Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die ware God en jou toekoms

Die ware God en jou toekoms

Hoofstuk 16

Die ware God en jou toekoms

“In hierdie geheimsinnige heelal is daar een ding waarvan die Mens seker kan wees. Die Mens self is gewis nie die grootste geestelike persoonlikheid in die Heelal nie. . . . Daar is ’n persoonlikheid in die Heelal wat geestelik groter as die Mens self is. . . . Die Mens se doel is om gemeenskap met die persoonlikheid agter die verskynsel te soek, en om dit te soek met die oogmerk om homself in harmonie met hierdie absolute geestelike werklikheid te bring.”​—An Historian’s Approach to Religion, deur Arnold Toynbee.

1. (Sluit die inleiding in.) (a) Wat het die geskiedskrywer Toynbee aangaande die mens en die heelal erken? (b) Hoe identifiseer die Bybel die “absolute geestelike werklikheid”?

GEDURENDE die grootste deel van die afgelope sesduisend jaar het die mensdom, in mindere of meerdere mate, na daardie “absolute geestelike werklikheid” gesoek. Elke vername godsdiens het daardie werklikheid ’n ander naam gegee. Wat jou godsdiens ook al is—hetsy jy ’n Hindoe, Moslem, Boeddhis, Sjintoïs, Confuciaan, Taoïs, Jood, Christen of enigiets anders is—jy het ’n naam vir die “absolute geestelike werklikheid”. Maar die Bybel gee hierdie werklikheid ’n naam, geslag en persoonlikheid—Jehovah, die lewende God. Daardie unieke God het vir Kores die Grote van Persië gesê: “Ek is [Jehovah], en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie . . . Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape.”—Jesaja 45:5, 12, 18; Psalm 68:20, 21.

JehovahGod van betroubare profesie

2. Tot wie moet ons ons wend as ons betroubare inligting oor die toekoms wil inwin, en waarom?

2 Jehovah is die ware eindpunt van die mensdom se soeke na God. Jehovah het hom geopenbaar as die God van profesie wat van die begin af die einde kan verkondig. Hy het deur middel van Jesaja die profeet gesê: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen; . . . soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen.”—Jesaja 46:9-11; 55:10, 11.

3. (a) Watter gebeure kan ons deur middel van Bybelprofesieë vooruitsien? (b) Wat het Satan met die ongelowiges gedoen, en waarom?

3 Aangesien daar so ’n betroubare God van profesie is, kan ons weet wat met die wêreldstelsel van verdeelde godsdienste gaan gebeur. Ons kan ook voorspel wat met die magtige politieke organisasies sal gebeur wat oënskynlik die wêreld se lot bepaal. Bowendien kan ons voorspel watter einde daar wag op “die god van hierdie wêreld”, Satan, wat ‘die sinne van die ongelowiges verblind het’ deur talle godsdienste wat die mensdom van die ware God, Jehovah, weggelei het. En waarom het Satan hulle verblind? Sodat “die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie”.—2 Korinthiërs 4:3, 4; 1 Johannes 5:19.

4. Watter vrae oor die aarde en die mens se toekoms moet beantwoord word?

4 Ons kan ook weet wat ná hierdie voorspelde gebeure gaan plaasvind. Hoe sal die aarde uiteindelik daar uitsien? Besoedel? Verwoes? Ontbos? Of sal die aarde en die mensdom hernuwe word? Soos ons sal sien, beantwoord die Bybel al hierdie vrae. Maar kom ons skenk eers aandag aan gebeure in die onmiddellike toekoms.

Die identifikasie van “Babilon die Grote”

5. Wat het Johannes in ’n visioen gesien?

5 Die Bybelboek Openbaring is in 96 G.J. op die eiland Patmos aan die apostel Johannes geopenbaar. Dit gee beeldende beskrywings van belangrike gebeure wat in die tyd van die einde moet plaasvind, die tyd waarin die mensdom, volgens Bybelse getuienis, sedert 1914 lewe. * Een van daardie simboliese voorstellings wat Johannes in ’n visioen gesien het, is van ’n opgesmukte, skaamtelose hoer genaamd “[Babilon die Grote], die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde”. In watter toestand het sy verkeer? “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus.”—Openbaring 17:5, 6, vgl. NW.

