Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moderne ongeloof—Moet die soeke voortgesit word?

Moderne ongeloof—Moet die soeke voortgesit word?

Hoofstuk 14

Moderne ongeloof—Moet die soeke voortgesit word?

“God is nie meer prominent in mense se gedagtes nie. Hulle dink al hoe minder aan hom in hulle alledaagse lewe of wanneer hulle besluite neem. . . . God is deur ander waardes vervang: inkomste en produktiwiteit. Hy is miskien vroeër beskou as die bron van betekenis vir alle mensebedrywighede, maar hy is vandag gedelegeer na die geheime kerkers van die geskiedenis. . . . God het uit mense se bewussyn verdwyn.”—The Sources of Modern Atheism.

1. (Sluit die inleiding in.) (a) Hoe beskryf die boek The Sources of Modern Atheism geloof in God onder hedendaagse mense? (b) Hoe vorm moderne ongeloof ’n skerp teenstelling met toestande ’n paar jaar gelede?

TOT relatief onlangs was God nog ’n integrerende deel van die lewe van Westerlinge. ’n Mens moes laat blyk dat jy in God glo om sosiaal aanvaarbaar te wees, al het nie almal hul verklaarde geloof opreg beoefen nie. ’n Mens het enige twyfelgedagtes en onsekerheid oordeelkundig verswyg. Dit sou skokkend wees as ’n mens dit in die openbaar sou meld, en jy kon selfs aan sensuur blootgestel word.

2. (a) Waarom het baie mense opgehou om na God te soek? (b) Watter vrae moet gestel word?

2 Maar vandag is die bordjies verhang. As jy ’n sterk godsdiensoortuiging het, beskou baie dit as bekrompe, dogmaties, selfs fanaties. In baie lande heers daar onverskilligheid teenoor, of gebrek aan belangstelling in, God en godsdiens. Die meeste mense soek nie meer na God nie omdat hulle òf nie glo dat hy bestaan nie òf onseker is daaroor. Trouens, party het al die woord “na-Christelik” gebruik om ons era te beskryf. ’n Paar vrae moet derhalwe gestel word: Hoe het die godsgedagte uit mense se lewe verdwyn? Watter invloede het tot hierdie verandering aanleiding gegee? Is daar grondige redes om die soeke na God voort te sit?

Die gevolge van die Hervorming

3. Wat was een gevolg van die Protestantse Hervorming?

3 Soos ons in Hoofstuk 13 gesien het, het die Protestantse Hervorming van die 16de eeu mense se beskouing van gesag, hetsy kerklike of sekulêre gesag, aansienlik verander. Inskiklikheid en onderdanigheid is deur aanmatiging en vrye meningsuiting vervang. Hoewel die meeste mense binne die raamwerk van tradisionele godsdiens gebly het, het party ’n radikaler weg ingeslaan deur die dogmas en fundamentele leringe van die gevestigde kerke in twyfel te trek. Ander het weer heeltemal skepties geword oor godsdiens omdat hulle gesien het hoe godsdiens deur die geskiedenis heen by oorlog, lyding en onreg betrokke was.

4. (a) Hoe het destydse verslae die omvang van ateïsme in Engeland en Frankryk in die 16de en 17de eeu beskryf? (b) Wie het te voorskyn getree as gevolg van die pogings wat gedurende die Hervorming aangewend is om van die pouslike juk ontslae te raak?

4 Reeds in 1572 het ’n verslag met die titel Discourse on the Present State of England gesê: “Die ryk is in drie partye verdeel, die Pousgesindes, die Ateïste en die Protestante. Al drie word ewe veel begunstig: die eerste en tweede omdat hulle ’n groot aanhang het en ons hulle derhalwe nie durf mishaag nie.” Volgens ’n ander skatting was daar in 1623 50 000 ateïste in Parys, hoewel die term redelik losweg gebruik is. Dit is in elk geval duidelik dat die Hervorming, in sy poging om van die oorheersing van pouslike gesag ontslae te raak, diegene wat die posisie van die gevestigde godsdienste in twyfel trek te voorskyn laat tree het. Will en Ariel Durant het dit in The Story of Civilization: Part VII—The Age of Reason Begins soos volg gestel: “Die denkers van Europa—die voorhoede van die Europese denke—het nie meer die pous se gesag bespreek nie; hulle het oor die bestaan van God gedebatteer.”

