Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Terugkeer tot die ware God

’n Terugkeer tot die ware God

Hoofstuk 15

’n Terugkeer tot die ware God

“’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:34, 35.

1, 2. Watter uitwerking behoort liefde onder ware Christene te hê?

MET daardie woorde het Jesus ’n standaard vasgestel vir diegene wat beweer dat hulle sy ware volgelinge is. Christelike liefde sou bo alle rasse-, stam- en nasionale grense moes uitstyg. Dit sou vereis dat ware Christene “geen deel van die wêreld” moet wees nie, net soos Jesus “geen deel van die wêreld” was en is nie.—Johannes 17:14, 16, NW; Romeine 12:17-21.

2 Hoe toon die Christen dat hy “geen deel van die wêreld” is nie? Hoe moet hy byvoorbeeld optree ten opsigte van die onstuimige politieke aangeleenthede, opstande en oorloë van ons tyd? Die Christenapostel Johannes het, in ooreenstemming met Jesus se woorde hierbo, geskryf: “Elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê.” En Jesus self het verduidelik waarom sy dissipels nie geveg het om hom te bevry nie, deur te sê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het . . . Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” Selfs toe Jesus se lewe op die spel gestaan het, het daardie dienaars nie probeer om die geskil op die militêre manier van die wêreld te besleg nie.—1 Johannes 3:10-12; Johannes 18:36.

3, 4. (a) Wat het Jesaja aangaande “die einde van die dae” voorspel? (b) Watter vrae moet beantwoord word?

3 Meer as 700 jaar voor Christus het Jesaja voorspel dat mense uit alle nasies na Jehovah se ware aanbidding sou stroom en nie meer sou leer om oorlog te voer nie. Hy het gesê: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge . . . en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” *Jesaja 2:2-4.

4 Watter godsdiens in die wêreld het by uitstek aan hierdie vereistes voldoen? Wie het ondanks gevangenisse, konsentrasiekampe en doodvonnisse geweier om te leer om oorlog te voer?

Christelike liefde en neutraliteit

5. Watter reputasie het Jehovah se Getuies as individue ten opsigte van Christelike neutraliteit opgebou, en waarom?

5 Jehovah se Getuies is oor die hele wêreld bekend vir die feit dat hulle as individue gewetensgetrou Christelike neutraliteit handhaaf. Hulle het dwarsdeur die 20ste eeu aanhouding in gevangenisse en konsentrasiekampe, marteling, deportasie en vervolging verduur omdat hulle geweier het om hulle liefde en eenheid as ’n wêreldwye gemeente van Christene wat na aan God is op te offer. In Nazi-Duitsland het ongeveer duisend Getuies in die tydperk 1933-45 gesterf en is duisende opgesluit weens hulle weiering om Hitler se oorlogspoging te steun. Honderde jong Getuies is eweneens in die eens Fascistiese Spanje onder Franco opgesluit en baie het gemiddeld tien jaar elk in militêre gevangenisse deurgebring eerder as om te leer om oorlog te voer. Vandag nog word talle jong Getuies van Jehovah in etlike lande in gevangenisse opgesluit weens hulle standpunt ten opsigte van Christelike neutraliteit. Maar Jehovah se Getuies meng hulle nie in die regerings se militêre programme in nie. Die Getuies se onversetlike Christelike neutraliteit wat politieke aangeleenthede betref, was een van hul onveranderlike opvattings deur al die konflikte en oorloë van die 20ste eeu heen. Dit kenmerk hulle as ware volgelinge van Christus en skei hulle af van die Christendom se godsdienste.—Johannes 17:16; 2 Korinthiërs 10:3-5.

6, 7. Wat verstaan Jehovah se Getuies aangaande die Christelike godsdiens?

6 Deur die Bybel te gehoorsaam en die voorbeeld van Christus na te volg, toon Jehovah se Getuies dat hulle die aanbidding van die ware God, Jehovah, beoefen. Hulle herken God se liefde soos weerpieël deur die lewe en offer van Jesus. Hulle verstaan dat ware Christelike liefde ’n onverbreeklike wêreldwye broederskap meebring—wat bo politieke, rasse- en nasionale grense uitstyg. Met ander woorde, die Christelike godsdiens is meer as internasionaal; dit is supranasionaal, dit styg uit bo nasionale grense, gesag of belange. Dit beskou die menseras as een gesin met ’n gemeenskaplike voorvader en met ’n gemeenskaplike Skepper, Jehovah God.—Handelinge 17:24-28; Kolossense 3:9-11.

7 Hoewel feitlik alle ander godsdienste by oorloë teen landgenote en ander betrokke was, het Jehovah se Getuies getoon dat hulle die profesie in Jesaja 2:4, wat vroeër aangehaal is, ter harte neem. ‘Maar’, vra jy dalk, ‘hoe het Jehovah se Getuies ontstaan? Hoe funksioneer hulle?’

