Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Taoïsme en Confucianisme—’n Soeke na die hemelse weg

Taoïsme en Confucianisme—’n Soeke na die hemelse weg

Hoofstuk 7

Taoïsme en Confucianisme—’n Soeke na die hemelse weg

Taoïsme, Confucianisme en Boeddhisme is die drie vernaamste godsdienste van China en die Verre Ooste. Anders as Boeddhisme het Taoïsme en Confucianisme nie wêreldgodsdienste geword nie, maar is hulle basies beperk tot China en oral waar die Chinese kultuur sy invloed uitgeoefen het. Hoewel geen amptelike syfers oor hul huidige aantal aanhangers in China beskikbaar is nie, het Taoïsme en Confucianisme saam die afgelope 2 000 jaar die godsdienslewe van bykans ’n kwart van die wêreldbevolking oorheers.

1. (Sluit die inleiding in.) (a) Waar word Taoïsme en Confucianisme beoefen, en hoe groot is hulle? (b) Watter tydperk beskou ons nou om hierdie leringe te ondersoek?

‘LAAT honderd blomme bloei; laat honderd denkrigtings wedywer.’ Daardie gesegde, wat in 1956 in ’n toespraak deur Mao Tse-toeng van die Volksrepubliek China beroemd gemaak is, was in werklikheid ’n parafrase van die uitdrukking wat Chinese geleerdes gebruik het om die era in China van die vyfde tot die derde eeu v.G.J., die sogenaamde tydperk van die Strydende State, te beskryf. Teen daardie tyd het die magtige Tsjou-dinastie (ca. 1122-256 v.G.J.) dermate agteruitgegaan dat daar ’n stelsel losweg verbonde feodale state was wat voortdurend oorlog gevoer en die gewone mense baie ellende besorg het.

2. (a) Wat het tot die “honderd denkrigtings” aanleiding gegee? (b) Wat het van die “honderd denkrigtings” oorgebly?

2 Die beroering en lyding wat deur die oorloë veroorsaak is, het die gesag van die tradisionele heersende klas ernstig ondermyn. Die gewone mense het hulle nie meer gedwee aan die giere en nukke van die adel onderwerp en die gevolge swygend verduur nie. Gevolglik het opvattings en begeertes wat lank onderdruk is soos “honderd blomme” te voorskyn gekom. Verskillende denkrigtings het hulle idees oor regering, die wet, die maatskaplike orde, gedrag en etiek, sowel as oor onderwerpe soos die landbou, musiek en literatuur, gepropageer as die manier om ’n mate van normaliteit in die lewe te herstel. Hulle het as die “honderd denkrigtings” bekend geword. Die meeste van hulle het nie ’n blywende uitwerking gehad nie. Maar twee denkrigtings het so prominent geword dat hulle die lewe in China al meer as 2 000 jaar beïnvloed. Hulle het uiteindelik as Taoïsme en Confucianisme bekend geword.

Tao—Wat is dit?

3. (a) Wat is die Chinese konsep Tao? (b) Wat, pleks van ’n Skepper, was volgens die Chinese die oorsaak van alle dinge? (Vergelyk Hebreërs 3:4.)

3 Om te verstaan waarom Taoïsme (uitgespreek as diaau-isme; rym met miaau) en Confucianisme so ’n groot en blywende invloed op die Chinese, sowel as op die mense van Japan, Korea en ander omringende nasies, uitgeoefen het, moet ’n mens die fundamentele Chinese konsep Tao verstaan. Die woord self beteken “weg, pad of paadjie”. Dit kan ook by uitbreiding “metode, beginsel of leerstelling” beteken. Die Chinese het die harmonie en ordelikheid wat hulle in die heelal gesien het, beskou as manifestasies van Tao, ’n soort goddelike wil of wetgewing wat in die heelal bestaan en dit reguleer. Met ander woorde, pleks van in ’n Skepper-God te glo wat die heelal beheer, het hulle in ’n voorsienigheid, ’n wil van die hemel, of eenvoudig die hemel self as die oorsaak van alles geglo.

4. Hoe het die Chinese die konsep Tao op menseaangeleenthede toegepas? (Vergelyk Spreuke 3:5, 6.)

4 Die Chinese het die konsep Tao op menseaangeleenthede toegepas en geglo dat daar ’n natuurlike en regte manier is om alles te doen en dat elke ding en elke mens sy regte plek en sy regte werk het. Hulle het byvoorbeeld geglo dat as die heerser sy plig nakom deur die mense regverdig te behandel en na die offerrituele wat op die hemel betrekking het om te sien, die nasie vrede en voorspoed sou geniet. Op dieselfde manier sou alles harmonieus, vreedsaam en doeltreffend wees as mense bereid was om die weg, of Tao, te soek en te volg. Maar as hulle in stryd daarmee opgetree of dit weerstaan het, sou dit tot chaos en rampspoed lei.

5. (a) Hoe benader Taoïsme Tao? (b) Hoe benader Confucianisme Tao? (c) Watter vrae moet beantwoord word?

5 Hierdie konsep om met Tao saam te werk en nie die vloei daarvan te belemmer nie, is ’n kernbeginsel van die Chinese filosofiese en godsdiensdenke. Daar kan gesê word dat Taoïsme en Confucianisme twee verskillende uitinge van dieselfde begrip is. Taoïsme het ’n mistieke benadering en verkondig in sy oorspronklike vorm onaktiwiteit, kalmte en passiwiteit, vermyding van die gemeenskap en ’n terugkeer tot die natuur. Die basiese gedagte is dat alles reg sal uitwerk as mense terugsit, niks doen nie en die natuur sy gang laat gaan. Confucianisme het daarenteen ’n pragmatiese benadering. Dit leer dat die maatskaplike orde gehandhaaf sal word as elke persoon sy deel doen en sy plig nakom. Met dié doel kodifiseer dit alle mense- en maatskaplike verhoudinge—heerser-onderdaan, vader-seun, man-vrou, ensovoorts—en voorsien dit riglyne vir almal. Dit gee aanleiding tot die volgende vrae: Hoe het hierdie twee stelsels ontstaan? Wie het hulle gestig? Hoe word hulle vandag beoefen? En wat het hulle met betrekking tot die mens se soeke na God uitgerig?

