Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom in ander godsdienste belangstel?

Waarom in ander godsdienste belangstel?

Hoofstuk 1

Waarom in ander godsdienste belangstel?

1-7. Wat is party kenmerke van die wêreld se verskeie godsdienste?

WAAR jy ook al woon, jy het seker al self gesien hoe godsdiens ’n uitwerking het op die lewe van miljoene mense, dalk op jou lewe ook. In lande waar Hindoeïsme beoefen word, sal jy dikwels sien hoe mense poeja uitvoer—’n seremonie waartydens hulle moontlik offerandes in die vorm van klapper, blomme en appels aan hulle gode bring. ’n Priester sal ’n kolletjie rooi of geel kleurstof, die tilak, op die aanbidders se voorkoppe aanbring. Miljoene stroom ook elke jaar na die Gangesrivier om deur sy water gereinig te word.

2 In Katolieke lande sal jy mense in kerke en katedrale sien bid terwyl hulle ’n kruisbeeld of ’n rosekrans vashou. Die krale van die rosekrans word gebruik om gebede tot Maria te tel. En dit is nie moeilik om nonne en priesters, wat deur hulle swart gewade gekenmerk word, uit te ken nie.

3 In Protestantse lande is daar baie kapelle en kerke, en Sondag trek gemeentelede gewoonlik hulle beste klere aan en vergader hulle om gesange te sing en preke te hoor. Hulle geestelikes dra dikwels ’n swart pak en ’n kenmerkende wit boordjie.

4 In Islamitiese lande kan jy die stemme van die muezzins hoor, die Moslemroepers wat vyf keer per dag van minarette af roep om die gelowiges na die ṣalāt, of rituele gebed, te ontbied. Hulle beskou die Heilige Qur’ān as die Islamitiese gewyde boek. Volgens die Islamitiese geloof is dit deur God geopenbaar en in die sewende eeu G.J. deur die engel Gabriël aan die profeet Muḥammad gegee.

5 In die strate van talle Boeddhistiese lande word die monnike van Boeddhisme, gewoonlik in saffraangeel, swart of rooi gewade, as ’n toonbeeld van vroomheid beskou. Oeroue tempels met beelde van die rustige Boeddha is ’n bewys van hoe oud die Boeddhistiese geloof is.

6 Die Sjinto, wat hoofsaaklik in Japan beoefen word, is vanweë sy gesinsaltare en offerandes aan voorouers ’n deel van die daaglikse lewe. Die Japannese bid sonder huiwering om die mees alledaagse dinge, selfs om sukses in skooleksamens.

7 Nog ’n godsdiensbedrywigheid wat oor die hele wêreld bekend is, is dié van mense wat van huis tot huis gaan en met Bybels en Bybellektuur op straat staan. Wanneer mense met Die Wagtoring en Ontwaak! gesien word, herken feitlik almal hulle as Jehovah se Getuies.

8. Wat dui die geskiedenis van godsdiens aan?

8 Wat dui hierdie groot, wêreldwye verskeidenheid godsdienste aan? Dat die mensdom al duisende jare lank ’n geestelike behoefte en hunkering het. Die mens het nog altyd sy beproewinge en laste, sy twyfelgedagtes en vrae, waaronder die raaisel van die dood, gehad. Mense het al op talle verskillende maniere aan hul godsdiensgevoelens uiting gegee wanneer hulle hul in hul soeke na seëninge en vertroosting tot God of hulle gode gewend het. Godsdiens probeer ook om hierdie groot vrae te beantwoord: Waarom is ons hier? Hoe moet ons lewe? Wat hou die toekoms vir die mensdom in?

9. In watter sin het die meeste mense ’n vorm van godsdiens in hulle lewe?

9 Daarenteen is daar miljoene mense wat geen godsdiens of geloof in ’n god bely nie. Hulle is ateïste. Ander, agnostici, glo dat God onbekend en waarskynlik onkenbaar is. Maar dit beteken natuurlik nie dat hulle beginsellose of sedelose mense is nie, net so min as wat iemand noodwendig beginsels of sedes het as hy ’n godsdiens bely. As ’n mens egter aanvaar dat godsdiens “verknogtheid aan ’n beginsel; streng getrouheid; pligsgetrouheid; vroom toegeneentheid of gehegtheid” is, dan is daar in die lewe van die meeste mense, met inbegrip van ateïste en agnostici, die een of ander vorm van godsdiens.—The Shorter Oxford English Dictionary.

