Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die soeke na die onbekende deur middel van die toorkuns en spiritisme

Die soeke na die onbekende deur middel van die toorkuns en spiritisme

Hoofstuk 4

Die soeke na die onbekende deur middel van die toorkuns en spiritisme

1. Wat het Paulus op die Areopagus vir die Atheners gesê? Waarom?

“ATHENERS, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig [of, “aan die vrees vir die godhede oorgegee”, NW] is” (Handelinge 17:22). Dit is wat die Christenapostel Paulus vir ’n skare op die Areopagus, of Marsheuwel, in die antieke stad Athene, Griekeland, gesê het. Paulus het dit gesê omdat hy vroeër gesien het dat “die stad vol afgodsbeelde was” (Handelinge 17:16). Wat het hy gesien?

2. Wat was ’n bewys van die Atheners se vrees vir die godhede?

2 Paulus het ongetwyfeld ’n verskeidenheid Griekse en Romeinse gode in daardie kosmopolitaanse stad gesien, en dit was duidelik dat die aanbidding van die godhede ’n baie belangrike rol in die mense se lewe gespeel het. Uit vrees dat hulle dalk sou nalaat om ’n belangrike of magtige godheid te vereer en dat hy gevolglik kwaad sou word, het die Atheners selfs “’n onbekende God” in hulle aanbidding ingesluit (Handelinge 17:23). Dit was ’n duidelike bewys van hulle vrees vir die godhede.

3. Is die vrees vir godhede tot die Atheners beperk?

3 Vrees vir die godhede, veral vir onbekendes, is natuurlik nie tot die Atheners van die eerste eeu beperk nie. Dit oorheers al duisende jare lank feitlik die hele mensdom. In talle wêrelddele hou byna elke aspek van die mense se lewe direk of indirek verband met die een of ander godheid of met geeste. Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, was die mitologieë van die eertydse Egiptenaars, Grieke, Romeine, Chinese en ander diep gewortel in opvattings oor gode en geeste, wat ’n belangrike rol in persoonlike en volksaangeleenthede gespeel het. Gedurende die Middeleeue was verhale oor alchemiste, towenaars en hekse dwarsdeur die ryk van die Christendom aan die orde van die dag. En vandag is die situasie baie eenders.

Hedendaagse gebruike en bygelowe

4. Wat is party gewilde gebruike wat blykbaar met godhede of geeste verband hou?

4 Hetsy mense daarvan bewus is of nie, baie dinge wat hulle doen, hou verband met bygelowige gebruike of opvattings, waarvan sommige met godhede of geeste te doen het. Het jy byvoorbeeld geweet dat verjaarsdagvieringe gegrond is op astrologie, waarvolgens ’n mens se presiese geboortedatum baie belangrik is? Wat van die verjaarsdagkoek? Dit hou blykbaar verband met die Griekse godin Artemis, wie se verjaarsdag met maanvormige heuningkoeke met kerse daarop gevier is. Of het jy geweet dat swart kleredrag by begrafnisse oorspronklik ’n set was om nie deur bose geeste wat kwansuis by sulke geleenthede teenwoordig is, raakgesien te word nie? Party Afrikane verf hulself wit, en rouklaers in ander lande dra buitengewone kleure sodat die geeste hulle nie sal herken nie.

5. Wat is ’n paar algemene bygelowe waarvan jy weet?

5 Buiten hierdie gewilde gebruike het mense op alle plekke hul bygelowe en vrese. In die Weste word dit as ’n voorteken van iets boos beskou as ’n mens ’n spieël breek, ’n swart kat sien, onder ’n leer deurloop of as dit, na gelang van waar jy woon, Dinsdag of Vrydag die 13de is. In die Ooste dra die Japannese hul kimono met die linkerkant oor die regterkant gevou, want die ander manier word net vir lyke gebruik. Hulle huise word só gebou dat daar geen vensters of deure aan die noordoostelike kant is nie, sodat die demone, wat kwansuis uit daardie rigting kom, nie die ingang sal vind nie. In die Filippyne trek mense die oorledene se skoene uit en plaas hulle dit voor die begrafnis langs sy bene sodat “Sint” Petrus hom sal verwelkom. Volwassenes sê vir jongmense om hulle te gedra omdat die figuur op die maan “Sint” Migael is, wat hulle dade dophou en neerskryf.

6. In watter mate is mense vandag by spiritisme betrokke?

6 Maar geloof in geeste en godhede is nie beperk tot oënskynlik onskadelike gebruike en bygelowe nie. In primitiewe sowel as moderne beskawings het mense hul tot verskeie gebruike gewend om die skrikwekkende geeste te beheer of te paai en die welwillende geeste se guns te win. Dit is natuurlik om eerste te dink aan mense in afgeleë oerwoude en berge wat mediums, toordokters en sjamane (priesters in die toorkuns) raadpleeg wanneer hulle siek of andersins in die verknorsing is. Maar mense in klein sowel as groot stede gaan ook na astroloë, mediums, toekomslesers en waarsêers om uit te vind wat die toekoms inhou of om hulp te verkry om belangrike besluite te neem. Party volg sulke gebruike geesdriftig hoewel hulle in naam aan die een of ander godsdiens behoort. Baie ander het spiritisme, die swartkuns en die okkulte hul godsdiens gemaak.

7. Watter vrae moet ons oorweeg?

7 Wat is die bron of oorsprong van al hierdie gebruike en bygelowe? Is dit bloot verskillende maniere om God te nader? En allerbelangriks: Wat doen dit aan dié wat dit aanhang? Om hierdie vrae te beantwoord, moet ons terugkyk op die mensegeskiedenis en ’n blik op sy vroeë maniere van aanbidding kry.