Taoïsme—’n filosofiese begin

6. (a) Wat weet ons van die stigter van Taoïsme? (b) Hoe het die stigter van Taoïsme as Lao-tse bekend geword?

6 Taoïsme was aanvanklik meer ’n filosofie as ’n godsdiens. Die stigter daarvan, Lao-tse, was ontevrede met die chaos en beroering van die tye en het verligting gesoek deur die gemeenskap te vermy en tot die natuur terug te keer. Ons weet nie baie van die man nie, wat glo in die sesde eeu v.G.J. gelewe het, hoewel selfs dit onseker is. Hy is meestal Lao-tse genoem, wat “Ou Meester” of “Oue” beteken, omdat sy swanger moeder hom volgens ’n legende so lank gedra het dat sy hare reeds wit geword het toe hy gebore is.

7. Wat vertel die “Geskiedrolle” ons van Lao-tse?

7 Die enigste amptelike verslag oor Lao-tse is in die Sjih Tsji (Geskiedrolle), deur Ssoe-ma Tsj’ien, ’n gesiene hofgeskiedkundige van die tweede en eerste eeu v.G.J. Volgens hierdie bron was Lao-tse se werklike naam Li Erh. Hy was ’n klerk in die keiserlike argief in Lojang, Sentraal-China. Maar die volgende verslag wat dit oor Lao-tse gee, is selfs belangriker:

“Lao Tse het die grootste deel van sy lewe in Tsjou gebly. Toe hy die agteruitgang van Tsjou vooruitgesien het, het hy vertrek en by die grens aangekom. Die doeanebeampte Jin Hsi het gesê: ‘Meneer, aangesien dit jou behaag om jou te onttrek, vra ek jou om om my ontwil ’n boek te skryf.’ Daarna het Lao Tse ’n tweedelige boek met meer as vyfduisend woorde geskryf waarin hy die konsepte die Weg [Tao] en die Krag [Te] bespreek het. Toe het hy vertrek. Niemand weet waar hy gesterf het nie.”

8. (a) Watter boek het Lao-tse na bewering geskryf? (b) Waarom word die boek op talle verskillende maniere vertolk?

8 Talle geleerdes betwyfel die egtheid van hierdie verslag. Hoe dit ook al sy, die boek wat geskryf is, staan bekend as Tao Te Tsjing (wat gewoonlik as “Die Klassieke Werk van die Weg en die Krag” vertaal word) en word as die hoofteks van Taoïsme beskou. Dit is in bondige, kriptiese verse geskryf, waarvan party net drie of vier woorde lank is. As gevolg hiervan en omdat die betekenis van party karakters sedert Lao-tse se tyd aansienlik verander het, word die boek op talle verskillende maniere vertolk.

’n Kykie na “Tao Te Tsjing”

9. Watter beskrywing van Tao het Lao-tse in Tao Te Tsjing gegee?

9 In Tao Te Tsjing het Lao-tse ’n uiteensetting gegee van Tao, die hoogste weg van die natuur, en dit op elke vlak van mensebedrywigheid toegepas. Hier haal ons aan uit ’n moderne vertaling deur Gia-foe Feng en Jane English om ’n vlugtige blik op Tao Te Tsjing te kry. Dit sê die volgende oor Tao:

“Iets [is] geheimsinnig gevorm,

Voor die hemel en die aarde gebore. . . .

Dalk is dit die moeder van tienduisend dinge.

Ek ken nie die naam daarvan nie.

Noem dit Tao.”—Hoofstuk 25.

“Alle dinge ontstaan uit Tao.

Hulle word gevoed deur Deug [Te].

Hulle word uit stof gemaak.

Hulle word deur die omgewing gevorm.

Daarom respekteer die tienduisend dinge Tao,

en eer hulle Deug [Te].”—Hoofstuk 51.

10. (a) Wat is die doel van Taoïsme? (b) Hoe word hierdie Taoïstiese beskouing op mensegedrag toegepas?

10 Wat kan ons uit hierdie raaiselagtige uittreksels aflei? Dat Taoïste Tao as ’n geheimsinnige kosmiese krag beskou wat vir die stoflike heelal verantwoordelik is. Die doel van Taoïsme is om die Tao te soek, die wêreld agter te laat en met die natuur verenig te word. Hierdie konsep blyk ook uit die Taoïste se beskouing van mensegedrag. Hierdie ideaal word soos volg in Tao Te Tsjing uitgedruk:

“Hou liewer op as om tot oorlopens toe te vul.

Slyp die lem te veel, en die kant sal gou stomp word.

Versamel ’n oorvloed goud en jade, en niemand kan dit beskerm nie.

Eis rykdom en titels, en rampspoed sal volg.

Onttrek jou wanneer die werk gedoen is.

Dit is die weg van die hemel.”—Hoofstuk 9.

11. Hoe kan die Taoïstiese ideaal beskryf word?

11 Hierdie paar voorbeelde toon dat Taoïsme minstens aanvanklik in wese ’n filosofiese denkrigting was. In reaksie op die onreg, lyding, verwoesting en sinloosheid weens die harde heerskappy van die destydse feodale stelsel het Taoïste geglo dat vrede en harmonie gevind kon word deur ’n terugkeer tot die tradisie van die ou volke voordat daar konings en ministers was wat die gewone mense gedomineer het. Hulle ideaal was ’n rustige, plattelandse lewe in eenheid met die natuur.—Spreuke 28:15; 29:2.

Taoïsme se tweede wysgeer

12. (a) Wie was Tsjoeang Tsjou? (b) Wat het hy by Lao-tse se oorspronklike leringe bygevoeg?

