Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie

Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie

Hoofstuk 9

Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie

1, 2. (a) Wie was party prominente Jode wat ’n invloed op die geskiedenis en kultuur gehad het? (b) Watter vraag sal party mense dalk opper?

MOSES, Jesus, Mahler, Marx, Freud en Einstein—wat het hulle almal met mekaar gemeen? Almal was Jode, en almal het op verskillende maniere ’n invloed op die mensegeskiedenis en -kultuur gehad. Dit is baie duidelik dat Jode al duisende jare lank prominent is. Die Bybel self getuig daarvan.

2 Anders as ander antieke godsdienste en kulture berus Judaïsme op die geskiedenis, nie op die mitologie nie. Maar party mense sal dalk vra: Die Jode is so ’n klein minderheid, omtrent 18 miljoen in ’n wêreld met meer as vyfduisendmiljoen mense; waarom moet ons in hulle godsdiens, Judaïsme, belangstel?

Waarom ons in Judaïsme moet belangstel

3, 4. (a) Waaruit bestaan die Hebreeuse Skrifte? (b) Wat is party redes waarom ons die Joodse godsdiens en die oorsprong daarvan moet ondersoek?

3 Een rede is dat die Joodse godsdiens sowat 4 000 jaar gelede ontstaan het en dat ander vername godsdienste in meerdere of mindere mate dank verskuldig is aan die geskrifte van die Joodse godsdiens. (Sien venster, bladsy 220.) Die Christelike godsdiens, wat deur Jesus (Hebreeus, Je·sjoeʹaʽ), ’n eerste-eeuse Jood, gestig is, is op die Hebreeuse Skrifte gegrond. En as ’n mens die Qur’ān lees, is dit duidelik dat die Islām ook baie aan daardie geskrifte verskuldig is (Qur’ān, sura 2:49-57; 32:23, 24). Wanneer ons die Joodse godsdiens ondersoek, ondersoek ons dus ook die grondslag van honderde ander godsdienste en sektes.

4 ’n Tweede en uiters belangrike rede is dat die Joodse godsdiens ’n noodsaaklike skakel in die mensdom se soeke na die ware God voorsien. Volgens die Hebreeuse Skrifte het Abram, die voorvader van die Jode, die ware God reeds byna 4 000 jaar gelede aanbid. * Ons vra redelikerwys: Hoe het die Jode en hulle geloof ontwikkel?—Genesis 17:18.

Hoe het die Joodse volk ontstaan?

5, 6. Wat is in kort die geskiedenis van die oorsprong van die Jode en hulle naam?

5 Die Joodse volk is oor die algemeen afstammelinge van ’n eertydse, Hebreeussprekende tak van die Semitiese ras (Genesis 10:1, 21-32; 1 Kronieke 1:17-28, 34; 2:1, 2). Nagenoeg 4 000 jaar gelede het hulle voorvader Abram van die florerende wêreldstad Ur van die Chaldeërs in Sumerië na die land Kanaän verhuis, waarvan God gesê het: “Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee” (Genesis 11:31–12:7). Hy word in Genesis 14:13 “Abram, die Hebreër” genoem, hoewel sy naam later tot Abraham verander is (Genesis 17:4-6). Die Jode stel ’n geslagslyn van hom op wat begin met sy seun Isak en sy kleinseun Jakob, wie se naam tot Israel verander is (Genesis 32:27-29). Israel het 12 seuns gehad, wat 12 stamme gestig het. Een van daardie stamme was Juda, en die woord “Jood” is uiteindelik van hierdie naam afgelei.—2 Konings 16:6, JP.

6 Mettertyd is die term “Jood” op alle Israeliete toegepas, nie net op ’n afstammeling van Juda nie (Ester 3:6; 9:20). Omdat die Joodse geslagsregisters in 70 G.J. vernietig is toe die Romeine Jerusalem verwoes het, kan geen hedendaagse Jood met sekerheid vasstel tot watter stam hy behoort nie. Deur die millenniums heen het die eertydse Joodse godsdiens nietemin ontwikkel en verander. Miljoene Jode in die Republiek Israel en die Diaspora (verstrooiing in die wêreld) beoefen vandag Judaïsme. Wat is die grondslag van daardie godsdiens?

Moses, die Wet en ’n nasie

7. Watter eed het God aan Abraham gesweer, en waarom?

7 In 1943 v.G.J. * het God Abram as sy spesiale dienskneg gekies en later ’n dure eed aan hom gesweer omdat hy só getrou was dat hy bereid was om sy seun Isak as ’n offerande te gee, hoewel die offerdood nooit deurgevoer is nie (Genesis 12:1-3; 22:1-14). In daardie eed het God gesê: “Ek sweer by Myself, spreek die HERE [Hebreeus: יהוה, JHWH], omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel . . . En in jou nageslag [“saad”, NW] sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.” Hierdie dure eed is aan Abraham se seun en aan sy kleinseun herhaal en toe in die stam van Juda en die geslagslyn van Dawid voortgesit. Hierdie streng monoteïstiese konsep van ’n persoonlike God wat regstreeks aan mense aandag gee, was uniek in daardie antieke wêreld, en dit het die grondslag van die Joodse godsdiens geword.—Genesis 22:15-18; 26:3-5; 28:13-15; Psalm 89:4, 5, 29, 30, 36, 37.

8. Wie was Moses, en watter rol het hy in Israel gespeel?

8 Ten einde Sy beloftes aan Abraham na te kom, het God die grondslag vir ’n nasie gelê deur ’n spesiale verbond met Abraham se nakomelinge te sluit. Hierdie verbond is ingestel deur Moses, die vername Hebreeuse leier en middelaar tussen God en Israel. Wie was Moses, en waarom beskou die Jode hom as so belangrik? Die Bybel se verslag in Exodus deel ons mee dat hy in Egipte (1593 v.G.J.) gebore is vir Israelitiese ouers wat saam met die res van Israel slawe in ballingskap was. Hy was die een “vir wie die HERE uitgekies het” om Sy volk na vryheid in Kanaän, die Beloofde Land, te lei (Deuteronomium 6:23; 34:10, Ta). Moses het ’n noodsaaklike rol vervul as die middelaar van die Wetsverbond wat God aan Israel gegee het en was ook hulle profeet, regter, leier en geskiedskrywer.—Exodus 2:1–3:22.

9, 10. (a) Wat was die Wet wat Moses oorgedra het? (b) Watter aspekte van die lewe het die Tien Gebooie gedek? (c) Onder watter verpligting het die Wetsverbond Israel geplaas?

9 Die Wet wat Israel aanvaar het, het bestaan uit die Tien Woorde, of Gebooie, en meer as 600 wette wat ’n omvattende lys voorskrifte en riglyne vir daaglikse gedrag uitgemaak het. (Sien venster, bladsy 211.) Dit het die alledaagse en die heilige behels—die fisiese en die morele vereistes sowel as die aanbidding van God.

10 Hierdie Wetsverbond, of godsdiensgrondwet, het gestalte aan die geloof van die patriarge gegee en dit konkreet gemaak. Gevolglik het die afstammelinge van Abraham ’n nasie geword wat toegewy was om God te dien. Die Joodse godsdiens het sodoende ’n bepaalde vorm begin aanneem, en die Jode het ’n nasie geword wat vir die aanbidding van en diens aan hulle God georganiseer was. In Exodus 19:5, 6 het God hulle belowe: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, . . . sal [julle] vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees.” Die Israeliete sou dus ’n ‘uitverkore volk’ word om God se voornemens te bevorder. Maar die vervulling van die verbondsbeloftes was onderhewig aan die voorwaarde: ‘As julle na my stem luister.’ Daardie toegewyde nasie het nou ’n verpligting teenoor hulle God gehad. Daarom kon God later (in die agtste eeu v.G.J.) vir die Jode sê: “Júlle is my getuies, spreek die HERE [Hebreeus: יהוה, JHWH], en my kneg wat Ek uitverkies het.”—Jesaja 43:10, 12.