Die soeke na die onbekende

8. Watter unieke eienskap onderskei mense van laer skepsele?

8 In teenstelling met evolusioniste se bewerings het ’n mens ’n geestelike dimensie wat hom anders as en die meerdere van die laer skepsele maak. Hy word gebore met die begeerte om die onbekende te ondersoek. Hy worstel altyd met vrae soos: Wat is die betekenis van die lewe? Wat gebeur nadat ’n mens gesterf het? Wat is die mens se verhouding tot die stoflike wêreld en, trouens, tot die heelal? Hy word ook gedryf deur die begeerte om iets hoërs of magtigers as hyself te soek en sodoende ’n mate van beheer oor sy omgewing en sy lewe te verkry.—Psalm 8:4, 5; Prediker 3:11; Handelinge 17:26-28.

9. Hoe omskryf een geleerde “geestelikheid”?

9 Ivar Lissner het dit in sy boek Man, God and Magic soos volg gestel: “’n Mens kan jou net verwonder oor die deursettingsvermoë waarmee die mens deur sy geskiedenis heen probeer het om na buite te reik. Sy kragte is nooit net aan die lewensnoodsaaklikhede gewy nie. Hy het altyd gesoek, tastend verder gegaan, na die onbereikbare gestreef. Hierdie vreemde en inherente begeerte in die mens is sy geestelikheid.”

10. Wat toon dat die mens ’n natuurlike begeerte het om God te soek?

10 Diegene wat nie in God glo nie, beskou sake natuurlik nie so nie. Hulle skryf hierdie menseneiging gewoonlik aan die mens se sielkundige of ander behoeftes toe, soos ons in Hoofstuk 2 gesien het. Maar het ons nie al almal gevind dat die meeste mense God of ’n hoër mag om hulp vra wanneer hulle in gevaar of in ’n benarde situasie verkeer nie? Dit geld vandag ewe veel as in die verlede. Daarom het Lissner voorts gesê: “Niemand wat onder die oudste primitiewe volke navorsing gedoen het, kan die feit miskyk dat hulle almal die begrip ‘God’ ken, dat hulle werklik van ’n opperwese bewus is nie.”

11. Wat is die resultaat van die mens se poging om na die onbekende te soek? (Vergelyk Romeine 1:19-23.)

11 Die manier waarop hulle daardie ingebore begeerte om na die onbekende te soek probeer bevredig het, was iets heeltemal anders. Nomadiese jagters en herders was bang vir die krag van wilde diere. Boere het besonder fyn gelet op die verandering van die weer en seisoene. Oerwoudbewoners het heeltemal anders gereageer as die woestyn- of bergbewoners. Weens hierdie uiteenlopende vrese en behoeftes het mense ’n verstommende verskeidenheid godsdiensgebruike ontwikkel in die hoop dat hulle daardeur die guns van die welwillende gode sou win en die skrikwekkende gode sou paai.

12. Watter gemeenskaplike aspekte kom wêreldwyd in mense se godsdiensgebruike voor?

12 Maar ondanks die groot verskeidenheid is daar sekere gemeenskaplike verskynsels in hierdie godsdiensgebruike. Hierdie verskynsels is onder meer eerbied en vrees vir heilige geeste en bonatuurlike magte, die gebruik van die toorkuns, waarsêery deur tekens en voortekens, astrologie en verskillende metodes van voorspellery. Wanneer ons hierdie verskynsels ondersoek, sal ons sien dat hulle ’n groot rol gespeel het by die vorming van die godsdiensdenke van mense wat deur die eeue heen rondom die wêreld geleef het en selfs van mense wat vandag lewe.

Heilige geeste en bonatuurlike magte

13. Wat was moontlik vir mense in die verlede ’n raaisel?

13 Die lewe van mense in die ou tyd was blykbaar vol raaisels. Hulle was omring van onverklaarbare en verwarrende gebeure. Hulle kon byvoorbeeld nie verstaan waarom ’n blakend gesonde mens skielik siek word of waarom dit nie op die gewone tyd reën nie, of waarom ’n kaal, oënskynlik dooie boom skielik op ’n sekere tyd van die jaar groen word en lewend lyk nie. Selfs ’n mens se eie skaduwee, hartklop en asem was raaisels.

14, 15. Waaraan het die mens weens gebrek aan begrip en leiding heel waarskynlik die onverklaarbare toegeskryf? (Vergelyk 1 Samuel 28:3-7.)

14 Vanweë die mens se ingebore geestelike geneigdheid was dit natuurlik dat hy hierdie raaiselagtige dinge en gebeure aan ’n bonatuurlike mag toegeskryf het. Maar weens ’n gebrek aan behoorlike leiding en begrip was sy wêreld gou vol siele, geeste, spoke en demone. Die Algonquian-Indiane van Noord-Amerika noem ’n mens se siel byvoorbeeld otatjoek, wat “sy skaduwee” beteken, en die Maleiers van Suidoos-Asië glo dat die mens se siel deur sy neusgate ontsnap wanneer hy sterf. Vandag kom geloof in geeste en heengegane siele—en pogings om op die een of ander manier met hulle te kommunikeer—feitlik wêreldwyd voor.

15 Dit het eweneens gelyk asof ander dinge in die natuur—die son, maan, sterre, oseane, riviere en berge—lewend is en ’n regstreekse invloed op mensebedrywighede uitoefen. Aangesien hierdie dinge skynbaar in ’n wêreld van hul eie was, is hulle as geeste en godhede verpersoonlik, party welwillend en behulpsaam, ander boos en skadelik. Die aanbidding van geskape dinge het in feitlik alle godsdienste ’n prominente plek begin inneem.