Die aanslag deur die wetenskap en filosofie

5. Deur watter invloede is die verskyning van ongeloof aan God bespoedig?

5 Benewens die versplintering van die Christendom self het ander invloede sy posisie verder ondermyn. Die wetenskap, filosofie, sekularisme en materialisme het meegehelp om twyfel oor God en godsdiens te laat ontstaan en skeptisisme daaroor aan te wakker.

6. (a) Watter uitwerking het die toename van wetenskaplike kennis op baie van die kerk se leringe gehad? (b) Wat het sommige gedoen wat gemeen het dat hulle ingelig is?

6 Die uitbreiding van wetenskaplike kennis het baie van die kerk se leringe wat op die foutiewe vertolking van Bybelpassasies gebaseer was, bevraagteken. Sterrekundige ontdekkings deur mense soos Copernicus en Galilei het byvoorbeeld die kerk se geosentriese leerstelling, naamlik dat die aarde die middelpunt van die heelal is, regstreeks betwis. Wat meer is, weens ’n begrip van die natuurwette wat die werking van die fisiese wêreld beheer, was dit nie meer nodig om verskynsels wat tot op daardie stadium geheimsinnig was, soos donderweer en weerlig of selfs die verskyning van sekere sterre en komete, aan God of die Voorsienigheid toe te skryf nie. “Wonderwerke” en “goddelike ingryping” in menseaangeleenthede het ook onder verdenking gekom. Skielik het baie mense God en godsdiens as verouderd beskou, en sommige wat gedink het dat hulle ingelig is, het God gou die rug toegekeer en na die aanbidding van die heilige koei van die wetenskap gestroom.

7. (a) Wat was ongetwyfeld die swaarste slag vir godsdiens? (b) Hoe het die kerke op Darwinisme gereageer?

7 Die swaarste slag vir godsdiens was ongetwyfeld die evolusieteorie. In 1859 het die Engelse natuurkundige Charles Darwin (1809-82) sy Origin of Species uitgegee en die Bybel se leerstelling oor skepping deur God regstreeks in twyfel getrek. Hoe het die kerke daarop gereageer? Aanvanklik het die geestelikes in Engeland en elders die teorie veroordeel. Maar die teenstand het gou verflou. Dit het gelyk of Darwin se bespiegelings net die verskoning was waarna baie geestelikes gesoek het wat in die geheim getwyfel het. Gedurende Darwin se leeftyd het “die meeste denkende en woordvaardige geestelikes geleidelik tot die slotsom gekom dat evolusie geheel en al met ’n verligte begrip van die Skrif strook”, sê The Encyclopedia of Religion. Pleks van die Bybel te verdedig, het die Christendom voor die druk van die wetenskaplike opinie geswig en met die gewilde opvatting saamgegaan. Sodoende het dit geloof in God ondermyn.—2 Timotheüs 4:3, 4.

8. (a) Wat het 19de-eeuse godsdienskritici in twyfel getrek? (b) Wat is party gewilde teorieë wat godsdienskritici voorgestel het? (c) Waarom het baie mense gou die anti-godsdienstige opvattings aangeneem?

8 In die loop van die 19de eeu het godsdienskritici ’n sterker aanval gerig. Hulle het nie bloot op die tekortkominge van die kerke gewys nie, maar het selfs die grondslag van godsdiens in twyfel begin trek. Hulle het vrae gestel soos: Wat is God? Waarom is God nodig? Hoe het geloof in God die mensegemeenskap beïnvloed? Manne soos Ludwig Feuerbach, Karl Marx, Sigmund Freud en Friedrich Nietzsche het hulle argumente in filosofiese, sielkundige en sosiologiese terme aangevoer. Teorieë soos: ‘God is bloot die produk van die mens se verbeelding’, ‘Godsdiens is die opium van die volk’ en ‘God is dood’ het baie nuut en opwindend geklink in vergelyking met die vervelige en onverstaanbare dogmas en tradisies van die kerke. Dit het gelyk asof baie mense uiteindelik ’n duidelike manier gevind het om die twyfel en agterdog wat agter in hul kop gebroei het te verwoord. Hulle het hierdie opvattings gou en gewillig as die nuwe heilige waarheid aangeneem.