’n Nasie met priesters, profete en konings

11. Hoe het die priesterdom en die koningskap ontwikkel?

11 Terwyl die nasie Israel nog in die woestyn onderweg na die Beloofde Land was, is ’n priesterdom in die geslagslyn van Moses se broer, Aäron, ingestel. ’n Groot, vervoerbare tent, of tabernakel, het die sentrum van die Israeliete se aanbidding en offerandes geword (Exodus, hoofstukke 26-28). Na verloop van tyd het die nasie Israel in die Beloofde Land, Kanaän, aangekom en dit verower, soos God beveel het (Josua 1:2-6). Uiteindelik is ’n aardse koningskap opgerig, en in 1077 v.G.J. het Dawid, uit die stam van Juda, koning geword. Tydens sy heerskappy is die koningskap sowel as die priesterdom stewig gevestig in ’n nuwe volksentrum, Jerusalem.—1 Samuel 8:7.

12. Watter belofte het God aan Dawid gedoen?

12 Na Dawid se dood het sy seun Salomo ’n pragtige tempel in Jerusalem gebou, wat die tabernakel vervang het. Omdat God ’n verbond met Dawid gesluit het waarvolgens die koningskap vir ewig in sy geslagslyn sou voortduur, is daar verstaan dat ’n gesalfde Koning, die Messias, eendag uit Dawid se geslagslyn sou voortkom. Profesieë het aangedui dat Israel en al die nasies deur middel van hierdie Messiaanse Koning, of “saad”, volmaakte heerskappy sou geniet (Genesis 22:18, NW). Hierdie hoop het wortelgeskiet, en die Messiaanse aard van die Joodse godsdiens het gekristalliseer.—2 Samuel 7:8-16; Psalm 72:1-20; Jesaja 11:1-10; Sagaria 9:9, 10.

13. Wie is deur God gebruik om Israel vir hulle afvalligheid te straf? Gee ’n voorbeeld.

13 Maar die Jode het toegelaat dat die valse godsdiens van die Kanaäniete en ander naburige nasies hulle beïnvloed. Gevolglik het hulle hul verbondsverhouding met God verbreek. Om hulle tereg te wys en terug te lei, het Jehovah ’n reeks profete gestuur wat sy boodskappe aan die volk gebring het. Profesieë het dus nog ’n unieke aspek van die godsdiens van die Jode geword en maak ’n groot deel van die Hebreeuse Skrifte uit. Trouens, 18 boeke van die Hebreeuse Skrifte dra profete se name.—Jesaja 1:4-17.

14. Hoe het gebeure die profete in Israel geregverdig?

14 Vername profete onder hulle was Jesaja, Jeremia en Esegiël, wat almal gewaarsku het dat Jehovah die nasie binnekort weens hul afgodediens sou straf. Hierdie straf is in 607 v.G.J. voltrek toe Jehovah, weens Israel se afvalligheid, toegelaat het dat Babilon, die destyds heersende wêreldmoondheid, Jerusalem en sy tempel vernietig en die nasie in ballingskap wegvoer. Die profete se voorspellings het uitgekom, en Israel se 70 jaar lange ballingskap, gedurende die grootste deel van die sesde eeu v.G.J., word deur die geskiedverslag bevestig.—2 Kronieke 36:20, 21; Jeremia 25:11, 12; Daniël 9:2.

15. (a) Hoe het ’n nuwe vorm van aanbidding onder die Jode wortelgeskiet? (b) Watter uitwerking het die sinagoges op die aanbidding in Jerusalem gehad?

15 In 539 v.G.J. het Kores die Pers Babilon verslaan en die Jode toegelaat om hulle weer in hul land te vestig en die tempel in Jerusalem te herbou. Hoewel ’n oorblyfsel gunstig gereageer het, het die meeste Jode onder die invloed van die Babiloniese gemeenskap gebly. Jode is later deur die Persiese kultuur beïnvloed. Gevolglik het Joodse nedersettings in die Midde-Ooste en om die Middellandse See verskyn. In elke gemeenskap het ’n nuwe vorm van aanbidding ontstaan waarin die sinagoge, ’n vergaderplek vir die Jode in elke dorp, ’n rol gespeel het. Hierdie reëling het natuurlik minder klem op die herboude tempel in Jerusalem laat val. Die wydverspreide Jode was nou waarlik ’n Diaspora.—Esra 2:64, 65.

Judaïsme kom te voorskyn met ’n Griekse mantel

16, 17. (a) Watter nuwe invloed het in die vierde eeu v.G.J. deur die Mediterreense wêreld getrek? (b) Wie het gehelp om die Griekse kultuur te versprei, en hoe? (c) Hoe het Judaïsme dus op die wêreldtoneel verskyn?

16 Teen die vierde eeu v.G.J. was die Joodse gemeenskap baie onstabiel en het dit gevolglik die slagoffer geword van die golwe van ’n nie-Joodse kultuur wat die Mediterreense wêreld en selfs verder geleë gebiede verswelg het. Die waters het uit Griekeland gestroom, en Judaïsme het met ’n Hellenistiese mantel daaruit te voorskyn gekom.

17 In 332 v.G.J. het die Griekse generaal Alexander die Grote die Midde-Ooste in ’n blitsoorwinning verower en is hy deur die Jode verwelkom toe hy na Jerusalem gekom het. * Alexander se opvolgers het sy plan van hellenisering verder gevoer en alle dele van die ryk met die Griekse taal, kultuur en filosofie gevul. Gevolglik het die Griekse en die Joodse kultuur met mekaar vermeng geraak, wat verbasende resultate sou lewer.

18. (a) Waarom was die Griekse Septuagint-vertaling van die Hebreeuse Skrifte nodig? (b) Watter aspek van die Griekse kultuur het die Jode in die besonder beïnvloed?

18 Jode van die Diaspora het Grieks pleks van Hebreeus begin praat. Gevolglik is daar omstreeks die begin van die derde eeu v.G.J. begin met die eerste vertaling van die Hebreeuse Skrifte in Grieks. Dit is die Septuagint genoem en daardeur het talle heidene die Jode se godsdiens begin respekteer en daarmee vertroud geraak, en party het selfs bekeerlinge geword. * Jode het daarenteen vertroud geraak met Griekse denke, en party het selfs filosowe geword, iets heeltemal nuuts vir die Jode. Een voorbeeld is Philo van Alexandrië van die eerste eeu G.J., wat probeer het om Judaïsme aan die hand van Griekse filosofie te verduidelik, asof die twee dieselfde fundamentele waarhede weergegee het.

19. Hoe beskryf een Joodse skrywer die tydperk toe die Griekse en die Joodse kultuur saamgesmelt het?

19 Die Joodse skrywer Max Dimont som hierdie tydperk van uitruiling tussen die Griekse en die Joodse kultuur soos volg op: “Verryk deur Platoniese denke, Aristoteliese logika en die Euklidiese wetenskap het Joodse geleerdes die Tora met nuwe gereedskap genader. . . . Hulle het begin om Griekse rede by Joodse openbaring te voeg.” Die latere gebeure onder Romeinse heerskappy, wat die Griekse Ryk en daarna Jerusalem in die jaar 63 v.G.J. geabsorbeer het, sou die weg baan vir selfs belangriker veranderings.