16. Watter vorme het die aanbidding van geeste, godhede en heilige voorwerpe aangeneem?

16 Ons kan sulke opvattings in die godsdienste van feitlik elke ou beskawing vind. Die Babiloniërs en Egiptenaars het hulle gode van die son, maan en sterrebeelde aanbid. Hulle het ook mak en wilde diere vereer. Die Hindoes is bekend vir hulle godedom van miljoene gode. Die Chinese het nog altyd hulle heilige berge en hulle riviergode gehad, en hulle gee deur middel van vooroueraanbidding uiting aan hulle verknogtheid aan hulle voorouers. Die eertydse Druïdes van die Britse Eilande het eikebome as heilig beskou, en hulle het veral mistel, wat op eikebome groei, vereer. Later het die Grieke en Romeine hulle bydrae gelewer; en geloof in geeste, godhede, siele, demone en allerhande heilige voorwerpe het stewig gevestig geraak.

17. Hoe is aanbidding van geskape dinge vandag nog prominent?

17 Hoewel party mense wat vandag leef al hierdie opvattings dalk as bygelowe sal beskou, kom hierdie gedagtes steeds in die godsdiensgebruike van baie mense oor die hele wêreld voor. Sommige glo steeds dat sekere berge, riviere, vreemdvormige rotse, ou bome en talle ander dinge heilig is, en hulle aanbid dit as voorwerpe van verering. Hulle bou altare, heiligdomme en tempels op hierdie plekke. Die Gangesrivier is byvoorbeeld vir die Hindoes heilig, en hulle vurigste wens is om daarin te bad terwyl hulle nog lewe en dat hulle as ná hul dood daarop gesprinkel word. Boeddhiste beskou dit as ’n buitengewone ervaring om by die heiligdom in Bodh Gaja, Indië, te aanbid, waar die Boeddha na bewering onder ’n bodhi-boom verlig is. Katolieke kruip op hul knieë na die Basilika van Onse Liewe Vrou van Guadalupe in Mexiko of bad in die “heilige” waters by die heiligdom in Lourdes, Frankryk, in ’n poging om wonderdadig genees te word. Die verering van geskape dinge eerder as van die Skepper is vandag nog baie prominent.—Romeine 1:25.

Die opkoms van die toorkuns

18. Waartoe het die geloof in geeste en godhede gelei?

18 Toe die opvatting eers posgevat het dat die wêreld van lewelose dinge vol goeie en slegte geeste is, het dit maklik tot die volgende stap gelei—pogings om vir leiding en seëninge met die goeie geeste te kommunikeer en om die bose geeste te paai. Die resultaat was die toorkuns, wat in feitlik elke nasie van die verlede en die hede gefloreer het.—Genesis 41:8; Exodus 7:11, 12; Deuteronomium 18:9-11, 14; Jesaja 47:12-15; Handelinge 8:5, 9-13; 13:6-11; 19:18, 19.

19. (a) Wat is die toorkuns? (b) Waarom lyk die toorkuns vir baie mense geloofwaardig?

19 Die toorkuns is wesenlik gesproke ’n poging om die natuurkragte of bonatuurlike kragte te beheer of te dwing om die mens se wense te vervul. Omdat mense in vroeëre gemeenskappe nie geweet het wat die werklike oorsaak van talle alledaagse gebeure is nie, het hulle geglo dat die herhaling van sekere toorwoorde of -spreuke, of die uitvoering van ’n ritueel, ’n sekere verlangde uitwerking kon meebring. Die feit dat party van die rituele gewerk het, het hierdie soort toorkuns geloofwaardig gemaak. Byvoorbeeld, die toordokters—in werklikheid towenaars of heksemeesters—van die Mentawai-eilande wes van Sumatra het na bewering verbasende sukses behaal met die genesing van diarreelyers. Hulle towerformule was om die lyers op hul maag naby die kant van ’n krans te laat lê en die grond van tyd tot tyd te laat lek. Waarom het dit gewerk? Die grond op die kranse het kaolien bevat, die wit klei wat dikwels in hedendaagse diarreemedisyne gebruik word.

20. Hoe het die toorkuns mense se lewe begin oorheers?

20 ’n Paar sulke suksesse het gou al die mislukkings gekanselleer en die beoefenaars ’n goeie reputasie gegee. Mense het hulle spoedig met ontsag en agting bejeën—priesters, hoofde, sjamane, toordokters en mediums. Mense het hulle geraadpleeg oor hul probleme, soos hoe om siekte te genees en te voorkom, verlore besittings op te spoor, diewe te identifiseer, bose invloede af te weer en wraak uit te oefen. Uiteindelik was daar ’n groot versameling bygelowige gebruike en rituele in verband met hierdie aangeleenthede sowel as ander gebeure in die lewe, soos geboorte, mondigwording, verlowing, die huwelik, die dood en begrafnisse. Die mag en geheimsinnigheid van die toorkuns het gou elke aspek van die mense se lewe oorheers.

Reëndanse en towerspreuke

21, 22. Wat word bedoel met “nabootsende toorkuns”? Lig dit toe.

21 Ondanks die ontsaglike verskeidenheid towergebruike van verskillende volke is die onderliggende opvattings daarvan merkwaardig eenders. Daar is eerstens die opvatting dat ’n handeling iets soortgelyks voortbring, dat ’n verlangde uitwerking bewerkstellig kan word deur dit na te boots. Dit word soms nabootsende toorkuns genoem. Wanneer ’n tekort aan reën hulle gewasse in gevaar gestel het, het die Omaha-Indiane van Noord-Amerika byvoorbeeld om ’n houer water gedans. Dan het een van hulle van die water gedrink en dit in die lug gespoeg in nabootsing van ’n stofreën of stortreën. Of ’n man het soos ’n gewonde beer op die grond rondgerol om ’n geslaagde beerjag te verseker.