6. Waarom beeld Babilon die Grote nie die heersende politieke elemente van die wêreld af nie?

6 Wat word deur hierdie vrou afgebeeld? Dit word nie aan ons oorgelaat om haar identiteit te raai nie. Sy kan deur ’n proses van uitskakeling ontmasker word. In daardie selfde visioen hoor Johannes ’n engel sê: “Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery.” As die konings, of heersers, van die aarde met haar hoereer, beteken dit dat die hoer nie die heersende politieke elemente van die wêreld kan afbeeld nie.—Openbaring 17:1, 2, 18.

7. (a) Waarom beeld Babilon die Grote nie die handelselemente af nie? (b) Wat beeld Babilon die Grote af?

7 Dieselfde verslag deel ons mee dat “die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid”. Babilon die Grote kan derhalwe nie die sakesektor of “handelaars” van die wêreld afbeeld nie. En tog sê die geïnspireerde teks: “Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale.” Watter ander vername element van hierdie wêreldstelsel bly oor wat strook met die beskrywing van ’n simboliese hoer wat met die politieke heersers hoereer, met die sakesektor handel dryf en in heerlikheid op die volke, menigtes, nasies en tale sit? Dit is valse godsdiens in al sy verskillende gedaantes!—Openbaring 17:15; 18:2, 3.

8. Watter verdere feite bevestig Babilon die Grote se identifikasie?

8 Hierdie identifikasie van Babilon die Grote word bevestig deur die feit dat ’n engel haar veroordeel weens haar ‘spiritistiese gebruike waardeur al die nasies verlei is’ (Openbaring 18:23, NW). Alle vorme van spiritisme is godsdienstig en deur demone geïnspireer (Deuteronomium 18:10-12). Babilon die Grote moet dus ’n godsdiensentiteit afbeeld. Bybelse getuienis toon dat sy Satan se hele wêreldryk van valse godsdiens is, wat hy in mense se verstand bevorder om die aandag van die ware God, Jehovah, af te lei.—Johannes 8:44-47; 2 Korinthiërs 11:13-15; Openbaring 21:8; 22:15.

9. Watter gemeenskaplike elemente kom in baie godsdienste voor?

9 Soos ons deur hierdie hele boek gesien het, is daar gemeenskaplike elemente wat oral in die wanordelike versameling van die wêreld se godsdienste voorkom. Baie godsdienste is op die mitologie gegrond. Feitlik almal het die een of ander gemeenskaplike geloof in ’n vermeende onsterflike mensesiel wat na die dood voortleef en na ’n hiernamaals gaan of na ’n ander skepsel verhuis. Baie godsdienste glo aan ’n afgryslike plek van pyniging en marteling wat die hel genoem word. Ander word gekenmerk deur die ou heidense geloof in triades, drie-eenhede en moedergodinne. Dit is derhalwe gepas dat hulle almal onder die een samegestelde simbool—die hoer “Babilon die Grote”—gegroepeer word.—Openbaring 17:5, vgl. NW.

Die tyd om uit valse godsdiens te vlug

10. Watter einde word vir die godsdienshoer voorspel?

10 Wat gaan volgens die Bybel die uiteindelike lot van hierdie aardomvattende hoer wees? Die boek Openbaring beskryf in simboliese taal hoe sy deur politieke elemente vernietig gaan word. Hulle word gesimboliseer deur “tien horings” wat hul ondersteuning gee aan die Verenigde Volke, “’n skarlakenrooi dier” wat die beeld van Satan se bloedbevlekte politieke stelsel is.—Openbaring 16:2; 17:3-16. *

11. (a) Waarom word valse godsdiens deur God veroordeel? (b) Wat gaan met Babilon die Grote gebeur?

11 Hierdie vernietiging van Satan se wêreldryk van valse godsdiens sal die resultaat wees van God se ongunstige oordeel oor hierdie godsdienste. Hulle sal skuldig bevind wees aan geestelike hoerery omdat hulle medepligtiges van hulle onderdrukkende politieke minnaars was en hulle gesteun het. Valse godsdiens het haar some met onskuldige bloed bevlek terwyl sy patrioties met die vername heersersklas van elke nasie in sy oorloë saamgewerk het. Daarom gee Jehovah dit in die harte van die politieke elemente om sy wil teen Babilon die Grote uit te voer en haar te verwoes.—Openbaring 17:16-18.

12. (a) Wat moet jy nou doen om behoue te bly wanneer Babilon vernietig word? (b) Watter leerstellings kenmerk die ware godsdiens?