God se lang lyn Getuies

8, 9. Watter uitnodiging het God aan die mensdom gerig?

8 Meer as 2 700 jaar gelede het die profeet Jesaja ook die volgende uitnodiging gerig: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.”—Jesaja 55:6, 7.

9 Die Christenapostel Paulus het eeue later aan die Grieke in Athene wat ‘die [mitologiese] godhede gevrees het’, verduidelik: “En [God] het uit een [mens] al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie.”—Handelinge 17:22-28, vgl. NW.

10. Hoe weet ons dat God nie ver van Adam en Eva en hulle kinders was nie?

10 God was beslis nie ver van sy menseskepsele Adam en Eva nie. Hy het met hulle gepraat, sy voorskrifte en wense aan hulle oorgedra. En God het hom nie van hulle seuns Kain en Abel verberg nie. Hy het haatdraende Kain raad gegee toe hy jaloers was oor sy broer se offer aan God. Maar pleks van sy vorm van aanbidding te verander, het Kain jaloerse godsdiensonverdraagsaamheid getoon en sy broer Abel vermoor.—Genesis 2:15-17; 3:8-24; 4:1-16.

11. (a) Wat beteken die woord “martelaar”? (b) Hoe het Abel die eerste martelaar geword?

11 Op grond van die feit dat hy tot die dood toe aan God getrou gebly het, het Abel die eerste martelaar * geword. Hy was ook die eerste getuie van Jehovah en die voorloper van ’n lang lyn getuies wat deur die geskiedenis heen onkreukbaarheid gehandhaaf het. Paulus kon dus sê: “Deur die geloof het Abel ’n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is.”—Hebreërs 11:4.

12. Wie nog is voorbeelde van Jehovah se getroue getuies?

12 In daardie selfde brief aan die Hebreërs meld Paulus ’n hele reeks getroue manne en vroue, soos Noag, Abraham, Sara en Moses, wat danksy hul volgehoue onkreukbaarheid ’n “groot wolk van getuies [Grieks, mar·tyʹron]” uitmaak wat as voorbeelde en bemoediging dien vir ander wat die ware God wil ken en aanbid. Hulle was manne en vroue wat ’n verhouding met Jehovah God gehad het. Hulle het na hom gesoek en hom gevind.—Hebreërs 11:1–12:1.

13. (a) Waarom is Jesus ’n besondere blyk van God se liefde? (b) In watter spesiale opsig is Jesus vir sy volgelinge ’n voorbeeld?

13 Die voortreflikste van hierdie getuies word in die boek Openbaring beskryf: “Jesus Christus, die getroue getuie.” Jesus is nog ’n duidelike bewys van God se liefde, want soos Johannes geskryf het: “Ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom, en hy in God. En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo.” Jesus, wat ’n Jood van geboorte was, was ’n ware getuie en het in getrouheid aan sy Vader, Jehovah, as ’n martelaar gesterf. Christus se ware volgelinge deur die eeue heen sou eweneens getuies van hom en van die ware God, Jehovah, wees.—Openbaring 1:5; 3:14; 1 Johannes 4:14-16; Jesaja 43:10-12; Mattheüs 28:19, 20; Handelinge 1:8.

14. Watter vraag moet nou beantwoord word?

14 Jesaja se profesie het aangedui dat ’n terugkeer tot die ware God, Jehovah, ’n kenmerk sou wees van “die einde van die dae”, of wat ander dele van die Bybel “die laaste dae” noem. * As ’n mens die godsdiensverskeidenheid en -verwarring wat ons in hierdie boek beskryf het in gedagte hou, ontstaan die vraag: Wie het werklik in hierdie laaste dae waarin ons lewe na die ware God gesoek om hom “in gees en waarheid” te dien? Om daardie vraag te beantwoord, moet ons eers aandag gee aan gebeure van die 19de eeu.—Jesaja 2:2-4; 2 Timotheüs 3:1-5; Johannes 4:23, 24.

’n Jong man se soeke na God

15. (a) Wie was Charles Taze Russell? (b) Wat was party van die godsdiensleringe waaraan hy getwyfel het?

15 In 1870 het ’n ywerige jong man, Charles Taze Russell (1852-1916), baie vrae oor die Christendom se tradisionele leringe begin stel. As jeugdige het hy in sy vader se mansklerewinkel in die bedrywige nywerheidstad Allegheny (nou ’n deel van Pittsburgh), Pennsilvanië, VSA, gewerk. Sy godsdiensagtergrond was Presbiteriaans en Kongregasionalisties. Maar leringe soos voorbestemming en ewige pyniging in die helse vuur het hom gekwel. Waarom het hy aan hierdie basiese leerstellings van party van die Christendom se godsdienste getwyfel? Hy het geskryf: “’n God wat sy mag sou gebruik om mense te skep van wie hy vooruit geweet het en wat hy voorbestem het om vir ewig gepynig te word, kan nie wys, regverdig of liefdevol wees nie. Sy standaard sou laer as dié van baie mense wees.”—Jeremia 7:31; 19:5; 32:35; 1 Johannes 4:8, 9.