Judaïsme onder Romeinse heerskappy

20. Watter godsdienssituasie het in die eerste eeu G.J. onder die Jode geheers?

20 Die Judaïsme van die eerste eeu van die Gewone Jaartelling het ’n unieke stadium bereik. Max Dimont sê dat dit tussen “die denke van Griekeland en die swaard van Rome” vasgevang was. Die Jode het weens politieke onderdrukking en vertolkings van Messiaanse profesieë, veral dié van Daniël, hoë verwagtings gekoester. Hulle was in faksies verdeel. Die Fariseërs het ’n mondelinge wet (sien venster, bladsy 221) eerder as tempelofferandes beklemtoon. Die Sadduseërs het klem gelê op die belangrikheid van die tempel en die priesterdom. Dan was daar die Essene, die Selote en die Herodiane. Almal was op godsdienstige en filosofiese gebied haaks met mekaar. Joodse leiers is rabbi’s (meesters, leraars) genoem en het vanweë hulle kennis van die Wet meer aansien verkry en ’n nuwe soort geestelike leier geword.

21. Watter gebeure het die Jode van die eerste twee eeue G.J. grootliks geraak?

21 Maar interne en eksterne verdeeldheid het steeds in Judaïsme voorgekom, veral in die land Israel. Uiteindelik het openlike opstand teen Rome uitgebreek, en in 70 G.J. het Romeinse troepe Jerusalem beleër, die stad verwoes, sy tempel tot die grond afgebrand en sy inwoners verstrooi. Eindelik is die Jode verbied om in Jerusalem in te kom. Judaïsme het ’n nuwe godsdiensuiting nodig gehad om te bly bestaan aangesien dit nie meer ’n tempel en ’n land gehad het nie en die volk deur die hele Romeinse Ryk verstrooi was.

22. (a) Watter uitwerking het die verlies van die tempel in Jerusalem op Judaïsme gehad? (b) Hoe verdeel die Jode die Bybel? (c) Wat is die Talmoed, en hoe het dit ontwikkel?

22 Toe die tempel vernietig is, het die Sadduseërs verdwyn, en die mondelinge wet wat die Fariseërs voorgestaan het, het die middelpunt van ’n nuwe, Rabbynse Judaïsme geword. Intenser studie, gebed en vroom werke het tempelofferandes en pelgrimsreise vervang. Judaïsme kon dus oral, op enige tyd en in enige kultuurmilieu beoefen word. Die rabbi’s het hierdie mondelinge wet op skrif gestel, kommentare daaroor opgestel en toe kommentare oor die kommentare geskryf, wat alles saam as die Talmoed bekend geword het.—Sien venster, bladsy 220-1.

23. Watter klemverskuiwing het onder die invloed van Griekse denke plaasgevind?

23 Wat was die gevolg van hierdie verskillende invloede? Max Dimont sê in sy boek Jews, God and History dat hoewel die Fariseërs die fakkel van Joodse ideologie en godsdiens verder gedra het “die fakkel self deur die Griekse filosowe aan die brand gesteek is”. Hoewel ’n groot deel van die Talmoed baie wetties was, het die illustrasies en verduidelikings daarin die duidelike invloed van die Griekse filosofie weerspieël. Griekse godsdienskonsepte, soos die onsterflike siel, is byvoorbeeld in Joodse bewoording uitgedruk. In werklikheid het die Jode in daardie nuwe rabbynse era die Talmoed—teen dié tyd ’n vermenging van wettiese en Griekse filosofie—al hoe meer vereer totdat hulle teen die Middeleeue die Talmoed op ’n hoër vlak as die Bybel geplaas het.

Judaïsme in die Middeleeue

24. (a) Watter twee vername gemeenskappe het gedurende die Middeleeue onder die Jode te voorskyn gekom? (b) Hoe het hulle Judaïsme beïnvloed?

24 Gedurende die Middeleeue (van omstreeks 500 tot 1500 G.J.) het twee afsonderlike Joodse gemeenskappe te voorskyn gekom—die Sefardiese Jode, wat onder Moslemheerskappy in Spanje gefloreer het, en die Asjkenasiese-Jode in Sentraal- en Oos-Europa. Albei gemeenskappe het rabbynse geleerdes opgelewer wie se geskrifte en denke tot vandag toe die grondslag van Joodse godsdiensvertolking uitmaak. Interessant genoeg het baie van die gewoontes en godsdiensgebruike wat vandag in Judaïsme voorkom in werklikheid gedurende die Middeleeue ontstaan.—Sien venster, bladsy 231.

25. Hoe het die Katolieke Kerk uiteindelik op die Jode in Europa gereageer?

25 In die 12de eeu is daar begin om Jode uit verskeie lande te verdryf. Soos die Israeliese skrywer Abba Eban in My People—The Story of the Jews verduidelik: “In elke land . . . wat onder die eensydige invloed van die Katolieke Kerk gestaan het, is die verhaal dieselfde: verskriklike vernedering, marteling, slagting en verdrywing.” Ten slotte, in 1492, het Spanje, wat weer eens onder Katolieke heerskappy gekom het, dieselfde gedoen en alle Jode uit sy gebied verban. Teen die einde van die 15de eeu was die Jode dus uit feitlik die hele Wes-Europa verdryf en het hulle na Oos-Europa en lande om die Middellandse See gevlug.

26. (a) Wat het ontnugtering onder die Jode veroorsaak? (b) Watter groot skeurings het tussen die Jode ontstaan?

26 Gedurende die eeue van onderdrukking en vervolging het baie selfbenoemde Messiasse onder die Jode in verskeie dele van die wêreld verrys en hulle is almal in mindere of meerdere mate aanvaar, maar dit het tot ontnugtering gelei. Teen die 17de eeu was nuwe inisiatiewe nodig om die Jode weer te versterk en hulle uit hierdie donker tydperk te red. In die middel-agttiende eeu het ’n oplossing vir die Joodse volk se wanhoop verskyn. Dit was Chassidisme (sien venster, bladsy 226), ’n mengsel van mistisisme en godsdiensekstase wat in daaglikse toegewydheid en bedrywighede uitgedruk word. In teenstelling hiermee het filosoof Moses Mendelssohn, ’n Duitse Jood, ongeveer dieselfde tyd ’n ander oplossing gebied, die weg van Haskala, of verligting, en dit sou lei tot wat geskiedkundig as “Moderne Judaïsme” beskou word.

Van “verligting” tot Sionisme

27. (a) Hoe het Moses Mendelssohn Joodse gesindhede beïnvloed? (b) Waarom het baie Jode die hoop op ’n persoonlike Messias verwerp?

27 Volgens Moses Mendelssohn (1729-86) sou Jode aanvaar word as hulle die beperkinge van die Talmoed afskud en hulle by die Westerse kultuur aanpas. In sy dag het hy een van die Jode geword wat die meeste deur die nie-Joodse wêreld gerespekteer is. Maar hernieude uitbarstings van gewelddadige anti-Semitisme in die 19de eeu, veral in “Christelike” Rusland, het die beweging se volgelinge ontnugter, en baie het hulle daarop toegespits om ’n politieke toevlug vir die Jode te vind. Hulle het die gedagte van ’n persoonlike Messias wat die Jode na Israel sou teruglei, verwerp en hulle daarop begin toelê om ’n Joodse Staat op ander maniere op te rig. Dit het toe die konsep Sionisme geword: “die verwêreldliking van . . . Joodse messianisme”, soos een gesaghebbende dit stel.