12 Wat moet jy doen aangesien wêreldgodsdienste voor so ’n toekoms staan? Die antwoord word bevat in wat Johannes ’n stem uit die hemel hoor sê het: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.” Dit is derhalwe nou die tyd om die engel se opdrag te gehoorsaam om uit Satan se ryk van valse godsdiens te gaan en jou by Jehovah se ware aanbidding te skaar. (Sien venster, bladsy 377.)—Openbaring 17:17; 18:4, 5; vergelyk Jeremia 2:34; 51:12, 13.

Armageddon is naby

13. Watter gebeure moet binnekort plaasvind?

13 Openbaring sê dat “haar plae op een dag [sal] kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word”. Volgens al die profetiese aanduidings in die Bybel is daardie “een dag”, of kort tydperk van vinnige teregstelling, nou naby. Trouens, die vernietiging van Babilon die Grote sal ’n tydperk van “groot verdrukking” inlui wat op “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God . . . Armageddon” sal uitloop. Daardie oorlog, of slag, van Armageddon sal tot ’n nederlaag vir Satan se politieke stelsel lei en meebring dat hy in die afgrond gewerp word. ’n Regverdige nuwe wêreld sal aanbreek!—Openbaring 16:14-16; 18:7, 8; 21:1-4; Mattheüs 24:20-22.

14, 15. Watter Bybelprofesie nader blykbaar sy vervulling?

14 ’n Ander uitsonderlike Bybelprofesie nader ook nou vervulling voor ons oë. Die apostel Paulus het geprofeteer en gewaarsku: “Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”—1 Thessalonicense 5:1-3.

15 Dit lyk asof die nasies wat voorheen aggressief was en mekaar gewantrou het nou versigtig begin beweeg na ’n situasie waarin hulle wêreldvrede en -veiligheid sal kan uitroep. Dit is derhalwe nog ’n aanduiding dat die dag van Jehovah se oordeel oor valse godsdiens, die nasies en hulle heerser, Satan, ophande is.—Sefanja 2:3; 3:8, 9; Openbaring 20:1-3.

16. Waarom is Johannes se raad vandag baie gepas?

16 Vandag lewe miljoene asof net materiële waardes blywend en lonend is. Maar die dinge wat hierdie korrupte wêreld bied, is oppervlakkig en kortstondig. Daarom is Johannes se raad baie gepas: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” Sou jy nie liewer vir ewig wou bly nie?—1 Johannes 2:15-17.

’n Beloofde nuwe wêreld

17. Wat hou die toekoms in vir diegene wat die ware God soek?

17 Wat gaan volg aangesien God die wêreld deur Christus Jesus gaan oordeel? God het lank gelede, in die Hebreeuse Skrifte, voorspel dat hy sy oorspronklike voorneme met die mensdom op hierdie aarde gaan uitvoer, naamlik dat ’n gehoorsame mensegesin volmaakte lewe op ’n paradysaarde geniet. Satan se poging om daardie voorneme te verydel, het nie God se belofte ongeldig gemaak nie. Daarom kon koning Dawid skryf: “Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:9-11, 29; Johannes 5:21-30.

18-20. Watter veranderinge sal op hierdie aarde plaasvind?

18 Hoe sal die aarde dan daar uitsien? Heeltemal besoedel? Verbrand? Ontbos? Glad nie! Jehovah se oorspronklike voorneme was dat die aarde ’n skoon, ewewigtige paradyspark moet wees. Die potensiaal daarvoor bestaan ondanks die mens se misbruik van die aarde. Maar Jehovah het belowe dat hy “die verderwers van die aarde [gaan] verderf”. Nog nooit voor die 20ste eeu het daar ’n situasie geheers waar die aarde letterlik op verderf afstuur nie. Daar is dus goeie rede om te glo dat Jehovah binnekort gaan optree om sy eiendom, sy skepping, te beskerm.—Openbaring 11:18; Genesis 1:27, 28.

19 Hierdie verandering sal binnekort onder God se reëling van “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” plaasvind. Dit sal nie ’n nuwe uitspansel en ’n nuwe planeet beteken nie, maar eerder ’n nuwe geestelike heerskappy oor ’n hernieude aarde wat deur ’n gemeenskap van geregenereerde mense bewoon word. In daardie nuwe wêreld sal daar geen plek wees vir uitbuiting van ander mense of diere nie. Daar sal geen geweld of bloedvergieting wees nie. Daar sal geen haweloosheid, geen hongersnood, geen onderdrukking wees nie.—Openbaring 21:1; 2 Petrus 3:13.

