Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hindoeïsme—’n Soeke na bevryding

Hindoeïsme—’n Soeke na bevryding

Hoofstuk 5

Hindoeïsme—’n Soeke na bevryding

“In die Hindoegemeenskap is dit die godsdiensgebruik om soggens heel eerste in ’n nabygeleë rivier te bad, of by die huis as daar nie ’n rivier of stroom in die omtrek is nie. Mense glo dat dit hulle heilig. Dan gaan hulle, steeds sonder om te eet, na die plaaslike tempel en offer hulle blomme en voedsel aan die plaaslike god. Party sal die afgod was en met rooi en geel poeier versier.

“Feitlik elke huis het ’n hoek of selfs ’n vertrek vir die aanbidding van die gesin se geliefkoosde god. ’n Gewilde god in party streke is Ganesa, die olifantgod. Mense sal hom veral om voorspoed vra, aangesien hy as ’n verwyderaar van struikelblokke bekendstaan. Op ander plekke sal Krisjna, Rama, Siwa, Doerga of ’n ander godheid die grootste toewyding ontvang.”—Tara C., Katmandoe, Nepal.

1. (a) Beskryf ’n paar Hindoegebruike. (b) Wat is party verskille tussen die Westerse beskouing en die Hindoebeskouing?

WAT is Hindoeïsme? Is dit bloot die oorvereenvoudigde Westerse konsep van die verering van diere, baaiery in die Ganges en verdeling deur kastes? Of behels dit meer? Die antwoord: Dit behels veel meer. Hindoeïsme is ’n ander lewensbegrip, waarin Westerse waardes geheel en al vreemd is. Westerlinge is geneig om die lewe as ’n chronologiese reeks gebeure in die geskiedenis te beskou. Hindoes beskou die lewe as ’n selfherhalende siklus waarin die mensegeskiedenis nie juis belangrik is nie.

2, 3. (a) Waarom is dit moeilik om Hindoeïsme te definieer? (b) Hoe verduidelik een Indiese skrywer Hindoeïsme en politeisme?

2 Dit is glad nie maklik om Hindoeïsme te definieer nie, aangesien dit geen definitiewe geloofsbelydenis, priesterlike hiërargie of beherende stelsel het nie. Maar dit het wel swami’s (onderrigters) en ghoeroes (geestelike leidsmanne). Een geskiedenisboek gee ’n breë definisie van Hindoeïsme en sê dit is “die groot geheel van al die opvattings en vaste gewoontes wat tussen die samestelling van hulle ou (en heiligste) skrifte, die Vedas, en die hede ontstaan het”. ’n Ander boek sê: “Ons kan sê dat Hindoeïsme verkleefdheid aan of aanbidding van die gode Wisjnoe, of Sjiwa [Siwa], of die godin Sjakti, of hulle inkarnasies, aspekte, eggenote of afstammelinge is.” Dit sluit dus die kultusse van Rama en Krisjna (inkarnasies van Wisjnoe), Doerga, Skanda en Ganesa (respektiewelik die vrou en seuns van Siwa) in. Daar is na bewering 330 miljoen gode in Hindoeïsme, en tog word daar gesê dat Hindoeïsme nie politeïsties is nie. Hoe is dit moontlik?

3 Indiese skrywer A. Parthasarathy verduidelik: “Die Hindoes is nie politeïsties nie. Hindoeïsme praat van een God . . . Die verskillende gode en godinne van die Hindoegodedom is bloot verteenwoordigers van die magte en funksies van die een oppermagtige God in die sigbare wêreld.”

4. Wat dek die term “Hindoeïsme”?

4 Hindoes noem hul geloof dikwels sanatana dharma, wat ewige wet of orde beteken. Hindoeïsme * is in werklikheid ’n wye term wat ’n magdom godsdienste en sektes (sampradajas) beskryf wat deur die millenniums heen onder die sambreel van die komplekse, ou Hindoemitologie ontwikkel en gefloreer het. Daardie mitologie is so ingewikkeld dat die New Larousse Encyclopedia of Mythology sê: “Die Indiese mitologie is ’n oerwoud met geil groeisels waaruit ’n mens nie kan kom nie. Wanneer jy dit binnegaan, verloor jy die daglig en alle duidelike rigtinggevoel.” Hierdie hoofstuk sal nietemin party van die kenmerke en leringe van daardie geloof dek.

Die oeroue oorsprong van Hindoeïsme

5. Hoe wydverspreid is Hindoeïsme?

5 Ofskoon Hindoeïsme nie so wydverspreid soos party ander vername godsdienste is nie, het dit nietemin teen 1990 bykans 700 miljoen aanhangers gehad, of nagenoeg 1 uit 8 (13%) van die wêreldbevolking. Maar die meeste van hulle is in Indië. Dit is dus logies om te vra: Hoe en waarom het Hindoeïsme ’n oorwegend Indiese godsdiens geword?

6, 7. (a) Hoe het Hindoeïsme Indië volgens party geskiedkundiges bereik? (b) Wat is Hindoeïsme se vloedlegende? (c) Watter godsdiensvorm is volgens argeoloog Marshall in die Indusvallei beoefen voordat die Ariërs daar aangekom het?

6 Party geskiedkundiges sê dat Hindoeïsme meer as 3 500 jaar gelede ontstaan het toe ’n Ariese volk met ’n ligte vel uit die noordweste na die Indusvallei gemigreer het, wat grotendeels in hedendaagse Pakistan en Indië geleë is. Van daar af het hulle oor die vlaktes van die Gangesrivier en oor die hele Indië versprei. Party deskundiges sê dat die godsdiensopvattings van die trekkers op eertydse Iraanse en Babiloniese leringe gebaseer was. Een gemeenskaplike element in talle kulture, wat ook in Hindoeïsme gevind word, is ’n vloedlegende.—Sien venster, bladsy 120.

7 Maar watter godsdiensvorm is in die Indusvallei beoefen voordat die Ariërs daar aangekom het? Een argeoloog, sir John Marshall, praat van “‘Die Groot Moedergodin’, wat soms deur beeldjies van swanger vroue voorgestel word, maar hoofsaaklik deur beelde van naak vroue met hoë halssierade en hooftooisels. . . . Die volgende is ‘Die Manlike God’, ‘dadelik herkenbaar as ’n prototipe van die geskiedkundige Siwa’, in sittende houding met sy voetsole teen mekaar (’n jogahouding), itifallies (wat herinner aan die lingam-kultus [falluskultus]), omring deur diere (’n afbeelding van Sjiwa se bynaam, ‘Heer van Diere’). Klipafbeeldings van die fallus en skaamspleet is volop, . . . wat dui op die kultus van die lingam en joni van Sjiwa en sy gade” (World Religions—From Ancient History to the Present). Siwa word vandag nog as die god van vrugbaarheid, die god van die fallus, of lingam, vereer. Die bul Nandi is sy draer.

8, 9. (a) In watter opsig stem een Hindoegeleerde nie met Marshall se teorie saam nie? (b) Watter teenbewerings word gemaak oor voorwerpe wat in Hindoeïsme en “die Christelike godsdiens” vereer word? (c) Wat is die grondslag van Hindoeïsme se heilige geskrifte?

8 Hindoegeleerde swami Sankarananda stem nie saam met Marshall se interpretasie nie en sê dat die vereerde klippe, waarvan party as Siwalinga bekendgestaan het, oorspronklik simbole van “die vuur van die hemel of die son en die vuur van die son, die strale” was (The Rigvedic Culture of the Pre-Historic Indus). Hy redeneer dat “die sekskultus . . . nie as ’n godsdienskultus ontstaan het nie. Dit is ’n latere produk. Dit is ’n ontaarding van die oorspronklike. Dit is die mense wat die ideaal, wat vir hulle onbegryplik is, tot hul eie vlak verlaag.” As ’n teenargument teen Westerse kritiek op Hindoeïsme sê hy dat Christene, vanweë hul verering van die kruis, ’n heidense falliese simbool, “die aanhangers van ’n sekskultus is”.