12 Lao-tse se filosofie is verder gevoer deur Tsjoeang Tsjou, of Tsjoeang-tse, wat “Meester Tsjoeang” beteken (369-286 v.G.J.). Hy is as Lao-tse se mees verhewe opvolger beskou. In sy boek, Tsjoeang Tse het hy nie net oor die Tao uitgewei nie maar ook die gedagtes jin en jang uiteengesit, wat vir die eerste keer in die I Tsjing uitgebou is. (Sien bladsy 83.) Volgens hom is niks werklik blywend of absoluut nie, maar is alles in ’n toestand van veranderlikheid tussen twee teenoorgesteldes. In die hoofstuk “Herfsvloed” het hy geskryf:

“Niks in die heelal is blywend nie, aangesien alles net lank genoeg lewe om te sterwe. Net Tao, wat geen begin of einde het nie, bly vir ewig. . . . Die lewe kan vergelyk word met ’n vinnige perd wat in volle vaart galop—dit verander voortdurend en onafgebroke, in elke oogwink. Wat moet jy doen? Wat moet jy nie doen nie? Dit maak werklik geen verskil nie.”

13. (a) Wat is die Taoïstiese lewensbeskouing ná Tsjoeang-tse se uitbouing? (b) Watter droom van Tsjoeang-tse word die beste onthou?

13 Weens hierdie filosofie van daadloosheid is die Taoïstiese beskouing dat dit sinloos is as enigiemand hom op enige manier inmeng in wat die natuur aan die gang gesit het. Vroeër of later sal alles tot sy teenoorgestelde terugkeer. Ongeag hoe ondraaglik ’n situasie is, dit sal gou verbeter. Ongeag hoe aangenaam ’n situasie is, dit sal gou verdwyn. (Sien in teenstelling hiermee Prediker 5:18, 19.) Hierdie filosofiese lewensbeskouing word toegelig deur een van Tsjoeang-tse se drome, waaraan die gewone mense hom die beste onthou:

“Eenkeer het Tsjoeang Tsjou gedroom dat hy ’n vlinder is, ’n vlinder wat rondsweef en rondfladder, selfvoldaan terwyl hy doen wat hy wil. Hy het nie geweet dat hy Tsjoeang Tsjou is nie. Skielik het hy wakker geword en daar was hy, die sterk en onmiskenbare Tsjoeang Tsjou. Maar hy het nie geweet of hy Tsjoeang Tsjou is wat gedroom het dat hy ’n vlinder is, of ’n vlinder wat droom dat hy Tsjoeang Tsjou is nie.”

14. Op watter gebiede word die Taoïstiese invloed weerspieël?

14 Die invloed van hierdie filosofie blyk uit die dig- en skilderstyl wat deur latere geslagte Chinese kunstenaars ontwikkel is. (Sien bladsy 171.) Maar Taoïsme sou nie lank ’n passiewe filosofie bly nie.

Van filosofie tot godsdiens

15. (a) Tot watter gedagte het die Taoïste se beheptheid met die natuur hulle gelei? (b) Watter verklarings in Tao Te Tsjing het tot so ’n gedagte bygedra?

15 In hulle poging om met die natuur verenig te wees, het Taoïste met die tydeloosheid en elastisiteit daarvan behep geraak. Hulle het gegis dat as ’n mens ooreenkomstig Tao, of die natuur se weg, lewe jy dalk op die een of ander manier die geheime van die natuur kon leer ken en onvatbaar kon word vir fisiese kwaad, siektes en selfs die dood. Hoewel Lao-tse nie ’n geskilpunt hiervan gemaak het nie, lyk dit asof gedeeltes in Tao Te Tsjing op hierdie gedagte dui. Hoofstuk 16 sê byvoorbeeld: “Eenheid met die Tao is ewig. En hoewel die liggaam sterf, sal die Tao nooit vergaan nie.” *

16. Hoe het Tsjoeang-tse se geskrifte tot die magiese opvattings van Taoïsme bygedra?

16 Tsjoeang-Tse het ook tot sulke gissings bygedra. In ’n dialoog in Tsjoeang Tse het een mitiese karakter ’n ander byvoorbeeld gevra: “Jy is bejaard en tog lyk jy soos ’n kind. Hoe is dit moontlik?” Die laasgenoemde het geantwoord: “Ek het Tao geleer.” Tsjoeang-tse het oor ’n ander Taoïstiese filosoof geskryf: “Nou kon Liehtse op die wind ry. Hy het vyftien dae lank gelukkig op die koel bries gesweef voordat hy teruggekeer het. Onder sterflinge wat geluk verkry, is so ’n man seldsaam.”

17. Watter Taoïstiese gebruike het uit vroeëre gissings ontstaan, en waartoe het dit gelei? (Vergelyk Romeine 6:23; 8:6, 13.)

17 Sulke verhale het Taoïste se verbeelding aangegryp, en hulle het begin eksperimenteer met meditasie, diëte en asemhalingsoefeninge wat kwansuis liggaamlike aftakeling en die dood kon vertraag. Gou was daar legendes in omloop oor onsterflikes wat op wolke kon vlieg, na willekeur kon verskyn en verdwyn en tallose jare lank op heilige berge of afgeleë eilande van dou of magiese vrugte kon lewe. Volgens die Chinese geskiedenis het die Tsj’in-keiser, Sjih Hoeang-Ti, in 219 v.G.J. ’n vloot skepe met 3 000 seuns en dogters gestuur om die legendariese eiland P’eng-lai, die woonplek van die onsterflikes, te vind en die kruid van onsterflikheid terug te bring. Onnodig om te sê, hulle het nie met die elikser teruggekeer nie, maar volgens die oorlewering het hulle die eilande wat later Japan genoem is, bevolk.

18. (a) Op watter Taoïstiese konsep is ‘onsterflikheidspille’ gebaseer? (b) Watter ander towergebruike is deur Taoïsme ontwikkel?