16, 17. (a) In watter leerstellings het Russell se Bybelstudiegroep baie belanggestel? (b) Watter groot meningsverskil het ontstaan, en hoe het Russell geantwoord?

16 Terwyl Russell in sy laat tienderjare was, het hy die Bybel weekliks saam met ander jong mans begin bestudeer. Hulle het begin om die Bybel se leringe oor ander onderwerpe, soos die onsterflikheid van die siel sowel as Christus se losprysoffer en sy tweede koms, te ontleed. In 1877, toe hy 25 was, het Russell sy aandeel in sy vader se florerende onderneming verkoop en ’n voltydse predikingsloopbaan betree.

17 In 1878 het Russell ’n groot meningsverskil met een van sy medewerkers gehad, wat die lering verwerp het dat Christus se dood ’n versoening vir sondaars kon wees. In sy weerlegging hiervan het Russell geskryf: “Christus het deur middel van sy dood en opstanding verskeie goeie dinge vir ons tot stand gebring. Hy was ons plaasvervanger in die dood; hy het as die regverdige vir die onregverdiges gesterf—almal was onregverdig. Jesus Christus het deur Gods genade die dood vir elke mens gesmaak. . . . Hy het vir almal wat hom gehoorsaam die bewerker van ewige redding geword.” Hy het voorts gesê: “Om te verlos, is om terug te koop. Wat het Christus vir alle mense teruggekoop? Die lewe. Ons het dit weens die ongehoorsaamheid van die eerste Adam verloor. Die tweede Adam [Christus] het dit met sy eie lewe teruggekoop.”—Markus 10:45; Romeine 5:7, 8; 1 Johannes 2:2; 4:9, 10.

18. (a) Wat het na die meningsverskil oor die losprys gebeur? (b) Watter patroon het die Bybelstudente aangaande bydraes gevolg?

18 Russell, wat altyd ’n sterk voorstander van die leerstelling oor die losprys was, het alle bande met hierdie voormalige medewerker verbreek. In Julie 1879 het Russell Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence begin uitgee, wat vandag oor die hele wêreld bekend is as Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan. Hy het in 1881 saam met ander toegewyde Christene ’n Bybelgenootskap sonder winsmotief gestig. Dit het bekendgestaan as Zion’s Watch Tower Tract Society en staan vandag bekend as die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, die wetlike liggaam wat namens Jehovah se Getuies optree. Reg van die begin af het Russell daarop aangedring dat geen kollektes by gemeentelike vergaderinge ingesamel of bydraes in die Wagtoringpublikasies gevra sou word nie. Die mense wat die Bybel indringend saam met Russell bestudeer het, het eenvoudig as die Bybelstudente bekend geword.

’n Terugkeer tot Bybelwaarheid

19. Watter leerstellings van die Christendom het die Bybelstudente verwerp?

19 As gevolg van hulle Bybelstudie het Russell en sy metgeselle die Christendom se leerstellings oor ’n geheimsinnige “Allerheiligste Drie-eenheid”, ’n inherente onsterflike mensesiel en ewige pyniging in die helse vuur verwerp. Hulle het ook die gedagte verwerp dat ’n afsonderlike geestelikeklas met ’n seminarie-opleiding nodig is. Hulle wou tot die nederige oorsprong van die Christelike godsdiens terugkeer, met geestelik bekwame ouere manne wat die gemeentes lei sonder om aan ’n salaris of vergoeding te dink.—1 Timotheüs 3:1-7; Titus 1:5-9.

20. Wat het daardie Bybelstudente aangaande Christus se pa·rou·siʹa en 1914 uitgevind?

20 Terwyl hulle God se Woord ondersoek het, het daardie Bybelstudente baie belang gestel in die profesieë van die Christelike Griekse Skrifte oor “die voleinding van die wêreld” en oor Christus se “koms” (Mattheüs 24:3). Toe hulle die Griekse teks ondersoek het, het hulle ontdek dat Christus se “koms” in werklikheid ’n “pa·rou·siʹa”, of onsigbare teenwoordigheid, is. Christus het sy dissipels derhalwe ingelig oor die bewyse van sy onsigbare teenwoordigheid in die tyd van die einde, nie oor ’n toekomstige sigbare koms nie. Terwyl hulle hierdie studie voortgesit het, wou daardie Bybelstudente baie graag die Bybelchronologie met betrekking tot Christus se teenwoordigheid verstaan. Al het Russell en sy metgeselle nie al die besonderhede verstaan nie, het hulle besef dat 1914 ’n beslissende jaartal in die mensegeskiedenis sou wees.—Mattheüs 24:3-22; Lukas 21:7-33, Int.

