Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ouers se rol

Ouers se rol

Dit is ongetwyfeld nie maklik om kinders groot te maak om gebalanseerde volwassenes in die hedendaagse samelewing te wees nie.

DIE Amerikaanse Nasionale Instituut vir Geestesgesondheid het die uitslae gepubliseer van ’n opname onder ouers wat as suksesvol beskou is—dié wie se kinders, oor 21, “almal produktiewe volwassenes was wat hulle blykbaar goed by ons samelewing aanpas”. Daar is vir hierdie ouers gevra: ‘Wat is die beste raad wat julle na aanleiding van julle persoonlike ondervinding vir ander ouers kan gee?’ Die algemeenste antwoorde was: ‘Betoon oorvloedige liefde’, ‘gee dissipline wat opbou’, ‘bring tyd saam deur’, ‘leer jou kinders die verskil tussen reg en verkeerd’, ‘ontwikkel wedersydse respek’, ‘luister werklik na hulle’, ‘gee leiding eerder as ’n skrobbering’ en ‘wees realisties’.

Onderwysers speel ’n belangrike rol daarin om goed aangepaste jong volwassenes voort te bring

Maar ouers is nie die enigstes wat help om goed aangepaste jong volwassenes voort te bring nie. Onderwysers speel ook ’n belangrike rol hierin. ’n Ervare skoolraadgewer het gesê: “Die hoofdoel van formele opvoeding is om ouers te ondersteun in die taak om verantwoordelike jong volwassenes voort te bring wat intellektueel, fisies en emosioneel goed ontwikkel is.”

Ouers en onderwysers het dus dieselfde doelwit—om jongmense voort te bring wat later ryp en gebalanseerde volwassenes sal word wat die lewe geniet en hulle plek kan vind in die gemeenskap waarin hulle woon.

Medewerkers, nie mededingers nie

Probleme ontstaan egter wanneer ouers nie met onderwysers saamwerk nie. Party ouers staan byvoorbeeld heeltemal onverskillig teenoor hulle kinders se opvoeding; ander probeer met die onderwysers meeding. In ’n bespreking van hierdie situasie het ’n Franse tydskrif gesê: “Die onderwyser is nie meer die enigste kaptein van die skip nie. Ouers wat met hulle kinders se sukses behep is, ontleed skoolboeke, veroordeel en kritiseer onderrigmetodes en reageer onmiddellik op hulle kind se eerste lae punte.” Sulke optrede kan inbreuk maak op die prerogatiewe van onderwysers.

Jehovah se Getuies meen dat dit hulle kinders tot groter voordeel sal strek wanneer ouers met onderwysers saamwerk en daadwerklike, tegemoetkomende belangstelling in hulle kinders se opvoeding toon

Jehovah se Getuies meen dat dit hulle kinders tot groter voordeel sal strek wanneer ouers met onderwysers saamwerk en daadwerklike, tegemoetkomende belangstelling in hulle kinders se opvoeding toon. Sulke samewerking is volgens hulle veral belangrik omdat jou werk as ’n onderwyser al hoe moeiliker word.

Hedendaagse skoolprobleme

Aangesien skole die gemeenskap weerspieël waarvan dit ’n deel is, is dit nie beskut teen die probleme van die gemeenskap oor die algemeen nie. Maatskaplike probleme het oor die jare vinnig toegeneem. In ’n beskrywing van die toestande in een skool in die Verenigde State het The New York Times berig: “Leerlinge slaap in die klas, hulle dreig mekaar in die gange met mure vol graffiti, hulle kleineer die goeie leerlinge. . . . Byna al die leerlinge het met probleme te kampe, soos om babas te versorg, ouers te hê wat in die gevangenis sit en om bendegeweld te oorleef. Op enige bepaalde dag is bykans een vyfde afwesig.”

Wat veral verontrustend is, is die toenemende internasionale probleem van geweld in skole. Sporadiese stamp-en-stoot-gevegte is vervang deur daaglikse skietery en messtekery. Wapens het algemener geword, aanvalle erger, met kinders wat gouer en op ’n jonger ouderdom hulle toevlug tot geweld neem.

Nie alle lande het sekerlik met sulke sombere toestande te kampe nie. Maar baie onderwysers regoor die wêreld ervaar die situasie wat in die Franse weekblad Le Point gemeld is: “Die onderwyser word nie meer gerespekteer nie; hy het geen gesag nie.”

Suksesvolle ouers bring tyd met hulle kinders deur

Sulke minagting vir gesag hou groot gevaar vir alle kinders in. Jehovah se Getuies probeer dus gehoorsaamheid en eerbied vir gesag by hulle kinders inskerp, eienskappe wat dikwels in die hedendaagse skoollewe ontbreek.