18 Gedurende die Han-dinastie (206 v.G.J.–220 G.J.) het die towergebruike van Taoïsme ’n hoogtepunt bereik. Daar is gesê dat die Taoïstiese konsep van fisiese onsterflikheid keiser Woe Ti baie geboei het, hoewel hy Confucianisme as die amptelike staatslering bevorder het. Hy het veral belanggestel in die voorbereiding van ‘onsterflikheidspille’ deur middel van alchemie. Volgens die Taoïstiese beskouing ontstaan lewe wanneer die teengestelde kragte jin en jang (vroulik en manlik) saamsmelt. Deur lood (donker, of jin) en kwik (helder, of jang) saam te smelt, het die alchemiste dus die natuurproses nageboots, en hulle het gedink dat die produk ’n onsterflikheidspil sou wees. Taoïste het ook oefeninge soortgelyk aan Joga, asembeheersingstegnieke, dieetbeperkings en seksgebruike ontwikkel wat glo ’n mens se lewensenergie sou vergroot en jou lewe sou verleng. Hulle toebehore het toormiddels ingesluit wat ’n mens na bewering onsigbaar sou maak en sou voorkom dat wapens jou tref of jou in staat sou stel om op water te loop of deur die ruimte te vlieg. Hulle het ook towerseëls, wat gewoonlik die jin-jang-simbool bevat het, op geboue en bokant deure aangebring om bose geeste en wilde diere af te weer.

19. Hoe is Taoïsme georganiseer?

19 Teen die tweede eeu G.J. was Taoïsme georganiseerd. ’n Sekere Tsjang Ling, of Tsjang Tao-ling, het ’n Taoïstiese geheime genootskap in westelike China gestig, towergenesings gedoen en alchemie beoefen. Omdat elke lid vyf peck rys moes betaal, is sy beweging die Vyf-peck-rys-Taoïsme (woe-tou-mi tao) genoem. * Tsjang, wat beweer het dat hy ’n persoonlike openbaring van Lao-tse ontvang het, het die eerste “hemelse meester” geword. Eindelik is daar gesê dat hy dit reggekry het om die lewenselikser te maak en dat hy lewend, op die rug van ’n tier, vanaf die berg Loeng-hoe (Draak-Tierberg) in die provinsie Kiangsi na die hemel opgevaar het. Tsjang Tao-ling was die eerste van ’n eeuelange opeenvolging Taoïstiese “hemelse meesters”, wat elkeen na bewering ’n reïnkarnasie van Tsjang is.

Die uitdaging van Boeddhisme

20. Hoe het Taoïsme probeer om Boeddhisme se invloed teen te werk?

20 Teen die sewende eeu, gedurende die T’ang-dinastie (618-907 G.J.), het Boeddhisme inbreuk gemaak op die Chinese godsdienslewe. As ’n teenmaatreël het Taoïsme homself as ’n godsdiens met ’n Chinese oorsprong gepropageer. Lao-tse is vergoddelik, en Taoïstiese geskrifte is heilig verklaar. Tempels, monnike- en nonnekloosters is gebou en monnike- en nonneordes is gestig, naastenby soos dié van Boeddhisme. Daarbenewens het Taoïsme ook baie van die gode, godinne, feë en onsterflikes van die Chinese volksoorleweringe, soos die Agt Onsterflikes (Pa Hsien), die god van die vuurherd (Tsao Sjen), stadsgode (Tsj’eng Hoeang) en deurwagters (Men Sjen), in sy eie godedom opgeneem. Die resultaat was ’n mengsel wat elemente van Boeddhisme, tradisionele bygelowe, spiritisme en vooroueraanbidding ingesluit het.—1 Korinthiërs 8:5.

21. Waarin het Taoïsme eindelik self verander, en hoe?

21 Met verloop van tyd het Taoïsme stadig in ’n stelsel van afgodediens en bygeloof ontaard. Elke persoon het eenvoudig sy geliefkoosde gode en godinne by die plaaslike tempels aanbid en hulle gesmeek om beskerming teen die bose en om hulp sodat hulle aardse rykdom kon verkry. Die priesters kon gehuur word om begrafnisse te lei; gunstige liggings vir grafte, huise en ondernemings te kies; met die dode te kommunikeer; bose geeste en spoke af te weer; feeste te vier en allerhande ander rituele uit te voer. Iets wat as ’n denkrigting van mistieke filosofie begin het, het dus self in ’n godsdiens verander wat vas op geloof in onsterflike geeste, die helse vuur en halfgode gegrond was—opvattings wat aan die stagnante versameling valse opvattings van eertydse Babilon ontleen is.

China se ander prominente wysgeer

22. Watter denkrigting het in China begin oorheers, en watter vrae moet ons bespreek?

22 Noudat ons die verskyning, ontwikkeling en agteruitgang van Taoïsme nagegaan het, moet ons onthou dat dit net een van die “honderd denkrigtings” was wat gedurende die tydperk van die Strydende State in China ontstaan het. ’n Ander denkrigting wat uiteindelik prominent geword het, trouens, begin oorheers het, was Confucianisme. Maar waarom het Confucianisme so prominent geword? Van alle Chinese wysgere is Confucius ongetwyfeld die een wat buite China die bekendste is, maar wie was hy werklik? En wat het hy verkondig?

23. Watter persoonlike besonderhede aangaande Confucius word in die “Geskiedrolle” aangegee?

23 Met betrekking tot Confucius raadpleeg ons weer die Sjih Tsji (Geskiedrolle) van Ssoe-ma Tsj’ien. In teenstelling met die kort skets oor Lao-tse, vind ons ’n omvattende lewensbeskrywing van Confucius. Hier is etlike persoonlike besonderhede wat aangehaal word uit ’n vertaling deur die Chinese geleerde Lin Joetang:

“Confucius is in die dorp Tsou, in die distrik Tsj’angping, in die staat Loe gebore. . . . [Sy moeder] het by die heuwel Nitsj’ioe gebid en Confucius is in antwoord op haar gebed in die twee-en-twintigste jaar van hertog Hsiang van Loe (551 v.C.) verwek. Daar was by sy geboorte ’n opmerklike kronkeling op sy kop, en daarom is hy ‘Tsj’ioe’ genoem (wat ’n “heuwel” beteken). Sy letterkundige naam was Tsjoengni, en sy van was K’oeng.” *

24. Wat het in Confucius se jong dae gebeur?

24 Kort na sy geboorte is sy vader oorlede, maar sy moeder het, hoewel sy arm was, daarin geslaag om hom ’n behoorlike skoolopleiding te gee. Die seun het baie in geskiedenis, poësie en musiek belanggestel. Volgens die Analecta, een van die Confuciaanse Vier Boeke, het hy hom aan akademiese studie gewy toe hy 15 geword het. Toe hy 17 was, is hy ’n ondergeskikte regeringspos in sy geboortestaat Loe gegee.