28. Watter gebeure in die 20ste eeu het Joodse gesindhede beïnvloed?

28 Die vermoording van sowat sesmiljoen Europese Jode in die Nazi-geïnspireerde Slagting (1935-45) het Sionisme sy finale stukrag gegee en wêreldwyd baie simpatie daarvoor verkry. Die Sionistiese droom is in 1948 bewaarheid toe die staat Israel opgerig is, wat ons bring by Judaïsme in ons dag en by die vraag: Wat glo hedendaagse Jode?

God is een

29. (a) Gee ’n eenvoudige beskrywing van moderne Judaïsme. (b) Hoe word Joodse identiteit uitgedruk? (c) Wat is party Joodse feeste en gebruike?

29 Judaïsme is, eenvoudig gestel, die godsdiens van ’n volk. ’n Bekeerling word derhalwe ’n lid van die Joodse volk sowel as die Joodse godsdiens. Dit is ’n monoteïstiese godsdiens in die engste sin en beweer dat God in die mensegeskiedenis ingryp, veral met betrekking tot die Jode. Joodse aanbidding behels etlike jaarlikse feeste en verskeie gebruike. (Sien venster, bladsye 230-1.) Hoewel daar geen geloofsbelydenisse of dogmas is wat deur alle Jode aanvaar word nie, is die belydenis van die eenheid van God soos verwoord in die Sjema, ’n gebed gebaseer op Deuteronomium 6:4 (JP), ’n sentrale deel van sinagoge-aanbidding: “HOOR, O ISRAEL: DIE HERE ONSE GOD, DIE HERE IS EEN.

30. (a) Wat is die Joodse begrip van God? (b) Hoe bots die Joodse beskouing van God met dié van die Christendom?

30 Hierdie geloof in een God is aan die Christelike godsdiens en die Islām oorgedra. Dr. J. H. Hertz, ’n rabbi, sê: “Hierdie verhewe verklaring van absolute monoteïsme was ’n oorlogsverklaring teen alle politeïsme . . . Op dieselfde manier skakel die Sjema die drie-eenheid van die Christelike geloofsbelydenis uit as ’n skending van die Eenheid van God.” * Maar kom ons ondersoek nou die Joodse opvatting oor die lewe hiernamaals.

Die dood, die siel en die opstanding

31. (a) Hoe het die leerstelling oor die onsterflike siel ’n Joodse lering geword? (b) Watter dilemma is deur die leerstelling oor die onsterflikheid van die siel veroorsaak?

31 Een van die fundamentele opvattings van hedendaagse Judaïsme is dat die mens ’n onsterflike siel het wat ná die dood van sy liggaam voortleef. Maar het hierdie opvatting sy oorsprong in die Bybel? Die Encyclopaedia Judaica erken eerlik: “Dit was waarskynlik onder Griekse invloed dat die leerstelling oor die onsterflikheid van die siel in Judaïsme ingekom het.” Maar dit het ’n leerstellige dilemma geskep, soos dieselfde bron sê: “Basies is die twee opvattings, dié oor die opstanding en die siel se onsterflikheid, teenstrydig. Die een praat van ’n gemeenskaplike opstanding aan die einde van die dae, d.w.s., dat die dode wat in die aarde slaap uit die graf sal verrys, terwyl die ander praat van die toestand van die siel na die dood van die liggaam.” Hoe is die dilemma in die Joodse teologie opgelos? “Daar is aangevoer dat wanneer die persoon gesterf het sy siel op ’n ander plek voortgeleef het (dit het gelei tot al die opvattings aangaande die hemel en die hel) terwyl sy liggaam in die graf gelê het om te wag vir die fisiese opstanding van al die dode hier op aarde.”

32. Wat sê die Bybel oor die dode?

32 Universiteitsdosent Arthur Hertzberg skryf: “In die [Hebreeuse] Bybel self is hierdie wêreld die gebied van die mens se lewe. Daar is geen leerstelling oor die hemel en die hel nie, net ’n groeiende konsep van ’n uiteindelike opstanding van die dode aan die einde van die dae.” Dit is ’n eenvoudige en akkurate verduideliking van die Bybelse konsep, naamlik, dat “die dode niks weet nie . . . Want daar is geen werk, geen oorleg, geen kennis, geen wysheid in Sjeool [die mensdom se gemeenskaplike graf] waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:5, 10, Ta; Daniël 12:1, 2; Jesaja 26:19.

33. Hoe het die Jode die leerstelling oor die opstanding oorspronklik beskou?

33 Die Encyclopaedia Judaica sê: “In die rabbynse tydperk word die leerstelling oor die opstanding van die dode as een van die sentrale leerstellings van Judaïsme beskou” en “moet [dit] onderskei word van die opvatting oor . . . die onsterflikheid van die siel.” * Maar hoewel die onsterflikheid van die siel vandag deur alle faksies van Judaïsme aanvaar word, is dit nie met die opstanding van die dode die geval nie.

34. Hoe beskryf die Talmoed, in teenstelling met die Bybel se beskouing, die siel? Wat sê latere skrywers?

34 In teenstelling met die Bybel is die Talmoed, wat deur Hellenisme beïnvloed is, vol verklarings van en verhale oor en selfs beskrywings van die onsterflike siel. Latere Joodse mistiese literatuur, die Kabbala, verkondig selfs reïnkarnasie (verhuising van siele), wat in wese ’n antieke Hindoelering is. (Sien Hoofstuk 5.) In hedendaagse Israel word dit alom as ’n Joodse opvatting aanvaar, en dit speel ook ’n belangrike rol in Chassidiese opvattings en literatuur. Byvoorbeeld, Martin Buber meld in sy boek Tales of the Hasidim—The Later Masters ’n verhaal oor die siel wat uit die denkrigting van Elimelekh, ’n rabbi van Lizhensk, afkomstig is: “Op die Versoendag, wanneer rabbi Abraham Jehosjoea die Avodah opgesê het, die gebed wat ’n herhaling is van die hoëpriester se diens in die Tempel van Jerusalem, en hy by die gedeelte gekom het: ‘En so het hy gesê’, het hy nooit daardie woorde gebruik nie, maar het hy gesê: ‘En so het ek gesê.’ Dit is omdat hy nie die tyd vergeet het toe sy siel in die liggaam van ’n hoëpriester van Jerusalem was nie.”

35. (a) Watter standpunt het Hervormde Judaïsme ten opsigte van die leerstelling oor die onsterflike siel ingeneem? (b) Wat is die Bybel se duidelike lering oor die siel?

35 Hervormde Judaïsme het selfs geloof in die opstanding verwerp. Dit het die woord uit Hervormde gebedeboeke verwyder en erken slegs die geloof in die onsterflike siel. Hoeveel duideliker is die Bybelse gedagte in Genesis 2:7 tog nie: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” Die kombinasie van die liggaam en die gees, of lewenskrag, maak “’n lewende siel” uit * (Genesis 2:7; 7:22; Psalm 146:4). Omgekeerd sterf die siel wanneer die menslike sondaar sterf (Esegiël 18:4, 20). By die dood het die mens dus nie meer ’n bewuste bestaan nie. Sy lewenskrag keer terug na God wat dit gegee het (Prediker 3:19; 9:5, 10; 12:7). Die waarlik Bybelse hoop vir die dode is die opstanding—Hebreeus: techi·jatʹ ham·me·timʹ, of “herlewing van die dode”.