10. Het godsdiens ’n uitwerking op die hedendaagse wêreld? Lig dit toe.

10 Die aanwesigheid van so baie godsdienste in ’n wêreld wat weens immer vinniger vervoer en kommunikasie al hoe kleiner word, veroorsaak dat die invloed van verskeie gelowe wêreldwyd gevoel word, of ons nou daarvan hou of nie. Die verontwaardiging in 1989 oor die boek The Satanic Verses, wat volgens party mense deur ‘’n afvallige Moslem’ geskryf is, is ’n duidelike bewys van hoe godsdiensgevoel hom wêreldwyd kan openbaar. Islamitiese leiers het daarop aangedring dat die boek verbied word en selfs dat die outeur doodgemaak word. Wat laat mense so heftig reageer wanneer dit by godsdiensaangeleenthede kom?

11. Waarom is dit nie verkeerd om ander gelowe te ondersoek nie?

11 Om dit te beantwoord, moet ons iets omtrent die agtergrond van die wêreld se godsdienste weet. Soos Geoffrey Parrinder in World Religions—From Ancient History to the Present sê: “’n Studie van verskillende godsdienste impliseer nie noodwendig ontrouheid aan jou eie geloof nie, maar dit kan eerder verruim word as jy sien hoe ander mense na die werklikheid gesoek het en deur hulle soektog verryk is.” Kennis lei tot begrip, en begrip tot verdraagsaamheid teenoor mense met ’n ander sienswyse.

Waarom ondersoek instel?

12. Watter faktore bepaal gewoonlik ’n mens se godsdiens?

12 Het jy al ooit gedink of gesê: ‘Ek het my kerk. Dit is ’n baie persoonlike saak. Ek bespreek dit nie met ander nie’? Godsdiens is weliswaar baie persoonlik—ons ouers en familielede prent ons feitlik van geboorte af godsdiens- of sedebeskouings in. Gevolglik volg ons gewoonlik die godsdiensideale van ons ouers en grootouers. Godsdiens het byna ’n familietradisie geword. Wat is die gevolg van dié proses? In baie gevalle dat ander ons godsdiens vir ons gekies het. Dit was bloot ’n kwessie van waar en wanneer ons gebore is. Of, soos geskiedskrywer Arnold Toynbee getoon het, word die feit dat ’n individu ’n sekere geloof aanhang dikwels bepaal deur “die geografiese toeval van sy geboorteplek”.

13, 14. Waarom is dit nie redelik om aan te neem dat jou geboortegodsdiens outomaties deur God goedgekeur word nie?

13 Is dit redelik om aan te neem dat die godsdiens wat jy by geboorte ontvang het noodwendig die volle waarheid is? As jy in Italië of Suid-Amerika gebore is, is jy heel waarskynlik, sonder enige keuse, as ’n Katoliek grootgemaak. As jy in Indië gebore is, het jy waarskynlik outomaties ’n Hindoe geword of, as jy van die Pandjab afkomstig is, dalk ’n Sikh. As jou ouers uit Pakistan afkomstig was, sal jy uiteraard ’n Moslem wees. En as jy in die afgelope paar dekades in ’n Sosialistiese land gebore is, is jy dalk sonder ’n keuse as ’n ateïs grootgemaak.—Galasiërs 1:13, 14; Handelinge 23:6.

14 Is ’n mens se geboortegodsdiens dan outomaties die ware godsdiens wat deur God goedgekeur word? As daardie konsep deur die millenniums heen gevolg is, sou baie mense steeds primitiewe sjamanisme en eertydse vrugbaarheidskultusse beoefen het in die veronderstelling: ‘Wat goed genoeg was vir my voorouers is goed genoeg vir my.’

15, 16. Watter voordele hou ’n ondersoek van ander godsdienste in?

15 Met die oog op die groot verskeidenheid godsdiensvorme wat deur die afgelope 6 000 jaar oor die hele wêreld ontwikkel het, is dit ten minste leersaam en geesverruimend om te verstaan wat ander glo en hoe hulle opvattings ontstaan het. En dit kan jou ook ’n vaster hoop vir die toekoms bied.

16 In baie lande woon mense van verskillende godsdienste nou weens immigrasie en bevolkingsverhuising in dieselfde buurt. ’n Begrip van die ander se sienswyse kan derhalwe lei tot sinvoller kommunikasie en gesprekke tussen mense van verskillende gelowe. Dalk sal dit ook help om die wêreld se haat wat op godsdiensverskille gegrond is te verminder. Mense sal dalk hewig verskil oor hulle godsdiensoortuigings, maar daar is geen grondslag om iemand te haat bloot omdat hy of sy ’n ander mening huldig nie.—1 Petrus 3:15; 1 Johannes 4:20, 21; Openbaring 2:6.