9 Die opvattings, mites en legendes van Indië is mettertyd op skrif gestel, en vandag maak hulle die heilige geskrifte van Hindoeïsme uit. Hoewel hierdie heilige werke omvattend is, probeer hulle nie om ’n verenigde Hindoeleerstelling uiteen te sit nie.

Hindoeïsme se heilige geskrifte

10. Wat is party van Hindoeïsme se oudste geskrifte?

10 Die oudste geskrifte is die Vedas, ’n versameling gebede en gesange wat bekendstaan as die Rig-Veda, die Sama-Veda, die Jajur-Veda en die Atharva-Veda. Hulle is oor ’n tydperk van etlike eeue saamgestel en is omstreeks 900 v.G.J. voltooi. Die Vedas is later deur ander geskrifte, waaronder die Brahmanas en die Oepanisjade, aangevul.

11. (a) Wat is die verskil tussen die Brahmanas en die Oepanisjade? (b) Watter leerstellings word in die Oepanisjade uiteengesit?

11 Die Brahmanas spesifiseer hoe rituele en offerandes, by die huis sowel as in die openbaar, uitgevoer moet word en bespreek hul diep betekenis baie uitvoerig. Hulle is omstreeks 300 v.G.J. of later op skrif gestel. Die Oepanisjade (letterlik, “sittings naby ’n onderrigter”), wat ook as die Vedanta bekendstaan en omstreeks 600-300 v.G.J. geskryf is, is verhandelings wat die rede vir alle denke en optrede volgens Hindoefilosofie uiteensit. Die leerstellings oor samsara (sielsverhuising) en Karma (die opvatting dat die dade van ’n vorige bestaan die oorsaak van ’n mens se huidige staat in die lewe is) is in hierdie geskrifte uiteengesit.

12. Wie was Rama, en waarin verskyn sy verhaal?

12 ’n Ander stel geskrifte is die Poeranas, of lang allegoriese verhale wat talle Hindoemites oor gode en godinne sowel as Hindoehelde bevat. Hierdie omvattende Hindoebiblioteek bevat ook die eposse van die Ramajana en Mahabharata. Die eerste is die verhaal van “Heer Rama”, wat volgens A. Parthasarathy “die roemrykste karakter in gewyde literatuur is”. Die Ramajana is een van die gewildste geskrifte vir Hindoes en dateer uit omstreeks die vierde eeu v.G.J. Dit is die verhaal van die held Rama, of Ramatsjandra, wat deur Hindoes as ’n modelseun, -broer en -man beskou word. Hy word as die sewende avatar (inkarnasie) van Wisjnoe beskou, en die aanroeping van sy naam maak dikwels deel van ’n groet uit.

13, 14. (a) Wat is die Bhagavad Gita volgens een Hindoebron? (b) Wat beteken Sruti en Smriti, en wat is die Manoe Smriti?

13 Volgens swami Bhaktivedanta Prabhoepāda, stigter van die Internasionale Vereniging vir Krisjna-bewussyn, “is Bhagavad-gītā [’n deel van die Mahabharata] die beste voorskrif oor sedelikheid. Die instruksies van Bhagavad-gītā vorm die beste manier om godsdiens en sedelikheid uit te leef. . . . Die laaste instruksie van die Gītā is die hoogste voorskrif oor alle sedelikheid en godsdiens: gee jou oor aan Kṛṣṇa [Krisjna].”—BG.

14 Die Bhagavad Gita (Hemelse Lied), wat deur sommige as “die juweel van Indië se geestelike wysheid” beskou word, is ’n gesprek op die slagveld “tussen Heer Śrī Kṛṣṇa [Krisjna], die Opperpersoonlikheid van die Godheid, en Arjoena, Sy boesemvriend en aanhanger, wat Hy in die wetenskap van selfverwesenliking onderrig”. Maar die Bhagavad Gita is net een deel van die omvattende, heilige Hindoebiblioteek. Party van hierdie geskrifte (Vedas, Brahmanas en die Oepanisjade) word beskou as Sruti, of “wat gehoor is”, en word derhalwe beskou as heilige geskrifte wat regstreeks geopenbaar is. Ander, soos die eposse en die Poeranas, is Smriti, of “wat onthou is”, en is dus deur menseskrywers opgestel, hoewel dit aan openbaring ontleen is. Een voorbeeld is die Manoe Smriti, wat die godsdiens- en maatskaplike wette van die Hindoes uiteensit en die grondslag van die kastestelsel verduidelik. Wat is party van die opvattings wat uit hierdie Hindoegeskrifte ontstaan het?

Leringe en gedrag—ahimsa en varna

15. (a) Definieer ahimsa en verduidelik hoe Djainas dit toepas. (b) Hoe het Gandhi ahimsa beskou? (c) Hoe verskil Sikhs van Hindoes en Djainas?

15 In Hindoeïsme is daar, soos in ander godsdienste, sekere basiese opvattings wat mense se denke en daaglikse gedrag beïnvloed. ’n Besondere voorbeeld hiervan is ahimsa (Sanskrit, ahinsa), of geweldloosheid, waarvoor Mohandas Gandhi (1869-1948), bekend as die Mahatma, so beroemd was. (Sien venster, bladsy 113.) Op grond van hierdie filosofie is Hindoes nie veronderstel om ander skepsele dood te maak of geweld aan te doen nie, en dit is een van die redes waarom hulle party diere, soos koeie, slange en ape, vereer. Die strengste vertolkers van hierdie lering oor ahimsa en respek vir die lewe is die aanhangers van Djainisme (wat in die sesde eeu v.G.J. gestig is), wat kaalvoet loop en selfs ’n masker dra om te voorkom dat hulle ’n insek per ongeluk insluk. (Sien venster, bladsy 104, en foto, bladsy 108.) In teenstelling hiermee is die Sikhs bekend vir hulle krygstradisie, en Singh, ’n algemene van onder hulle, beteken leeu.—Sien venster, bladsye 100-101.

16. (a) Hoe beskou die meeste Hindoes die kastestelsel? (b) Wat het Gandhi oor die kastestelsel gesê?

16 ’n Aspek van Hindoeïsme wat allerweë bekend is, is varna, of die kastestelsel, waardeur die gemeenskap in vaste klasse verdeel word. (Sien venster, bladsy 113.) ’n Mens kan nie anders as om op te merk dat die Hindoegemeenskap steeds deur hierdie stelsel in klasse verdeel word nie, hoewel Boeddhiste en Djainas dit verwerp. Maar net soos rassediskriminasie in die Verenigde State en elders voortduur, is die kastestelsel eweneens diepgewortel in die Indiese psige. In sekere sin is dit ’n vorm van klasbewustheid wat, op ooreenstemmende wyse, vandag nog in mindere mate in die Britse gemeenskap en in ander lande gevind kan word (Jakobus 2:1-9). In Indië word ’n persoon dus in ’n vaste kastestelsel gebore, en daar is feitlik geen uitweg nie. Bowendien soek die gemiddelde Hindoe nie ’n uitweg nie. Hy beskou dit as sy voorbestemde, onvermydelike lewenslot, die resultaat van sy dade in ’n vorige bestaan, of Karma. Maar hoe het die kastestelsel ontstaan? Ons moet ons weer eens tot die Hindoemitologie wend.

17, 18. Hoe het die kastestelsel volgens die Hindoemitologie begin?