25. Watter uitwerking het die dood van Confucius se moeder op hom gehad? (Vergelyk Prediker 9:5, 6; Johannes 11:33, 35.)

25 Sy geldsake het blykbaar verbeter, sodat hy getrou het toe hy 19 was en die volgende jaar ’n seun gehad het. Maar in sy middel-twintigerjare is sy moeder oorlede. Dit het blykbaar ’n groot uitwerking op hom gehad. As ’n nougesette onderhouer van ou tradisies het Confucius hom aan die openbare lewe onttrek en 27 maande lank by sy moeder se graf oor haar getreur en sodoende vir die Chinese ’n tipiese voorbeeld van ouerverering gestel.

Confucius die onderrigter

26. Watter beroep het Confucius ná die dood van sy moeder uitgeoefen?

26 Daarna het hy sy gesin verlaat en ’n swerwende onderrigter geword. Die vakke waarin hy les gegee het, was onder meer musiek, poësie, letterkunde, die burgerleer, etiek en die wetenskap, wat dit ook al destyds behels het. Hy moes nogal naam gemaak het, want daar is gesê dat hy op een tydstip tot 3 000 leerlinge gehad het.

27. Wat weet ons van Confucius as ’n onderrigter? (Vergelyk Mattheüs 6:26, 28; 9:16, 17; Lukas 12:54-57; Johannes 4:35-38.)

27 In die Ooste word Confucius hoofsaaklik as ’n meesteronderrigter vereer. Trouens, die grafskrif op sy graf in Tsj’ü-fou, in die provinsie Sjantoeng, noem hom eenvoudig: “Eertydse, Allerheiligste Onderrigter.” Een Westerse skrywer beskryf sy onderrigtingsmetode soos volg: “Hy het van ‘plek tot plek rondgeswerf, vergesel van diegene wat sy lewensbeskouings ingeneem het’. As hulle ver gereis het, het hy op ’n ossewa gery. Danksy die dier se stadige pas kon sy leerlinge te voet volg, en blykbaar is die onderwerp van sy lesings dikwels bepaal deur wat onderweg gebeur het.” Interessant genoeg het Jesus later, en onafhanklik, ’n soortgelyke metode gebruik.

28. Waarom was Confucius volgens die Chinese skrywer Lin Joetang ’n hooggeagte onderrigter?

28 Die feit dat Confucius self ’n goeie student was, veral in die geskiedenis en etiek, het ongetwyfeld daartoe bygedra dat die Oosterlinge hom as onderrigter vereer het. “Mense het hulle tot Confucius aangetrokke gevoel, nie soseer omdat hy die wysste mens van sy tyd was nie, maar omdat hy die geleerdste vakkundige was, die enigste persoon van sy tyd wat hulle oor die ou boeke en ou geleerdheid kon onderrig”, het Lin Joetang geskryf. Nadat hy getoon het dat hierdie leergierigheid moontlik die hoofrede was waarom Confucianisme oor ander denkrigtings geseëvier het, het Lin dit soos volg opgesom: “Die Confuciaanse onderrigters het iets definitiefs gehad om oor te dra en die Confuciaanse leerlinge het iets definitiefs gehad om te leer, naamlik, geskiedkundige inligting, terwyl die ander denkrigtings verplig was om bloot hul eie menings te lug.”

“Dit is die Hemel wat my ken!”

29. (a) Wat was Confucius se werklike lewensdoelwit? (b) Hoe het hy sy doelwit probeer bereik, en met watter resultaat?

29 Ondanks sy sukses as ’n onderrigter het Confucius onderrigting nie as sy lewenstaak beskou nie. Hy het gemeen dat sy opvattings oor etiek en sedelikheid die destydse wêreld vol beroering kon red as die heersers dit maar net wou toepas deur hom of sy leerlinge in hulle regerings aan te stel. Met dié doel het hy en ’n klein groepie van sy getrouste dissipels sy geboortestaat Loe verlaat en van staat tot staat gereis om die wyse heerser te probeer vind wat sy opvattings oor regering en die maatskaplike orde sou aanneem. Wat was die resultaat? Sjih Tsji sê: “Eindelik het hy Loe verlaat, is hy in Tsj’i verstoot, is hy uit Soeng en Wei verdryf en het hy tussen Tsj’en en Ts’ai gebrek gely.” Nadat hy 14 jaar rondgereis het, het hy na Loe teruggekeer, teleurgestel maar nie gebroke nie.

30. Op watter letterkundige werke is Confucianisme gebaseer?

30 Hy het die res van sy lewe aan letterkundige werk en onderrigting gewy. (Sien venster, bladsy 177.) Hoewel hy ongetwyfeld sy onbekendheid betreur het, het hy gesê: “Ek murmureer nie teen die Hemel nie. Ek kla nie teen die mens nie. Ek sit my studie hier op aarde voort en bly in voeling met die Hemel daarbo. Dit is die Hemel wat my ken!” Hy is eindelik in 479 v.G.J. oorlede, toe hy 73 was.