36, 37. Wat het getroue Hebreërs van Bybeltye aangaande die toekomstige lewe geglo?

36 Hoewel hierdie gevolgtrekking selfs baie Jode sal verbaas, is die opstanding al duisende jare lank die werklike hoop van aanbidders van die ware God. Ongeveer 3 500 jaar gelede het getroue, lydende Job gepraat van ’n toekomstige tyd wanneer God hom uit Sjeool, of die graf, sou opwek (Job 14:14, 15, vgl. NW). Die profeet Daniël is ook verseker dat hy “aan die einde van die dae” opgewek sou word.—Daniël 12:2, 13.

37 Daar is geen skriftuurlike grondslag om te sê dat daardie getroue Hebreërs geglo het dat hulle ’n onsterflike siel het wat in ’n hiernamaals sou voortleef nie. Dit is duidelik dat hulle genoeg rede gehad het om te glo dat die Soewereine Heer, wat die sterre van die heelal tel en beheer, hulle ook tydens die opstanding sal onthou. Hulle was getrou aan hom en sy naam. Hy sou aan hulle getrou wees.—Psalm 18:26; 147:4; Jesaja 25:7, 8; 40:25, 26.

Judaïsme en God se naam

38. (a) Wat het deur die eeue heen met betrekking tot die gebruik van God se naam gebeur? (b) Wat is die grondslag van God se naam?

38 Judaïsme leer dat hoewel God se naam in geskrewe vorm bestaan, dit te heilig is om uitgespreek te word. * Die resultaat was dat die korrekte uitspraak oor die afgelope 2 000 jaar verlore gegaan het. Maar dit was nie altyd die Joodse standpunt nie. Ongeveer 3 500 jaar gelede het God met Moses gepraat en gesê: “Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE [Hebreeus: יהוה, JHWH], die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag” (Exodus 3:15; Psalm 135:13). Wat was daardie naam en gedenknaam? Die voetnoot in die Tanakh sê: “Die naam JHWH (wat volgens tradisie Adonai “die HERE” gelees word) word hier verbind met die wortel hajah ‘om te wees’”. Hier het ons dus die heilige naam van God, die Tetragrammaton, die vier Hebreeuse medeklinkers JHWH (Jahweh) wat in hul Latynse vorm in Afrikaans as JEHOVAH bekend geword het.

39. (a) Waarom is die goddelike naam belangrik? (b) Waarom het Jode opgehou om die goddelike naam uit te spreek?

39 Die Jode het God se persoonlike naam deur die geskiedenis heen as baie belangrik beskou, hoewel die gebruik daarvan baie minder as vroeër beklemtoon word. Soos dr. A. Cohen in Everyman’s Talmud sê: “‘Die onderskeidende Naam’ (Sjem Hameforasj) van die Godheid wat Hy aan die volk Israel geopenbaar het, nl. die tetragrammaton, JHVH, is besonder hooggeag.” Die goddelike naam is hooggeag omdat dit die persoon van God verteenwoordig en gekenmerk het. Dit was immers God self wat sy naam aangekondig het en sy aanbidders beveel het om dit te gebruik. Dit word beklemtoon deur die feit dat die naam 6 828 keer in die Hebreeuse Bybel voorkom. Vroom Jode meen egter dat dit gebrek aan eerbied toon om God se persoonlike naam uit te spreek. *

40. Wat het party Joodse gesaghebbendes oor die gebruik van die goddelike naam gesê?

40 Aangaande die eertydse rabbynse (nie-Bybelse) opdrag om nie die naam uit te spreek nie, het A. Marmorstein, ’n rabbi, in sy boek The Old Rabbinic Doctrine of God geskryf: “Daar was ’n tyd toe hierdie verbod [op die gebruik van die goddelike naam] heeltemal onbekend onder die Jode was . . . Nòg in Egipte nòg in Babilonië het die Jode ’n wet geken of onderhou wat die gebruik van God se naam, die Tetragrammaton, in gewone gesprekke of begroetinge verbied het. Maar so ’n verbod het wel van die derde eeu v.G.J. tot die derde eeu G.J. bestaan en is in sekere mate onderhou.” Die gebruik van die naam is vroeër nie net toegelaat nie, maar soos dr. Cohen sê: “Daar was ’n tyd toe die vrye en openlike gebruik van die Naam, selfs deur die leek, voorgestaan is . . . Die mening is uitgespreek dat dié aanbeveling gebaseer was op die begeerte om die Israeliet van die [nie-Jood] te onderskei.”

41. Watter invloede het volgens een rabbi veroorsaak dat die gebruik van God se naam verbied is?

41 Waarom is die gebruik van die goddelike naam dan verbied? Dr. Marmorstein antwoord: “Hellenistiese [Griekse] teenstand teen die godsdiens van die Jode en die afvalligheid van die priesters en edelmanne het meegebring dat die reël om nie die Tetragrammaton in die Heiligdom [tempel in Jerusalem] uit te spreek nie, ingevoer en bevestig is.” In hulle oordrewe ywer om nie die goddelike naam ydellik te gebruik nie, het hulle die gebruik daarvan in spraak heeltemal onderdruk en die identifikasie van die ware God ondermyn en verswak. Weens die gesamentlike druk van godsdiensteenstand en afvalligheid het die goddelike naam onder die Jode in onbruik geraak.

42. Wat toon die Bybelverslag oor die gebruik van die goddelike naam?

42 Maar soos dr. Cohen sê: “In die Bybelse tydperk was daar blykbaar geen beswaar teen die gebruik [van die goddelike naam] in daaglikse gesprekke nie.” Die patriarg Abraham het “die Naam van die HERE aangeroep” (Genesis 12:8). Die meeste van die skrywers van die Hebreeuse Bybel het tot en met die opskrifstelling van Maleagi in die vyfde eeu v.G.J. die naam vryelik maar eerbiedig gebruik.—Rut 1:8, 9, 17.

43. (a) Wat is baie duidelik aangaande die Jode se gebruik van die goddelike naam? (b) Wat was een indirekte gevolg van die Jode se versuim om die goddelike naam te gebruik?

43 Dit is baie duidelik dat die eertydse Hebreërs die goddelike naam wel gebruik en uitgespreek het. Marmorstein erken aangaande die verandering wat later plaasgevind het: “In hierdie tyd, in die eerste helfte van die derde eeu [v.G.J.], kan ’n groot verandering in die gebruik van die naam van God opgemerk word, wat talle veranderinge in die Joodse teologiese en filosofiese leer meegebring het waarvan die invloed vandag nog ondervind word.” Een van die gevolge van die verlies van die naam is dat die konsep van ’n naamlose God ’n teologiese vakuum help skep het waarin die Christendom se Drie-eenheidsleer makliker ontwikkel is. *Exodus 15:1-3.

44. Wat het die onderdrukking van God se naam nog meegebring?

44 Die weiering om die goddelike naam te gebruik, verlaag die aanbidding van die ware God. Soos een kommentator gesê het: “Wanneer daar van God gepraat word as ‘die Here’ is die uitdrukking, hoewel akkuraat, ongelukkig ’n koue en kleurlose uitdrukking . . . ’n Mens moet onthou dat wanneer jy JHWH of Adonai as ‘die Here’ vertaal jy ’n toon van abstraktheid, formaliteit en verwyderdheid in baie gedeeltes van die Ou Testament invoer wat heeltemal vreemd is aan die oorspronklike teks” (The Knowledge of God in Ancient Israel). Hoe jammer is dit tog om te sien dat die verhewe en betekenisvolle naam Jahweh, of Jehovah, in baie Bybelvertalings ontbreek, hoewel dit duisende kere duidelik in die oorspronklike Hebreeuse teks verskyn!—Jesaja 43:10-12.