17 Volgens die Hindoemitologie was daar oorspronklik vier vername kastes, gebaseer op die liggaamsdele van Poeroesja, die mensdom se oorspronklike vaderfiguur. Die gesange van die Rig-Veda sê:

“Toe hulle Poeroesja verdeel het, hoeveel dele het hulle gemaak?

Wat noem hulle sy mond, sy arms? Wat noem hulle sy bobene en voete?

Die Brahmane [die hoogste kaste] was sy mond, die Rajanjas is uit sy twee arms gemaak.

Sy bobene het die Vaisjias geword, die Soedras het uit sy voete voortgekom.”—The Bible of the World.

18 Die priesterlike Brahmane, die hoogste kaste, het dus kwansuis uit Poeroesja se mond, sy hoogste deel, ontstaan. Die heersende klas, of krygsmansklas (Ksjatrijas of Rajanjas), het uit sy arms gekom. Die handelaarsklas, wat die Vaisjias, of Vaisjjias, genoem word, het uit sy bobene ontstaan. ’n Laer kaste, die Soedras, of Sjoedras, of boereklas, het uit die laagste liggaamsdeel, sy voete, ontstaan.

19. Watter ander kastes het ontstaan?

19 Deur die eeue heen het selfs laer kastes ontstaan, die uitgeworpenes en die Onaantasbares, of soos mahatma Gandhi hulle liefdevoller genoem het, die Haridjans, of “mense wat aan die god Wisjnoe behoort”. Hoewel onaantasbaarheid sedert 1948 in Indië onwettig is, sukkel die Onaantasbares steeds om ’n bestaan te voer.

20. Wat is ander aspekte van die kastestelsel?

20 Die kastes het mettertyd toegeneem om met feitlik elke beroep en vakgebied in die Indiese gemeenskap ooreen te stem. Hierdie ou kastestelsel, wat elkeen op sy of haar maatskaplike plek hou, is in werklikheid ook ’n rasseskeiding en “sluit afsonderlike rasse in wat wissel van die sogenaamde Ariese rasse [met ’n ligte vel] tot die pre-Drawidiaanse rasse [met ’n donkerder vel]”. Varna, of kaste, beteken “kleur”. “Die eerste drie kastes was Ariërs, mense met die ligste vel; die vierde kaste, wat uit die inboorlinge met ’n donker vel bestaan het, was nie-Aries” (Myths and Legends Series—India deur Donald A. Mackenzie). Dit is ’n lewensfeit in Indië dat die kastestelsel, versterk deur die godsdienslering oor Karma, miljoene mense in ewige armoede en onreg gevange hou.

Die frustrerende bestaansiklus

21. Hoe beïnvloed Karma volgens die Garoeda Poerana ’n mens se lot?

21 Nog ’n basiese opvatting wat Hindoe-etiek en -gedrag beïnvloed, en een van die belangrikstes, is die lering oor Karma. Dit is die beginsel dat elke daad positiewe of negatiewe gevolge het; dit bepaal elke bestaan van die siel wat verhuis het of gereïnkarneer is. Soos die Garoeda Poerana verduidelik:

“’n Mens bepaal sy eie lot, en selfs in sy fetale lewe word hy beïnvloed deur die dinamiek van die werke van sy vorige bestaan. Of hy in ’n bergvesting opgesluit is of in die see rus, of hy veilig op sy moeder se skoot sit of hoog bokant haar kop gehou word, ’n mens kan nie die gevolge van sy vorige dade vryspring nie. . . . Wat ook al op ’n spesifieke ouderdom of tyd met ’n mens moet gebeur, sal hom beslis dan en op daardie dag oorval.”

Die Garoeda Poerana sê voorts:

“Die kennis wat ’n mens in sy vorige geboorte opgedoen het, die rykdom wat hy in sy vorige bestaan uit barmhartigheid weggegee het en werke wat hy in ’n vorige inkarnasie gedoen het, gaan sy siel vooruit na waar dit ook al sal vertoef.”

22. (a) Watter verskil is daar tussen Hindoeïsme en die Christendom wat die siel se bestemming na die dood betref? (b) Wat leer die Bybel oor die siel?

22 Waarop berus hierdie opvatting? Die onsterflike siel is onontbeerlik vir die lering oor Karma, en Karma maak die Hindoebeskouing van die siel anders as dié van die Christendom. Die Hindoe glo dat elke persoonlike siel, jīva of prān, * talle reïnkarnasies deurmaak en moontlik deur “die hel” gaan. Dit moet strewe na eenheid met die “Opperwerklikheid”, wat ook Brahman, of Brahm, genoem word (nie dieselfde as die Hindoegod Brahma nie). Daarenteen kan die siel volgens die Christendom se leerstellings na die hemel, die hel, die vaevuur of Limbus gaan, afhangende van die godsdiensoortuiging.—Prediker 9:5, 6, 10; Psalm 146:4.

23. Hoe beïnvloed Karma die Hindoes se lewensbeskouing? (Vergelyk Galasiërs 6:7-10.)

23 As gevolg van Karma is Hindoes geneig om fatalisties te wees. Hulle glo dat ’n mens se huidige status en situasie die gevolg van ’n vorige bestaan is en dat jy dit derhalwe verdien, of dit goed of sleg is. Die Hindoe kan probeer om ’n beter reputasie te verkry sodat die volgende bestaan draagliker sal wees. Gevolglik aanvaar hy sy lewenslot geredeliker as ’n Westerling. Die Hindoe beskou dit as die werking van die wet van oorsaak en gevolg met betrekking tot sy vorige bestaan. Dit is die beginsel dat jy maai wat jy in ’n vermeende vorige bestaan gesaai het. Dit berus natuurlik op die veronderstelling dat die mens ’n onsterflike siel het wat tot ’n ander lewe oorgaan, hetsy as ’n mens, ’n dier of ’n plant.

24. Wat is moksja, en hoe glo die Hindoe word dit bereik?

24 Wat is dan die uiteindelike doelwit in die Hindoegeloof? Om moksja te bereik, wat bevryding van, of verlossing uit, die meedoënlose siklus van wedergeboorte en verskillende lewens beteken. Dit is derhalwe ’n ontsnapping aan ’n beliggaamde bestaan, nie vir die liggaam nie, maar vir die “siel”. “Aangesien moksja, of verlossing uit die lang reeks inkarnasies, elke Hindoe se doel is, is die grootste gebeurtenis in sy lewe in werklikheid sy dood”, sê een kommentator. Moksja kan bereik word deur die verskillende margas, of weë, te volg. (Sien venster, bladsy 110.) In watter groot mate berus hierdie godsdienslering tog nie op die eertydse Babiloniese konsep van die onsterflike siel nie!

25. Hoe verskil die Hindoes se lewensbeskouing van die Bybelbeskouing?

25 Maar volgens die Bybel is hierdie versmading en veragting van die stoflike lewe lynreg in stryd met Jehovah God se oorspronklike voorneme met die mensdom. Toe hy die eerste mensepaar geskep het, het hy hulle ’n gelukkige, vreugdevolle aardse bestaan gegee. Die Bybelverslag deel ons mee:

“En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. . . . Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed” (Genesis 1:27-31).

Die Bybel voorspel ’n naderende tydperk van vrede en geregtigheid vir die aarde, ’n tydperk waarin elke gesin sy eie behoorlike tuiste gaan hê en die mensdom vir ewig volmaakte gesondheid en lewe gaan geniet.—Jesaja 65:17-25; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4.

26. Watter vraag moet nou beantwoord word?

26 Die volgende vraag wat beantwoord moet word, is: Wie is die gode wat ’n Hindoe moet behaag om goeie Karma te verkry?

Die Hindoegodedom

27, 28. (a) Watter gode maak die Hindoe-Trimoerti uit? (b) Wie is hulle vrouens of metgesellinne? (c) Meld ’n paar ander Hindoegode en -godinne.