22 Ander mense het omslagtiger rituele gehad, waaronder dreunsang en offers. Die Chinese het ’n groot papier- of houtdraak, hul reëngod, gemaak en dit dan in optogte rondgedra, of hulle het die afgodsbeeld van hulle godheid uit die tempel geneem en dit in die son geplaas sodat dit die hitte kon voel en reën kon stuur. Die ritueel van die Ngoni-volk van Oos-Afrika sluit in dat hulle bier in ’n pot gooi wat in die grond in ’n reëntempel begrawe is en dan bid: “Meester Chauta, u het u hart teenoor ons verhard, wat wil u hê moet ons doen? Ons sal beslis vergaan. Gee u kinders die reën, daar is die bier wat ons u gegee het.” Dan drink hulle die oorblywende bier. Daarna sing en dans hulle en skud hulle takke wat in water gedoop is.

23. Hoe het heksery en betowering ontwikkel? (Vergelyk Levitikus 19:31; 20:6, 27; Deuteronomium 18:10-13.)

23 Nog ’n opvatting waarop towergebruike gebaseer is, is dat voorwerpe wat aan ’n persoon behoort het, aanhou om ’n invloed op hom uit te oefen selfs nadat hulle van hom weggeneem is. Dit het gelei tot die gebruik dat mense ander betower deur iets te doen aan dinge wat voorheen aan daardie persone behoort het. Selfs in 16de- en 17de-eeuse Europa en Engeland het mense steeds aan hekse en towenaars geglo wat ander deur hierdie soort mag kon benadeel. Die tegnieke was onder meer om ’n wasbeeld van die persoon te maak en spelde daarin te steek, sy naam op ’n stukkie papier te skryf en dit dan te verbrand, een van sy kledingstukke te begrawe, of om ander dinge met sy hare, vingernaelknipsels, sweet of selfs uitwerpsels te doen. Die omvang van hierdie en ander gebruike blyk uit die feit dat Parlementêre Wette in 1542, 1563 en 1604 in Engeland uitgevaardig is waarvolgens toorkuns ’n halsmisdaad was. Deur die eeue heen het mense in feitlik elke nasie op die een of ander manier hierdie vorm van die toorkuns beoefen.

Die toekoms in tekens en voortekens

24. (a) Wat is waarsêery? (b) Hoe het die Babiloniërs waarsêery beoefen?

24 Die toorkuns word dikwels gebruik om verborge inligting te openbaar of om deur middel van tekens en voortekens in die toekoms in te kyk. Dit staan bekend as waarsêery, en die Babiloniërs was daarvoor bekend. Volgens die boek Magic, Supernaturalism, and Religion “was hulle kenners op die gebied van voorwetendheid en het hulle die toekoms deur middel van die lewer en binnegoed van slagdiere, vuur, rook en die helderheid van edelgesteentes voorspel en ook gebeure aan die hand van die gekabbel van fonteine en die vorm van plante voorspel. . . . Atmosferiese tekens, reën, wolke, wind en weerlig is as voortekens vertolk; die barste in meubels en houtpanele het toekomstige gebeure voorspel. . . . Vlieë en ander insekte, sowel as honde, was die draers van okkulte boodskappe.”

25. Wat het Esegiël en Daniël oor die beoefening van waarsêery in eertydse Babilon gesê?

25 Volgens die Bybelboek Esegiël het “die koning van Babel” tydens een krygstog “gaan staan waar die paaie uitmekaarloop, by die begin van die twee paaie, om van waarsêery gebruik te maak: hy skud die pyle, raadpleeg die huisgode, bekyk die lewer” (Esegiël 21:21). Besweerders, towenaars en towerpriesters was ook vaste lede van die Babiloniese hof.—Daniël 2:1-3, 27, 28.

26. Wat was onder die Grieke ’n gewilde vorm van waarsêery?

26 Mense van ander nasies, Oosters sowel as Westers, het ook met talle vorme van waarsêery geëksperimenteer. Die Grieke het hulle orakels oor groot politieke gebeurtenisse sowel as alledaagse private aangeleenthede soos die huwelik, reise en kinders geraadpleeg. Die beroemdste hiervan was die orakel van Delphi. Die priesteres, of Pythia, het met onverstaanbare geluide antwoorde verskaf wat kwansuis van die god Apollo gekom het en wat deur die priesters vertolk is om dubbelsinnige verse te vorm. ’n Tipiese voorbeeld was die antwoord wat aan Croesus, koning van Lidië, gegee is, naamlik: “As Croesus die Halys oorsteek, sal hy ’n magtige ryk vernietig.” In werklikheid was die magtige ryk wat vernietig is sy eie. Croesus het die onderspit gedelf teen Kores die Pers toe hy die Halys oorgesteek het om Kappadocië in te neem.

27. In watter mate het die Romeine waarsêery beoefen?

27 In die Weste het die kuns van waarsêery ’n hoogtepunt bereik onder die Romeine, wat in feitlik alles wat hulle gedoen het besorg was oor voortekens en voorbodes. Mense van elke sosiale stand het aan astrologie, die toorkuns, gelukbringers, voorspellery en talle ander vorms van waarsêery geglo. En volgens ’n gesaghebbende op die gebied van Romeinse geskiedenis, Edward Gibbon, “het die mense al die verskillende maniere van aanbidding wat in die Romeinse wêreld algemeen was as ewe waar beskou”. Die beroemde staatsman en redenaar Cicero was ’n bedrewe soeker na voortekens in die vlug van voëls. Die Romeinse geskiedkundige Petronius het gesê dat daar, te oordeel na die menigte godsdienste en kultusse in party Romeinse dorpe, meer gode as mense daarin moes gewees het.