Verwag die Jode nog die Messias?

45. Watter Bybelse grondslag is daar om in ’n Messias te glo?

45 Daar is baie profesieë in die Hebreeuse Skrifte waaruit Jode meer as 2 000 jaar gelede hulle Messiaanse hoop geput het. Tweede Samuel 7:11-16 het getoon dat die Messias uit Dawid se geslagslyn sou kom. Jesaja 11:1-10 het voorspel dat hy geregtigheid en vrede vir die hele mensdom sou bewerkstellig. Daniël 9:24-27 het die chronologie vir die Messias se verskyning en dood voorsien.

46, 47. (a) Watter soort Messias is deur Jode wat onder Romeinse oorheersing gelewe het, verwag? (b) Watter verandering het plaasgevind ten opsigte van Joodse verwagtinge oor die Messias?

46 Soos die Encyclopaedia Judaica verduidelik, het Messiaanse verwagtinge teen die eerste eeu hoog geloop. Die Messias sou na verwagting “’n charismatiese afstammeling van Dawid wees, en die Jode van die Romeinse tydperk het geglo dat hy deur God verwek sou word om die juk van die heidene te verbreek en oor ’n herstelde koninkryk van Israel te heers”. Maar die militante Messias wat die Jode verwag het, het nie verskyn nie.

47 Soos The New Encyclopædia Britannica sê, was die Messiaanse hoop nietemin noodsaaklik om die Joodse volk deur hulle baie beproewinge heen bymekaar te hou: “Judaïsme het sy oorlewing ongetwyfeld in groot mate te danke aan sy vaste geloof in die messiaanse belofte en toekoms.” Maar toe moderne Judaïsme tussen die 18de en 19de eeu ontstaan het, het baie Jode nie meer passief vir die Messias gewag nie. Uiteindelik, ten tyde van die Nazi-geïnspireerde Slagting, het baie Jode moed en hoop verloor. Hulle het die Messiaanse boodskap as ’n las begin beskou en het dit gevolglik bloot as ’n nuwe tyd van voorspoed en vrede vertolk. Van toe af kan daar nouliks gesê word dat die Jode oor die algemeen vir ’n persoonlike Messias wag, hoewel daar uitsonderings is.

48. Watter vrae kan redelikerwys oor Judaïsme geopper word?

48 Hierdie verandering tot ’n nie-Messiaanse godsdiens laat ernstige vrae ontstaan. Was Judaïsme duisende jare lank verkeerd toe hulle geglo het dat die Messias ’n individu sal wees? Watter vorm van Judaïsme sal ’n mens help in die soeke na God? Is dit antieke Judaïsme met die versiersels van Griekse filosofie? Of is dit een van die nie-Messiaanse vorms van Judaïsme wat gedurende die afgelope 200 jaar ontwikkel het? Of is daar ’n ander weg wat die Messiaanse hoop getrou en akkuraat bewaar?

49. Watter uitnodiging word aan opregte Jode gerig?

49 Met die oog op hierdie vrae stel ons voor dat opregte Jode die onderwerp van die Messias weer navors deur ondersoek in te stel na die bewerings oor Jesus van Nasaret, nie soos die Christendom hom voorstel nie, maar soos die Joodse skrywers van die Griekse Skrifte hom uitbeeld. Daar is ’n groot verskil. Die godsdienste van die Christendom het met hulle nie-Bybelse leerstelling oor die Drie-eenheid daartoe bygedra dat Jode Jesus verwerp, want dié leerstelling is uiteraard onaanvaarbaar vir enige Jood wat die suiwer leerstelling op prys stel, naamlik: “DIE HERE ONSE GOD, DIE HERE IS EEN” (Deuteronomium 6:4, JP). Ons nooi jou dus om die volgende hoofstuk met ’n oop gemoed te lees sodat jy die Jesus van die Griekse Skrifte kan leer ken.

[Voetnote]

^ par. 4 Vergelyk Genesis 5:22-24, NW-naslaanuitgawe, tweede voetnoot by vers 22.

^ par. 7 Die chronologie wat hier gebruik word, is op die Bybelteks as gesag gebaseer. (Sien die boek “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig”, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of N.Y., Inc., uitgegee word, Studie 3, “Die plasing van gebeurtenisse in die tydstroom”.)

^ par. 17 Die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Josef ben Mattitjahoe (Flavius Josephus) vertel dat die Jode die poorte vir Alexander oopgemaak het toe hy in Jerusalem aangekom het en hom die profesie in die boek Daniël gewys het wat meer as 200 jaar vantevore geskryf is en Alexander se oorwinnings as “die koning van Griekeland” duidelik beskryf het.—Jewish Antiquities, Deel XI, Hoofstuk VIII 5; Daniël 8:5-8, 21.

^ par. 18 Gedurende die tydperk van die Makkabeërs (Hasmoneërs, van 165 tot 63 v.G.J.) het Joodse leiers soos Johannes Hyrkanus selfs deur verowering grootskaalse bekering tot Judaïsme aan ander opgedwing. Dit is interessant dat 10 persent van die Mediterreense wêreld aan die begin van die Gewone Jaartelling Joods was. Hierdie syfer is ’n duidelike bewys van die trefkrag van Joodse proselitisme.

^ par. 30 The New Encyclopædia Britannica sê: “Die trinitariese geloofsbelydenis van die Christelike godsdiens . . . skei dit van die twee ander klassieke monoteïstiese godsdienste [Judaïsme en die Islām].” Die Drie-eenheid is deur die kerk ontwikkel hoewel “die Bybel van Christene geen verklarings oor God bevat wat spesifiek trinitaries is nie”.

^ par. 33 Benewens Bybelse gesag is dit as ’n geloofsartikel in die Misjna (Sanhedrin 10:1) verkondig en is dit as die laaste van Maimonides se 13 geloofsbeginsels ingesluit. Tot en met die 20ste eeu is loëning van die opstanding as kettery beskou.

^ par. 35 “Die Bybel sê nie dat ons ’n siel het nie. ‘Nefesj’ is die persoon self, sy behoefte aan voedsel, die bloed in sy are, sy wese.”—Dr. H. M. Orlinsky van Hebrew Union College.

^ par. 38 Sien Exodus 6:3 waar die Hebreeuse Tetragrammaton in die Tanakh-vertaling van die Bybel in die Engelse teks voorkom.

^ par. 39 Die Encyclopaedia Judaica sê: “Die versuim om die naam JHWH uit te spreek is . . . te wyte aan die feit dat daar verkeerdelik gemeen word dat die Derde Gebod (Ex. 20:7, Ta; Deut. 5:11, Ta) beteken: ‘Jy mag die naam van JHWH jou God nie ydellik gebruik nie’, terwyl dit in werklikheid beteken: ‘Jy mag nie vals sweer by die naam van JHWH jou God nie.’”

