Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 17

Jesus leer ander van God se Koninkryk

Jesus leer ander van God se Koninkryk

Jesus leer sy dissipels baie dinge, maar spits hom toe op een tema—God se Koninkryk

WAT was Jesus se taak op die aarde? Hy het self gesê: “Ek [moet] die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Lukas 4:43). Kyk na vier dinge wat Jesus ander geleer het van hierdie Koninkryk, die hooftema van sy predikingswerk.

1. Jesus was die aangewese Koning. Jesus het reguit gesê dat hy die voorspelde Messias is (Johannes 4:25, 26). Hy het ook getoon dat hy die Koning is wat die profeet Daniël in sy visioen gesien het. Jesus het vir sy apostels gesê dat hy eendag op ’n “glorieryke troon” sou sit en dat hulle ook op trone sou sit (Matteus 19:28). Hy het na hierdie groep heersers verwys as sy “klein kuddetjie”, en hy het ook gesê dat hy “ander skape” het, wat nie deel van daardie groep is nie.—Lukas 12:32; Johannes 10:16.

2. God se Koninkryk sal ware geregtigheid bevorder. Jesus het getoon dat die Koninkryk met die allergrootste ongeregtigheid sal wegdoen deur die naam van Jehovah God te heilig en dit te suiwer van al die smaad wat Satan sedert die opstand in Eden daarop gewerp het (Matteus 6:9, 10). Jesus het ook elke dag onpartydigheid getoon deur mans en vroue, ryk en arm, sonder onderskeid te onderrig. Hoewel dit sy taak was om hoofsaaklik die Israeliete te onderrig, het hy ook Samaritane en nie-Jode gehelp. In teenstelling met die godsdiensleiers van sy dag het hy geen sweem van vooroordeel of partydigheid getoon nie.

3. God se Koninkryk sal geen deel van hierdie wêreld wees nie. Jesus het gedurende ’n tyd van groot beroering gelewe. Sy vaderland was onder vreemde oorheersing. Maar toe mense hom by die politieke aangeleenthede van daardie tyd probeer betrek het, het hy padgegee (Johannes 6:14, 15). Hy het vir een politikus gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Vir sy volgelinge het hy gesê: “Julle [is] geen deel van die wêreld . . . nie” (Johannes 15:19). Hy het hulle nie toegelaat om oorlogswapens te gebruik nie, nie eens om hóm te verdedig nie.—Matteus 26:51, 52.

“Hy [het] van dorpie tot dorpie [gereis] en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak.”—Lukas 8:1

4. Christus se heerskappy sal op liefde gegrond wees. Jesus het belowe om mense te verkwik, om hulle laste te verlig (Matteus 11:28-30). Hy het sy woord gestand gedoen. Hy het liefdevolle, praktiese raad gegee oor hoe om kwellinge die hoof te bied, verhoudings te verbeter, materialisme te bestry en geluk te vind (Matteus, hoofstukke 5-7). Omdat hy liefde betoon het, was dit vir mense uit alle agtergronde maklik om hom te nader. Selfs mense wat erg verdruk is, het na hom toe gestroom, vol vertroue dat hy hulle op goedhartige en waardige wyse sou behandel. Wat ’n wonderlike Heerser sal Jesus tog wees!

Daar was nog ’n uiters kragtige manier waarop Jesus ander van God se Koninkryk geleer het. Hy het baie wonderwerke verrig. Waarom het hy dit gedoen? Kom ons kyk.

—Gebaseer op die boeke Matteus, Markus, Lukas, en Johannes.