Die kern van Confuciaanse opvattings

31. Hoe kon maatskaplike orde volgens Confucius se lering bewerkstellig word?

31 Hoewel Confucius as geleerde en as onderrigter uitgemunt het, was sy invloed geensins tot akademiese kringe beperk nie. Trouens, Confucius se doelwit was nie bloot om gedrags- of sedereëls te verkondig nie, maar ook om vrede en orde te herstel in die gemeenskap wat destyds deur die voortdurende oorlog tussen die leenhere verdeel is. Te dien einde het Confucius verkondig dat elkeen, van die keiser tot die gewone burger, moet uitvind wat in die gemeenskap van hom verwag word en dienooreenkomstig moet lewe.

32, 33. (a) Wat was die Confuciaanse konsep li? (b) Wat sou die beoefening van li volgens Confucius tot gevolg hê?

32 In Confucianisme staan hierdie konsep bekend as li, wat fatsoenlikheid, beleefdheid, die bestaande orde, en, by uitbreiding, ritueel, seremonie en verering beteken. In antwoord op die vraag: “Wat is hierdie groot li?” het Confucius die volgende verduideliking gegee:

“Van al die dinge wat mense naleef, is li die grootste. Sonder li weet ons nie hoe om die geeste van die heelal reg te aanbid nie; of hoe om vas te stel wat die behoorlike status van die koning en die ministers, die heerser en die onderdaan, en die oudstes en die jongeres is nie; of hoe om vas te stel wat die sedelike verhoudinge tussen die geslagte, tussen ouers en kinders en tussen broers is nie; of hoe om die verskillende grade van gesinsverhoudinge te onderskei nie. Dit is waarom ’n ware heer li as so belangrik beskou.”

33 Li is derhalwe die gedragsreël waarvolgens ’n ware heer (tsjün-tse, wat soms as “hoër man” vertaal word) al sy maatskaplike verhoudinge rig. Wanneer almal probeer om dit te doen, “kom alles reg in die gesin, die staat en die wêreld”, het Confucius gesê, en dit is dan wanneer Tao, of die hemelse weg, gevolg word. Maar hoe moet li tot uiting kom? Dit bring ons by nog ’n sentrale begrip van Confucianisme—jen (wat ren uitgespreek word), menslikheid of medelye.

34. Wat is die Confuciaanse konsep jen, en hoe is dit nuttig om maatskaplike euwels uit te wis?

34 Terwyl li selfbeheersing deur eksterne wette beklemtoon, draai jen om die menslike natuur, of die innerlike persoon. Die Confuciaanse begrip, veral soos dit deur Confucius se vernaamste dissipel, Mencius, uitgedruk word, is dat die menslike natuur basies goed is. Die oplossing vir alle maatskaplike euwels lê dus in selfontwikkeling, en dít begin met onderwys en kennis. Die eerste hoofstuk van Die Groot Geleerdheid sê:

“Wanneer ware kennis verkry word, word die wil opreg; wanneer die wil opreg is, word die hart in orde gebring . . . ; wanneer die hart in orde gebring word, word die persoonlike lewe ontwikkel; wanneer die persoonlike lewe ontwikkel word, word die gesinslewe gereguleer; wanneer die gesinslewe gereguleer word, is die volkslewe ordelik en wanneer die volkslewe ordelik is, is daar vrede in hierdie wêreld. Almal, van die keiser tot die gewone mense, moet die ontwikkeling van die persoonlike lewe as die oorsprong of grondslag beskou.”

35. (a) Hoe kan die beginsels li en jen opgesom word? (b) Hoe word dit in die Chinese lewensbeskouing weerspieël?

35 Volgens Confucius sal die nalewing van li mense dus in staat stel om in elke situasie reg op te tree, en as hulle jen aankweek, sal hulle almal vriendelik behandel. Teoreties is die resultaat vrede en harmonie in die gemeenskap. Die Confuciaanse ideaal, gegrond op die beginsels li en jen, kan soos volg opgesom word:

“Vriendelikheid van die vader, ouerverering deur die seun

Fatsoenlikheid van die oudste broer, nederigheid en respek van die jongeres

Regverdigheid van die man, gehoorsaamheid van die vrou

Menslikheid van die oudstes, ontsag van die jongeres

Welwillendheid van heersers, lojaliteit van ministers en onderdane.”

Dit help om te verklaar waarom die meeste Chinese, en selfs ander Oosterlinge, soveel klem lê op familiebande, vlytigheid, onderwys en die feit dat ’n mens jou plek moet ken en dienooreenkomstig optree. Of dit nou goed of sleg is, hierdie Confuciaanse begrippe is weens eeuelange inprenting diep in die Chinese bewustheid gewortel.

Confucianisme het ’n staatskultus geword

36. Hoe het Confucianisme die status van ’n staatskultus verkry?

36 Toe Confucianisme verskyn het, het die tydperk van die “honderd denkrigtings” ten einde geloop. Keisers van die Han-dinastie het in die Confuciaanse lering oor lojaliteit aan die heerser juis die formule gevind wat hulle nodig gehad het om die mag van die troon te versterk. Onder keiser Woe Ti, wat ons reeds in verband met Taoïsme gemeld het, is Confucianisme tot die status van ’n staatskultus verhoog. Net diegene met kennis van die Confuciaanse klassieke werke is as staatsamptenare gekies, en enigiemand wat die staatsdiens wou betree, moes in ’n landwye eksamen oor die Confuciaanse klassieke werke slaag. Confuciaanse ritusse en rituele het die godsdiens van die vorstehuis geword.

37. (a) Hoe het Confucianisme ’n godsdiens geword? (b) Waarom is Confucianisme in werklikheid meer as net ’n filosofie?

37 Hierdie wending het baie gehelp om Confucius ’n hoër posisie in die Chinese gemeenskap te gee. Die Han-keisers het begin met die tradisie van offers by Confucius se graf. Hy is eretitels gegee. Toe, in 630 G.J., het die T’ang-keiser T’ai Tsoeng bevel gegee dat ’n staatstempel vir Confucius in elke provinsie en distrik in die ryk opgerig word en dat offers gereeld gebring word. Confucius is feitlik tot die status van ’n god verhoog, en Confucianisme het ’n godsdiens geword wat nouliks van Taoïsme of Boeddhisme onderskei kon word.—Sien venster, bladsy 175.