^ par. 43 George Howard, ’n adjunk-professor in godsdiens en Hebreeus aan die Universiteit van Georgia, sê: “Na verloop van tyd is hierdie twee figure [God en Christus] in ’n selfs hegter eenheid saamgesnoer totdat dit dikwels onmoontlik was om tussen hulle te onderskei. Dit is dus moontlik dat die verwydering van die Tetragrammaton aansienlik bygedra het tot die latere Christologiese en Trinitariese debatte waardeur die kerk van die vroeë eeue geteister is. Hoe dit ook al sy, die verwydering van die Tetragrammaton het waarskynlik ’n ander teologiese klimaat geskep as dié wat gedurende die Nieu-Testamentiese tydperk van die eerste eeu bestaan het.”—Biblical Archaeology Review, Maart 1978.

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 217]

Sefardiese en Asjkenasiese-Jode het twee gemeenskappe uitgemaak

[Venster/Prent op bladsy 211]

Tien Gebooie vir aanbidding en gedrag

Miljoene mense het al van die Tien Gebooie gehoor, maar min het hulle al ooit gelees. Ons haal dus die grootste deel van die teks hieronder aan.

“Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

“Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie . . . [Op hierdie vroeë stadium, 1513 v.G.J., was hierdie bevel uniek wat sy verwerping van afgodediens betref.]

“Jy mag [nie vals sweer by] die Naam van die HERE [Hebreeus: יהוה] jou God nie . . .

“Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. . . . Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.

“Eer jou vader en jou moeder . . .

“Jy mag nie doodslaan nie.

“Jy mag nie egbreek nie.

“Jy mag nie steel nie.

“Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.

“Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.”—Exodus 20:3-17, vgl. Ta.

Hoewel net die eerste vier gebooie regstreeks met godsdiensoortuiging en aanbidding verband hou, het die ander gebooie die verband tussen regte gedrag en ’n behoorlike verhouding met die Skepper aangedui.

[Prent]

Ondanks die unieke wet van God het Israel die kalfaanbidding van hul heidense bure nagevolg (Goue kalf, Biblos)

[Venster/Prente op bladsy 220, 221]

Die heilige geskrifte van die Hebreërs

Die eerste heilige Hebreeuse geskrif was die “Tanakh”. Die naam “Tanakh” is afgelei van die drie afdelings van die Joodse Bybel in Hebreeus: Tora (Wet), Nevi’im (Profete) en Kethuvim (Geskrifte). Die eerste letter van elke gedeelte is gebruik om die woord TaNaKh te vorm. Hierdie boeke is van die 16de eeu tot die 5de eeu v.G.J. in Hebreeus en Aramees op skrif gestel.

Jode glo dat hulle onder verskillende en verminderende grade van inspirasie geskryf is. Hulle rangskik hul derhalwe in hierdie volgorde van belangrikheid:

Tora—die vyf boeke van Moses, of die Pentateug (uit Grieks vir “vyf boekrolle”), die Wet, wat uit Genesis, Exodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium bestaan. Maar die term “Tora” kan ook vir die hele Joodse Bybel gebruik word, asook vir die mondelinge wet en die Talmoed (sien volgende bladsy).

Nevi’im—die Profete, van Josua tot by die groot profete, Jesaja, Jeremia en Esegiël, en dan tot by die 12 “klein” profete, van Hosea tot Maleagi.

Kethuvim—die Geskrifte, wat bestaan uit die poëtiese werke, Psalms, Spreuke, Job, Die Hooglied en Klaagliedere. Daarbenewens sluit dit Rut, Prediker, Ester, Daniël, Esra, Nehemia en Eerste en Tweede Kronieke in.

Die Talmoed

Uit die oogpunt van nie-Jode is die “Tanakh”, of Joodse Bybel, die belangrikste Joodse geskrif. Maar die Joodse beskouing is anders. Baie Jode sal Adin Steinsaltz, ’n rabbi, se kommentaar beaam: “As die Bybel die hoeksteen van Judaïsme is, is die Talmoed die sentrale pilaar wat uit die fondament verrys en die hele geestelike en intellektuele bouwerk stut . . . Geen ander werk het ’n vergelykbare invloed op die teorie en praktyk van die Joodse lewe uitgeoefen nie” (The Essential Talmud). Wat is die Talmoed dan?

Ortodokse Jode glo nie net dat God die geskrewe wet, of Tora, op die berg Sinai aan Moses gegee het nie, maar ook dat God spesifieke verduidelikings van die uitvoering van daardie Wet aan hom geopenbaar het, en dat dié mondeling oorgedra moes word. Dit is die mondelinge wet genoem. Die Talmoed is dus die geskrewe opsomming, met latere kommentare en verklarings, van daardie mondelinge wet, wat van die tweede eeu G.J. tot in die Middeleeue deur rabbi’s saamgestel is.

Die Talmoed word gewoonlik in twee hoofdele verdeel:

Die Misjna: ’n Versameling kommentare wat die skriftuurlike Wet aanvul en gebaseer is op die verduidelikings van rabbi’s wat Tannaim (leraars) genoem is. Dit is laat in die tweede en vroeg in die derde eeu G.J. op skrif gestel.

Die Gemara (oorspronklik die Talmoed genoem): ’n Versameling kommentare oor die Misjna deur rabbi’s van ’n latere tydperk (derde tot sesde eeu G.J.).

Benewens hierdie twee hoofverdelings kan die Talmoed ook kommentare oor die Gemara deur rabbi’s in die Middeleeue insluit. Prominent onder hulle was die rabbi Rashi (Salomo ben Isak, 1040-1105), wat die moeilike taal van die Talmoed baie meer verstaanbaar gemaak het, en rabbi Rambam (Moses ben Maimon, beter bekend as Maimonides, 1135-1204), wat die Talmoed in ’n beknopte weergawe (“Misjne Tora”) herskik het en dit sodoende aan alle Jode beskikbaar gestel het.

[Prente]

Onder: Antieke Tora uit die sogenaamde Grafkelder van Ester, Iran; regs: ’n Hebreeuse en Jiddisje lofgesang wat op Bybelverse gebaseer is

[Venster/Prente op bladsy 226, 227]

Judaïsme—’n godsdiens met baie stemme

Daar is groot verskille tussen die verskeie faksies van Judaïsme. Volgens tradisie beklemtoon Judaïsme godsdiensoefening. Debatte oor sulke aangeleenthede, eerder as opvattings, het ernstige spanning onder Jode veroorsaak en het gelei tot die vorming van drie vername vertakkings van Judaïsme.

ORTODOKSE JUDAÏSME—Hierdie tak aanvaar nie net dat die Hebreeuse “Tanakh” ’n geïnspireerde geskrif is nie, maar glo ook dat Moses die mondelinge wet tesame met die geskrewe Wet op die berg Sinai van God ontvang het. Ortodokse Jode onderhou nougeset die gebooie van albei wette. Hulle glo dat die Messias nog gaan verskyn en Israel in ’n goue eeu gaan inlei. Weens meningsverskille binne die Ortodokse groep het verskeie faksies ontstaan. Een voorbeeld is Chassidisme.

Chassidim (wat “die vromes” beteken)—Hulle word beskou as ultra-ortodoks. Die groep is in die middel-18de eeu in oostelike Europa gestig deur Israel ben Eliëser, bekend as Baʽal Sjem Tov (“Meester van die Goeie Naam”), en volg ’n leerstelling wat klem lê op musiek en dans, wat mistiese vreugde meebring. Baie van hulle opvattings, waaronder reïnkarnasie, is gebaseer op die Joodse mistiese boeke bekend as die Kabbala. Hulle word vandag gelei deur rebbes (Jiddisj vir “rabbi’s”), of tsaddikim, wat deur hulle volgelinge as uiters regverdige manne of heiliges beskou word.