27 Hoewel Hindoeïsme beweer dat daar miljoene gode is, is daar in werklikheid sekere geliefkoosde gode wat die spil van verskeie Hindoesektes geword het. Drie van die vernaamste gode maak deel uit van wat die Hindoes Trimoerti, ’n drie-eenheid, of triade van gode, noem.—Sien venster, bladsy 116-17, vir ander Hindoegode.

28 Die triade bestaan uit Brahma die Skepper, Wisjnoe die Beskermer en Siwa die Vernietiger, en elkeen het minstens een vrou of metgesellin. Brahma is getroud met Saraswati, die godin van kennis. Wisjnoe se vrou is Laksjmi, en Siwa se eerste vrou was Sati, wat selfmoord gepleeg het. Sy was die eerste vrou wat ’n offervuur binnegegaan het en het sodoende die eerste sutti geword. Duisende Hindoeweduwees het deur die eeue heen haar mitologiese voorbeeld gevolg en hulle op hul man se lykstapel geoffer, hoewel hierdie gebruik nou onwettig is. Siwa het ook ’n ander vrou wat etlike ander name en titels het. In haar goedaardige vorm is sy Parwati en Oema, sowel as Gauri, die Goue. As Doerga of Kali is sy ’n skrikwekkende godin.

29. Hoe beskou Hindoes Brahma? (Vergelyk Handelinge 17:22-31.)

29 Hoewel Brahma in die Hindoemitologie van groot belang is, is hy nie in die aanbidding van die gemiddelde Hindoe belangrik nie. Trouens, baie min tempels is aan hom gewy, hoewel hy Brahma die Skepper genoem word. Volgens die Hindoemitologie is die stoflike heelal egter geskep deur ’n opperwese, bron of kern—Brahman, of Brahm, wat met die heilige lettergreep OM of AUM geïdentifiseer word. Al drie lede van die triade word as ’n deel van daardie “Wese” beskou, en alle ander gode word as verskillende manifestasies beskou. Enige godheid wat as die oppermagtige god aanbid word, word as alomvattend beskou. Hoewel Hindoes dus openlik miljoene gode vereer, erken die meeste net een ware God, wat talle vorme kan aanneem: manlik, vroulik of selfs dierlik. Hindoegeleerdes wys derhalwe gou daarop dat Hindoeïsme in werklikheid monoteïsties is, nie politeïsties nie. Latere Vediese denke verwerp egter die konsep van ’n opperwese en vervang dit deur ’n onpersoonlike goddelike beginsel of werklikheid.

30. Wat is sommige van die avatars van Wisjnoe?

30 Wisjnoe, ’n welwillende son- en kosmiese godheid, word deur die volgelinge van Wisjnoeïsme aanbid. Hy verskyn in tien avatars, of inkarnasies, waaronder Rama, Krisjna en die Boeddha. * Nog ’n avatar is Wisjnoe Narajana, “uitgebeeld as ’n mens wat op die opgerolde slang Sjesja of Ananta slaap en op die kosmiese waters dryf met sy vrou, die godin Laksjmi, wat by sy voete sit terwyl die god Brahma uit ’n lotusblom verskyn wat uit Wisjnoe se naeltjie groei”.—The Encyclopedia of World Faiths.

31. Watter soort god is Siwa?

31 Siwa, wat ook dikwels Mahesja (Opperheer) en Mahadeva (Groot God) genoem word, is Hindoeïsme se tweede grootste god, en die aanbidding wat tot hom gerig word, word Sjiwaïsme genoem. Hy word beskryf as “die groot askeet, die meesterjogi wat op die hange van die Himalaja sit en peins, sy liggaam met as besmeer en sy kop met gekoekte hare bedek”. Hy is ook bekend “vir sy erotisme, as die bringer van vrugbaarheid en as die opperheer van die skepping, Mahadeva” (The Encyclopedia of World Faiths). Siwa word deur middel van die lingam, of falliese simbool, aanbid.—Sien foto’s, bladsy 99.

32. (a) Watter vorme neem die godin Kali aan? (b) Hoe is ’n Engelse woord aan haar aanbidding ontleen?

32 Soos talle ander wêreldgodsdienste het Hindoeïsme sy oppergodin, wat aantreklik of skrikwekkend kan wees. In haar aantrekliker vorm staan sy as Parwati en Oema bekend. Haar skrikwekkende geaardheid word uitgebeeld as Doerga of Kali, ’n bloeddorstige godin wat behae skep in bloedoffers. As die Moedergodin, Kali Ma (Swart Aardmoeder), is sy die hoofgodheid vir die Sjakti-sekte. Sy word uitgebeeld as ’n figuur wat tot by die heupe naak is en wat met lyke, slange en kopbene versier is. In die verlede is menseslagoffers wat verwurg is aan haar geoffer deur gelowiges wat as thugi bekendgestaan het, en die Engelse woord “thug” (boef) is daaraan ontleen.

Hindoeïsme en die Gangesrivier

33. Waarom is die Ganges vir Hindoes heilig?

33 Ons kan nie van Hindoeïsme se godedom praat sonder om sy heiligste rivier—die Ganges—te meld nie. ’n Groot deel van die Hindoemitologie hou regstreeks verband met die Gangesrivier, of Ganga Ma (Moeder Ganga), soos vroom Hindoes dit noem. (Sien kaart, bladsy 123.) Hulle sê ’n gebed op wat 108 verskillende name vir die rivier insluit. Waarom vereer opregte Hindoes die Ganges? Omdat dit so nou verband hou met hulle daaglikse oorlewing en met hulle ou mitologie. Hulle glo dat dit voorheen as die Melkweg in die hemele bestaan het. Hoe het dit dan ’n rivier geword?

34. Wat is volgens die Hindoemitologie een verduideliking van hoe die Gangesrivier ontstaan het?

34 Met ’n paar variasies sal die meeste Hindoes dit soos volg verduidelik: Maharadjah Sagara het 60 000 seuns gehad wat deur die vuur van Kapila, ’n manifestasie van Wisjnoe, doodgemaak is. Hulle siele is tot die hel verdoem tensy die godin Ganga uit die hemel sou neerdaal om hulle te reinig en van die vloek te bevry. Bhagīrathi, ’n agterkleinseun van Sagara, het tussenbeide gekom en Brahma gevra om die heilige Ganga na die aarde te laat neerdaal. Een verslag sê voorts: “Ganga het geantwoord. ‘Ek is so ’n sterk stroom dat ek die aarde se grondveste sal verpletter.’ [Bhagīrathi] het dus, nadat hy duisend jaar lank boete gedoen het, na die god Sjiwa, die grootste van alle askete, gegaan en hom oorreed om hoog bo die aarde tussen die rots en ys van die Himalaja te staan. Sjiwa se gekoekte hare was op sy kop gestapel, en hy het toegelaat dat Ganga uit die hemel in sy lokke neerstort, en dit het die skok wat die aarde bedreig het, geabsorbeer. Ganga het toe saggies op die aarde gedrup en van die berge af en oor die vlaktes gevloei en die droë aarde sodoende water en derhalwe lewe gegee.”—From the Ocean to the Sky deur sir Edmund Hillary.

35. Hoe verklaar Wisjnoe se volgelinge die rivier se bestaan?

35 Die volgelinge van Wisjnoe het ’n ietwat ander weergawe van hoe die Ganges begin het. Volgens die ou teks, die Wisjnoe Poerana, lui hulle weergawe soos volg:

“Uit hierdie streek [die heilige setel van Wisjnoe] kom die Gangesrivier, wat alle sondes verwyder . . . Sy kom uit die nael van die groottoon van Wisjnoe se linkervoet.”

