarom het dit groot betekenis in die Sjinto? (Vergelyk Exodus 20:4, 5; Levitikus 26:1; 1 Korinthiërs 8:5, 6.)

6 Natuurgode en voorouergode is beskou as geeste wat in die lug “sweef” en dit vul. Tydens feeste het mense die gode gevra om neer te daal op die spesifieke plekke wat vir die geleentheid geheilig is. Daar is gesê dat gode tydelik in sjintai, voorwerpe van aanbidding soos bome, klippe, spieëls en swaarde, kom woon het. Sjamane, of mediums, het rituele gelei waartydens die gode gevra is om neer te daal.

7 Geleidelik het die “landingsplekke” van die gode, wat tydelik vir feeste gereinig is, ’n meer permanente vorm aangeneem. Mense het heiligdomme vir welwillende gode, deur wie hulle skynbaar geseën is, gebou. Aanvanklik het hulle nie beelde van die gode gemaak nie, maar die sjintai, waarin geeste van gode kwansuis gewoon het, aanbid. Selfs ’n hele berg, soos Foedji, kon ’n sjintai wees. Later was daar so baie gode dat die Japannese die uitdrukking jaojorosoe-no-kami gesmee het, wat letterlik “agtmiljoen gode” beteken (“kami” beteken “gode” of “godhede”). Die uitdrukking word nou gebruik om “tallose gode” aan te dui, aangesien die aantal godhede in die Sjinto-godsdiens immer toeneem.

8. (a) Hoe is Amaterasoe Omikami volgens ’n Sjinto-mite geskep en gedwing om lig te gee? (b) Hoe het Amaterasoe Omikami die volksgodheid geword, en hoe is die keisers met haar gekoppel?

8 Aangesien heiligdomme die middelpunt van Sjinto-rituele was, het elke stamgroep sy eie beskermgodheid in ’n heiligdom bewaar. Maar toe die keiserlike familie die nasie in die sewende eeu G.J. verenig het, het hulle hul songodin, Amaterasoe Omikami, tot die volksgodheid en hooffiguur van die Sjinto-gode verhoog. (Sien venster, bladsy 191.) Mettertyd is die mite dat die keiser ’n direkte afstammeling van die songodin is, geskep. Ter versterking van daardie opvatting is twee belangrike Sjinto-geskrifte, Kodjiki en Nihon sjoki, in die agtste eeu G.J. opgestel. Hierdie boeke het gehelp om die oppermag van die keisers te bevestig aangesien hulle mites bevat het wat die keiserlike familie as afstammelinge van gode verhef het.

’n Godsdiens van feeste en rituele

9. (a) Waarom sê een geleerde dat die Sjinto ’n godsdiens van “sonders” is? (b) Hoe streng is die Sjinto wat leringe betref? (Vergelyk Johannes 4:22-24.)

9 Maar hierdie twee boeke oor die Sjinto-mitologie is nie as geïnspireerde geskrifte beskou nie. Interessant genoeg het die Sjinto nie ’n stigter waarvan ons weet of ’n Bybel nie. “Die Sjinto is ’n godsdiens van baie ‘sonders’”, verduidelik Sjouitsji Saeki, ’n Sjinto-geleerde. “Dit is sonder definitiewe leerstellings en sonder uitvoerige teologie. Dit is feitlik sonder enige voorskrifte wat nagekom moet word. . . . Hoewel ek grootgeword het in ’n gesin wat tradisioneel die Sjinto aangehang het, kan ek glad nie onthou dat ek ernstige godsdiensonderrig ontvang het nie.” (Ons kursiveer.) Leerstellings, voorskrifte en soms selfs wat hulle aanbid, is nie vir Sjintoïste belangrik nie. “Selfs by dieselfde heiligdom”, sê ’n Sjinto-navorser, “is die god in die heiligdom dikwels deur ’n ander vervang, en soms was mense wat daardie gode aanbid het en tot hulle gebid het nie bewus van die verandering nie.”