Die groot kompromis

9. (a) Wat het die kerke gedoen toe hulle deur die wetenskap en filosofie aangeval is? (b) Wat was die resultate van die kerke se kompromis?

9 Wat het die kerke gedoen toe die wetenskap en filosofie hulle aangeval en die soeklig op hulle gewerp het? Pleks van Bybelleringe voor te staan, het hulle geswig voor die druk en selfs oor basiese geloofsartikels soos die skepping deur God en die egtheid van die Bybel kompromisse aangegaan. Die gevolg? Die Christendom se kerke het ongeloofwaardig begin word, en baie mense het geloof begin verloor. Die kerke se versuim om hulself te verdedig, het die deur wyd oopgemaak vir die massa om uit te stap. Vir baie mense het godsdiens niks meer as ’n sosiologiese oorblyfsel geword nie, iets om die hoogtepunte in jou lewe—geboorte, die huwelik, die dood—aan te dui. Baie het die soeke na die ware God feitlik heeltemal laat vaar.

10. Watter dringende vrae moet beantwoord word?

10 Met die oog op al hierdie feite is dit logies om te vra: Het die wetenskap en filosofie werklik die doodvonnis oor geloof in God uitgespreek? Beteken die versuim van die kerke dat dit wat hulle beweer hulle verkondig, naamlik die Bybel, te kort skiet? Trouens, moet die soeke na God voortgesit word? Kom ons ondersoek hierdie geskille kortliks.

Grondslag vir geloof in God

11. (a) Watter twee boeke is al lank die grondslag vir geloof in God? (b) Hoe het hierdie boeke mense beïnvloed?

11 Daar is al gesê dat twee boeke ons van God se bestaan vertel—die “boek” van die skepping, of die natuur om ons, en die Bybel. Miljoene mense in die verlede en die hede het hul geloof daarop gegrond. ’n Koning van die 11de eeu v.G.J., beïndruk deur wat hy in die sterrehemel gesien het, het byvoorbeeld digterlik uitgeroep: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Psalm 19:2). In die 20ste eeu is ’n ruimtevaarder wat na die pragtige aarde gekyk het terwyl sy ruimtetuig om die maan gesirkel het, beweeg om te sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”—Genesis 1:1.

12. Hoe is die boek van die skepping en die Bybel aangeval?

12 Maar diegene wat sê dat hulle nie aan God glo nie, rig ’n aanval op hierdie twee boeke. Hulle sê dat ’n wetenskaplike ondersoek van die wêreld om ons heen bewys het dat lewe nie deur intelligente skepping ontstaan het nie, maar deur blinde toeval en die lukrake evolusieproses. Hulle voer derhalwe aan dat daar geen Skepper was nie en dat die Godkwessie gevolglik oorbodig is. Bowendien glo baie van hulle dat die Bybel eenvoudig verouderd en onlogies en, gevolglik, ongeloofwaardig is. Vir hulle is daar dus nie meer ’n grondslag om te glo dat God bestaan nie. Is al hierdie bewerings waar? Wat toon die feite?

Per toeval of volgens ’n plan?

13. Wat sou moes gebeur om die toevallige ontstaan van lewe moontlik te maak?

13 As daar geen Skepper was nie, moes lewe vanself per toeval begin het. Lewe sou alleenlik kon ontstaan het as die regte chemikalieë op die een of ander manier in die regte hoeveelhede, by die regte temperatuur en druk, om net enkele van die beherende faktore te noem, bymekaargekom het en alles lank genoeg so in stand gehou is. En die ontstaan en voortsetting van lewe op aarde sou alleenlik moontlik gewees het as hierdie toevallige gebeurtenisse duisende kere herhaal is. Maar hoe waarskynlik is dit dat selfs een so ’n gebeurtenis sal plaasvind?

