Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Opvoedkundige programme

Opvoedkundige programme

Jehovah se Getuies is wêreldwyd bekend vir hulle Bybelopvoedkundige werk.

WEENS die waarde wat hulle aan hulle Bybelopvoedkundige werk heg, dink party dalk dat hulle nie in sekulêre opvoeding belangstel nie. Maar dit is nie die geval nie. Voordat ’n onderrigter ander kan leer, moet hý eers leer, en dit vereis behoorlike opleiding en onderrigting. Benewens die feit dat Jehovah se Getuies sekulêre skoolopleiding dus goed benut, vind hulle al baie jare lank by verskeie opvoedkundige programme en skole baat wat deur die Wagtoringgenootskap gehou word. Dit het Getuies en ander gehelp om hulle op verstandelike, sedelike en geestelike gebied te verbeter.

In baie lande kom die Getuies byvoorbeeld voor ’n besondere uitdaging te staan—hoe om mense te leer wat min of geen geleentheid gehad het om behoorlike skoolopleiding te ontvang en wat dus nie kan lees of skryf nie. Om in hierdie behoefte te voorsien, het die Wagtoringgenootskap lees-en-skryf-programme georganiseer.

In Nigerië word lees-en-skryf-klasse byvoorbeeld al sedert 1949 deur Jehovah se Getuies gehou. Deur middel van sulke klasse het tienduisende mense in Nigerië geleer om te lees. ’n Opname het gewys dat minder as 50 persent van die bevolking in Nigerië geletterd is, maar in teenstelling hiermee kan meer as 90 persent van Jehovah se Getuies in die land lees en skryf. In Mexiko reël Jehovah se Getuies al vanaf 1946 lees-en-skryf-klasse. In een jaar is meer as 6 500 mense geleer om te lees en te skryf. Om die waarheid te sê, meer as 100 000 mense is al gehelp om te lees en te skryf. Oor die jare is lees-en-skryf-klasse ook in baie ander lande gereël, soos Bolivia, Kameroen, Nepal en Zambië. Jehovah se Getuies het al meer as sewemiljoen kopieë van die handboek Lê jou toe op lees en skryf in meer as 100 tale gedruk.

Sulke lees-en-skryf-programme het al dikwels erkenning ontvang van die opvoedkundige owerhede in die lande waar dit georganiseer is. ’n Staatsamptenaar in Mexiko het byvoorbeeld geskryf: “Ek is dankbaar vir julle samewerking, en namens die regering van die land wil ek julle hartlik gelukwens met julle edele, progressiewe werk tot voordeel van die volk om die lig van kennis na die ongeletterdes te bring. . . . Ek wens julle voorspoed toe in julle opvoedkundige werk.”

Verdere opleiding

Studente ontvang opleiding in openbare voorlesing en voordrag

Omdat hulle groot waarde aan hulle Bybelopvoedkundige werk heg, probeer Jehovah se Getuies hulle vermoë verbeter om Bybelleringe aan ander te verduidelik. Byvoorbeeld, in elk van die meer as 119 000 gemeentes wêreldwyd ontvang studente opleiding met die doel om hulle in die vaardighede van openbare voorlesing en voordrag op te lei. Selfs die kindertjies kan, sodra hulle kan lees, as studente inskryf en hierdie opleiding ontvang, wat dan ook vir hulle op ander gebiede nuttig is, met inbegrip van hulle sekulêre skoolopleiding. Baie onderwysers het al gesê dat Getuieleerlinge hulle oor die algemeen baie goed uitdruk.

In hulle gemeentes word hulle hartlik aangespoor om te lees, en elke gesin word eweneens aangespoor om ’n gesinsbiblioteek met ’n groot verskeidenheid publikasies te hê

Daarbenewens word elke gemeente van Jehovah se Getuies aangemoedig om ’n biblioteek met Bybelstudiehulpe, woordeboeke en ander naslaanwerke in hulle Koninkryksaal, of vergaderplek, te hê. Hierdie biblioteek is tot die beskikking van almal wat die vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon. In hulle gemeentes word hulle hartlik aangespoor om te lees, en elke gesin word eweneens aangespoor om ’n gesinsbiblioteek met ’n groot verskeidenheid publikasies te hê wat in die behoeftes van kinders en volwassenes voorsien.

Gevorderde opleiding

Die Wagtoringgenootskap het ook skole vir die opleiding van sendelinge van albei geslagte, sowel as skole vir die opleiding van manne wat diensverantwoordelikhede in die plaaslike gemeentes het. Hierdie skole is ’n verdere bewys dat Jehovah se Getuies groot waarde aan opvoeding heg.