17. Waarom moet ons nie mense haat wat ’n ander godsdiensbeskouing huldig nie?

17 Die eertydse Joodse wet het gesê: “Jy mag jou bloedverwant in jou hart nie haat nie. Berispe jou bloedverwant, maar moet jou nie om sy ontwil skuld op die hals haal nie. Jy mag jou nie op jou landgenote wreek of ’n wrok teen hulle koester nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself: Ek is die HERE [Jehovah]” (Levitikus 19:17, 18, Ta). Die Stigter van die Christelike godsdiens het gesê: “Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word . . . Dan sal daar vir julle ’n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes” (Lukas 6:27, 35, NAV). Onder die opskrif “Die vrou wat ondervra word” meld die Qur’ān ’n soortgelyke beginsel (sura 60:7): “Dit is moontlik dat Allah liefde sal kweek tussen julle en diegene van hulle met wie julle in vyandskap verkeer. En Allah is Almagtig, en Allah is Vergewensgesind, Genadig.”

18. Waarom is wat ’n mens glo belangrik?

18 Maar hoewel verdraagsaamheid en begrip nodig is, beteken dit nie dat wat jy glo nie saak maak nie. Soos geskiedskrywer Geoffrey Parrinder gesê het: “Daar word soms gesê dat alle godsdienste dieselfde doelwit het, of gelyke weë na die waarheid is, of selfs dat almal dieselfde leerstellings verkondig . . . Maar die godsdiens van die eertydse Asteke, wat die kloppende hart van hulle slagoffers na die son omhoog gehou het, was beslis nie so goed soos dié van die vreedsame Boeddha nie.” Is dit nie buitendien God self wat moet bepaal wat aanvaarbaar en wat onaanvaarbaar is wanneer dit by aanbidding kom nie?—Miga 6:8.

Hoe moet godsdiens beoordeel word?

19. Hoe behoort godsdiens ’n mens se gedrag te beïnvloed?

19 Hoewel die meeste godsdienste ’n versameling opvattings of leerstellings het, kan dit dikwels ’n uiters ingewikkelde teologie vorm wat nie deur die gemiddelde leek verstaan kan word nie. Maar die beginsel van oorsaak en gevolg geld in elke geval. Die leringe van ’n godsdiens moet die persoonlikheid en die daaglikse gedrag van elke gelowige beïnvloed. Gevolglik sal elke persoon se gedrag gewoonlik, in meerdere of mindere mate, sy godsdiensagtergrond weerspieël. Watter uitwerking het jou godsdiens op jou? Skep jou godsdiens ’n vriendeliker persoon? Iemand wat vrygewiger, eerliker, nederiger, verdraagsamer en meer medelydend is? Dit is redelike vrae, want een groot godsdiensonderrigter, Jesus Christus, het gesê: “So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.”—Mattheüs 7:17-20.

20. Watter vrae ontstaan oor godsdiens en die geskiedenis?

20 Wêreldgeskiedenis moet ons beslis tot nadenke stem en ons laat wonder watter rol godsdiens gespeel het in die baie oorloë wat verwoesting onder die mensdom aangerig en eindelose lyding veroorsaak het. Waarom het en is so baie mense in naam van godsdiens doodgemaak? Die Kruistogte, die Inkwisisie, die konflikte in die Midde-Ooste en Noord-Ierland, die slagting tussen Irak en Iran (1980-88) en die botsings tussen Hindoes en Sikhs in Indië—al hierdie gebeure laat denkers ongetwyfeld vrae oor godsdiensoortuigings en sedewaardes opper.—Sien die venster hieronder.

21. Wat is party voorbeelde van die Christendom se vrug?

21 Veral die ryk van die Christendom kan uitgesonder word vir sy geveinsdheid op hierdie gebied. In twee wêreldoorloë het Katolieke ander Katolieke en Protestante ander Protestante op bevel van hulle “Christelike” politieke leiers doodgemaak. Maar die Bybel toon duidelik dat die werke van die vlees en die vrug van die gees ’n teenstelling vorm. Dit sê: “Die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.” Tog beoefen sogenaamde Christene hierdie dinge al eeue lank, en hulle gedrag is al dikwels deur hulle geestelikes vergoelik.—Galasiërs 5:19-21.