14. (a) Hoe klein is die moontlikheid dat een eenvoudige proteïenmolekule per toeval gevorm sal word? (b) Watter uitwerking het wiskundige berekeninge op die idee dat lewe spontaan ontstaan het?

14 Evolusioniste erken dat die moontlikheid dat die regte atome en molekules byeen sou kom om net een eenvoudige proteïenmolekule te vorm 1 uit 10113 is, of 1 gevolg deur 113 nulle. Daardie getal is groter as die geskatte aantal atome in die heelal! Enige gebeurtenis waarvoor die moontlikheid minder as 1 uit 1050 is, word deur wiskundiges beskou as iets wat nooit sal gebeur nie. Maar baie meer as een eenvoudige proteïenmolekule is nodig vir lewe. Sowat 2 000 verskillende proteïene is nodig net vir die funksionering van die sel, en die moontlikheid dat hulle almal toevallig sal voorkom, is 1 uit 1040 000! “As ’n mens nie deur sosiale oortuigings of deur wetenskaplike opleiding voorberei is om te glo dat lewe [spontaan] op Aarde ontstaan het nie, sal hierdie eenvoudige berekening die idee heeltemal uitskakel”, sê sterrekundige Fred Hoyle.

15. (a) Wat het wetenskaplikes in hul studie van die fisiese wêreld ontdek? (b) Wat het ’n fisikaprofessor oor die natuurwette gesê?

15 Daarenteen het wetenskaplikes uit hul studie van die fisiese wêreld, van die klein subatomiese deeltjies tot die ontsaglike galaktiese stelsels, ontdek dat alle bekende natuurverskynsels ’n paar basiese wette gehoorsaam. Met ander woorde, hulle het logika en ordelikheid ontdek in alles wat in die heelal plaasvind, en hulle kon hierdie logika en ordelikheid in eenvoudige wiskundige terme uitdruk. “Min wetenskaplikes kan anders as om beïndruk te word deur die byna onredelike eenvoud en verfyning van hierdie wette”, skryf ’n fisikaprofessor, Paul Davies, in die tydskrif New Scientist.

16. (a) Wat is party basiese konstantes in die natuurwette? (b) Wat sal gebeur as die waarde van hierdie konstantes selfs ’n bietjie verander word? (c) Watter gevolgtrekking het ’n fisikaprofessor oor die heelal en ons bestaan gemaak?

16 ’n Uiters interessante feit met betrekking tot hierdie wette is egter dat hulle sekere faktore insluit waarvan die waardes presies en onveranderlik moet wees om die bestaan van die heelal, soos ons dit ken, moontlik te maak. Hierdie basiese konstantes is onder andere die eenheid van elektriese lading op die proton, die massa van sekere fundamentele deeltjies en Newton se universele gravitasiekonstante, wat oor die algemeen deur die letter G aangedui word. Professor Davies sê voorts in hierdie verband: “Selfs klein wisselings in party se waarde sal die voorkoms van die Heelal drasties verander. Freeman Dyson het byvoorbeeld daarop gewys dat as die krag tussen nukleone (protone en neutrone) net ’n paar persent sterker was daar geen waterstof in die Heelal sou gewees het nie. Sterre soos die Son, laat staan nog water, sou nie kon bestaan nie. Lewe, ten minste soos ons dit ken, sou onmoontlik wees. Brandon Carter het getoon dat baie kleiner veranderinge in G al die sterre in blou reuse of rooi dwerge sou verander, wat ’n ewe verskriklike uitwerking op lewe sou hê.” Davies kom dus tot die gevolgtrekking: “In hierdie geval is dit denkbaar dat daar dalk net een moontlike Heelal is. As dit die geval is, is dit ’n merkwaardige gedagte dat ons eie bestaan as bewuste wesens ’n onvermydelike gevolg van logika is.”—Ons kursiveer.