10. Wat is vir Sjintoïste baie belangrik?

10 Wat is dan vir Sjintoïste baie belangrik? “Oorspronklik”, sê ’n boek oor die Japannese kultuur, “het die Sjinto dade wat die harmonie en lewensonderhoud van ’n klein gemeenskap bevorder het as ‘goed’ en dié wat dit verhinder het as ‘sleg’ beskou.” Harmonie met gode, die natuur en die gemeenskap is as uiters waardevol beskou. Enigiets wat die vreedsame harmonie van die gemeenskap versteur het, was sleg, ongeag die morele waarde daarvan.

11. Watter rol speel feeste in Sjinto-aanbidding en die daaglikse lewe?

11 Aangesien die Sjinto geen formele leerstelling of lering het nie, bevorder dit die harmonie van die gemeenskap deur rituele en feeste. “Die belangrikste aspek in Sjintoïsme”, verduidelik die ensiklopedie Nihon Sjoekjo Jiten, “is of ons feeste vier of nie.” (Sien venster, bladsy 193.) Gesamentlike feesviering tydens feeste vir voorouerlike gode het bygedra tot ’n gees van samewerking onder mense in die rysbougemeenskap. Belangrike feeste het met rysverbouing verband gehou, en vandag is dit steeds die geval. In die lente smeek dorpsmense die “god van die ryslande” om na hulle dorp neer te daal en bid hulle om ’n goeie oes. In die herfs dank hulle hul gode vir die oes. Gedurende feeste dra hulle hul gode rond op ’n mikosji, of draagbare heiligdom, en nuttig hulle ryswyn (sake) en voedsel in die teenwoordigheid van die gode.

12. Watter soort reinigingsritusse word in die Sjinto uitgevoer, en met watter doel?

12 Maar Sjintoïste glo dat hulle van al hulle sedelike onreinheid en sonde gereinig en gesuiwer moet word om met die gode verenig te wees. Dit is waar rituele ’n rol speel. Daar is twee maniere om ’n persoon of ’n voorwerp te reinig. Een manier is oharai en die ander is misogi. Oharai behels dat ’n Sjinto-priester ’n tak van die immergroen sakaki-boom met papier of vlas aan die punt vasgebind, swaai om ’n artikel of ’n persoon te reinig, terwyl water in misogi gebruik word. Hierdie reinigingsrituele is so onontbeerlik vir die Sjinto-godsdiens dat een Japannese gesaghebbende sê: “Daar kan met gerustheid gesê word dat die Sjinto sonder hierdie rituele nie [as ’n godsdiens] kan staan nie.”

Die Sjinto se aanpasbaarheid

13, 14. Hoe het die Sjinto hom by ander godsdienste aangepas?

13 Ten spyte van die verandering wat die Sjinto-godsdiens deur die jare heen ondergaan het, het feeste en rituele ’n deel van die Sjinto gebly. Watter verandering? Een Sjinto-navorser vergelyk die veranderinge in die Sjinto met dié van ’n kostuumpop. Toe Boeddhisme ingevoer is, het die Sjinto die Boeddhistiese lering aangeneem. Toe mense sedestandaarde nodig gehad het, het dit Confucianisme aangeneem. Die Sjinto was uiters aanpasbaar.

14 Sinkretisme, of die versmelting van een godsdiens se elemente met dié van ’n ander, het baie vroeg in die geskiedenis van die Sjinto plaasgevind. Hoewel Confucianisme en Taoïsme, wat in Japan as die “Weg van jin en jang” bekendstaan, die Sjinto-godsdiens binnegedring het, was Boeddhisme die vernaamste element wat met die Sjinto vermeng het.

15, 16. (a) Hoe het Sjintoïste op Boeddhisme gereageer? (b) Hoe het die Sjinto en Boeddhisme saamgesmelt?

