Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die doel van hierdie brosjure

Die doel van hierdie brosjure

DIE Nederlandse filosoof Spinoza het geskryf: “Ek het probeer om nie oor die mens se optrede te lag nie, nie daaroor te huil nie, dit ook nie te haat nie, maar dit te verstaan.” As ’n onderwyser kom jy voor die uitdaging te staan om die beskouings, agtergrond en oortuiging van die leerlinge onder jou sorg te verstaan, met inbegrip van leerlinge wat kinders van Jehovah se Getuies is. Soms neem hierdie leerlinge moontlik ’n skynbaar onkonvensionele standpunt oor sekere kwessies in. Maar wanneer sulke optrede klaarblyklik uit ’n leerling se godsdiens- en morele oortuiging voortspruit, verdien dit jou aandag. Hierdie brosjure word deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap (die uitgewersagentskap van Jehovah se Getuies) uitgegee met die doel om jou te help om Getuieleerlinge beter te verstaan. Ons hoop dat jy die tyd sal inruim om dit sorgvuldig te lees.

Om iemand anders se godsdiensopvattings te verstaan, beteken nie dat jy dit moet aanneem en volg nie, en om ander in te lig, is nie proselitisme nie. Hierdie brosjure probeer nie die Getuies se godsdiensopvattings aan jou of aan jou leerlinge opdwing nie. Ons wil jou slegs inlig oor die beginsels en opvattings wat party van jou leerlinge deur hulle ouers geleer word, sodat dit vir jou makliker sal wees om Getuiekinders te verstaan sowel as om met hulle saam te werk. Dit spreek vanself dat kinders moontlik nie altyd sal doen wat hulle geleer word nie, aangesien elke kind nog leer om sy eie gewete te ontwikkel.

Soos die meeste ouers, wil Jehovah se Getuies hê dat hulle kinders hulle opvoeding ten beste moet benut. Daarom leer hulle hulle kinders om met hulle onderwysers saam te werk. Op hulle beurt waardeer Getuie-ouers en hulle kinders dit as onderwysers hulle met begrip en respek behandel.

Jehovah se Getuies is Christene wat wêreldwyd bekend is. Maar hulle word soms misverstaan. Ons hoop dus dat hierdie brosjure jou sal help om die Getuiekinders onder jou sorg beter te verstaan. Ons hoop veral dat jy sal begryp waarom hulle in spesifieke situasies moontlik die reg sal eis om te verskil.