21. Van watter verantwoordelikheid was Russell en sy medegelowiges bewus?

21 Russell het geweet dat ’n groot predikingswerk gedoen moet word. Hy was bewus van Jesus se woorde wat deur Mattheüs opgeteken is: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14; Markus 13:10). Die werksaamhede van daardie Bybelstudente voor 1914 is deur dringendheid gekenmerk. Hulle het geglo dat hulle predikingswerk in daardie jaar ’n hoogtepunt sou bereik, en daarom het hulle gemeen dat hulle soveel moontlik moet doen om ander te help om “hierdie evangelie van die koninkryk” te leer ken. C. T. Russell se Bybeltoesprake is uiteindelik in duisende koerante oor die hele wêreld gepubliseer.

Beproewinge en veranderinge

22-24. (a) Hoe het die meeste van die Bybelstudente gereageer toe C. T. Russell gesterf het? (b) Wie het Russell as president van die Wagtoringgenootskap opgevolg?

22 In 1916 is Charles Taze Russell skielik op die ouderdom van 64 tydens ’n predikingsreis deur die Verenigde State oorlede. Wat sou nou van die Bybelstudente word? Sou hulle ineenstort asof hulle die volgelinge van ’n blote mens was? Hoe sou hulle die beproewinge van die Eerste Wêreldoorlog (1914-18) deurstaan aangesien die Verenigde State kort daarna by daardie slagting betrokke sou raak?

23 Die woorde van W. E. van Amburgh, ’n beampte van die Wagtoringgenootskap, was tipies van die meeste Bybelstudente se reaksie: “Hierdie groot wêreldomvattende werk is nie die werk van een persoon nie. Dit is veels te groot. Dit is God se werk en dit verander nie. God het in die verlede baie knegte gebruik en Hy sal ongetwyfeld in die toekoms baie gebruik. Ons is nie aan ’n mens, of aan ’n mens se werk, toegewy nie, maar om die wil van God te doen, soos Hy dit deur Sy Woord en bestiering aan ons sal openbaar. God staan steeds aan die stuur.”—1 Korinthiërs 3:3-9.

24 In Januarie 1917 is Joseph Rutherford, ’n regsgeleerde en ywerige Bybelondersoeker, as die tweede president van die Wagtoringgenootskap verkies. Hy het ’n dinamiese persoonlikheid gehad en kon nie geïntimideer word nie. Hy het geweet dat God se Koninkryk verkondig moet word.—Markus 13:10.

Hernieude ywer en ’n nuwe naam

25. Hoe het die Bybelstudente op die uitdagings in die jare na die Eerste Wêreldoorlog gereageer?

25 Die Wagtoringgenootskap het in 1919 en in 1922 byeenkomste in die Verenigde State georganiseer. Na die vervolging wat deur die Eerste Wêreldoorlog in die Verenigde State veroorsaak is, was dit vir die paar duisend destydse Bybelstudente byna soos nog ’n Pinkster (Handelinge 2:1-4). Pleks van te swig voor mensevrees het hulle die Bybelse bevel om uit te gaan en vir die nasies te preek met selfs groter ywer gehoorsaam. In 1919 het die Wagtoringgenootskap ’n medetydskrif vir die Watch Tower begin uitgee, naamlik The Golden Age, wat vandag wêreldwyd uitgegee word en as Ontwaak! bekendstaan. Dit was ’n kragtige werktuig om mense bewus te maak van hoe belangrik die tye is waarin ons lewe en om vertroue te wek in die Skepper se belofte van ’n vreedsame nuwe wêreld.

26. (a) Watter verantwoordelikheid het die Bybelstudente al hoe meer beklemtoon? (b) Watter duideliker begrip van die Bybel het die Bybelstudente verkry?

26 Gedurende die 1920’s en 1930’s het die Bybelstudente die vroeë Christelike predikingsmetode—van huis tot huis—al hoe meer beklemtoon (Handelinge 20:20). Elke gelowige het die verantwoordelikheid gehad om vir soveel mense moontlik van Christus se Koninkryksheerskappy te getuig. Hulle het duidelik uit die Bybel gesien dat die groot geskil waarvoor die mensdom staan dié van universele soewereiniteit is en dat dit besleg sal word wanneer Jehovah God Satan en al sy verderflike werke op aarde verbrysel (Romeine 16:20; Openbaring 11:17, 18). Teen die agtergrond van hierdie geskil het hulle besef dat die redding van die mens minder belangrik is as die regverdiging van God as die regmatige Soewerein. Daar sou derhalwe getroue getuies op die aarde moes wees wat bereid is om van God se voornemens en oppermag te getuig. Hoe is daar in hierdie behoefte voorsien?—Job 1:6-12; Johannes 8:44; 1 Johannes 5:19, 20.