28. Hoe het die Chinese in die ou tyd waarsêery beoefen?

28 In China is meer as 100 000 stukkies orakelbene en -skulpe gevind wat uit die tweede millennium v.G.J. (die Sjang-dinastie) dateer. Die Sjang-priesters het dit gebruik om goddelike leiding oor alles van die weer tot die beweging van troepe te verkry. Die priesters het in ’n ou skrif vrae op hierdie bene geskryf. Dan het hulle die bene verhit, die krake wat verskyn het noukeurig ondersoek en die antwoorde op dieselfde bene neergeskryf. Party geleerdes meen dat die Chinese skrif uit hierdie ou skrif ontwikkel het.

29. Watter beginsel van waarsêery word in I Tsjing uiteengesit?

29 Die bekendste ou Chinese verhandeling oor waarsêery is die I Tsjing (Kanon van Veranderinge; uitgespreek as Jee-Djieng), wat na bewering in die 12de eeu v.G.J. deur die eerste twee Tsjou-keisers, Wen Wang en Tsjou Koeng, geskryf is. Dit bevat uitvoerige verduidelikings van die wisselwerking van die twee teengestelde kragte jin en jang (donker-helder, negatief-positief, vroulik-manlik, maan-son, aarde-hemel, ensovoorts) wat steeds deur baie Chinese as die beherende beginsels van alle lewensaangeleenthede beskou word. Daarvolgens verander alles voortdurend en is niks permanent nie. ’n Mens moet van al die veranderinge op daardie oomblik bewus wees en dienooreenkomstig optree om in enige onderneming sukses te behaal. Mense vra dus vrae, trek lootjies en raadpleeg dan die I Tsjing vir antwoorde. Deur die eeue heen was die I Tsjing die grondslag van alle soorte voorspellery, en geomansie en ander vorms van waarsêery in China.

Van astronomie tot astrologie

30. Beskryf die ontwikkeling van vroeë astronomie.

30 Die ordelikheid van die son, maan, sterre en planete fassineer mense op aarde al lank. Sterkatalogusse wat uit 1800 v.G.J. dateer, is in Mesopotamië ontdek. Die Babiloniërs was op grond van sulke inligting in staat om talle sterrekundige gebeurtenisse, soos maansverduisterings, die opgang en ondergang van sterrebeelde en sekere bewegings van die planete te voorspel. Die Egiptenaars, Assiriërs, Chinese, Indiërs, Grieke, Romeine en ander eertydse mense het eweneens die hemel bestudeer en sterrekundige gebeure uitvoerig aangeteken. Hulle het hul kalenders op hierdie verslae gegrond en hul jaarlikse bedrywighede daarvolgens gereël.

31. Hoe het astronomie tot astrologie gelei?

31 Deur die sterrekundige waarnemings het hulle gemerk dat sekere gebeure op aarde skynbaar met sekere gebeure in die hemelruim saamval. Die seisoensveranderinge het byvoorbeeld ten nouste met die beweging van die son saamgehang, hoog- en laaggety het gelykfasig met die maan plaasgevind, die jaarlikse oorstroming van die Nyl het altyd op die verskyning van Sirius, die helderste ster, gevolg. Die natuurlike gevolgtrekking was dat die hemelliggame ’n belangrike oorsaak van hierdie en ander gebeure op aarde is. Trouens, die Egiptenaars het Sirius die Bringer van die Nyl genoem. Die gedagte dat die sterre gebeure op aarde beïnvloed, het gou aanleiding gegee tot die opvatting dat ’n mens op die hemelliggame kan staatmaak om die toekoms te voorspel. Sodoende het astronomie tot astrologie gelei. Spoedig het konings en keisers amptelike astroloë in hulle howe gehad om die sterre oor belangrike volksaangeleenthede te raadpleeg. Maar die gewone mense het insgelyks die sterre oor hulle persoonlike lewenslot geraadpleeg.

32. Op watter maniere het die Babiloniërs astrologie beoefen?

32 Die Babiloniërs kom weer eens ter sprake. Hulle het die sterre as die hemelse woonplekke van die gode beskou, net soos die tempels hulle aardse woonplekke was. Dit het aanleiding gegee tot die idee om die sterre in sterrebeelde te groepeer sowel as tot die opvatting dat steurings in die hemele, soos verduisterings of die verskyning van sekere helder sterre of komete, droefheid en oorlog op aarde voorspel het. Honderde astrologieverslae aan die konings is gevind tussen die oorblyfsels wat in Mesopotamië opgegrawe is. Party hiervan het byvoorbeeld gesê dat ’n naderende maansverduistering ’n teken was dat ’n sekere vyand ’n nederlaag sou ly of dat die verskyning van ’n sekere planeet in ’n sekere sterrebeeld “groot toorn” op aarde sou voorspel.

33. Wat het Jesaja gesê oor die Babiloniërs wat “die sterre bekyk”?

33 Die mate waarin die Babiloniërs op hierdie vorm van waarsêery vertrou het, blyk verder uit die profeet Jesaja se smadelike woorde teen hulle toe hy Babilon se vernietiging voorspel het: “Gaan maar aan met jou beswerings en jou baie toordery waarmee jy jou van jongs af al ophou. . . . Laat jou voorspellers nou optree, laat hulle jou help, hulle wat die hemel opdeel en die sterre bekyk, hulle wat elke maand bekend maak wat oor jou gaan kom.”—Jesaja 47:12, 13, NAV.