Of soos Wisjnoe se volgelinge in Sanskrit sê: “Wisnoe-padabja-sambhoeta”, wat beteken: “Gebore uit die lotusagtige voet van Wisjnoe.”

36. Wat glo Hindoes oor die mag van die Ganges se waters?

36 Hindoes glo dat die Ganges die mag het om gelowiges te bevry, te suiwer, te reinig en te genees. Die Wisjnoe Poerana sê:

“Heiliges, wat gereinig word deur in die water van hierdie rivier te bad en wie se verstande aan Kesawa [Wisjnoe] toegewy is, verkry uiteindelike bevryding. Die heilige rivier reinig dag na dag alle wesens wat van die rivier hoor, daarna hunker, dit sien, daaraan raak, daarin bad of daarvan sing. En dié wat selfs [ver weg] woon en ‘Ganga en Ganga’ uitroep, word verlos van die sondes wat gedurende die drie vorige lewens gepleeg is.”

Die Brahmandapoerana sê:

“Die stamme van diegene wat een maal, as blyk van aanbidding, in die rein strome van die Ganges bad, sal deur Haar beskerm word teen honderdduisende gevare. Euwels wat deur geslagte heen opgehoop het, word tot niet gemaak. Deur net in die Ganges te bad, word jy onmiddellik gereinig.”

37, 38. Waarom stroom miljoene Hindoes na die Ganges?

37 Indiërs stroom na die rivier toe om poeja, of aanbidding, uit te voer deur blomme te offer, gebede te dreunsing en die tilak, die kolletjie rooi of geel pasta op die voorkop, van ’n priester te ontvang. Dan loop hulle in die water in om te bad. Baie drink ook die water, hoewel dit erg deur rioolvuil, chemikalieë en lyke besoedel is. Tog is die geestelike aantrekkingskrag van die Ganges so groot dat dit miljoene Indiërs se ambisie is om ten minste een maal in hulle ‘heilige rivier’ te bad, al is dit ook besoedel.

38 Ander bring die lyke van hulle geliefdes om dit op brandstapels langs die rivier te verbrand, en dan kan die as in die rivier gestrooi word. Hulle glo dat dit die heengegane siel se ewige geluk verseker. Diegene wat te arm is om vir ’n brandstapel te betaal laat die liggaam, in ’n doodskleed gehul, eenvoudig in die rivier afdryf, waar dit deur aasvoëls gevreet word of eenvoudig ontbind. Dit laat die vraag ontstaan: Wat verkondig Hindoeïsme buiten wat ons reeds bespreek het oor lewe na die dood?

Hindoeïsme en die siel

39, 40. Wat sê een Hindoekommentator oor die siel?

39 Die Bhagavad Gita antwoord soos volg:

“Soos die beliggaamde siel voortdurend, in hierdie liggaam, van sy kinderdae tot jeug en dan tot bejaardheid oorgaan, so gaan die siel by die dood in ’n ander liggaam in.”—Hoofstuk 2, teks 13.

40 Een Hindoekommentaar oor hierdie teks sê: “Aangesien elke lewende entiteit ’n afsonderlike siel is, verander elkeen voortdurend sy liggaam en openbaar hy hom soms as ’n kind, soms as ’n jeugdige en soms as ’n bejaarde man—hoewel dieselfde geessiel daar is en geen verandering ondergaan nie. Hierdie afsonderlike siel verander uiteindelik die liggaam self deur van een tot ’n ander te verhuis, en aangesien dit gewis in die volgende geboorte—hetsy stoflik of geestelik—’n ander liggaam gaan hê, was daar geen rede vir Arjoena om die dood te betreur nie.”

41. Watter onderskeid moet volgens die Bybel aangaande die siel gemaak word?

41 Let daarop dat die kommentaar sê dat “elke lewende entiteit ’n afsonderlike siel is”. Daardie woorde strook met wat die Bybel in Genesis 2:7 sê:

“En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.”

Maar ’n belangrike onderskeid moet gemaak word: Maak die mens met al sy funksies en vermoëns ’n lewende siel uit, of het hy ’n siel afgeskeie van sy liggaamsfunksies? Is die mens ’n siel, of het hy ’n siel? Die volgende aanhaling verduidelik die Hindoekonsep.

42. Hoe verskil Hindoeïsme en die Bybel oor die begrip “die siel”?

42 Hoofstuk 2, teks 17, van die Bhagavad Gita sê:

“Dit wat die hele liggaam deurtrek, is onvernietigbaar. Niemand kan die onverganklike siel vernietig nie.”

Hierdie teks word dan soos volg verduidelik:

“Elke liggaam bevat ’n afsonderlike siel, en die simptoom van die siel se teenwoordigheid word as individuele bewussyn waargeneem.”

Terwyl die Bybel sê dat die mens ’n siel is, sê Hindoelering dus dat hy ’n siel het. En hier is ’n hemelsbreë verskil wat ’n groot invloed het op die leringe wat ’n gevolg van hierdie beskouings is.—Levitikus 24:17, 18NW.

43. (a) Wat is die oorsprong van die lering oor die onsterflike siel? (b) Wat is die gevolge daarvan?

43 Die lering oor die onsterflike siel word in werklikheid ontleen aan eertydse Babilon se stagnante versameling godsdienskennis. Dit lei logieserwys tot die opvattings oor gebeure tydens ’n ‘lewe na die dood’ wat in die leringe van so baie godsdienste voorkom—reïnkarnasie, die hemel, die hel, die vaevuur, Limbus, ensovoorts. Vir die Hindoe is die hemel en die hel tussengeleë rusplekke voordat die siel sy volgende reïnkarnasie ondergaan. Die Hindoekonsep oor die hel is van besondere belang.

Hindoelering oor die hel

44. Hoe weet ons dat daar volgens Hindoeïsme ’n hel van bewuste pyniging is?

44 Een teks uit die Bhagavad Gita sê:

“Wanneer die familiewette vernietig word, Janārdana, dan volg verblyf in die hel gewis vir mense.”—I.44, Harvard Oriental Series, Dl. 38, 1952.

’n Kommentaar sê: “Diegene wat in hul aardse lewe baie sondig is, moet verskillende soorte straf op helse planete ondergaan.” Maar dít verskil in een opsig van die Christendom se ewige pyniging in die helse vuur: “Hierdie straf . . . is nie ewig nie.” Wat presies is die Hindoehel dan?

45. Hoe word die pyniging in die Hindoehel beskryf?

45 Die volgende is ’n beskrywing van ’n sondaar se lot, aangehaal uit die Markandeja Poerana:

“Dan bind die handlangers van Jama [god van die dode] hom vinnig met verskriklike stroppe en sleep hulle hom na die suide, terwyl hy weens die rottanghoue bewe. Dan sleep Jama se handlangers hom, terwyl hy verskriklike, ongelukkige gille uiter, oor grond wat met [die plant] Koesa bedek is, vol dorings, miershope, spykers en klippe is, op plekke gloei van vlamme, vol gate is, wat weens die hitte van die son vuurwarm is en weens sy strale brand. Die sondige persoon word deur die verskriklike handlangers gesleep en deur honderde jakkalse geëet en gaan ná ’n verskriklike reis na Jama se huis. . . .

“Wanneer sy liggaam gebrand word, voel hy hoe hy brand; en wanneer sy liggaam geslaan of gesny word, ondervind hy groot pyn.

“Terwyl sy liggaam so vernietig word, ondervind ’n skepsel ewige ellende weens sy eie slegte dade, hoewel hy in ’n ander liggaam ingaan. . . .