27. (a) Watter belangrike gebeurtenis het in 1931 plaasgevind? (b) Wat is party kenmerkende opvattings van die Getuies?

27 In Julie 1931 het die Bybelstudente ’n byeenkoms gehou in Columbus, Ohio, waartydens die duisende aanwesiges ’n resolusie aangeneem het. Daarin het hulle met vreugde “die naam [aangeneem] wat die mond van die Here God genoem het”, en hulle het verklaar: “Ons wil bekendstaan as en genoem word by die naam, naamlik ‘Jehovah se getuies’.” Van toe af het Jehovah se Getuies oor die hele wêreld bekend geword, nie net vir hulle kenmerkende opvattings nie maar ook vir hulle ywerige bediening van huis tot huis en op straat. (Sien bladsye 356-7.)—Jesaja 43:10-12; Mattheüs 28:19; Handelinge 1:8.

28. Watter duideliker begrip het die Getuies in 1935 aangaande Koninkryksheerskappy verkry?

28 In 1935 het die Getuies ’n duideliker begrip verkry aangaande die hemelse Koninkryksklas, wat saam met Christus sal regeer, en hulle onderdane op die aarde. Hulle het reeds geweet dat net 144 000 gesalfde Christene geroep is om saam met Christus uit die hemele te regeer. Watter hoop sou die res van die mensdom dan kon koester? ’n Regering het onderdane nodig om sy bestaan te regverdig. Hierdie hemelse regering, die Koninkryk, sal ook miljoene gehoorsame onderdane hier op aarde hê. Hulle sal die “groot menigte [wees] wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”, wat uitroep: “Heil aan onse God [Jehovah] wat op die troon sit, en aan die Lam [Christus Jesus]!”—Openbaring 7:4, 9, 10; 14:1-3; Romeine 8:16, 17.

29. Watter uitdaging het die Getuies ingesien en aanvaar?

29 Hierdie begrip aangaande die groot menigte het Jehovah se Getuies gehelp om te besef dat hulle voor ’n groot uitdaging staan—om al daardie miljoene wat na die ware God soek en wat die “groot menigte” sal uitmaak te vind en te leer. Dit sou ’n internasionale onderrigtingsveldtog behels. Opgeleide sprekers en bedienaars sou daarvoor nodig wees. Skole sou nodig wees. Die volgende president van die Wagtoringgenootskap het al hierdie dinge in die vooruitsig gestel.

’n Wêreldwye soektog na soekers van God

30. Watter gebeure in die 1930’s en 1940’s het die Getuies geraak?

30 In 1931 was daar nagenoeg 50 000 Getuies in minder as 50 lande. Die gebeure van die 1930’s en 1940’s het hulle predikingswerk glad nie vergemaklik nie. Gedurende hierdie tydperk het Fascisme en Nazisme op die toneel verskyn en het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek. In 1942 is J. F. Rutherford oorlede. Die Wagtoringgenootskap sou kragtige leiding nodig hê om verdere stukrag aan die predikingswerk van Jehovah se Getuies te verleen.

31. Wat het in 1943 begin funksioneer om die verkondiging van die goeie nuus uit te brei?

31 In 1942, op die leeftyd van 36, is Nathan H. Knorr as die derde president van die Wagtoringgenootskap gekies. Hy was ’n energieke organiseerder wat terdeë besef het dat die verkondiging van die goeie nuus in die hele wêreld so gou moontlik bevorder moet word, selfs al was die nasies nog in die Tweede Wêreldoorlog gewikkel. Gevolglik het hy onmiddellik ’n plan uitgevoer vir ’n skool om sendelinge op te lei, naamlik die Wagtoring-Bybelskool Gilead. * Die eerste honderd studente, almal voltydse bedienaars, het hulle in Januarie 1943 laat inskryf. Hulle het die Bybel en verwante onderwerpe oor die bediening byna ses maande lank intensief bestudeer voordat hulle na hulle toewysings, hoofsaaklik in die buiteland, gestuur is. Tot en met 1990 het 89 klasse gegradueer, en duisende bedienaars het ná hul Gileadopleiding oor die hele wêreld gaan dien.

32. Hoe het Jehovah se Getuies sedert 1943 vooruitgegaan?

32 In 1943 was daar net 126 329 Getuies wat in 54 lande gepreek het. Ondanks verskriklike teenstand deur Nazisme, Fascisme, Kommunisme en Katolieke Aksie sowel as die sogenaamde demokrasieë gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Jehovah se Getuies teen 1946 ’n hoogtepunt van meer as 176 000 Koninkryksverkondigers gehad. Vier-en-veertig jaar later was daar byna viermiljoen in meer as 200 lande, eilande en gebiede bedrywig. Hulle duidelike identifikasie deur naam en handeling het hulle ongetwyfeld wêreldwyd bekendgemaak. Maar ander faktore het ’n groot invloed op hulle bekwaamheid gehad.—Sagaria 4:6.