22, 23. Watter vrug moet die ware godsdiens in teenstelling daarmee voortbring?

22 In teenstelling daarmee word die positiewe vrug van die gees soos volg beskryf: “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie.” Alle godsdienste behoort hierdie soort vreedsame vrug voort te bring. Maar bring hulle dit voort? Bring jou godsdiens dit voort?—Galasiërs 5:22, 23.

23 Hierdie boek se ondersoek na die mensdom se soeke na God deur middel van die wêreld se godsdienste behoort dus party van ons vrae te beantwoord. Maar volgens watter maatstawwe moet ’n godsdiens beoordeel word? Volgens wie se standaard?

‘My godsdiens is goed genoeg vir my’

24, 25. Voor watter uitdaging ten opsigte van sy godsdiens kom elke persoon te staan?

24 Baie mense draai hulle haastig uit ’n godsdiensbespreking uit deur te sê: ‘My godsdiens is goed genoeg vir my. Ek doen niemand kwaad nie, en ek help wanneer ek kan.’ Maar is dit genoeg? Is ons persoonlike maatstawwe ten opsigte van godsdiens voldoende?

25 As godsdiens, soos een woordeboek sê, “die uiting [is] van die mens se geloof in en eerbied vir ’n bomenslike mag wat as die skepper en regeerder van die heelal erken word”, moet die vraag tog seker wees: Is my godsdiens goed genoeg vir die skepper en regeerder van die heelal? En in daardie geval sal die Skepper die reg hê om voor te skryf watter gedrag, aanbidding en leerstellings aanvaarbaar is en watter nie. Om dit te doen, moet hy sy wil aan die mensdom openbaar, en daardie openbaring moet vir almal maklik beskikbaar wees. Bowendien moet sy openbaringe, hoewel hulle eeue uit mekaar voorsien is, altyd harmonies en konsekwent wees. Dit bied aan elke persoon ’n uitdaging—om die getuienis te ondersoek en hom te vergewis van wat die aanvaarbare wil van God is.

26. Watter heilige boek moet ’n maatstaf vir ware aanbidding wees? En waarom?

26 Een van die oudste boeke wat beweer dat dit deur God geïnspireer is, is die Bybel. Dit is ook die wyds verspreide en mees vertaalde boek in die hele geskiedenis. Nagenoeg tweeduisend jaar gelede het een van die skrywers daarvan gesê: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige [of, “aanvaarbare”, NW] en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Waardeur sou dit beproef kon word? Dieselfde skrywer het gesê: “Die hele Skrif is deur God ingegee [of, “geïnspireer”, NW] en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” Die geïnspireerde Bybel moet derhalwe ’n betroubare maatstaf vir ware en aanvaarbare aanbidding wees.—2 Timotheüs 3:16, 17.

27. (a) Wat is die heilige geskrifte van party wêreldgodsdienste? (b) Hoe behoort hulle leringe met dié van die Bybel te vergelyk?

27 Die oudste gedeelte van die Bybel is ouer as al die ander godsdiensgeskrifte ter wêreld. Die Tora, of eerste vyf boeke van die Bybel, die Wet wat onder inspirasie deur Moses geskryf is, dateer uit die 15de en 16de eeu v.G.J. Die Hindoegeskrifte van die Rig-Veda (’n versameling gesange) is vergelykenderwys omstreeks 900 v.G.J. voltooi en maak nie aanspraak op goddelike inspirasie nie. Die Boeddhistiese “Kanon van die Drie Korwe” dateer uit die vyfde eeu v.G.J. Die Qur’ān, wat God na bewering deur die engel Gabriël oorgedra het, is ’n produk van die sewende eeu G.J. Die Boek van Mormon, wat glo in die Verenigde State deur ’n engel genaamd Moroni aan Joseph Smith gegee is, is ’n produk van die 19de eeu. As party van hierdie werke, soos sommige sê, goddelik geïnspireer is, moet die godsdiensleiding wat hulle bied nie die leringe van die Bybel, wat die oorspronklike geïnspireerde bron is, weerspreek nie. Dit moet ook die mensdom se mees fassinerende vrae beantwoord.

Vrae wat beantwoord moet word

28. Wat is van die vrae wat beantwoord moet word?

28 (1) Leer die Bybel wat die meeste godsdienste leer en wat die meeste mense glo, naamlik, dat mense ’n onsterflike siel het en dat dit by die dood na ’n ander ryk, die “hiernamaals”, die hemel, die hel of die vaevuur gaan, of dat dit in ’n reïnkarnasie terugkeer?