15 Toe Boeddhisme via China en Korea na Japan gekom het, het die Japannese hulle tradisionele godsdiensgebruike die Sjinto, of die “weg van die gode”, genoem. Maar die koms van ’n nuwe godsdiens het Japan verdeeld gelaat oor die kwessie of hulle Boeddhisme moes aanvaar of nie. Die Boeddhisties gesinde groep het volgehou: ‘Alle buurlande aanbid op daardie manier. Waarom moet Japan anders wees?’ Die anti-Boeddhistiese groep het gesê: ‘As ons die buurgode aanbid, sal ons ons eie gode kwaad maak.’ Na eeuelange onenigheid het dié wat Boeddhisties gesind was die oorwinning behaal. Teen die einde van die sesde eeu G.J., toe prins Sjōtokoe Boeddhisme aangeneem het, het die nuwe godsdiens reeds posgevat.

16 Toe Boeddhisme na die plattelandse gemeenskappe uitgebrei het, moes dit begin meeding met die plaaslike Sjinto-godhede wie se bestaan ’n integrerende deel van die mense se daaglikse lewe uitgemaak het. Die twee godsdienste moes ’n kompromis aangaan om gelyktydig te bestaan. Boeddhistiese monnike wat selfdissipline in die berge beoefen het, het gehelp om die twee godsdienste te laat saamsmelt. Aangesien berge as die woonplekke van Sjinto-godhede beskou is, het die monnike se asketiese gebruike in die berge die gedagte laat ontstaan om Boeddhisme en die Sjinto te vermeng, wat ook gelei het tot die oprigting van jingoeji, of “heiligdomtempels”. * Die twee godsdienste het geleidelik saamgesmelt terwyl Boeddhisme die inisiatief geneem het om godsdiensteorieë op te stel.

17. (a) Wat beteken kamikaze? (b) Hoe het kamikaze verband gehou met die opvatting dat Japan ’n goddelike nasie is?

17 Intussen het die opvatting begin posvat dat Japan ’n goddelike nasie is. Toe die Mongole Japan in die 13de eeu aangeval het, het geloof in kamikaze, letterlik “goddelike wind”, ontstaan. Die Mongole se veel groter seemagte het die eiland Kioesjoe twee keer aangeval, en hulle planne is twee keer deur storms verydel. Die Japannese het hierdie storms, of winde (kaze), aan hulle Sjinto-gode (kami) toegeskryf, en dit het die reputasie van hulle gode baie vergroot.

18. Hoe het die Sjinto met ander godsdienste gewedywer?

18 Namate vertroue in Sjinto-godhede toegeneem het, is hulle as die oorspronklike gode beskou, terwyl Boeddhas (“verligtes”) en bodhisattvas (toekomstige Boeddhas wat ander help om verligting te verkry; sien bladsye 136-8, 145-6) bloot as tydelike, plaaslike manifestasies van die godheid beskou is. As gevolg van hierdie konflik tussen Sjintoïsme en Boeddhisme het verskeie Sjinto-denkrigtings ontwikkel. Party het Boeddhisme beklemtoon, ander het die Sjinto-godedom verhoog en nog ander het ’n latere vorm van Confucianisme gebruik om hulle leringe op te smuk.

Keiseraanbidding en die Staat-Sjinto

19. (a) Wat was die doelwit van die Hervorming-Sjintoïste? (b) Watter denkwyse het uit die leringe van Norinaga Motoori voortgespruit? (c) Wat nooi God ons om te doen?

19 Nadat Sjinto-teoloë jare lank toegegee het, het hulle besluit dat hul godsdiens deur Chinese godsdiensdenke besmet is. Hulle het dus aangedring op ’n terugkeer na die eertydse Japannese weg. ’n Nuwe Sjinto-denkrigting, bekend as Hervorming-Sjinto, het te voorskyn gekom, met Norinaga Motoori (wat as Motoʹori uitgespreek word), ’n 18de-eeuse geleerde, as een van sy vernaamste teoloë. Motoori het in sy soektog na die oorsprong van die Japannese kultuur die klassieke werke bestudeer, veral die Sjinto-geskrifte wat Kodjiki genoem word. Hy het verkondig dat die songodin, Amaterasoe Omikami, die hoogste god is, maar het natuurverskynsels vaagweg aan die gode toegeskryf. Daarbenewens is die goddelike voorsienigheid volgens sy lering onvoorspelbaar en is mense oneerbiedig as hulle dit probeer verstaan. Hy het gemeen dat ’n mens geen vrae moet vra nie en jou aan die goddelike voorsienigheid moet onderwerp.—Jesaja 1:18.