20 God se Woord sê: “En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. . . . Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ’n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE.”—Jesaja 65:17-25.

Die grondslag van die nuwe wêreld

21. Waarom is die nuwe wêreld wis en seker?

21 ‘Hoe sal al hierdie dinge moontlik wees?’ vra jy dalk. Omdat “God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het” dat die mensdom herstel sal word en die ewige lewe in volmaaktheid sal geniet. En die apostel Petrus het in sy eerste brief aan ander gesalfde Christene aangedui wat die grondslag van hierdie hoop is: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry.”—Titus 1:1, 2; 1 Petrus 1:3, 4.

22. Wat is die grondslag van die hoop op die nuwe wêreld, en waarom?

22 Die opstanding van Jesus Christus vorm die grondslag van die hoop op ’n regverdige nuwe wêreld, want hy is deur God aangestel om vanuit die hemele oor ’n gereinigde aarde te regeer. Paulus het ook beklemtoon hoe noodsaaklik Christus se opstanding is toe hy geskryf het: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.”—1 Korinthiërs 15:20-22.

23. (a) Waarom is Christus se opstanding noodsaaklik? (b) Watter opdrag het die verrese Jesus sy volgelinge gegee?

23 Christus se offerdood as ’n ooreenstemmende losprys en sy opstanding het die grondslag gelê vir die hoop op “’n nuwe hemel”, Koninkryksheerskappy, en ’n omskepte, geregenereerde menseras, ’n “nuwe aarde”-gemeenskap. Sy opstanding was ook die dryfkrag agter die predikings- en onderrigtingswerk wat sy getroue apostels gedoen het. Die verslag deel ons mee: “Maar die elf dissipels het na Galilea gegaan, na die berg waar [die verrese] Jesus met hulle afgespreek het, en toe hulle hom sien, het hulle hom hulde gebring, maar sommige het getwyfel. En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: ‘Alle gesag in die hemel en op aarde is aan my gegee. Gaan dan heen en maak dissipels van mense uit alle nasies en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om te onderhou alles wat ek julle beveel het. En kyk! Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.’”—Mattheüs 19:28, 29; 28:16-20, NW; 1 Timotheüs 2:6.

24. Watter verdere seën word deur Jesus se opstanding gewaarborg?

24 Jesus se opstanding waarborg ook nog ’n seën vir die mensdom—die opstanding van die dode. Toe Jesus Lasarus uit die dood opgewek het, was dit ’n teken van ’n omvattender opstanding in die toekoms. (Sien bladsye 249-50.) Jesus het gesê: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”—Johannes 5:28, 29; 11:39-44; Handelinge 17:30, 31.

25. (a) Watter keuse sal almal in die nuwe wêreld hê? (b) Watter godsdiensvorm sal daar in die nuwe wêreld wees?

25 Wat ’n vreugde sal dit tog nie wees om ons geliefdes terug te verwelkom nie, iets wat elke geslag waarskynlik agtereenvolgens sal doen! Daar in die nuwe wêreld sal elke persoon dan onder volmaakte toestande kan besluit of hy of sy die ware God, Jehovah, wil aanbid, of anders sy of haar lewe as ’n teenstander wil verloor. Ja, in die nuwe wêreld sal daar net een godsdiens, een vorm van aanbidding, wees. Alle lof sal aan die liefdevolle Skepper gebring word, en elke gehoorsame mens sal die woorde van die psalmis beaam: “o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd. . . . Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.”—Psalm 145:1-3; Openbaring 20:7-10.

26. Waarom moet jy God se Woord, die Bybel, ondersoek?

26 Noudat jy die vernaamste godsdienste van die wêreld met mekaar vergelyk het, nooi ons jou om God se Woord, die Bybel, waarop die opvattings van Jehovah se Getuies gebaseer is, verder te ondersoek. Vergewis jou daarvan dat die ware God gevind kan word. Hetsy jy ’n Hindoe, Moslem, Boeddhis, Sjintoïs, Confuciaan, Taoïs, Jood, Christen of enigiets anders is, nou is die tyd om jou verhouding met die ware en lewende God te ondersoek. Jou godsdiens is waarskynlik vir jou bepaal deur jou geboorteplek, waaroor jy geen beheer gehad het nie. Jy sal beslis niks verloor as jy ondersoek wat die Bybel oor God sê nie. Dit kan jou eenmalige kans wees om werklik die Soewereine Heer God se voorneme met hierdie aarde en die mensdom daarop te leer ken. Ja, jou opregte soeke na die ware God kan beloon word as jy die Bybel saam met Jehovah se boodskappers, sy Getuies, wat hierdie boek by jou gelaat het, bestudeer.