Die erfenis van die wysheid van die Ooste

38. (a) Wat het sedert 1911 met Taoïsme en Confucianisme gebeur? (b) Wat geld steeds vir die basiese begrippe van hierdie godsdienste?

38 Sedert die einde van dinastieë in China in 1911 is baie kritiek, en selfs vervolging, teen Confucianisme en Taoïsme gerig. Taoïsme is in onguns gebring weens sy magiese en bygelowige gebruike. En daar is gesê dat Confucianisme feodaal is en ’n slawementaliteit bevorder om mense, veral vroue, onderdanig te hou. Maar ondanks sulke amptelike veroordeling is die basiese begrippe van hierdie godsdienste so diep in die Chinese verstand gewortel dat hulle steeds ’n groot invloed op baie van die mense het.

39. Wat sê een nuusberig oor bygelowige godsdiensgebruike in China?

39 Die Kanadese koerant Globe and Mail het byvoorbeeld in 1987 onder die opskrif “Chinese godsdiensritusse seldsaam in Beijing maar floreer in die kusgebiede” berig dat begrafnisplegtighede, tempeldienste en talle bygelowige gebruike steeds na byna 40 jaar van ateïstiese heerskappy in China algemeen op die platteland voorkom. “Die meeste dorpies het ’n fengsjoei-man, gewoonlik ’n bejaarde inwoner wat weet hoe om die kragte van wind (feng) en water (sjoei) te lees en sodoende die gunstigste ligging vir alles van die voorouergraf tot ’n nuwe huis of sitkamermeubels te bepaal”, sê die berig.

40. Watter godsdiensgebruike word in Taiwan beoefen?

40 Elders word Taoïsme en Confucianisme oral waar die tradisionele Chinese kultuur behoue gebly het, aangetref. In Taiwan dien een man, wat beweer dat hy ’n afstammeling van Tsjang Tao-ling is, as ’n “hemelse meester”, en hy mag Taoïstiese priesters (Tao Sjih) in hul amp bevestig. Die gewilde godin Matsoe, wat die “Heilige Moeder in die Hemel” genoem word, word as die beskermheilige van die eiland en van matrose en vissers aanbid. Die gewone mense bring offers aan die geeste van die riviere, berge en sterre; die beskermgode van al die ambagte en die gode van gesondheid, geluk en rykdom. *

41. Hoe word Confucianisme deesdae as ’n godsdiens beoefen?

41 Wat van Confucianisme? Sy rol as ’n godsdiens is tot die status van ’n volksmonument verlaag. In China hou die staat die Tempel van Confucius en die familiegrond in Tsj’ü-fou, die geboorteplek van Confucius, as toeriste-attraksies in stand. Volgens die tydskrif China Reconstructs word vertonings daar gehou waarin “’n aanbiddingsritueel vir Confucius opgevoer word”. En in Singapoer, Taiwan, Hongkong en elders in oostelike Asië vier mense steeds Confucius se verjaarsdag.

42. In watter opsig skiet Taoïsme en Confucianisme te kort as riglyne in die soeke na die ware God?

42 Confucianisme en Taoïsme is voorbeelde van hoe ’n stelsel gegrond op mensewysheid en -redenasie, ongeag hoe logies en welmenend, op die ou end te kort skiet in die soeke na die ware God. Waarom? Omdat dit een noodsaaklike element weglaat, naamlik die wil en vereistes van ’n persoonlike God. Confucianisme vestig die aandag op die menslike natuur as die beweegrede om goed te doen, en Taoïsme vestig die aandag op die natuur self. Maar dit is misplaaste vertroue omdat dit eenvoudig daarop neerkom dat geskape dinge eerder as die Skepper aanbid word.—Psalm 62:10; 146:3, 4; Jeremia 17:5.

43. Hoe het die godsdienstradisies van die Chinese hulle oor die algemeen in die soeke na die ware God benadeel?

43 Daarenteen het die tradisies van vooroueraanbidding en afgodediens, ontsag vir ’n kosmiese hemel en die verering van geeste in die natuur, sowel as die ritusse en rituele wat daarmee gepaard gaan, dermate in die Chinese denkwyse wortelgeskiet dat hulle as die onuitgesproke waarheid aanvaar word. Dit is dikwels baie moeilik om met ’n Chinees oor ’n persoonlike God of Skepper te praat omdat die begrip vir hom so vreemd is.—Romeine 1:20-25.

44. (a) Hoe reageer denkers op die natuurwonders? (b) Wat word ons aangespoor om te doen?

44 Dit is ’n feit dat daar ’n oorvloed van groot wonders en wysheid in die natuur is en dat ons as mense met ’n wonderlike redeneervermoë en gewete begaaf is. Maar soos die hoofstuk oor Boeddhisme getoon het, het die wonders wat ons in die natuur sien denkers tot die gevolgtrekking laat kom dat daar ’n Ontwerper of Skepper moet wees. (Sien bladsye 151-2.) Is dit dan nie met die oog op hierdie feit logies dat ons moet probeer om die Skepper te vind nie? Trouens, die Skepper nooi ons om dit te doen: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam” (Jesaja 40:26). As ons dit doen, sal ons nie net uitvind wie die Skepper is nie, naamlik Jehovah God, maar ook wat hy vir ons toekoms beplan.

45. Watter ander Oosterse godsdiens gaan ons vervolgens bespreek?

45 Saam met Boeddhisme, Confucianisme en Taoïsme, wat ’n belangrike rol in Oosterlinge se godsdienslewe gespeel het, is daar nog ’n godsdiens, ’n godsdiens eie aan die mense van Japan—die Sjinto. In watter opsigte is dit anders? Wat is die bron daarvan? Het dit mense na die ware God gelei? Ons sal hierdie vrae in die volgende hoofstuk bespreek.

