Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK DRIE

Wat het God vir die mens in gedagte?

Wat het God vir die mens in gedagte?

1. Wat het God vir die mens in gedagte?

GOD wil hê dat mense ’n wonderlike lewe moet hê. Hy het die eerste man en vrou, Adam en Eva, geskep om in ’n pragtige tuin te woon. Hy wou hê dat hulle kinders moes hê, die hele aarde ’n paradys moes maak en vir die diere moes sorg. – Genesis 1:28; 2:8, 9, 15; sien Eindnota 6.

2. (a) Hoe weet ons dat God sal doen wat hy gesê het hy sal doen? (b) Wat sê die Bybel oor die ewige lewe?

2 Dink jy dat ons ooit in ’n paradys sal woon? Jehovah sê vir ons: “Dit is wat ek besluit het, en ek sal dit uitvoer” (Jesaja 46:9-11; 55:11). Ja, hy sal doen wat hy gesê het, en niks sal hom keer nie. Jehovah sê dat hy die aarde vir ’n rede geskep het. Hy het “dit nie verniet geskep . . . nie” (Jesaja 45:18). Hy wil hê dat mense oor die hele aarde moet woon. Watter soort mense wil God hê moet op die aarde lewe, en vir hoe lank? Die Bybel sê: “Die regverdiges [dit wil sê gehoorsame mense] sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop lewe.” – Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4.

3. Watter vraag vra jy dalk, aangesien mense siek word en sterf?

3 Maar vandag word mense siek, en mense sterf. Op baie plekke baklei hulle, en hulle maak mekaar dood. Dit is beslis nie wat God wou hê nie. Wat het verkeerd geloop, en hoekom het dit gebeur? Net die Bybel kan dit verduidelik.

’N VYAND VAN GOD

4, 5. (a) Wie het in die tuin van Eden deur middel van ’n slang met Eva gepraat? (b) Hoe kan ’n eerlike persoon ’n dief word?

4 Die Bybel sê vir ons dat God ’n vyand het “wat Duiwel en Satan genoem word”. Satan het ’n slang gebruik om in die tuin van Eden met Eva te praat (Openbaring 12:9; Genesis 3:1). Hy het dit laat lyk asof dit die slang is wat praat. – Sien Eindnota 7.

5 Het God Satan die Duiwel geskep? Nee! ’n Engel wat in die hemel was toe God die aarde vir Adam en Eva voorberei het, het verander en die Duiwel geword (Job 38:4, 7). Hoe het dit gebeur? Wel, hoe word ’n eerlike persoon ’n dief? Hy is nie as ’n dief gebore nie. Maar hy begeer iets, of wil iets hê, wat nie aan hom behoort nie. Hy bly daaraan dink, en sy verkeerde begeerte word sterker. En dan, wanneer hy die kans kry, steel hy dit. Hy het homself ’n dief gemaak. – Lees Jakobus 1:13-15; sien Eindnota 8.

6. Hoe het ’n engel ’n vyand van God geword?

6 Dit is wat met daardie engel gebeur het. Nadat Jehovah Adam en Eva geskep het, het hy vir hulle gesê om kinders te hê en ‘die aarde te vul’ (Genesis 1:27, 28). Daardie engel het dalk gedink: ‘Al daardie mense kan eerder vir my aanbid as vir Jehovah!’ Hoe meer hy daaraan gedink het, hoe meer het hy iets begeer wat aan Jehovah behoort. Daardie engel wou hê dat mense hom moes aanbid. Hy het toe vir Eva gelieg en haar mislei. (Lees Genesis 3:1-5.) Deur dit te doen, het hy Satan die Duiwel, ’n vyand van God, geword.

7. (a) Hoekom het Adam en Eva gesterf? (b) Hoekom word ons oud en sterf ons?

7 Adam en Eva was ongehoorsaam aan God en het van die vrugte geëet (Genesis 2:17; 3:6). Hulle het teen Jehovah gesondig en later gesterf, net soos Jehovah gesê het sou gebeur as hulle ongehoorsaam was (Genesis 3:17-19). Adam en Eva se kinders was sondaars, en daarom het hulle gesterf. (Lees Romeine 5:12.) Kom ons kyk na ’n voorbeeld om ons te help om te verstaan hoekom Adam en Eva se kinders ook sondaars was. Dink aan wat gebeur as jy ’n brood bak in ’n pan wat ’n duik het. Die brood sal ook ’n duik hê. Toe Adam ongehoorsaam was aan God, het hy ’n sondaar geword. Omdat ons Adam se kinders is, is ons almal sondaars, met ander woorde, dit is asof ons dieselfde “duik” het as wat hy gehad het. En omdat ons almal sondaars is, word ons oud en sterf ons. – Romeine 3:23; sien Eindnota 9.

8, 9. (a) Wat wou Satan hê moes Adam en Eva glo? (b) Hoekom het Jehovah die persone wat teen hom in opstand gekom het, nie onmiddellik doodgemaak nie?

8 Satan het ’n opstand teen Jehovah begin toe hy Adam en Eva beïnvloed het om aan God ongehoorsaam te wees. Hy wou hê dat Adam en Eva moes glo dat Jehovah ’n leuenaar is, ’n slegte heerser wat nie die beste vir hulle wou hê nie. Satan het gesê dat mense God nie nodig het om vir hulle te sê wat om te doen nie en dat Adam en Eva self moet besluit wat reg is en wat verkeerd is. Wat sou Jehovah doen? Hy kon hulle doodgemaak het en die opstand beëindig het. Maar sou dit bewys het dat Satan ’n leuenaar is? Nee, dit sou nie.