’n Organisasie vir Bybelonderrig

33. Waarom het Jehovah se Getuies Koninkryksale?

33 Jehovah se Getuies hou weeklikse vergaderinge in hulle Koninkryksale, wat deur meer as 60 000 gemeentes dwarsdeur die aarde gebruik word, om die Bybel te bestudeer. Die grondslag van hierdie vergaderinge is nie rituele of emosie nie, maar die verkryging van juiste kennis van God, sy Woord en sy voornemens. Jehovah se Getuies vergader derhalwe drie keer per week om hulle begrip van die Bybel te vergroot en te leer hoe hulle sy boodskap aan ander kan verkondig en leer.—Romeine 12:1, 2; Filippense 1:9-11; Hebreërs 10:24, 25.

34. Wat is die doel van die Teokratiese Bedieningskool?

34 Tydens ’n middeweekse vergadering word die Teokratiese Bedieningskool byvoorbeeld gehou, waarvoor gemeentelede hulle kan laat inskryf. Hierdie skool, wat deur ’n bekwame Christen- ouere man gelei word, leer mans, vroue en kinders ooreenkomstig Bybelbeginsels hoe om ander te leer en goeie sprekers te wees. Die apostel Paulus het gesê: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.” By hulle Christelike vergaderinge leer die Getuies ook hoe om die Koninkryksboodskap “met sagmoedigheid en diep respek” oor te dra.—Kolossense 4:6; 1 Petrus 3:15NW.

35. Wat is sommige vergaderinge wat die Getuies hou en wat is die voordele daarvan?

35 Op ’n ander dag vergader die Getuies ook vir ’n Bybeltoespraak van 45 minute gevolg deur ’n uurlange gemeentelike bespreking (deur middel van vrae en antwoorde) van ’n Bybeltema wat met Christelike leringe of gedrag verband hou. Gemeentelede kan deelneem. Die Getuies woon ook elke jaar drie groter vergaderinge en byeenkomste van een tot vier dae by, waar duisende gewoonlik byeenkom om na Bybeltoesprake te luister. Danksy hierdie en ander gratis vergaderinge verdiep elke Getuie sy of haar kennis van God se beloftes ten opsigte van hierdie aarde en die mensdom en verkry hy of sy ’n voortreflike opvoeding in Christensedes. Elkeen word nader aan die ware God, Jehovah, gebring deur Christus Jesus se leringe en voorbeeld te volg.—Johannes 6:44, 65; 17:3; 1 Petrus 1:15, 16.

Hoe is die Getuies georganiseer?

36. (a) Het die Getuies ’n besoldigde geestelikeklas? (b) Wie gee dan die leiding in die gemeente?

36 As Jehovah se Getuies vergaderinge hou en georganiseer is om te preek, moet daar logieserwys iemand wees wat die leiding gee. Maar hulle het nie ’n besoldigde geestelikeklas of ’n charismatiese leier wat op ’n voetstuk geplaas word nie (Mattheüs 23:10). Jesus het gesê: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee” (Mattheüs 10:8; Handelinge 8:18-21). In elke gemeente is daar geestelik bekwame ouere manne en bedieningsknegte wat vrywillig die voortou neem in die onderrigting en leiding van die gemeente, hoewel baie van hulle ’n sekulêre werk het en na ’n gesin omsien. Dit is presies die voorbeeld wat die eerste-eeuse Christene gestel het.—Handelinge 20:17; Filippense 1:1; 1 Timotheüs 3:1-10, 12, 13.

37. Hoe word ouere manne en bedieningsknegte aangestel?

37 Hoe word hierdie ouere manne en bedieningsknegte aangestel? Hulle aanstellings word gedoen onder die toesig van ’n bestuursliggaam van gesalfde ouere manne uit verskeie lande wat ’n soortgelyke werk doen as die liggaam van apostels en ouderlinge in Jerusalem wat die leiding in die vroeë Christengemeente gegee het. Soos ons in Hoofstuk 11 gesien het, het geen apostel die voorrang bo die ander geniet nie. Hulle het hul besluite as ’n liggaam geneem, en die gemeentes wat dwarsdeur die eertydse Romeinse wêreld versprei was, het hierdie besluite gerespekteer.—Handelinge 15:4-6, 22, 23, 30, 31.

38. Hoe funksioneer die Bestuursliggaam?

38 Dieselfde reëling geld vir die hedendaagse Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. Hulle hou weeklikse vergaderinge by die wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, en stuur dan instruksies aan die Takkomitees oor die hele wêreld wat oor die bedrywigheid van die bedienaars in elke land toesig hou. Deur hul navolging van die eerste Christene se voorbeeld kon Jehovah se Getuies groot dele van die wêreld met die goeie nuus van God se Koninkryk bereik. Daardie werk word aardwyd gedoen.—Mattheüs 10:23; 1 Korinthiërs 15:58.