[Voetnote]

^ par. 15 Lin Joetang se vertaling van hierdie gedeelte lui soos volg: “Omdat hy in harmonie met Tao is, is hy ewig en word sy hele lewe teen kwaad beskerm.”

^ par. 19 ’n Peck is ’n droë maat gelyk aan 8,8 liter.

^ par. 23 Die woord “Confucius” is ’n Latynse transliterasie van die Chinese K’oeng-foe-tse, wat “K’oeng die Meester” beteken. Jesuïetepriesters wat in die 16de eeu na China gekom het, het die Latynse naam gesmee toe hulle by die pous van Rome ’n aanbeveling gedoen het dat Confucius tot “heilige” van die Rooms-Katolieke Kerk verklaar word.

^ par. 40 Een Taoïstiese groep in Taiwan, wat T’ien Tao (Hemelse Weg) genoem word, sê dat dit ’n mengsel van vyf wêreldgodsdienste is—naamlik Taoïsme, Confucianisme, Boeddhisme, die Christelike godsdiens en die Islām.

[Studievrae]

[Venster op bladsy 162]

Uitspraak van Chinese woorde

Hieronder verskyn enkele riglyne oor hoe om Chinese woorde in Afrikaans uit te spreek:

tsj dj, soos in Tao Te Tsjing (djing)

tsj’ tsj, soos in Tsj’in-dinastie (tsjin)

hs sj, soos in Ta Hsüeh (sjoe-ê), Die Groot Geleerdheid

k gh, soos in die Boeddhistiese godin Koean-jin (ghoean-jin)

k’ k, soos in K’oeng-foe-tse (koeng-foe-tse), of Confucius

t d, soos in Tao (dao), die Weg

t’ t, soos in T’ang-dinastie (tang)

[Venster op bladsy 175]

Confucianisme—filosofie of godsdiens?

Omdat Confucius nie veel oor God gesê het nie, beskou baie mense Confucianisme as bloot ’n filosofie en nie ’n godsdiens nie. Maar sy woorde en dade het getoon dat hy wel godsdienstig was. Dit is in twee opsigte duidelik. Hy het eerstens ’n eerbiedige vrees gehad vir ’n verhewe kosmiese geestelike krag, wat die Chinese T’ien, of Hemel, noem. Hy het dit as die bron van alle deug en sedelike voortreflikheid beskou en gemeen dat die wil daarvan alle dinge rig. Hy het tweedens groot klem gelê op die nougesette onderhouding van die ritusse en seremonies wat met die aanbidding van die hemel en die geeste van afgestorwe voorouers verband hou.

Hoewel Confucius hierdie beskouings nooit as ’n godsdiensvorm verkondig het nie, het dit deur die geslagte heen vir Chinese die hoofsaak van godsdiens geword.

[Venster/Prente op bladsy 177]

Confuciaanse Vier Boeke en Vyf Klassieke Werke

Die Vier Boeke

1. Die Groot Geleerdheid (Ta Hsüeh), die grondslag van ’n heer se opvoeding, die eerste teks wat skoolseuns in ou China bestudeer het

2. Die Leer van die Middeweg (Tsjoeng Joeng), ’n verhandeling oor die ontwikkeling van die menslike natuur deur middel van matigheid

3. Die Analecta (Loen Jü), ’n versameling van Confucius se woorde; word as die hoofbron van Confuciaanse denke beskou

4. Die Boek van Mencius (Meng-tse), geskrifte en woorde van Confucius se grootste dissipel, Meng-tse of Mencius

Die Vyf Klassieke Werke

1. Die Boek van Poësie (Sjih Tsjing), 305 gedigte wat ’n skets van die daaglikse lewe in vroeë Tsjou-tye (1000-600 v.G.J.) voorsien

2. Die Boek van Geskiedenis (Sjoe Tsjing), wat 17 eeue van Chinese geskiedenis, vanaf die Sjang-dinastie (1766-1122 v.G.J.), dek

3. Die Boek van Veranderinge (I Tsjing), ’n boek oor waarseêry, gebaseer op vertolkings van die 64 moontlike kombinasies van ses heel of gebroke lyne

4. Die Boek van Ritusse (Li Tsji), ’n versameling reëls oor seremonies en rituele

5. Anale oor Lente en Herfs (Tsj’oen Tsj’ioe), ’n geskiedenis van Confucius se geboortestaat Loe wat 721-478 v.G.J. dek

[Prente]

Bo: Vyf Klassieke Werke, en links: ’n Gedeelte van Die Groot Geleerdheid (een van die Vier Boeke), wat op bladsy 181 aangehaal word

[Prent op bladsy 163]

Tao, ‘die weg wat ’n mens moet inslaan’

[Prent op bladsy 165]

Lao-tse, die filosoof van Taoïsme, op die rug van ’n buffel

[Prent op bladsy 166]

Taoïstiese tempel vir Matsoe, “Heilige Moeder in die Hemel”, in Taiwan

[Prent op bladsy 171]

Mistige berge, kalm waters, bome wat oorhel en rustende geleerdes—gewilde temas in Chinese landskapskilderye—weerspieël die Taoïstiese ideaal van ’n lewe in harmonie met die natuur

[Prente op bladsy 173]

Links: Ou Taoïstiese snywerk van die god van Langlewendheid saam met die Agt Onsterflikes.

Regs: Taoïstiese priester in volle ampsgewaad lei ’n begrafnis

[Prent op bladsy 179]

Confucius, China se prominentste wysgeer, word as ’n onderrigter van sedes en etiek vereer

[Prent op bladsy 181]

Vieringe, met musiek, by Soeng Kjoen Kwan, ’n 14de-eeuse Confuciaanse onderwyssentrum in Seoel, Korea, is ’n voortsetting van Confuciaanse rituele

[Prente op bladsy 182]

Die tipiese Chinees, hetsy ’n Boeddhis, Taoïs of Confuciaan, bewys, van links, tuis hulde aan voorouers, aanbid die god van rykdom en bring op feesdae offers by tempels