34. Wie was die “wyse manne” wat na die kindjie Jesus gekom het?

34 Astrologie het van Babilon na Egipte, Assirië, Persië, Griekeland, Rome en Arabië versprei. In die Ooste het die Hindoes en Chinese ook hul ingewikkelde astrologiestelsels gehad. Die “wyse manne” wat volgens die evangeliedienaar Mattheüs na die kindjie Jesus gekom het, was “sterrekykers uit die ooste” (Mattheüs 2:1, 2, NAV). Party geleerdes meen dat hierdie astroloë moontlik van die Chaldeeuse en Medo-Persiese skool van astrologie was wat ontstaan het in Parthië, wat ’n provinsie van Persië was en later die onafhanklike Parthiese Ryk geword het.

35. Wat het van die tyd van die Grieke af in astrologie ontwikkel?

35 Maar dit was die Grieke wat astrologie ontwikkel het tot die vorm wat vandag beoefen word. In die tweede eeu G.J. het Claudius Ptolemaeus, ’n Griekse sterrekundige in Alexandrië, Egipte, al die bestaande astrologiese inligting saamgevat in vier boeke, die Tetrabiblos, wat tot vandag toe die basiese teks vir astrologie is. Hieruit het sogenaamde geboorte-astrologie ontwikkel, dit wil sê, ’n stelsel om ’n persoon se toekoms te voorspel deur sy geboortekaart, of horoskoop, te ondersoek—’n kaart wat die posisie van die son, die maan en verskeie planete in die sterrebeelde aandui soos dit ten tyde van sy geboorte vanaf sy geboorteplek gesien is.

36. Watter getuienis is daar dat astrologie fatsoenlik geword het?

36 Teen die 14de en 15de eeu was astrologie alom in die Weste aanvaar. Universiteite het dit as ’n studievak aangebied waarvoor ’n basiese kennis van tale en wiskunde nodig was. Astroloë is as geleerdes beskou. Die geskrifte van Shakespeare wemel van sinspelings op astrologiese invloede op menseaangeleenthede. Elke koninklike hof en baie edelmanne het private astroloë in diens geneem sodat hulle hul maklik kon raadpleeg. Min of geen ondernemings—hetsy oorlog, bouwerk, sake of reise—is aangepak voordat die sterre geraadpleeg is nie. Astrologie het fatsoenlik geword.

37. Hoe het die vooruitgang van die wetenskap astrologie geraak?

37 Hoewel die werk van sterrekundiges soos Copernicus en Galilei, asook die vooruitgang van wetenskaplike ondersoek, grootliks afbreuk gedoen het aan die geloofwaardigheid van astrologie as ’n egte wetenskap het astrologie tot vandag toe behoue gebly. (Sien venster, bladsy 85.) Hierdie geheimsinnige kuns, wat deur die Babiloniërs begin, deur die Grieke ontwikkel en verder deur die Arabiere uitgebrei is, het vandag nog ’n verreikende invloed op staatshoofde sowel as op die gewone man, hetsy hulle uit tegnologies gevorderde nasies of afgeleë dorpies in ontwikkelende lande kom.

’n Lotsbestemming op die gesig en die palm geskryf

38. Wat het aanleiding gegee tot verdere vorms van waarsêery wat met die mensehand en -gesig verband hou?

38 As dit onwerklik lyk om die hemel vir tekens en voortekens oor die toekoms te bestudeer, kan diegene wat hulle met die kuns van waarsêery bemoei ander direkter en makliker beskikbare maniere gebruik. Die Zohar, of Sefer ha-zohar (Hebreeus, Boek van Prag), ’n 13de-eeuse teks van Joodse mistisisme, het gesê: “Aan die uitspansel wat die heelal omring, sien ons baie figure wat deur die sterre en planete gevorm word. Hulle openbaar verborge dinge en diep geheime. Op ons vel, wat die menslike wese omring, is daar eweneens vorms en trekke wat die sterre van ons liggaam is.” Hierdie filosofie het aanleiding gegee tot ander waarsêmetodes, of metodes om die toekoms te voorspel, deur die gesig en die handpalm vir profetiese tekens te ondersoek. Sulke gebruike kom steeds algemeen in die Ooste sowel as die Weste voor. Maar dit is duidelik dat dit uit astrologie en die toorkuns ontwikkel het.

39. Wat is fisionomiek, en hoe word dit toegepas?

39 Fisionomiek is voorspellery deur ’n ondersoek van die gelaatstrekke, soos die vorm van die oë, neus, tande en ore. ’n Sekere John van Indagine het in 1531 in Straatsburg ’n boek oor die onderwerp uitgegee waarin hy duidelike illustrasies van gesigte met verskillend gevormde oë, neuse, ore, ensovoorts, tesame met sy vertolkings, voorsien het. Interessant genoeg het hy die woorde van Jesus Christus in Mattheüs 6:22: “As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees”, aangehaal as die grondslag vir die bewering dat groot, helder en ronde oë onkreukbaarheid en goeie gesondheid aandui, terwyl gesonke en klein oë ’n teken van jaloesie, kwaadwilligheid en agterdog is. Maar in ’n soortgelyke boek, Compendium of Physiognomy, wat in 1533 uitgegee is, het die skrywer Bartolommeo Cocle beweer dat groot en ronde oë ’n wispelturige en lui persoon aandui.

40. (a) Wat is chiromansie? (b) Hoe is die Bybel gebruik om chiromansie te probeer staaf?