Toestroming na die ware God

39. (a) Waarom bly die Getuies neutraal wat die politiek betref? (b) Hoe het die Getuies gefloreer waar hulle werk verbied is?

39 Jehovah se Getuies het gedurende die 20ste eeu oor die hele aarde gefloreer. Dit is die geval selfs in lande waar hulle werk in die ban gedoen of beperk is. Hulle werk is in die ban gedoen hoofsaaklik deur regeringstelsels wat nie Jehovah se Getuies se neutrale standpunt ten opsigte van hierdie wêreld se politieke en nasionalistiese getrouheid verstaan nie. (Sien venster, bladsy 347.) Maar in sulke lande het tienduisende mense hulle tot God se Koninkryk gewend as die enigste ware hoop op vrede en veiligheid vir die mensdom. In die meeste nasies is ’n groot getuienis gegee, en daar is nou miljoene bedrywige Getuies in die wêreld.—Sien tabel, bladsy 361.

40, 41. (a) Waarop wag Jehovah se Getuies nou? (b) Watter vraag moet nog beantwoord word?

40 Op grond van hul Christelike liefde en hul hoop op “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde” sien Jehovah se Getuies uit na wêreldskuddende gebeure in die nabye toekoms wat alle onreg, korrupsie en onregverdigheid op hierdie aarde uit die weg sal ruim. Daarom sal hulle aanhou om hulle bure te besoek terwyl hulle opreg probeer om regskapenes nader aan die ware God, Jehovah, te bring.—Openbaring 21:1-4; Markus 13:10; Romeine 10:11-15.

41 Maar wat hou die toekoms volgens Bybelprofesieë vir die mensdom, vir godsdiens en vir hierdie besoedelde aarde in? Ons laaste hoofstuk sal daardie belangrike vraag beantwoord.—Jesaja 65:17-25; 2 Petrus 3:11-14.

[Voetnote]

^ par. 3 Hierdie laaste twee sinne verskyn op die “Jesaja-muur” voor die VV-gebou sowel as op ’n standbeeld in die VV-tuin. Die vervulling daarvan is in werklikheid een van die VV se doelwitte.

^ par. 11 Die Griekse woord marʹtyr, waaruit die Afrikaanse woord “martelaar” afgelei is (“iemand wat deur sy dood getuig”, An Expository Dictionary of New Testament Words, deur W. E. Vine), beteken in werklikheid “getuie” (“iemand wat vertel, of kan vertel, wat hy self gesien of gehoor het of op ’n ander manier weet”, A Greek-English Lexicon of the New Testament, deur J. H. Thayer).

^ par. 14 Sien Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat in 1982 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, hoofstuk 18, vir ’n uitvoerige bespreking van “die laaste dae”.

^ par. 31 Gilead, wat ontleen is aan Gal·ʽedhʹ in Hebreeus, beteken “Getuienishoop”. Sien ook Insight on the Scriptures, Deel I, bladsye 882, 942.—Genesis 31:47-49.

[Studievrae]

[Venster op bladsy 347]

Christelike neutraliteit in heidense Rome

Ooreenkomstig die beginsels van liefde en vrede wat Jesus verkondig het, en op grond van hulle persoonlike studie van God se Woord, wou vroeë Christene nie aan oorloë deelneem of daarvoor opgelei word nie. Jesus het gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”—Johannes 18:36.

In 295 G.J. nog is Maximilianus van Theveste, die seun van ’n Romeinse leërveteraan, vir militêre diens opgeroep. Toe die prokonsul hom sy naam gevra het, het hy geantwoord: “Waarom wil u my naam weet? Ek het ’n gewetensbeswaar teen militêre diens: Ek is ’n Christen. . . . Ek kan nie krygsdiens verrig nie; ek kan nie teen my gewete sondig nie.” Die prokonsul het hom gewaarsku dat hy sy lewe sou verloor as hy nie gehoorsaam was nie. “Ek sal nie krygsdiens verrig nie. Julle kan my onthoof, maar ek sal nie die magte van Hierdie Wêreld dien nie; ek sal my God dien.”—An Historian’s Approach to Religion, deur Arnold Toynbee.

In ons tyd het ’n persoonlike studie van die Bybel individuele Getuies van Jehovah in alle wêrelddele beweeg om die voorskrifte van die gewete te volg en ’n soortgelyke standpunt in te neem. In sommige lande het baie van hulle die doodstraf ondergaan, veral in Nazi-Duitsland, waar hulle gedurende die Tweede Wêreldoorlog geskiet, gehang en onthoof is. Maar hul wêreldwye eenheid, gebaseer op Christelike liefde, is nooit geskend nie. Niemand is ooit in ’n oorlog deur een van die Christengetuies van Jehovah om die lewe gebring nie. Hoe anders sou die wêreldgeskiedenis tog verloop het as elke verklaarde Christen ook Christus se reël van liefde nageleef het!—Romeine 13:8-10; 1 Petrus 5:8, 9.