“Dan word hy na nog so ’n hel geneem sodat sy sondes afgewas kan word. Nadat die sondaar deur al die helle gegaan het, leef hy as ’n dier. Nadat hy as wurms, insekte en vlieë, roofdiere, muggies, olifante, bome, perde en koeie gelewe het en verskeie ander sondige en ellendige lewens gelei het, word hy, wanneer hy die mensdom bereik, as ’n boggelrug, of ’n lelike persoon of ’n dwerg of ’n Tsjandala Poekkasa gebore.”

46, 47. Wat sê die Bybel oor die toestand van die dode, en watter gevolgtrekkings kan ons maak?

46 Vergelyk dit met wat die Bybel oor die dode sê:

“Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:5, 6, 10.

47 As die mens, soos die Bybel sê, nie ’n siel het nie maar ’n siel is, dan is daar natuurlik geen bewuste bestaan na die dood nie. Daar is geen geluk nie, en daar is geen lyding nie. Al die onlogiese komplikasies van die “hiernamaals” verdwyn. *

Hindoeïsme se mededinger

48, 49. (a) Ter hersiening, wat is party Hindoeleringe? (b) Waarom het sommige die geldigheid van Hindoeïsme bevraagteken? (c) Wie het verskyn en Hindoedenke in twyfel getrek?

48 Hierdie noodwendig kort oorsig van Hindoeïsme het getoon dat dit ’n godsdiens van politeïsme is wat op monoteïsme gegrond is—geloof in Brahman, die Opperwese, bron of kern, wat deur die lettergreep OM of AUM gesimboliseer word en baie aspekte of manifestasies het. Dit is ook ’n godsdiens wat verdraagsaamheid verkondig en die goeie behandeling van diere bevorder.

49 Daarenteen het party denkers die geldigheid van daardie geloof begin bevraagteken weens elemente van Hindoelering, soos Karma en die onreg van die kastestelsel, tesame met die afgodediens en die konflikte in die mites. Een so ’n twyfelaar het omstreeks 560 v.G.J. in noordoostelike Indië verskyn. Hy was Siddhārtha Gautama. Hy het ’n nuwe geloof gestig wat nie in Indië nie maar wel elders gefloreer het, soos ons volgende hoofstuk sal verduidelik. Daardie nuwe geloof was Boeddhisme.

[Voetnote]

^ par. 4 Die naam Hindoeïsme is ’n Europese skepping.

^ par. 22 In Sanskrit word ātma, of ātman, dikwels met “siel” vertaal, maar “gees” is ’n juister vertaling.—Sien A Dictionary of Hinduism—Its Mythology, Folklore and Development 1500 B.C.–A.D. 1500, bladsy 31, en die boekie Victory Over Death—Is It Possible for You? wat in 1986 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is.

^ par. 30 ’n Tiende en toekomstige avatar is Kalki-Avatara, “wat uitgebeeld word as ’n indrukwekkende jong man wat op ’n groot wit perd ry en ’n swaard soos ’n meteoor het wat oral dood en verderf saai”. “Sy koms sal regverdigheid op die aarde herstel en weer ’n tydperk van reinheid en onskuld inlui.”—Religions of India; A Dictionary of Hinduism.—Vergelyk Openbaring 19:11-16.

^ par. 47 Die Bybellering oor ’n opstanding van die dode hou glad nie met die leerstelling oor die onsterflike siel verband nie. Sien Hoofstuk 10.

[Studievrae]

[Venster/Prente op bladsy 100, 101]

Sikhisme—’n hervormingsgodsdiens

Sikhisme, wat deur drie swaarde en ’n sirkel gesimboliseer word, is die godsdiens van meer as 17 miljoen mense. Die meeste van hulle woon in die Pandjab. Die Sikhs se Goue Tempel, in die middel van ’n kunsmatige meer, is in Amritsar, die Sikhs se heilige stad, geleë. Sikh-mans kan maklik herken word aan die blou, wit of swart tulbande wat hulle dra. Dít, sowel as die feit dat hulle hul hare lank laat groei, is vir hulle noodsaaklike godsdiensgebruike.

Die Hindi-woord sikh beteken “dissipel”. Sikhs is dissipels van hul stigter, ghoeroe Nānak, en volg die leringe van die tien ghoeroes (Nānak en nege opvolgers) wie se geskrifte in die Sikhs se heilige boek, die Guru Granth Sahib, voorkom. Die godsdiens het in die vroeë 16de eeu ontstaan toe ghoeroe Nānak die beste van Hindoeïsme en die Islām wou neem en ’n verenigde godsdiens wou vorm.

Nānak se sending kan in een sin opgesom word: “Aangesien daar net een God is, en Hy ons Vader is; daarom moet ons almal broers wees.” Soos die Moslems glo die Sikhs in een god en verbied hulle die gebruik van afgode (Psalm 115:4-9; Mattheüs 23:8, 9). Hulle volg die Hindoetradisie van geloof in ’n onsterflike siel, reïnkarnasie en Karma. Die Sikhs se plek van aanbidding word ’n ghoerdwara genoem.—Vergelyk Psalm 103:12, 13; Handelinge 24:15.

Een van ghoeroe Nānak se groot gebooie was: “Onthou God altyd, herhaal Sy naam.” God word die “Ware” genoem, maar geen naam word gegee nie (Psalm 83:16-18, NW). ’n Ander gebod was: “Deel wat jy verdien met die minderbevoorregtes.” In ooreenstemming hiermee is daar ’n langar, of vry kombuis, in elke Sikh-tempel, waar allerhande mense gratis kan eet. Daar is selfs kamers waar reisigers gratis kan oornag.—Jakobus 2:14-17.

Die laaste ghoeroe, Gobind Singh (1666-1708), het ’n broederskap Sikhs gestig wat die Khalsa genoem word. Hulle volg die sogenaamde vyf K’s, naamlik: kesj, ongeknipte hare, wat geestelikheid simboliseer; kangha, ’n kammetjie in die hare, wat orde en dissipline simboliseer; kirpan, ’n swaard, wat op waardigheid, moed en selfopoffering dui; kara, ’n staalarmband, wat eenheid met God simboliseer; kachh, kortbroeke as onderklere, wat kuisheid impliseer en gedra word om morele selfbeheersing te simboliseer.—Sien The Encyclopedia of World Faiths, bladsy 269.

[Prent]

Goue Tempel van die Sikhs, Amritsar, Pandjab, Indië

[Prente]

Die blou tulband dui op ’n verstand so wyd soos die lug, met geen plek vir vooroordeel nie

Die wit tulband beteken ’n heilige persoon wat ’n voorbeeldige lewe lei

Die swart tulband is ’n herinnering aan die Britse vervolging van die Sikhs in 1919

Ander kleure is ’n kwessie van smaak

[Prent]

’n Sikh-priester vertel met seremoniële vertoon die geskiedenis van heilige wapens

[Venster/Prente op bladsy 104]

Djainisme—selfverloëning en geweldloosheid

Hierdie godsdiens, met sy ou Indiese swastikasimbool, is in die sesde eeu v.G.J. gestig deur die ryk Indiese prins Natapoetta Vardhamāna, beter bekend as Vardhamana Mahāvīra (’n titel wat “Groot Man” of “Groot Held” beteken). Hy het ’n lewe van selfverloëning en asketisme gelei. Hy het naak “deur die dorpe en vlaktes van Sentraal-Indië” na kennis gaan soek “in ’n poging om van die siklus van geboorte, die dood en wedergeboorte bevry te word” (Man’s Religions, deur John B. Noss). Hy het geglo dat die redding van die siel alleenlik bereik kon word deur uiterste selfverloëning en selfdissipline en ’n strenge toepassing van ahimsa, geweldloosheid teenoor alle skepsele. Hy het ahimsa tot die uiterste toegepas deur ’n sagte besem te dra waarmee hy enige insekte wat in sy pad was sagkens kon wegvee. Sy respek vir lewe was ook om die suiwerheid en onkreukbaarheid van sy eie siel te beskerm.