40 Volgens waarsêers weerspieël die hand, naas die kop, die kragte in die hemelruim beter as enige ander liggaamsdeel. Gevolglik is die lees van die hand se lyne om ’n mens se karakter en lot te bepaal nog ’n gewilde vorm van waarsêery—chiromansie, wat dikwels eenvoudig handlesery genoem word. Handlesers van die Middeleeue het die Bybel deursoek na steun vir hulle kuns. Hulle het verse aangehaal soos: “Hy verseël die hand van elke mens in die winter, sodat tot kennis kan kom al die mense wat Hy gemaak het” en “In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer” (Job 37:7; Spreuke 3:16). Die bulte, of oneffenhede, van die hand is ook in ag geneem omdat daar gemeen is dat hulle die planete voorstel en derhalwe iets omtrent die individu en sy toekoms openbaar.

41. Hoe beoefen mense in die Ooste waarsêery?

41 Voorspellery deur ’n ondersoek van die gelaatstrekke en lyne van die hand is uiters gewild in die Ooste. Buiten die beroepslesers en raadgewers wat hulle dienste aanbied, is daar talle amateurs en mense wat dit self doen, want boeke en publikasies van elke vlak is alom beskikbaar. Mense hou hulle dikwels besig met handlesery as ’n tydverdryf, maar talle neem sulke sake ernstig op. Oor die algemeen is mense egter selde tevrede met die gebruik van net een waarsêmetode. Wanneer hulle voor ernstige probleme of belangrike besluite staan, sal hulle na hul tempel gaan, hetsy dit ’n Boeddhistiese, Taoïstiese, Sjintoïstiese of ander tempel is, om die gode te raadpleeg, dan na die astroloog om die sterre te raadpleeg, na die toekomsleser om hulle palm te laat lees en hulle gesig te laat ondersoek, en dan huis toe gaan en hulle afgestorwe voorvaders raadpleeg. Hulle hoop om iewers ’n antwoord te vind wat vir hulle reg lyk.

Net onskuldige pret?

42. Waartoe het mense se natuurlike begeerte om te weet wat die toekoms inhou hulle gelei?

42 Dit is natuurlik dat almal wil weet wat die toekoms inhou. Die begeerte om geluk te verseker en enigiets skadeliks af te wend, is ook universeel. Dit is waarom mense hul deur die eeue heen tot geeste en godhede vir leiding gewend het. Sodoende het hulle by spiritisme, die toorkuns, astrologie en ander bygelowige gebruike betrokke geraak. Mense het in die verlede amulette en gelukbringers gedra om hulle te beskerm en het hulle vir genesing tot toordokters en sjamane gewend. Mense dra vandag nog “Sint” Christophorus-medaljes of “gelukbringers”, en hulle het hulle séances, Ouija-borde, kristalbolle, horoskope en tarokkaarte. Die mensdom het blykbaar min verander wat spiritisme en bygeloof betref.

43. (a) Hoe beskou baie mense spiritisme, die toorkuns en waarsêery? (b) Watter vrae oor bygelowige gebruike moet beantwoord word?

43 Baie mense besef natuurlik dat hierdie dinge niks anders as bygelowe is nie en dat hulle geen werklike grondslag het nie. En hulle sal dalk byvoeg dat hulle dit net vir die pret doen. Ander redeneer selfs dat die toorkuns en waarsêery in werklikheid voordelig is omdat dit sielkundige versekering gee aan mense wat andersins geïntimideer sou word deur die struikelblokke wat hulle in die lewe teëkom. Maar is al hierdie dinge bloot onskuldige pret of ’n sielkundige steun? Wat is werklik die bron van die spiritistiese gebruike en towergebruike wat ons in hierdie hoofstuk bespreek het sowel as van die talle ander wat ons nie gemeld het nie?

44. Wat kan oor die grondslag van al hierdie gebruike gesê word?

44 In ons ondersoek van die verskillende aspekte van spiritisme, die toorkuns en waarsêery het ons opgelet dat hulle ten nouste saamhang met geloof in heengegane siele en die bestaan van goeie en bose geeste. Geloof in geeste, die toorkuns en waarsêery is dus in wese gebaseer op ’n vorm van politeïsme wat op die leerstelling oor die onsterflikheid van die mensesiel berus. Is dit ’n vaste grondslag waarop jy jou godsdiens kan bou? Sou jy aanbidding met so ’n grondslag as aanvaarbaar beskou?

45. Voor watter vraag oor voedsel wat aan afgode geoffer is, het die eerste-eeuse Christene te staan gekom?

45 Die Christene in die eerste eeu het voor dieselfde vrae te staan gekom. Hulle was omring deur die Grieke en Romeine, met hulle talle gode en godhede sowel as hulle bygelowige rituele. Een ritueel was die gebruik om voedsel aan afgode te offer en dan die voedsel te eet. Moes enigiemand wat die ware God liefgehad het en hom wou behaag aan sulke rituele deelneem? Let op hoe die apostel Paulus daardie vraag beantwoord het.

46. Wat het Paulus en die vroeë Christene aangaande God geglo?

46 “Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat ’n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een. Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is—tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom” (1 Korinthiërs 8:4-6). Vir Paulus en die eerste-eeuse Christene was ware godsdiens nie die aanbidding van baie gode, dit wil sê politeïsme, nie. Dit was eerder toegewydheid aan slegs “een God, die Vader”, wie se naam soos volg in die Bybel geopenbaar word: “Sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam [Jehovah] is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.”—Psalm 83:19, vgl. NW.

47. Hoe het Paulus die ware identiteit van die ‘gode en here in die hemel of op die aarde’ geopenbaar?

47 Ons moet egter daarop let dat hoewel die apostel Paulus gesê het dat ‘’n afgod niks is nie’, hy nie gesê het dat die “gode” en “here” tot wie mense hulle met hul toorkuns, waarsêery en offers gewend het, nie bestaan nie. Wat is die punt dan? Paulus het dit later in dieselfde brief verduidelik toe hy geskryf het: “Maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels [of, “demone”, NW] offer en nie aan God nie” (1 Korinthiërs 10:20). Ja, deur hul gode en here het die nasies in werklikheid die demone aanbid—engele- of geesskepsele wat teen die ware God in opstand gekom en hulle by hul leier, Satan die Duiwel, geskaar het.—2 Petrus 2:4; Judas 6; Openbaring 12:7-9.

