Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 11

Geïnspireerde liedere wat vertroos en onderrig

Geïnspireerde liedere wat vertroos en onderrig

Dawid en ander komponeer liedere vir gebruik in aanbidding. Die lirieke van 150 van hierdie liedere is in die boek Psalms bewaar

DIE grootste boek in die Bybel is ’n versameling van gewyde liedere. Die hele boek is oor ’n tydperk van ongeveer 1 000 jaar geskryf. Die boek Psalms bevat party van die kragtigste en roerendste uitinge van geloof wat ooit op skrif gestel is. ’n Groot verskeidenheid menslike emosies word hier gedek, van vreugde, lof en danksegging tot droefheid, smart en berou. Dit is duidelik dat die psalmiste ’n intieme vertrouensverhouding met God gehad het. Kyk na ’n paar van die temas wat in hierdie liriese werke ontwikkel word.

Jehovah is die regmatige Soewerein, waardig om aanbid en geloof te word. “U, wie se naam Jehovah is, u alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde”, lees ons in Psalm 83:18. Etlike psalms loof Jehovah vir sy skeppingswerke, soos die sterrehemel, die wonders van lewe op die aarde en die wonders van die menseliggaam (Psalm 8, 19, 139, 148). Ander verheerlik Jehovah as die God wat optree om dié wat aan hom lojaal is, te red en te beskerm (Psalm 18, 97, 138). Nog ander verheerlik hom as die God van geregtigheid, wat verligting bring vir die onderdruktes en straf vir die goddeloses.—Psalm 11, 68, 146.

Jehovah voorsien hulp en vertroosting aan dié wat hom liefhet. Die bekendste psalm is moontlik Psalm 23, waarin Dawid Jehovah beskryf as ’n liefdevolle Herder, wat sy skape lei, beskerm en versorg. Psalm 65:2 herinner God se aanbidders daaraan dat Jehovah die “Hoorder van die gebed” is. Baie wat ernstige oortredings begaan het, het groot vertroosting geput uit Psalm 39 en 51, waar Dawid sy berou oor ernstige foute met opregte woorde beskryf en sy vertroue in Jehovah se vergifnis uitspreek. Psalm 55:22 spoor ons aan om op Jehovah te vertrou en om alle persoonlike laste op Hom te plaas.

Jehovah sal die wêreld verander deur middel van die Koninkryk van die Messias. ’n Aantal gedeeltes in die Psalms is onteenseglik van toepassing op die Messias, die voorspelde Koning. Psalm 2 voorspel dat hierdie Heerser die goddelose nasies, wat hom teëstaan, sal vernietig. Psalm 72 openbaar dat hierdie Koning ’n einde sal maak aan honger, ongeregtigheid en onderdrukking. Volgens Psalm 46:9 sal God, deur middel van die Messias se Koninkryk, oorloë beëindig en selfs alle oorlogswapens vernietig. In Psalm 37 lees ons dat die goddeloses uitgewis sal word, maar dat regverdige mense vir ewig op die aarde sal woon en wêreldwye vrede en harmonie sal geniet.

—Gebaseer op die boek Psalms.