Sy hedendaagse volgelinge lei ’n soortgelyke lewe van selfverloëning en respek vir alle ander skepsele in ’n poging om hulle Karma te verbeter. Ons sien weer eens die groot uitwerking wat geloof in die onsterflikheid van die mensesiel op menselewens het.

Daar is vandag minder as viermiljoen van hierdie gelowiges, en die meeste van hulle is in die Bombaai- en Goedjarat-gebied van Indië.

[Prent]

’n Djaina aanbid aan die voete van die 17 meter hoë beeld van die heilige Gomateswara in Karnataka, Indië

[Venster/Prente op bladsy 106, 107]

Eenvoudige gids tot Hindoeterme

ahimsa (Sanskrit, ahinsa)geweldloosheid; om niks seer of dood te maak nie. Grondslag van Hindoevegetarisme en respek vir diere

asjram—’n heiligdom of plek waar ’n ghoeroe (geestelike leidsman) mense onderrig

ātman—gees; hou verband met die onsterflike. Word dikwels verkeerdelik as siel weergegee. Sien jīva

avatar—’n manifestasie of ’n inkarnasie van ’n Hindoegodheid

bhakti—toegewydheid aan ’n godheid wat tot redding lei

bindi—’n rooi kolletjie wat getroude vroue op hul voorkop dra

Brahman—die priesterlike en hoogste vlak van die kastestelsel; ook die Hoogste Werklikheid. Sien bladsy 116

dharma—die fundamentele wet van alle dinge; dít wat bepaal of dade reg of verkeerd is

ghat—’n trap of platform by ’n rivier

ghoeroe—onderrigter of geestelike leidsman

Haridjan—lid van die Onaantasbare-kaste; beteken “mense van God”, deernisvolle naam wat mahatma Gandhi hulle gegee het

japa—aanbidding van God deur die herhaling van een van sy name; ’n mala, of rosekrans met 108 krale, word gebruik om die tel te hou

jīwa (of prān, prāni)—die persoonlike siel of wese

Joga—uit die wortel juj, wat beteken om te verenig of te juk; behels die vereniging van die persoon met die universele goddelike wese. In die wandel bekend as die dissipline van meditasie wat houding en asembeheersing behels. Hindoeïsme erken minstens vier vernaamste Jogas, of weë. Sien bladsy 110

Karma—die beginsel dat elke daad positiewe of negatiewe gevolge sal hê in die volgende lewe van die siel wat verhuis het

Ksjatrija—die beroeps-, heersende en krygsmansklas en die tweede vlak van die kastestelsel

mahant—heilige man of onderrigter

mahatma—Hindoeheilige, ontleen aan maha, hoog of groot, en ātman, gees

maja—die wêreld as ’n illusie

mantra—’n heilige formule wat kwansuis towermag het, tydens inwyding in ’n sekte gebruik word en in gebede en towerspreuke herhaal word

moksja, of moekti—verlossing uit die siklus van wedergeboorte; die einde van die siel se reis. Ook bekend as Nirwana, die vereniging van die persoon met die Opperentiteit, Brahman

Oepanisjade—heilige digterlike geskrifte van Hindoeïsme. Staan ook bekend as Vedanta, die einde van die Vedas

OM, AUM—’n woordsimbool wat Brahman voorstel en vir bepeinsing gebruik word; die klank word as die mistieke vibrasie beskou; word as ’n heilige mantra gebruik

paramatman—die Wêreldgees, die universele ātman, of Brahman

poeja—aanbidding

sadhoe—’n heilige man; ’n askeet of jogi

samsara—verhuising van ’n ewige, onverganklike siel

Sjakti—die vroulike mag of die vrou van ’n god, veral Siwa se metgesellin

Soedra—arbeider, die laagste van die vier vernaamste kastes

sraddha—belangrike ritusse wat uitgevoer word om voorouers te vereer en heengegane siele te help om moksja te bereik

swami—onderrigter of hoër geestelike leidsman

tilak—’n merk op die voorkop wat simboliseer dat die Here in al sy bedrywighede onthou word

Trimoerti—Hindoetriade van Brahma, Wisjnoe en Siwa

Vaisjia—klas handelaars en boere; derde groep in die kastestelsel

Vedas—eerste heilige digterlike geskrifte van Hindoeïsme

[Prente]

Van links: ’n Hindoemahant; ’n sadhoe wat staan en peins; ’n ghoeroe uit Nepal

[Venster op bladsy 110]

Vier weë tot moksja

Die Hindoegeloof bied minstens vier maniere om moksja, of die bevryding van die siel, te bereik. Hulle staan bekend as jogas of margas, weë tot moksja.

1. Karma-joga—“Die weg van handeling, of karma-joga, die dissipline van handeling. Basies beteken karma-marga dat ’n mens jou dharma volgens jou plek in die lewe uitvoer. Sekere pligte, soos ahimsa en onthouding van alkohol en vleis, word van alle mense vereis, maar die spesifieke dharma van elke individu hang af van daardie persoon se kaste en stadium in die lewe.”—Great Asian Religions.

Hierdie Karma word streng binne die beperkings van die kastes uitgevoer. Kastereinheid word gehandhaaf deur nie buite jou kaste, wat deur jou Karma in ’n vorige bestaan bepaal is, te trou of te eet nie. Gevolglik word jou kaste nie as ’n onreg beskou nie, maar as ’n erfenis van ’n vorige inkarnasie. Volgens Hindoefilosofie is mans en vroue nie almal gelyk nie. Hulle word op grond van kaste en van geslag en, in werklikheid, van kleur verdeel. Hoe ligter die vel, hoe hoër is die kaste gewoonlik.

2. Jnana-joga—“Die weg van kennis, of jnana-joga, die dissipline van kennis. In teenstelling met die weg van handeling, karma-marga, met sy voorgeskrewe pligte vir elke geleentheid in die lewe, voorsien jnana-marga ’n filosofiese en sielkundige manier om jouself en die heelal te ken. Jou bestaan, nie jou dade nie, is die sleutel tot jnana-marga. [Ons kursiveer.] Van die grootste belang is dat hierdie weg dit vir die beoefenaars daarvan moontlik maak om moksja in hierdie lewe te bereik” (Great Asian Religions). Dit behels selfwaarnemende joga, onttrekking aan die wêreld en die beoefening van strenge eenvoud. Dit is die uiting van selfbeheersing en selfverloëning.

3. Bhakti-joga—“Vandag die gewildste vorm van die Hindoetradisie. Dit is die weg van toegewydheid, bhakti-marga. In teenstelling met karma-marga . . . is hierdie pad makliker, spontaner en kan dit deur persone van enige kaste, geslag of ouderdom gevolg word. . . . [Dit] laat die vrye uiting van mense-emosies en -begeertes toe sodat die asketisme wat met joga gepaard gaan nie die oorhand daaroor kry nie . . . [Dit] bestaan uitsluitlik uit toegewydheid aan goddelike wesens.” En daar is volgens tradisie 330 miljoen om te vereer. Volgens hierdie tradisie kom kennis op liefde neer. Trouens, bhakti beteken “emosionele gehegtheid aan jou gekose god”.—Great Asian Religions.

4. Raja-joga—’n Metode van “spesiale houdings, asemhalingsmetodes en die ritmiese herhaling van die behoorlike gedagteformules” (Man’s Religions). Dit het agt stappe.