17. (a) Waarop dui die ontwerp en voorneme in die heelal? (b) Hoe bevestig die Bybel dit?

17 Wat kan ons hieruit aflei? Eerstens dat as die heelal deur wette beheer word daar ’n intelligente wetgewer moet wees wat die wette geformuleer of bevestig het. En aangesien dit lyk of die wette wat die werking van die heelal beheer, gemaak is in afwagting van lewe en toestande bevorderlik vir die onderhouding daarvan, is ’n voorneme beslis daarby betrokke. Ontwerp en voorneme—dit is nie kenmerke van blinde toeval nie; dit is presies wat ’n intelligente Skepper sou openbaar. En dit is juis waarop die Bybel wys wanneer dit sê: “Wat van God geken kan word, [is] in hulle openbaar . . . , want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare [eienskappe] kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid.”—Romeine 1:19, 20, vgl. NW; Jesaja 45:18; Jeremia 10:12.

Oorvloedige getuienis om ons heen

18. (a) Watter ander dinge gee blyk van ontwerp en voorneme? (b) Watter bekende voorbeelde van intelligente ontwerp kan jy meld?

18 Ontwerp en voorneme blyk natuurlik nie net uit die ordelike werking van die heelal nie, maar ook uit die wyse waarop eenvoudige en komplekse lewende skepsele hul daaglikse bedrywighede uitvoer, asook uit hul wisselwerking met mekaar en met die omgewing. Byvoorbeeld, feitlik elke deel van ons menseliggaam—die brein, die oog, die oor, die hand—is voorbeelde van ’n ontwerp wat so ingewikkeld is dat die moderne wetenskap dit nie ten volle kan verklaar nie. Dan is daar die diere- en planteryk. Die jaarlikse migrasie van sekere voëls oor duisende kilometers land en see, die proses van fotosintese in plante, die ontwikkeling van een bevrugte eiersel tot ’n ingewikkelde organisme met miljoene gedifferensieerde selle wat gespesialiseerde funksies het—om net ’n paar voorbeelde te noem—is almal merkwaardige bewyse van intelligente ontwerp. *

19. (a) Bewys ’n wetenskaplike verklaring van hoe party dinge funksioneer dat daar geen intelligente ontwerp of ontwerper is nie? (b) Wat kan ons uit ’n studie van die wêreld om ons heen leer?

19 Maar party beweer dat ’n groter kennis van die wetenskap baie van hierdie prestasies verklaar het. Die wetenskap het weliswaar baie dinge wat vroeër ’n raaisel was in sekere mate verklaar. Maar as ’n kind ontdek hoe ’n horlosie werk, bewys dit nie dat die horlosie nie deur iemand ontwerp en gemaak is nie. Eweneens bewys die feit dat ons die wonderlike werking van baie dinge in die fisiese wêreld verstaan nie dat hulle nie die produk van ’n intelligente ontwerper is nie. Inteendeel, hoe meer ons oor die wêreld om ons heen weet, hoe meer getuienis het ons dat ’n intelligente Skepper, God, bestaan. Ons kan dus onbevooroordeeld die Psalmis se woorde beaam: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!”—Psalm 104:24.

Die BybelKan jy dit glo?

20. Wat toon dat geloof in God nie genoeg is om ’n mens te beweeg om na hom te soek nie?

20 Geloof in God se bestaan is egter nie genoeg om mense te beweeg om na hom te soek nie. Daar is vandag miljoene mense wat nog in sekere mate aan God glo, maar dit het hulle nie beweeg om na God te soek nie. Amerikaanse meningspeiler George Gallup jr. sê dat “kerkgangers en nie-kerkgangers in werklikheid baie eenders is wat bedrog, belastingontduiking en stelery betref, hoofsaaklik omdat daar heelwat sosiale godsdiens is”. Hy voeg by dat “talle eenvoudig ’n godsdiens aanmekaarflans wat vir hulle gerieflik en strelend is en wat nie noodwendig uitdagend is nie. Iemand het dit godsdiens à la carte genoem. Dit is vandag die vernaamste swakheid van die Christelike godsdiens in hierdie land [VSA]: Daar is nie ’n vastheid van geloof nie.”