20, 21. (a) Hoe het een Sjinto-teoloog probeer om “Chinese” invloed uit die Sjinto te verwyder? (b) Watter beweging het weens Hirata se filosofie ontstaan?

20 Een van sy volgelinge, Atsoetane Hirata, het Norinaga se opvatting uitgebou en probeer om die Sjinto te reinig deur van alle “Chinese” invloede daarin ontslae te raak. Wat het Hirata gedoen? Hy het die Sjinto met afvallige “Christelike” teologie vermeng! Hy het Amenominakanoesji-no-kami, ’n god wat in die Kodjiki genoem word, met die God van “die Christelike godsdiens” vergelyk en gesê dat hierdie heersende god van die heelal twee ondergeskikte gode het, “die Hoogskeppende (Takami-moesoebi) en die Godskeppende (Kami-moesoebi), wat blykbaar die manlike en vroulike beginsel voorstel” (Religions in Japan). Ja, hy het die lering oor ’n drie-enige god uit Rooms-Katolisisme aangeneem, hoewel dit nooit die vernaamste Sjinto-lering geword het nie. Maar Hirata se vermenging van die sogenaamd Christelike godsdiens met die Sjinto het uiteindelik die Christendom se vorm van monoteïsme in die Sjinto-verstand oorgeplant.—Jesaja 40:25, 26.

21 Hirata se teologie het die grondslag geword van die ‘Eer die Keiser’-beweging, wat gelei het tot die ondergang van die feodale militêre diktators, die sjogoens, en tot die herstel van keiserlike heerskappy in 1868. Toe die keiserlike regering aan die bewind gekom het, is Hirata se dissipels as die regeringskommissarisse van die Sjinto-aanbidding aangestel en het hulle ’n beweging bevorder waardeur die Sjinto die staatsgodsdiens gemaak sou word. Ingevolge die destyds nuwe grondwet is daar gemeen dat die keiser, wat as ’n direkte afstammeling van die songodin Amaterasoe Omikami beskou is, “heilig en onaantasbaar” is. Hy het dus die oppermagtige god van die Staat-Sjinto geword.—Psalm 146:3-5.

Die Sjinto se “heilige geskrifte”

22, 23. (a) Watter twee edikte het die keiser uitgevaardig? (b) Waarom is hierdie edikte as heilig beskou?

22 Die ou verslae, rituele en gebede van die Sjinto was in die Kodjiki-, die Nihongi- en die Jengisjiki-geskrifte opgeteken, maar die Staat-Sjinto het ’n heilige boek nodig gehad. In 1882 het keiser Meidji die Keiserlike Edik vir Soldate en Matrose uitgevaardig. Aangesien dit van die keiser gekom het, het die Japannese dit as ’n heilige geskrif beskou en het troepe daagliks daaroor gemediteer. Dit het beklemtoon dat ’n persoon se plig om sy verpligtinge teenoor die god-keiser na te kom belangriker was as enige plig wat hy teenoor enigiemand anders gehad het.

23 Nog iets is by die Sjinto se heilige geskrifte gevoeg toe die keiser op 30 Oktober 1890 die Keiserlike Edik oor Skoolopleiding uitgevaardig het. Dit “het nie net grondbeginsels vir skoolopleiding uiteengesit nie, maar het feitlik die heilige geskrifte van die Staat-Sjinto geword”, verduidelik Sjigejosji Moerakami, ’n navorser van die Staat-Sjinto. Die edik het verduidelik dat die “geskiedkundige” verband tussen die mitiese keiserlike voorouers en hulle onderdane die grondslag van skoolopleiding was. Hoe het die Japannese hierdie edikte beskou?

24. (a) Gee ’n voorbeeld van hoe die mense die keiserlike edikte beskou het. (b) Hoe het die Staat-Sjinto tot keiseraanbidding gelei?

