Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se Getuies probeer ware Christelike waardes by hulle kinders inskerp

Sedelike waardes wat respek verdien

Sedelike waardes wat respek verdien

Dwarsdeur die geskiedenis het moedige mans en vrouens ’n standpunt ingeneem wat in stryd met die gewilde denkwyse van hulle tyd was. Hulle het politieke, godsdiens- en rassetirannie verduur en dikwels hulle lewe gegee vir die saak waarvoor hulle hulle beywer het.

DIE vroeë Christene was besonder moedig. Gedurende die wrede vervolgings van die eerste drie eeue is baie van hulle deur die heidense Romeine om die lewe gebring omdat hulle geweier het om die keiser te aanbid. Soms is ’n altaar in ’n arena opgerig. Om hulle vryheid te verkry, moes die Christene bloot ’n knippie reukwerk ter erkenning van die goddelike natuur van die keiser brand. Maar daar is min wat toegegee het. Die meerderheid het verkies om eerder te sterf as om hulle geloof prys te gee.

In hedendaagse tye neem Christengetuies van Jehovah ’n soortgelyke standpunt in ten opsigte van politieke neutraliteit. Hulle ferm standpunt ondanks Nazisme is byvoorbeeld ’n historiese feit. Voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ongeveer ’n kwart van die Duitse Getuies hulle lewens verloor, hoofsaaklik in konsentrasiekampe, omdat hulle neutraal gebly en geweier het om “Heil Hitler” te sê. Jong kinders is met geweld van hulle Getuie-ouers geskei. Ondanks die druk het kinders standvastig gebly en hulle nie laat besmet deur die onskriftuurlike leringe wat ander aan hulle probeer opdwing het nie.

Vlagsaluering

Jehovah se Getuies is vandag gewoonlik nie die teiken van sulke bittere vervolging nie. Tog ontstaan daar soms misverstande weens jong Getuies se gewetensbesluit om nie aan patriotiese seremonies, soos vlagsaluering, deel te neem nie.

“Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom”—Matteus 22:21AB

Kinders van Jehovah se Getuies word geleer om ander nie af te raai om die vlag te salueer nie; elkeen moet self daaroor besluit. Maar die standpunt van die Getuies self is ferm: Hulle salueer geen landsvlag nie. Dit is beslis nie bedoel om minagting te toon nie. Hulle respekteer wel die vlag van enige land waarin hulle woon, en hulle toon hierdie respek deur hulle gehoorsaamheid aan die landswette. Hulle neem nooit aan enige antiregeringsbedrywighede deel nie. Trouens, die Getuies glo dat die huidige menseregerings ’n “reëling van God” uitmaak wat hy toelaat om te bestaan. Hulle ag dit hulle goddelike plig om belasting te betaal en sulke “hoër owerhede” te respekteer (Romeine 13:1-7). Dit is in ooreenstemming met Christus se bekende stelling: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.”—Matteus 22:21AB.

‘Maar waarom’, vra party dalk, ‘vereer Jehovah se Getuies dan nie die vlag deur dit te salueer nie?’ Dit is omdat hulle die saluering van die vlag as ’n daad van aanbidding beskou, en aanbidding kom God toe; hulle kan nie met ’n goeie gewete enigeen of enigiets behalwe God aanbid nie (Matteus 4:10; Handelinge 5:29). Gevolglik waardeer hulle dit wanneer onderwysers hierdie oortuiging respekteer en Getuiekinders toelaat om by hulle opvattings te bly.

Dit is nie verbasend dat Jehovah se Getuies nie die enigstes is wat glo dat vlagsaluering met aanbidding verband hou nie, soos die volgende opmerkings toon:

“Vroeë vlae was byna geheel en al van ’n godsdienstige aard. . . . Die hulp van godsdiens is blykbaar altyd gesoek om heiligheid aan landsvlae te gee.” (Ons kursiveer.)—Encyclopædia Britannica.

“Die vlag, soos die kruis, is heilig. . . . Die reglement in verband met die mens se gesindheid ten opsigte van landsvlae gebruik kragtige, veelseggende woorde, soos ‘Diens aan die Vlag’, . . . ‘Verering van die Vlag’, ‘Toegewydheid aan die Vlag.’” (Ons kursiveer.)—The Encyclopedia Americana.

“Christene het geweier om . . . offerandes aan die [Romeinse] keiser se beskermengel te bring—min of meer dieselfde as om vandag te weier om die vlag te salueer of die eed van getrouheid af te lê.”—Those About to Die (1958), deur Daniel P. Mannix, bladsy 135.