(2) Leer die Bybel dat die Soewereine Heer van die heelal naamloos is? Leer dit dat hy een God is? of drie persone in een God? of baie gode?

(3) Wat was volgens die Bybel God se oorspronklike voorneme toe hy die mensdom geskep het om op aarde te lewe?

(4) Leer die Bybel dat die aarde vernietig gaan word? Of dui dit net op ’n einde, of voleinding, van die verdorwe wêreldstelsel?

(5) Hoe kan ’n mens werklik gemoedsrus en redding verkry?

29. (a) Wat is die grondbeginsel wat ons soeke na waarheid moet rig? (b) Watter antwoorde gee die Bybel op ons vrae?

29 Elke godsdiens het ander antwoorde, maar in ons soeke na die ‘reine godsdiens’ behoort ons uiteindelik die gevolgtrekkings te kan maak wat God wil hê ons moet maak (Jakobus 1:27). Waarom kan ons dit sê? Omdat ons grondbeginsel sal wees: “God word waaragtig bevind, al word elke mens ’n leuenaar bevind, soos geskrywe is: ‘Sodat u geregverdig kan word in u woorde en oorwin as u geoordeel word.’”—Romeine 3:4, NW *.

30. Wat is party van die vrae wat in die volgende hoofstuk bespreek gaan word?

30 Noudat ons ’n grondslag het om die wêreld se godsdienste te ondersoek, kom ons gee aandag aan die mensdom se vroeë soeke na geestelikheid. Wat weet ons van hoe godsdiens begin het? Watter aanbiddingspatrone is onder die eertydse en moontlik primitiewe volke vasgestel?

[Voetnote]

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 16]

Alle godsdienste behoort vreedsame vrugte voort te bring. Maar is dit die geval?

[Venster op bladsy 14]

Godsdiens, liefde en haat

▪ “Godsdiensoorloë is gewoonlik besonder hewig. Wanneer mense vir ekonomiese voordeel oor grond veg, bereik hulle die punt waar die stryd nie die koste werd is nie en dan gaan hulle ’n kompromis aan. Wanneer godsdiens die rede is, lyk ’n kompromis en versoening boos.”—Roger Shinn, professor in maatskaplike etiek, Union- Teologiese Seminarie, New York.

▪ “Mense sal vir godsdiens twis, daarvoor skryf, daarvoor veg, daarvoor sterf; allesbehalwe daarvoor lewe . . . Waar ware godsdiens een misdaad voorkom het, het valse godsdiens ’n voorwendsel vir duisend voorsien.”—Charles Caleb Colton (1825).

▪ “Ons het net genoeg godsdiens om ons te laat haat, maar nie genoeg om ons vir mekaar lief te laat wees nie.”—Jonathan Swift (1667-1745).

▪ “Nooit doen mense bose dinge met soveel oorgawe en so gewillig as wanneer hulle dit uit ’n godsdiensoortuiging doen nie.”—Blaise Pascal (1623-62).

▪ “Die ware doel van ’n hoër godsdiens is om die geestelike raad en waarhede wat die wese daarvan vorm uit te straal na soveel siele as wat daardeur bereik kan word, sodat dit elk van hierdie siele in staat kan stel om die ware oogmerk van die Mens te bereik. Die Mens se ware oogmerk is om God te verheerlik en Hom vir ewig te geniet.”—Arnold Toynbee, geskiedskrywer.

[Prente op bladsy 4]

Hindoes vereer die Gangesrivier—wat Ganga Ma, of Moeder Ganga, genoem word

Opregte Katolieke wend hulle tot Maria met hulle gebruik van die rosekrans

In sommige Boeddhistiese lande dien die meeste mans ’n tyd lank as monnike met saffraangeel gewade

Getroue Moslem- mans onderneem minstens een pelgrimstog na Mekka

[Prent op bladsy 6]

Jehovah se Getuies, wat wêreldwyd vir hulle predikingswerk bekend is, bedrywig in Japan

[Prent op bladsy 9]

’n Baba word in een van die Christendom se kerke gedoop. Is ’n mens se geboortegodsdiens noodwendig die ware godsdiens?

[Prent op bladsy 11]

’n Asteekse mense-offer—Is alle godsdienste werklik “gelyke weë na die waarheid”?

[Prent op bladsy 13]

Miljoene het en is in naam van godsdiens doodgemaak