Chassidim word vandag hoofsaaklik in die Verenigde State en in Israel aangetref. Hulle kleredrag is in ’n besondere Oos-Europese styl, hoofsaaklik swart, van die 18de en 19de eeu, wat hulle baie opsigtelik maak, veral in ’n moderne stad. Hulle is vandag in sektes verdeel wat verskillende prominente rebbes volg. Een baie aktiewe groep is die Lubavitchers, wat ywerig onder Jode bekeerlinge probeer maak. Sommige groepe glo dat net die Messias die reg het om Israel as die nasie van die Jode te herstel en is gevolglik teen die sekulêre staat Israel gekant.

HERVORMDE JUDAÏSME (ook bekend as “Liberale” en “Progressiewe Judaïsme”)—Die beweging het aan die begin van die 19de eeu in Wes-Europa ontstaan. Dit is gebaseer op die opvattings van Moses Mendelssohn, ’n 18de-eeuse Joodse intellektueel wat geglo het dat Jode die Westerse kultuur moet opneem eerder as om hulle van die Heidene af te skei. Hervormde Jode ontken dat die Tora goddelik geopenbaarde waarheid is. Hulle beskou die Joodse wette oor dieet, reinheid en kleredrag as verouderd. Hulle glo in wat hulle ’n “Messiaanse era van Universele broederskap” noem. Hulle het in die laaste jare na meer tradisionele Judaïsme terugbeweeg.

KONSERWATIEWE JUDAÏSME—Dit het in 1845 in Duitsland ontstaan as ’n vertakking van Hervormde Judaïsme wat volgens hulle te veel tradisionele Joodse gebruike verwerp het. Konserwatiewe Judaïsme aanvaar nie dat Moses die mondelinge wet van God ontvang het nie, maar beweer dat die rabbi’s, wat probeer het om Judaïsme by ’n nuwe tydperk aan te pas, die mondelinge Tora versin het. Konserwatiewe Jode onderwerp hulle aan Bybelse voorskrifte en Rabbynse wette as dit “met die hedendaagse vereistes van die Joodse lewe strook” (The Book of Jewish Knowledge). Hulle gebruik Hebreeus en Engels in hulle liturgie en handhaaf streng dieetwette (kasjroet). Mans en vroue word toegelaat om gedurende aanbidding saam te sit, wat nie deur die Ortodokse Jode toegelaat word nie.

[Prente]

Links: Jode by die Klaagmuur in Jerusalem en, bo: ’n Jood bid met Jerusalem op die agtergrond

[Venster/Prente op bladsy 230, 231]

’n Paar belangrike feeste en gebruike

Die meeste Joodse feeste is op die Bybel gebaseer en is oor die algemeen òf seisoenfeeste in verband met verskillende oeste òf feeste wat verband hou met geskiedkundige gebeure.

▪ Sjabbat (Sabbat)—Die sewende dag van die Joodse week (van sononder Vrydag tot sononder Saterdag) word beskou as ’n dag wat die week heilig, en die spesiale onderhouding van hierdie dag is ’n noodsaaklike deel van aanbidding. Jode gaan na die sinagoge vir voorlesing uit die Tora en gebede.—Exodus 20:8-11.

▪ Joom Kippoer—Versoendag, ’n plegtige fees wat deur vas en selfondersoek gekenmerk word. Dit is die afsluiting van die Tien Dae van Boetvaardigheid wat begin met Roosj Hasjana, die Joodse Nuwe Jaar, wat volgens die Joodse sekulêre kalender in September val.—Levitikus 16:29-31; 23:26-32.

▪ Sukkot (regs bo)—Huttefees, of Fees van die Insameling. Die oes en die einde van die grootste deel van die landboujaar word gevier. Word in Oktober gehou.—Levitikus 23:34-43; Numeri 29:12-38; Deuteronomium 16:13-15.

▪ Chanoeka—Fees van Toewyding. ’n Gewilde fees wat in Desember gehou word ter herdenking van Joodse onafhanklikheid van Siries-Griekse oorheersing wat deur die Makkabeërs herstel is en die hertoewyding van die tempel in Jerusalem in Desember 165 v.G.J. Word gewoonlik gekenmerk deur kerse wat vir agt dae aangesteek word.

▪ Purim—Fees van Lotte. Word laat in Februarie of vroeg in Maart gevier ter herdenking van hoe die Jode in Persië gedurende die vyfde eeu v.G.J. van Haman en sy volksmoordplan verlos is.—Ester 9:20-28.

▪ Pesach—Pasga. Ingestel ter herdenking van Israel se bevryding van gevangenskap in Egipte (1513 v.G.J.). Dit is die grootste en oudste Joodse fees. Aangesien dit op 14 Nisan (Joodse kalender) gehou word, val dit gewoonlik aan die einde van Maart of die begin van April. Elke Joodse gesin kom byeen om die Pasgamaaltyd, of Seder, te nuttig. Gedurende die volgende sewe dae mag geen suurdeeg geëet word nie. Hierdie tydperk word die Fees van die Ongesuurde Brode (Matzot) genoem.—Exodus 12:14-20, 24-27.

’n Paar Joodse gebruike

Besnydenis—Vir Joodse seuns is dit ’n belangrike seremonie wat plaasvind wanneer die baba agt dae oud is. Dit word dikwels die Verbond van Abraham genoem, aangesien besnydenis die teken van God se verbond met hom was. Mans wat hulle tot Judaïsme bekeer, moet ook besny word.—Genesis 17:9-14.

Barmitswa (onder)—Nog ’n noodsaaklike Joodse ritueel, wat letterlik “seun van die gebod” beteken, ’n “term wat dui op die bereiking van godsdienstige en wettige volwassenheid sowel as die geleentheid waarop seuns hierdie status formeel aanneem op die ouderdom van 13 plus een dag”. Dit het eers in die 15de eeu G.J. ’n Joodse gebruik geword.—Encyclopaedia Judaica.

Mezoeza (bo)—’n Joodse huis kan gewoonlik maklik uitgeken word aan die mezoeza, of rolhouer, aan die regterkant van die deurkosyn wanneer ’n mens ingaan. In die praktyk is die mezoeza ’n klein perkament waarop die woorde in Deuteronomium 6:4-9 en 11:13-21 geskryf is. Dit word in ’n klein houertjie opgerol. Die houer word dan vasgesit aan elke deur van elke vertrek wat bewoon word.

Jarmulke (kalot, of skedelmus, vir mans)—Die Encyclopaedia Judaica sê: “Ortodokse Jode . . . beskou die bedekking van die hoof, buite en binne die sinagoge, as ’n teken van getrouheid aan Joodse tradisie.” Die bedekking van die hoof gedurende aanbidding word nêrens in die Tanakh gemeld nie, en die Talmoed meld dit derhalwe as ’n opsionele saak van gewoonte. Chassidiese Joodse vroue dra òf te alle tye ’n hoofbedekking òf skeer hulle kop en dra ’n pruik.

[Prent op bladsy 206]

Abram (Abraham), die voorvader van die Jode, het Jehovah God byna 4 000 jaar gelede aanbid

[Prent op bladsy 208]

Ster van Dawid—’n nie-Bybelse simbool van Israel en Judaïsme

[Prent op bladsy 215]

’n Joodse skrifgeleerde kopieer ’n Hebreeuse teks

[Prent op bladsy 222]

’n Chassidiese Joodse gesin vier die Sabbat

[Prent op bladsy 233]

Vroom Jode dra filakterieë, of gebedsrolhouers, aan die arm en voorkop