27. (a) Watter uitnodiging rig Jesus aan jou? (b) Watter uitnodiging rig Jesaja aan almal, in ooreenstemming met die tema van hierdie boek?

27 Jesus het nie verniet gesê nie: “Bly vra, en vir julle sal gegee word; bly soek, en julle sal vind; bly klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Jy kan onder diegene tel wat die ware God gevind het as jy ag slaan op die profeet Jesaja se boodskap: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.”—Mattheüs 7:7, NW; Jesaja 55:6, 7.

28. Wie kan jou help om die ware God te vind?

28 As jy na die ware God soek, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in aanraking kom. * Hulle sal jou met graagte en kosteloos help om die Vader en sy wil intiem te leer ken terwyl daar nog tyd is.—Sefanja 2:3.

[Voetnote]

^ par. 5 Sien Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat in 1982 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, bladsye 148-54 vir ’n uitvoerige bespreking van die laaste dae.

^ par. 10 Sien Bladsy 384 vir lys met adresse.

^ par. 28 Sien die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, wat in 1988 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, hoofstukke 33-37, vir ’n uitvoerige bespreking van hierdie profesieë in Openbaring.

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 377]

Hoe om die ware godsdiens te identifiseer

1. Die ware godsdiens aanbid die enigste ware God, Jehovah.—Deuteronomium 6:4, 5, vgl. NW; Psalm 146:5-10; Mattheüs 22:37, 38.

2. Die ware godsdiens bied deur middel van Christus Jesus toegang tot God.—Johannes 17:3, 6-8; 1 Timotheüs 2:5, 6; 1 Johannes 4:15.

3. Die ware godsdiens verkondig en beoefen onselfsugtige liefde.—Johannes 13:34, 35; 1 Korinthiërs 13:1-8; 1 Johannes 3:10-12.

4. Die ware godsdiens bly onbesmet deur wêreldlike politiek en konflikte. Dit bly neutraal in oorlogstyd.—Johannes 18:36; Jakobus 1:27.

5. Die ware godsdiens laat God waaragtig wees deur die Bybel as God se Woord te aanvaar.—Romeine 3:3, 4; 2 Timotheüs 3:16, 17; 1 Thessalonicense 2:13.

6. Die ware godsdiens vergoelik nie oorlog of persoonlike geweld nie.—Miga 4:2-4; Romeine 12:17-21; Kolossense 3:12-14.

7. Die ware godsdiens verenig mense van elke ras, taal en stam met welslae. Dit verkondig nie nasionalisme of haat nie, maar wel liefde.—Jesaja 2:2-4; Kolossense 3:10, 11; Openbaring 7:9, 10.

8. Die ware godsdiens is ’n voorstander van diens aan God, nie om selfsugtige gewin of vir ’n salaris nie, maar uit liefde. Dit verheerlik nie mense nie. Dit verheerlik God.—1 Petrus 5:1-4; 1 Korinthiërs 9:18; Mattheüs 23:5-12.

9. Die ware godsdiens verkondig die Koninkryk van God, nie die een of ander politieke of maatskaplike filosofie nie, as die mens se vaste hoop.—Markus 13:10; Handelinge 8:12; 28:23, 30, 31.

10. Die ware godsdiens verkondig die waarheid oor God se voorneme met die mens en die aarde. Dit leer nie die godsdiensleuens oor die onsterflike siel en ewige pyniging in die hel nie. Dit leer dat God liefde is.—Rigters 16:30, NW; Jesaja 45:12, 18; Mattheüs 5:5; 1 Johannes 4:7-11; Openbaring 20:13, 14.

[Prent]

Getuies wat in Nederland die predikingswerk doen

[Prente op bladsy 373]

Die aarde het die potensiaal om ’n paradys te wees—’n blywende, regverdige wêreldregering is hiervoor nodig en word deur God beloof

[Prent op bladsy 374]

Voordat Jesus na die hemel teruggekeer het, het hy sy dissipels beveel om die goeie nuus oor die hele aarde te verkondig en te leer

[Prent op bladsy 379]

Die opstanding van die dode sal vir die mensegesin aardwyd vrede bring