Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 23

Die goeie nuus versprei

Die goeie nuus versprei

Paulus onderneem predikingsreise oor land en oor see

NÁ Paulus se bekering het hy die goeie nuus van God se Koninkryk ywerig bekend gemaak—maar die voormalige teenstander het nou dikwels self bittere teenstand ondervind. Hierdie onvermoeibare apostel het verskeie predikingsreise onderneem en wyd en syd gereis om die goeie nuus te versprei van die Koninkryk wat God se oorspronklike voorneme vir die mensdom sal vervul.

Tydens sy eerste predikingsreis het Paulus ’n man in Listra genees wat van geboorte af kreupel was. Die skare het begin uitroep dat Paulus en sy reisgenoot Barnabas gode is. Die twee mans kon die mense nouliks verhinder om offerandes aan hulle te bring. Maar onder die invloed van Paulus se vyande het hierdie skare Paulus later gestenig en hom vir dood agtergelaat. Paulus het die aanval oorleef en het later na dieselfde stad teruggekeer om die dissipels met bemoedigende woorde te versterk.

Sommige Joodse Christene het aangevoer dat nie-Joodse gelowiges dele van die Wet van Moses moet onderhou. Paulus het die kwessie na die apostels en ouer manne in Jerusalem geneem. Ná ’n noukeurige ondersoek van die Skrif en onder leiding van God se heilige gees het hierdie manne aan die gemeentes geskryf en hulle vermaan om hulle te onthou van afgodediens, van die eet van bloed en vleis waarvan die bloed nie uitgeloop het nie en van hoerery. Hierdie gebooie was “noodsaaklike dinge”, maar die onderhouding daarvan het nie vereis dat hulle die Mosaïese Wet volg nie.—Handelinge 15:28, 29.

Op sy tweede predikingsreis het Paulus Berea, vandag in Griekeland, besoek. Jode wat daar gewoon het, het die woord gretig ontvang en die Skrif elke dag ondersoek om sy leringe na te gaan. Weer eens het teenstand hom gedwing om verder te reis, hierdie keer na Atene. Voor ’n geleerde groep Ateners het Paulus ’n kragtige toespraak gelewer wat ’n goeie voorbeeld van takt, onderskeidingsvermoë en welsprekendheid is.

Ná ’n derde predikingsreis het Paulus na Jerusalem gegaan. Toe hy die tempel daar besoek, het sekere Jode ’n oproer verwek en wou hulle hom doodmaak. Romeinse soldate het tussenbeide getree en Paulus ondervra. As ’n Romeinse burger het hy hom later voor die Romeinse goewerneur Feliks verdedig. Die Jode kon geen getuienis voorlê vir die aanklagte wat hulle teen Paulus ingebring het nie. Om te voorkom dat Festus, ’n ander Romeinse goewerneur, hom aan die Jode oorlewer, het Paulus gesê: “Ek beroep my op die keiser!” Festus het geantwoord: “Na die keiser sal jy gaan.”—Handelinge 25:11, 12.

Paulus is toe per boot na Italië geneem om verhoor te word. Hy het op hierdie seereis skipbreuk gely en moes dus die winter op die eiland Malta deurbring. Toe hy uiteindelik in Rome aankom, het hy twee jaar lank in ’n gehuurde huis gewoon. Hoewel hy deur soldate bewaak is, het die immer ywerige apostel voortgegaan om die Koninkryk van God te verkondig aan almal wat hom besoek het.

—Gebaseer op Handelinge 11:22–28:31.