24 “Toe ek ’n dogtertjie was, het die onderhoof [van die skool] ’n houtdoos op ooghoogte gehou en dit eerbiedig na die verhoog gebring”, sê Asano Kosjino. “Die hoof het die doos by hom geneem en die rol uitgehaal waarop die Keiserlike Edik oor Skoolopleiding geskryf was. Terwyl die edik gelees is, moes ons ons koppe buig totdat ons die slotwoorde: ‘Die Naam van Sy Majesteit en Sy seël’ gehoor het. Ons het dit so dikwels gehoor dat ons die woorde gememoriseer het.” Deur middel van ’n onderwysstelsel wat op die mitologie gegrond was, is die hele nasie tot en met 1945 gekondisioneer om hulle aan die keiser toe te wy. Die Staat-Sjinto is as die supergodsdiens beskou, en die ander 13 Sjinto-sektes wat ander leerstellings verkondig het, is teruggeskuif en die Sekte-Sjinto genoem.

Japan se godsdienssending—wêreldoorwinning

25. Hoe het die mense die Japannese keiser beskou?

25 Die Staat-Sjinto het ook sy afgod gehad. “Ek het elke oggend my hande in die rigting van die son, die simbool van die godin Amaterasoe Omikami, geklap en dan ooswaarts na die Keiserlike Paleis gedraai en die keiser aanbid”, sê Masato, ’n bejaarde Japannese man. Die keiser se onderdane het hom as god aanbid. Weens sy afstamming van die songodin is hy op politieke en godsdienstige gebied as oppermagtig beskou. Een Japannese professor het gesê: “Die Keiser is god wat as mens geopenbaar word. Hy is die sigbare Godheid.”

26. Watter lering het uit keiserverering voortgespruit?

26 Gevolglik het die lering ontstaan dat “die Mikado [Keiser] se land die middelpunt van hierdie merkwaardige wêreld is. Van hierdie middelpunt af moet ons hierdie Groot Gees oor die hele wêreld uitbrei. . . . Die uitbreiding van Groot Japan oor die hele wêreld en die verheffing van die hele wêreld tot die land van die Gode is tans die dringende saak en dit is ook ons ewige en onveranderlike doelwit” (The Political Philosophy of Modern Shinto, deur D. C. Holtom). Daar was beslis geen skeiding tussen Kerk en Staat nie!

27. Hoe het militariste die aanbidding van die Japannese keiser gebruik?

27 In sy boek Man’s Religions sê John B. Noss: “Die Japannese leër het hierdie beskouing gou benut. Hulle het in hulle oorlogspraatjies gesê dat oorwinning die heilige sending van Japan was. In sulke woorde kan ons beslis die logiese resultaat sien van ’n nasionalisme wat met al die waardes van godsdiens besiel was.” Op wat ’n tragedie het dít tog vir die Japannese en ander volke uitgeloop, hoofsaaklik vanweë die Sjinto-mite oor die goddelikheid van die keiser en die vermenging van godsdiens en nasionalisme!

28. Watter rol het die Sjinto in die Japannese oorlogspoging gespeel?

28 Oor die algemeen kon die Japannese nie anders as om die keiser onder die Staat-Sjinto en sy keiserlike stelsel te aanbid nie. Norinaga Motoori se lering, naamlik: ‘Vra niks nie, maar onderwerp jou aan die goddelike voorsienigheid’, het die Japannese denke oorheers en beheer. Teen 1941 is die hele nasie onder die vaandel van die Staat-Sjinto en in toewyding aan die “lewende mensgod” tydens die Tweede Wêreldoorlog op oorlogsvoet gebring. ‘Japan is ’n goddelike nasie’, het die mense gedink, ‘en die kamikaze, die goddelike wind, sal waai wanneer daar ’n krisis is.’ Soldate en hulle families het hul beskermgode om sukses in die oorlog gesmeek.