[Venster/Prent op bladsy 113]

Mahatma Gandhi en die kastestelsel

“Geweldloosheid is my eerste geloofsartikel. Dit is ook die laaste artikel van my geloofsbelydenis.”—Mahatma Gandhi, 23 Maart 1922.

Mahatma Gandhi, wat beroemd is vir sy geweldlose leiding om Indië se onafhanklikheid van Brittanje (wat in 1947 toegestaan is) te help verkry, het hom ook beywer om die lot van miljoene mede-Hindoes te verbeter. Soos Indiese professor M. P. Rege verduidelik: “Hy het ahimsa (geweldloosheid) verkondig as die fundamentele morele waarde, wat hy vertolk het as besorgdheid oor die waardigheid en welsyn van elke persoon. Hy het die gesag van die Hind

oeskrifte geloën wanneer die lering daarin strydig met ahimsa was, het onverskrokke gestry vir die wegdoening van onaantasbaarheid en die hiërargiese kastestelsel en het die gelykheid van vroue op alle lewensterreine bevorder.”

Hoe het Gandhi die Onaantasbares se lot beskou? In ’n brief aan Jawaharlal Nehru, met die datum 2 Mei 1933, het hy geskryf: “Die Haridjanbeweging is te groot vir ’n bloot intellektuele poging. Daar is niks slegters in die wêreld nie. En tog kan ek nie godsdiens en derhalwe Hindoeïsme laat vaar nie. My lewe sou vir my ’n las wees as Hindoeïsme my in die steek laat. Ek het die Christelike godsdiens, die Islam en baie ander gelowe deur Hindoeïsme lief. . . . Maar dan kan ek dit nie duld as dit onaantasbaarheid insluit nie.”—The Essential Gandhi.

[Prent]

Mahatma Gandhi (1869-1948), hooggeagte Hindoeleier en verkondiger van ahimsa

[Venster/Prente op bladsy 116, 117]

Hindoeïsme—’n paar gode en godinne

Aditi—moeder van die gode; hemelgodin; die Oneindige

Agni—god van vuur

Boeddha—Gautama, die stigter van Boeddhisme; Hindoes beskou hom as ’n inkarnasie (avatar) van Wisjnoe

Brahma—die Skeppergod, die skeppingsbeginsel in die heelal. Een van die gode van die Trimoerti (triade)

Brahman, of Brahm—die Hoogste, aldeurdringende entiteit van die heelal, voorgestel deur die klank OM of AUM. (Sien simbool hierbo.) Word ook Atman genoem. Party Hindoes beskou Brahman as ’n onpersoonlike Goddelike Beginsel of Hoogste Werklikheid

Doerga—vrou of Sjakti van Siwa en word as Kali geïdentifiseer

Ganesa (Ganesja)—Siwa se olifantkoppige seungod, Heer van Struikelblokke, god van geluk. Word ook Ganapati en Gajanana genoem

Ganga—godin, een van Siwa se vroue en die verpersoonliking van die Gangesrivier

Hanuman—aapgod en getroue volgeling van Rama

Himalaja—woonplek van sneeu, vader van Parwati

Kali—Siwa se swart metgesellin (Sjakti) en bloeddorstige godin van vernietiging. Word dikwels uitgebeeld met ’n groot, rooi tong wat uithang

Krisjna—die speelse agtste inkarnasie van Wisjnoe en die godheid van die Bhagavad Gita. Sy minnaresse was die gopi’s, of melkmeisies

Laksjmi—godin van skoonheid en geluk; Wisjnoe se metgesellin

Manasa—godin van slange

Manoe—voorvader van die mensdom; ’n groot vis het hom deur die vloed se verwoesting bewaar

Mitra—god van lig. Aan die Romeine as Mithras bekend

Nandi—die bul, Siwa se rydier of vervoermiddel

Nataraja—Siwa in danshouding omring van ’n vlammekring

Parwati of Oema—godin-metgesellin van Siwa. Neem ook die vorm van die godin Doerga of Kali aan

Poeroesja—kosmiese man. Die vier vernaamste kastes is uit sy liggaam gemaak

Prajapati—Skepper van die heelal, Heer van Skepsele, vader van gode, demone en alle ander skepsele. Later bekend as Brahma

Radha—metgesellin van Krisjna

Rama, Ramatsjandra—die sewende inkarnasie van die god Wisjnoe. Die epos Ramajana vertel die verhaal van Rama en sy vrou Sita

Saraswati—godin van kennis en metgesellin van Brahma die Skepper

Siwa—god van vrugbaarheid, die dood en vernietiging; ’n lid van die Trimoerti. Gesimboliseer deur die drietandvurk en die fallus

Sjasjti—godin wat vroue en kinders tydens geboorte beskerm

Soma—’n god sowel as ’n dwelmmiddel; die lewenselikser

Wisjnoe—god die beskermer van die lewe; derde lid van die Trimoerti

[Erkenning]

(Gebaseer op ’n lys in Mythology—An Illustrated Encyclopedia)

[Prente]

Van links bo, regsom: Nataraja (dansende Siwa), Saraswati, Krisjna, Doerga (Kali)

[Venster op bladsy 120]

Hindoevloedlegende

“In die oggend het hulle vir Manoe [die mensdom se voorvader en eerste wetgewer] waswater gebring . . . Terwyl hy homself gewas het, het ’n vis [Wisjnoe in sy inkarnasie as Matsja] in sy hande beland.

“Dit het vir hom gesê: ‘Maak my groot, ek sal u red!’ ‘Waarvan sal u my red?’ ‘’n Vloed sal al hierdie skepsele wegvoer: daarvan sal ek u red!’ ‘Hoe moet ek u grootmaak?’”

Die vis het vir Manoe gesê hoe om hom te versorg. “Toe het dit gesê: ‘In dié en dié jaar sal daardie vloed kom. U sal dan na my (na my raad) luister deur ’n skip te bou; en wanneer die vloed begin het, sal u in die skip ingaan, en ek sal u daarvan red.’”

Manoe het die vis se opdragte uitgevoer, en gedurende die vloed het die vis die skip na ’n “noordelike berg [getrek]. Toe het dit gesê: ‘Ek het u gered. Maak die skip aan ’n boom vas; maar moenie toelaat dat die water u afsny terwyl u op die berg is nie. Wanneer die water afneem, mag u geleidelik neerdaal!’”—Satapatha-Brahmana; vergelyk Genesis 6:9–8:22.

[Kaart/Prente op bladsy 123]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die Ganges strek oor 2 400 kilometer van die Himalaja tot Kalkutta en sy delta in Bangladesj

INDIË

Kalkutta

Gangesrivier

[Prente]

Ganga Ma, bo-op Siwa se kop, daal deur sy hare neer

Vroom Hindoes by ’n ghat. Hulle bad by Varanasi, of Benares, in die Ganges

[Prent op bladsy 96]

Ganesa, die olifantkoppige Hindoegod van geluk, seun van Siwa en Parwati

[Prente op bladsy 99]

Lingams (falliese simbole) wat deur Hindoes vereer word. Siwa (god van vrugbaarheid) is in een lingam en het vier koppe om ’n ander

[Prent op bladsy 108]

Djaina-nonne dra die moekha-wastrika, of mondstuk, wat voorkom dat insekte in hul mond beland en doodgaan

[Prent op bladsy 115]

Slangaanbidding, wat hoofsaaklik in Bengale beoefen word. Manasa is die godin van slange

[Prent op bladsy 118]

Wisjnoe, saam met sy vrou Laksjmi, op die kronkels van die slang Ananta met die vierkoppige Brahma op ’n lotusblom wat uit Wisjnoe se naeltjie groei