48. Watter gevaar hou die okkulte vandag nog in, en hoe kan dit vermy word?

48 Mense bejammer dikwels die sogenaamd primitiewe mense wat deur hulle bygelowe en vrese verkneg is. Hulle sê dat die bloedige offers en barbaarse ritusse hulle afstoot. En dit is tereg die geval. Maar ons hoor vandag nog van voedoe, sataniese kultusse en selfs menseoffers. Hoewel dit dalk uiterste gevalle is, bewys dit nietemin dat daar steeds ’n lewendige belangstelling in die okkulte is. Dit begin dalk met ‘onskuldige pret’ en nuuskierigheid, maar die gevolg is dikwels ’n tragedie en die dood. Hoe verstandig is dit tog om ag te slaan op die Bybel se waarskuwing: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.”—1 Petrus 5:8; Jesaja 8:19, 20.

49. Wat sal die doel van die ondersoek in die volgende hoofstukke van hierdie boek wees?

49 Noudat ons die begin van godsdiens, die verskeidenheid ou mitologieë en die verskillende vorms van spiritisme, die toorkuns en bygeloof ondersoek het, sal ons aandag gee aan die meer formele, vernaamste godsdienste van die wêreld—Hindoeïsme, Boeddhisme, Taoïsme, Confucianisme, die Sjinto, Judaïsme, die kerke van die Christendom en die Islām. Hoe het hulle ontstaan? Wat verkondig hulle? Watter invloed het hulle op hul volgelinge? Hierdie en ander vrae sal in die volgende hoofstukke beantwoord word.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 76]

Dit het gelyk of party soorte toorkuns werk

[Venster op bladsy 85]

Is astrologie wetenskaplik?

Volgens astrologie kan die son, maan, sterre en planete aangeleenthede op aarde beïnvloed en speel die stand van hierdie hemelliggame op jou geboortedag ’n rol in jou lewe. Maar wetenskaplike ontdekkings bied groot uitdagings:

▪ Die werk van sterrekundiges soos Copernicus, Galilei en Kepler het duidelik getoon dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie. Dit is nou ook bekend dat die sterre wat oënskynlik in ’n sterrebeeld voorkom dikwels nie werklik in ’n groep verenig is nie. Party van hulle kan dieper die ruimte in wees, terwyl ander betreklik naby kan wees. Die diereriem-eienskappe van die verskillende sterrebeelde is dus bloot denkbeeldig.

▪ Die planete Uranus, Neptunus en Pluto was onbekend aan vroeë astroloë, omdat hulle eers ná die uitvinding van die teleskoop ontdek is. Hoe het die astrologiese kaarte wat eeue vroeër getrek is dan hulle “invloede” verklaar? En waarom sou die “invloed” van een planeet “goed” en dié van ’n ander “boos” wees wanneer die wetenskap nou weet dat hulle almal basies ’n lewelose rots- of gasmassa is wat in die ruimte wentel?

▪ Die genetika toon dat die grondslag van ons karaktertrekke nie by geboorte gevorm word nie maar by bevrugting, wanneer een van die miljoene saadselle van die vader met ’n eiersel van die moeder versmelt. Maar astrologie bepaal ’n mens se horoskoop volgens jou geboortedag. Hierdie verskil van ongeveer nege maande behoort ’n mens astrologies gesproke ’n heeltemal verskillende karakterskets te gee.

▪ Die tydsbepaling van die son se beweging tussen die sterrebeelde soos ’n waarnemer op aarde dit sien, is vandag ongeveer een maand agter die bepaling van 2 000 jaar gelede toe die astrologiese kaarte en tabelle getrek is. Astroloë sal ’n persoon wat einde Junie of begin Julie gebore is dus beskryf as ’n Kreef (baie fyngevoelig, humeurig, teruggetrokke). Maar in werklikheid is die son op daardie tyd in die sterrebeeld Tweeling, wat ’n persoon spraaksaam, geestig en geselserig behoort te maak.

Dit is duidelik dat astrologie geen rasionele of wetenskaplike grondslag het nie.

[Prente op bladsy 71]

Gebreekte spieëls, swart katte en party getalle is die grondslag van party bygelowe. Die Chinese karakter vir “vier” klink in Chinees en Japannees soos “die dood”

[Prente op bladsy 74]

Links: Die Basilika van Onse Liewe Vrou van Guadalupe, Mexiko, waar Katolieke om wonderdadige genesing bid.

Regs: Stonehenge, Engeland, waar eertydse Druïdes na bewering die son aanbid het

[Prent op bladsy 80]

Party mense raadpleeg sjamane en toordokters

[Prente op bladsy 81]

Ander het hulle séances, Ouija-borde, kristalbolle, tarokkaarte en toekomslesers

[Prente op bladsy 82]

Waarsêery in die Ooste, waarvoor inskripsies op skilpaddoppe en die jin-jang-simbool gebruik word, het ’n lang geskiedenis

[Prente op bladsy 87]

Baie mense raadpleeg horoskope omdat hulle glo dat die posisie van die son, maan, planete en sterre ten tyde van hul geboorte hulle lewe raak

[Prente op bladsy 90]

Die aanbidder ontvang ’n boodskap en ’n vertolking deur ’n gelukstok uit die houer te skud