29. Wat het veroorsaak dat baie mense na die Tweede Wêreldoorlog geloof verloor het?

29 Toe die “goddelike” nasie in 1945 deur die dubbele slag van die atoomvernietiging van Hirosjima en ’n groot deel van Nagasaki verslaan is, het die Sjinto voor ’n ernstige krisis te staan gekom. Die heerser Hirohito wat kwansuis onoorwinlik en goddelik was, het oornag bloot die oorwonne menslike keiser geword. Dit het Japannese geloof die bodem ingeslaan. Kamikaze het die nasie in die steek gelaat. Die ensiklopedie Nihon Sjoekjo Jiten sê: “Een van die redes was die nasie se teleurstelling omdat hulle verraai is. . . . Erger nog, die Sjinto-wêreld het geen godsdienstig gevorderde en gepaste manier gehad om die twyfelgedagtes wat weens [die nederlaag] ontstaan het uit die weg te ruim nie. Gevolglik was die algemene neiging die godsdienstig onvolwasse reaksie: ‘Daar is geen god of Boeddha nie.’”

Die weg tot ware harmonie

30. (a) Watter les kan geleer word uit wat in die Tweede Wêreldoorlog met die Sjinto gebeur het? (b) Waarom is dit noodsaaklik dat ons ons denkvermoë met betrekking tot ons aanbidding gebruik?

30 Die weg wat die Staat-Sjinto ingeslaan het, beklemtoon hoe nodig dit is dat elke individu die tradisionele opvattings ondersoek wat hy aanhang. Sjintoïste het moontlik harmonie met hulle Japannese bure nagestreef toe hulle militarisme gesteun het. Dit het natuurlik nie wêreldharmonie bevorder nie, en aangesien hul broodwinners en jeugdiges gesneuwel het, het dit ook nie huislike harmonie meegebring nie. Voordat ons ons lewe aan iemand toewy, moet ons vasstel aan wie en aan watter saak ons onsself offer. “Ek vermaan julle dan, broeders”, het ’n Christenonderrigter vir Romeine gesê wat voorheen keiseraanbidding beoefen het, “dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—[’n heilige diens met julle denkvermoë].” Net soos die Romeinse Christene hulle denkvermoë moes gebruik om te besluit aan wie hulle hul moes toewy, is dit noodsaaklik dat ons ons denkvermoë gebruik om te bepaal wie ons moet aanbid.—Romeine 12:1, 2, vgl. NW.

31. (a) Wat was vir die meeste Sjinto-gelowiges genoeg? (b) Watter vraag moet beantwoord word?

31 Die spesifieke identifikasie van een god was nie die belangrike faktor in die aanbidding van die meeste Sjintoïste nie. “Vir die gewone mense”, sê Hidenori Tsoeji, ’n onderrigter in Japannese godsdiensgeskiedenis, “het gode of Boeddhas geen verskil gemaak nie. Solank hulle, hetsy hulle gode of Boeddhas was, smeekgebede om ’n goeie oes, die uitwissing van siekte en gesinsveiligheid verhoor het, was dit genoeg vir die mense.” Maar het dit hulle na die ware God gelei en sy seën meegebring? Die geskiedenis antwoord baie duidelik.

32. Wat sal ons volgende hoofstuk bespreek?

32 In hulle soeke na ’n god het die Sjintoïste ’n blote man, hulle keiser, in ’n god verander, die sogenaamde afstammeling van die songodin Amaterasoe Omikami, deur hulle opvattings op die mitologie te baseer. Maar duisende jare voordat die Sjinto ontstaan het, het die ware God hom aan ’n Semitiese geloofsman in Mesopotamië geopenbaar. Ons volgende hoofstuk sal daardie betekenisvolle gebeurtenis en die resultaat daarvan bespreek.

[Voetnote]

^ par. 16 In Japan word Sjintoïste se godsdiensgeboue as heiligdomme beskou en Boeddhiste s’n as tempels.