Drie jong Hebreeuse manne het geweier om hulle neer te buig voor ’n beeld wat deur die Babiloniese koning Nebukadnesar opgerig is

Nogeens, Jehovah se Getuies bedoel nie om oneerbiedig teenoor enige regering of sy heersers te wees wanneer hulle weier om die vlag te salueer nie. Dit is net dat hulle hulle nie, in ’n daad van aanbidding, sal neerbuig voor ’n beeld wat die Staat voorstel of dit sal salueer nie. Hulle beskou dit as soortgelyk aan die standpunt wat in Bybeltye deur drie jong Hebreeuse manne ingeneem is wat geweier het om hulle neer te buig voor die beeld wat deur die Babiloniese koning Nebukadnesar in die dal Dura opgerig is (Daniël, hoofstuk 3). Hoewel ander dan salueer en ’n eed van getrouheid aflê, word kinders van Jehovah se Getuies geleer om hulle Bybelopgeleide gewete te volg. Daarom onthou hulle hulle op ’n stil en eerbiedige wyse daarvan om deel te neem. Om soortgelyke redes verkies Getuiekinders om nie deel te neem wanneer volksliedere gesing of gespeel word nie.

Die ouers se reg

Deesdae respekteer die meeste lande die ouers se reg om vir hulle kinders godsdiensonderrig in ooreenstemming met hulle oortuiging te gee. Alle godsdienste steun hierdie reg, soos toegelig deur die kanonieke wet wat steeds in die Katolieke Kerk van krag is: “Aangesien hulle die lewe aan hulle kinders gegee het, is ouers onder die baie streng verpligting om hulle op te voed, en hulle het die reg om dit te doen; daarom is dit hoofsaaklik ouers wat hulle kinders van ’n Christelike opvoeding volgens die Kerkleer behoort te voorsien.”—Wet 226.

Kinders word aangemoedig om belangstelling in ander te toon

Jehovah se Getuies verlang niks meer as dit nie. As besorgde ouers probeer hulle ware Christelike waardes by hulle kinders inskerp en liefde vir hulle naaste en respek vir ander mense se besittings by hulle inboesem. Hulle wil graag die raad volg wat die apostel Paulus aan die Christene in Efese gegee het: “Ouers, moenie julle kinders so behandel dat hulle hulle vererg nie. Maak hulle eerder groot met Christelike dissipline en onderrigting.”—Efesiërs 6:4, Today’s English Version.

Godsdienstig verdeelde gesinne

In party gesinne is net een ouer ’n Getuie van Jehovah. In so ’n situasie word die Getuie-ouer aangemoedig om die reg te erken van die ouer wat nie ’n Getuie is nie om die kinders ook volgens sy of haar godsdiensoortuiging te leer. Kinders wat aan verskillende godsdiensopvattings blootgestel word, ondervind min of geen slegte gevolge. * Alle kinders moet in werklikheid besluit aan watter godsdiens hulle wil behoort. Nie alle jongmense verkies natuurlik om die godsdiensbeginsels van hulle ouers, hetsy Jehovah se Getuies of nie, te volg nie.

Kinders se reg op vryheid van gewete

Jy behoort ook te weet dat Jehovah se Getuies groot waarde aan die individuele Christengewete heg (Romeine, hoofstuk 14). Die Konvensie oor die Regte van die Kind, wat in 1989 deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies aangeneem is, het ’n kind se reg op “vryheid van denke, gewete en godsdiens” erken en die reg “om sy of haar mening vryelik uit te spreek en dat daardie mening in ag geneem moet word in enige saak of prosedure wat die kind raak”.

Geen kind is presies soos ’n ander kind nie. Jy kan dus redelikerwys verwag dat die besluit van jong Getuies of ander leerlinge in sekere mate sal verskil wanneer dit kom by sekere bedrywighede of toewysings op skool. Ons hoop dat jy ook die beginsel van vryheid van gewete voorstaan.

^ par. 18 Met betrekking tot kinders uit huwelike waar ouers aan verskillende godsdienste behoort, sê Steven Carr Reuben, Ph.D., in sy boek Raising Jewish Children in a Contemporary World: “Kinders is verward wanneer hulle ouers se lewe getuig van verloëning, verwarring, geheimsinnigheid en die ontwyking van godsdienskwessies. Wanneer ouers openhartig, eerlik, reguit oor hulle opvattings, waardes en vieringspatrone is, word kinders met die soort geborgenheid en gevoel van eiewaarde in die godsdienssfeer groot wat so uiters belangrik vir die ontwikkeling van hulle algehele selfbeeld en begrip van hulle plek in die wêreld is.”