21, 22. (a) Wat maak die Bybel ’n besondere boek? (b) Wat is die basiese bewyse van die Bybel se egtheid? Verduidelik.

21 Daardie “vernaamste swakheid” is hoofsaaklik te wyte aan ’n gebrek aan Bybelkennis en geloof in die Bybel. Maar watter grondslag is daar vir geloof in die Bybel? ’n Mens moet eerstens daarop let dat daar deur die eeue heen waarskynlik geen ander boek was wat meer as die Bybel onregverdig gekritiseer, beledig, gehaat en aangeval is nie. Tog het dit behoue gebly en is dit die mees vertaalde en wyds verspreide boek in die geskiedenis. Dit op sigself maak die Bybel ’n besondere boek. Maar daar is oorvloedige bewyse, oortuigende getuienis, dat die Bybel ’n boek is wat deur God geïnspireer is en ons geloof waardig is.—Sien venster, bladsye 340-1.

22 Hoewel baie mense min of meer aangeneem het dat die Bybel onwetenskaplik en verouderd is en homself weerspreek, toon die feite die teendeel. Sy unieke outeurskap, geskiedkundige en wetenskaplike akkuraatheid en onfeilbare profesieë dui op een onvermydelike gevolgtrekking: die Bybel is die geïnspireerde Woord van God. Soos die apostel Paulus dit gestel het: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig.”—2 Timotheüs 3:16.

Hoe om die uitdaging van ongeloof die hoof te bied

23. Watter gevolgtrekking kan ons aangaande die Bybel maak wanneer ons die feite ondersoek?

23 Watter gevolgtrekking kan ons maak nadat ons die getuienis in die boek van die skepping en die Bybel ondersoek het? Eenvoudig dat hierdie boeke vandag net so geldig soos altyd is. Wanneer ons bereid is om die saak objektief te beskou pleks van deur vooroordeel beïnvloed te word, vind ons dat enige besware op ’n redelike manier uit die weg geruim kan word. Die antwoorde is daar, ons moet net bereid wees om daarna te soek. Jesus het gesê: “Bly soek, en julle sal vind.”—Mattheüs 7:7, NW; Handelinge 17:11.

24. (a) Waarom het baie die soeke na God laat vaar? (b) Waaruit kan ons troos put? (c) Wat sal in die res van hierdie boek bespreek word?

24 Per slot van rekening het die meeste mense wat die soeke na God laat vaar het dit nie gedoen omdat hulle die getuienis noukeurig ondersoek het en gevind het dat die Bybel onwaar is nie. Baie van hulle is eerder afgeskrik deur die Christendom se versuim om die ware God van die Bybel te verkondig. Soos die Franse skrywer P. Valadier gesê het: “Dit was die Christelike tradisie wat ateïsme tot gevolg gehad het; dit het meegebring dat God in die gewete van die mens vermoor word omdat ’n ongeloofbare God aan hom verkondig is.” Hoe dit ook al sy, ons kan troos put uit die apostel Paulus se woorde: “Wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie! Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig” (Romeine 3:3, 4). Ja, daar is alle rede om die soeke na die ware God voort te sit. In die oorblywende hoofstukke van hierdie boek sal ons sien hoe die soeke met sukses bekroon is en wat die toekoms vir die mensdom inhou.

[Voetnote]

^ par. 18 Sien die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, wat in 1985 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, bladsye 142-78, vir ’n uitvoerige verduideliking van hierdie bewyse van God se bestaan.