[Studievrae]

[Venster op bladsy 191]

Die songodin in die Sjinto-mite

’n Sjinto-mite sê dat die god Izanagi baie lank gelede “sy linkeroog gewas het en sodoende aan die groot godin Amaterasoe, godin van die Son, die lewe geskenk het”. Later het Soesanoo, die god van die seevlaktes, Amaterasoe so bang gemaak dat sy “in ’n rotsgrot in die Hemel weggekruip en die ingang met ’n klip verseël het. Die wêreld is in duisternis gedompel.” Die gode het toe ’n plan beraam om Amaterasoe uit die grot te kry. Hulle het kraaiende hoenderhane wat die dagbreek aankondig, versamel en ’n groot spieël gemaak. Hulle het juwele en materiaallinte aan die sakaki-bome gehang. Toe het die godin Ama no Oezoeme begin dans en met haar voete op ’n balie begin trommel. Gedurende haar koorsagtige dans het sy haar klere uitgetrek, en die gode het uitgebars van die lag. Al hierdie bedrywigheid het Amaterasoe nuuskierig gemaak, en sy het uitgekyk en haarself in die spieël gesien. Die weerkaatsing het haar uit die grot laat kom, en toe het die god van Krag haar hand gegryp en haar na buite gebring. “Die wêreld is weer eens deur die strale van die Songodin verlig.”—New Larousse Encyclopedia of Mythology.—Vergelyk Genesis 1:3-5, 14-19; Psalm 74:16, 17; 104:19-23.

[Venster op bladsy 193]

Die Sjinto—’n godsdiens van feeste

Talle godsdiensfeeste, of matsoeri, word gedurende die Japannese jaar gevier. Die volgende is party van die vernaamste feeste:

Sjo-gatsoe, of die Nuwejaarsfees, 1-3 Januarie.

▪ Setsoeboen, mense gooi boontjies binne en buite hulle huise terwyl hulle uitroep: “Duiwels uit, geluk in”; 3 Februarie.

Hina Matsoeri, of Popfees vir meisies, wat op 3 Maart gehou word. ’n Verhoog vol poppe, wat ’n eertydse keiserlike huishouding uitbeeld, word vertoon.

▪ Seunsfees, op 5 Mei; Koi-nobori (karperlinte wat krag simboliseer) word teen pale gehys.

Tsoekimi, mense bewonder die volmaan van middelherfs en offer klein ronde ryskoekies en die eerstelinge van die oes.

Kanname-sai, waartydens die keiser die eerste nuwe rys geoffer het, in Oktober.

Niiname-sai word in November deur die keiserlike familie gevier. Die keiser, wat hoofpriester van die Keiserlike Sjinto is, proe die nuwe rys.

Sjitsji-go-san, wat “sewe-vyf-drie” beteken, word op 15 November deur Sjinto-gesinne gevier. Sewe, vyf en drie word as belangrike oorgangsjare beskou; kinders in kleurryke kimono’s besoek die gesinsheiligdom.

▪ Talle Boeddhistiese feeste word ook gevier, waaronder die Boeddha se verjaarsdag, op 8 April, en die Obon-fees, 15 Julie, wat eindig wanneer lanterns op die see of met ’n stroompie wegdryf “om die voorouergeeste na die ander wêreld terug te lei”.

[Prent op bladsy 188]

’n Sjinto-aanbidder vra gode om gunste

[Prent op bladsy 189]

Die Sjinto, ‘Weg van die Gode’

[Prent op bladsy 190]

’n Hele berg, soos Foedji, word soms as ’n sjintai, of voorwerp van aanbidding, beskou

[Prente op bladsy 195]

Sjintoïste dra ’n mikosji, of draagbare heiligdom, en bo dra hulle stokroosblare (aoi) gedurende die Aoi-fees in Kioto

[Prent op bladsy 196]

Daar word gemeen dat mense en voorwerpe gereinig en hulle veiligheid verseker kan word deur papier of vlas wat aan ’n immergroen tak vasgebind is daaroor te swaai

[Prente op bladsy 197]

’n Japannees meen nie dat dit teenstrydig is om voor ’n Sjinto-heiligdom, links, én ’n Boeddhistiese altaar te bid nie

[Prent op bladsy 198]

Keiser Hirohito (op die verhoog) is as die afstammeling van die songodin aanbid

[Prent op bladsy 203]

’n Jong vrou maak ’n ema, of bidplaat van hout, wat sy gekoop het aan die heiligdom vas