[Venster/Prente op bladsy 356, 357]

Wat Jehovah se Getuies glo

Vraag: Wat is ’n siel?

Antwoord: In die Bybel is die siel (Hebreeus, nêfêsj; Grieks, psuchè) ’n persoon of ’n dier of die lewe wat ’n persoon of ’n dier geniet.

“En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens [“siele”, NW] voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.”—Genesis 1:24; 2:7.

Diere en mense IS lewende siele. Die siel is nie iets wat afsonderlik bestaan nie. Dit kan sterf en sterf wel. “Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.”—Esegiël 18:4.

Vraag: Is God ’n Drie-eenheid?

Antwoord: Jehovah se Getuies glo dat Jehovah die ongeëwenaarde Soewereine Heer van die heelal is. “Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE” (Deuteronomium 6:4). Christus Jesus as die Woord was ’n geesskepsel en het in gehoorsaamheid aan sy Vader se wil na die aarde gekom. Hy onderwerp hom aan Jehovah. “En wanneer alles aan Hom [Christus] onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.”—1 Korinthiërs 15:28; sien ook Mattheüs 24:36; Markus 12:29; Johannes 1:1-3, 14-18; Kolossense 1:15-20.

Die heilige gees is God se werkende krag, of energie in aksie, nie ’n persoon nie.—Handelinge 2:1-4, 17, 18.

Vraag: Aanbid of vereer Jehovah se Getuies afgode?

Antwoord: Jehovah se Getuies beoefen geen vorm van afgodediens nie, hetsy dit beelde, mense of organisasies behels.

“Ons [weet] dat ’n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een. Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is—tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur hom.”—1 Korinthiërs 8:4-6; sien ook Psalm 135:15-18.

Vraag: Hou Jehovah se Getuies die Mis of Nagmaal?

Antwoord: Jehovah se Getuies glo nie aan transsubstansiasie, ’n Rooms-Katolieke lering, nie. Hulle vier die Here se Aandmaal op die datum wat ooreenstem met die Joodse 14 Nisan (gewoonlik in Maart of April) as ’n jaarlikse herdenking van Christus se dood. By hierdie vergadering stuur hulle ongesuurde brood en rooi wyn in die gemeente om as simbool van Christus se sondelose liggaam en offerbloed. Slegs dié wat die hoop koester om saam met Christus in sy hemelse Koninkryk te regeer, gebruik die embleme.—Markus 14:22-26; Lukas 22:29; 1 Korinthiërs 11:23-26; Openbaring 14:1-5. *

[Prente]

Jehovah se Getuies vergader gereeld in Koninkryksale vir Bybelstudie

Koninkryksale: Itsjiharastad, Japan (vorige bladsy) en Boituva, Brasilië

[Voetnote]

^ par. 112 Sien Redenering uit die Skrif, wat in 1985 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is, bladsye 140-4 en 293-7, vir ’n verdere bespreking van hierdie onderwerp.

[Tabel op bladsy 361]

’n Paar lande waar die Getuies preek

Land Bedrywige Getuies

Argentinië 79 000

Australië 51 000

Brasilië 267 000

Brittanje 117 000

Colombia 42 000

Duitsland, Bondsrepubliek 129 000

El Salvador 18 000

Filippyne 102 000

Finland 17 000

Frankryk 109 000

Griekeland 24 000

Hongarye 10 000

Indië 9 000

Italië 172 000

Japan 138 000

Kanada 98 000

Korea 57 000

Libanon 2 500

Mexiko 277 000

Nigerië 137 000

Pole 91 000

Portugal 36 000

Puerto Rico 24 000

Spanje 78 000

Suid-Afrika 46 000

Venezuela 47 000

VSA 818 000

Zambië 72 000

36 onder beperking 220 000

Wêreldsyfers vir 1989 60 192 Gemeentes 3 787 000 Getuies

[Prente op bladsy 346]

Die VV se vredestatuut sê: “Ons sal van ons swaarde pikke smee”; die “Jesaja-muur” gee die Bybelse teks

[Prent op bladsy 351]

Jehovah se Getuies glo in Christus se losprysoffer vir die mensdom se sondes

[Prente op bladsy 363]

Byeenkomssale van Jehovah se Getuies: Lugfoto van saal in East Pennines, Engeland

Die byeenkomssaal, Fort Lauderdale, Florida, VSA, word vir Engelse, Spaanse en Franse programme gebruik

[Prente op bladsy 364]

Die Wagtoringgenootskap se wêreldhoofkwartier, Brooklyn, New York; (van bo links) kantore, fabrieke en woongeboue (in kleur)

[Prente op bladsy 365]

Wagtoringtakkantore (van bo links) in Suid-Afrika, Spanje en Nieu-Seeland