[Studievrae]

[Venster op bladsy 340, 341]

Bewyse van die Bybel se egtheid

Unieke outeurskap: Van die eerste boek, Genesis, tot die laaste, Openbaring, bestaan die Bybel uit 66 boeke wat deur sowat 40 skrywers geskryf is. Die skrywers het grootliks verskil wat maatskaplike agtergrond, opvoeding en beroepe betref. Die opskrifstelling is oor ’n tydperk van 16 eeue, van 1513 v.G.J. tot 98 G.J., voltooi. En tog is die eindresultaat ’n harmonieuse en samehangende boek wat die logiese ontwikkeling van ’n prominente tema skets—die verheerliking van God en sy voorneme deur middel van die Messiaanse Koninkryk.—Sien venster, bladsy 241.

Geskiedkundige akkuraatheid: Gebeurtenisse wat in die Bybel opgeteken is, strook ten volle met bewese geskiedkundige feite. Die boek A Lawyer Examines the Bible sê: “Terwyl verhale, legendes en valse getuienis die betrokke gebeure sorgvuldig in die een of ander verre plek en onbepaalde tyd laat afspeel . . . , verstrek die Bybelvertellings met die uiterste presisie die datum en plek van die dinge wat vertel word” (Esegiël 1:1-3). En The New Bible Dictionary sê: “[Die skrywer van Handelinge] plaas sy vertelling in die raamwerk van die destydse geskiedenis; sy bladsye is vol verwysings na stadsmagistrate, provinsiale goewerneurs, vasalkonings en dies meer, en hierdie verwysings strook elke keer heeltemal met die betrokke plek en tyd.”—Handelinge 4:5, 6; 18:12; 23:26.

Wetenskaplike akkuraatheid: Die Israeliete is in die boek Levitikus wette oor kwarantyn en higiëne gegee terwyl die omringende nasies niks van sulke gebruike geweet het nie. Die kringloop van reën en verdamping uit die oseaan, wat in die ou tyd onbekend was, word in Prediker 1:7 beskryf. Jesaja 40:22 en Job 26:7 sê dat die aarde bolvormig is en in die ruimte hang, iets wat eers in die 16de eeu deur die wetenskap bevestig is. Meer as 2 200 jaar voordat William Harvey sy bevindinge oor die sirkulasie van bloed gepubliseer het, het Spreuke 4:23 die rol van die mensehart gemeld. Hoewel die Bybel nie ’n wetenskaphandboek is nie, toon dit dus insig wat sy tyd ver vooruit is wanneer dit wetenskaplike sake aanroer.

Onfeilbare profesieë: Die vernietiging van eertydse Tirus, die val van Babilon, die herbouing van Jerusalem en die opkoms en ondergang van die konings van Medo-Persië en Griekeland is so breedvoerig voorspel dat kritici tevergeefs beweer het dat dit ná die gebeurtenis geskryf is (Jesaja 13:17-19; 44:27–45:1; Esegiël 26:3-7; Daniël 8:1-7, 20-22). Profesieë oor Jesus wat eeue voor sy geboorte opgeteken is, is in die fynste besonderhede vervul. (Sien venster, bladsy 245.) Jesus se eie profesieë oor die vernietiging van Jerusalem is akkuraat vervul (Lukas 19:41-44; 21:20, 21). Profesieë oor die laaste dae wat Jesus en die apostel Paulus uitgespreek het, word in ons tyd vervul (Mattheüs 24; Markus 13; Lukas 21; 2 Timotheüs 3:1-5). En tog skryf die Bybel al die profesieë toe aan een Bron, Jehovah God.—2 Petrus 1:20, 21.

[Prente op bladsy 333]

Darwin, Marx, Freud, Nietzsche en ander het teorieë voorgestel wat geloof in God ondermyn het

[Prente op bladsy 335]

Die “boek” van die skepping en die Bybel verskaf die grondslag vir geloof in God

[Prente op bladsy 338]

Hoe meer ons van die wêreld om ons heen weet, hoe meer bewyse het ons dat daar ’n intelligente Skepper is

[Diagram/Prent op bladsy 337]

Lewe en die heelal sou onmoontlik gewees het as sekere ontwerpfaktore selfs met ’n breukdeel verskil het

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

KOMPONENTE VAN WATERSTOFATOOM

Elektronskil

Proton + Kern

ELEKTRON −