9 Daarom het Jehovah die persone wat teen hom in opstand gekom het, nie onmiddellik doodgemaak nie. Hy het eerder toegelaat dat mense ’n tyd lank oor hulleself regeer. Dit sou bewys dat Satan ’n leuenaar is en dat Jehovah weet wat die beste vir die mens is. Ons sal in Hoofstuk 11 meer hieroor leer. Maar wat dink jy van Adam en Eva se besluit? Was dit reg van hulle om Satan te glo en ongehoorsaam aan God te wees? Jehovah het Adam en Eva alles gegee wat hulle gehad het. Hy het hulle volmaakte lewe gegee, asook ’n pragtige plek om in te woon en werk wat hulle geniet het. Maar Satan het nooit enigiets goeds vir hulle gedoen nie. Wat sou jy gedoen het as jy daar was?

10. Watter belangrike keuse moet elkeen van ons maak?

10 Net soos Adam en Eva moet elkeen van ons vandag ’n keuse maak. Ons lewe hang van daardie keuse af. Ons kan kies om Jehovah as ons Heerser te gehoorsaam en te help bewys dat Satan ’n leuenaar is. Of ons kan Satan as ons heerser kies. (Psalm 73:28; lees Spreuke 27:11.) Baie min mense in hierdie wêreld kies om gehoorsaam aan God te wees. Om die waarheid te sê, God is nie die heerser van die wêreld nie. Maar as God nie die heerser is nie, wie is dan?

WIE HEERS OOR DIE WÊRELD?

Kon Satan al die koninkryke van die wêreld vir Jesus aangebied het as dit nie aan Satan behoort het nie?

11, 12. (a) Wat het Satan vir Jesus aangebied? (b) Hoe wys dit dat Satan die heerser van die wêreld is? (c) Watter ander tekste wys dat Satan oor die wêreld heers?

11 Jesus het geweet wie werklik oor die wêreld heers. Satan het eenkeer “vir hom al die koninkryke van die wêreld en hulle mag en rykdom gewys”. Toe het Satan vir Jesus belowe: “Ek sal al hierdie dinge vir jou gee as jy neerval [dit wil sê neerbuig] en my een keer aanbid” (Matteus 4:8, 9; Lukas 4:5, 6). Dink ’n bietjie: ‘Kon Satan daardie koninkryke vir Jesus aangebied het as dit nie aan Satan behoort het nie?’ Nee. Alle regerings behoort aan Satan.

12 Jy wonder dalk: ‘Hoe kan Satan die heerser van die wêreld wees? Is Jehovah nie die almagtige God wat die heelal geskep het nie?’ (Openbaring 4:11). Ja, hy is, maar Jesus het uitdruklik gesê dat Satan “die heerser van hierdie wêreld” is (Johannes 12:31; 14:30; 16:11). Die apostel Paulus het Satan die Duiwel “die god van hierdie wêreld” genoem (2 Korintiërs 4:3, 4). En die apostel Johannes het geskryf dat “die hele wêreld . . . in die mag van die Duiwel” is. – 1 Johannes 5:19.

HOE SAL SATAN SE WÊRELD VERNIETIG WORD?

13. Hoekom het ons ’n nuwe wêreld nodig?

13 Hierdie wêreld word al hoe gevaarliker. Ons sien oral oorloë, korrupsie, skynheiligheid en geweld. Mense kan nie van al hierdie probleme ontslae raak nie, al probeer hulle hoe hard. Maar God sal binnekort hierdie goddelose wêreld gedurende sy oorlog van Armageddon vernietig, en hy sal dit met ’n regverdige nuwe wêreld vervang. – Openbaring 16:14-16; sien Eindnota 10.

14. Wie het God gekies om die Koning van Sy Koninkryk te wees? Wat het die Bybel oor Jesus voorspel?

14 Jehovah het Jesus Christus gekies om die Koning van Sy hemelse regering, of Koninkryk, te wees. Duisende jare gelede het die Bybel voorspel dat Jesus as die “Prins van Vrede” sou heers en dat sy regering nooit tot ’n einde sal kom nie (Jesaja 9:6, 7). Jesus het sy volgelinge geleer om vir hierdie regering te bid toe hy gesê het: “Laat u Koninkryk kom. Laat u wil plaasvind op die aarde, net soos in die hemel” (Matteus 6:10). Ons sal in Hoofstuk 8 leer hoe God se Koninkryk die wêreld se regerings sal vervang. (Lees Daniël 2:44.) Dan sal God se Koninkryk die aarde ’n pragtige paradys maak. – Sien Eindnota 11.

’N NUWE WÊRELD IS NABY!

15. Wat is die “nuwe aarde”?

15 Die Bybel belowe: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarna ons . . . uitsien, en regverdigheid sal daarin woon” (2 Petrus 3:13; Jesaja 65:17). Wanneer die Bybel van die “aarde” praat, verwys dit soms na die mense wat op die aarde woon (Genesis 11:1). Die regverdige “nuwe aarde” verwys dus na mense wat gehoorsaam is aan God en deur hom geseën word.

16. Watter wonderlike geskenk sal God mense gee wat in sy nuwe wêreld woon, en wat moet ons doen om hierdie geskenk te ontvang?

16 Jesus het belowe dat mense wat in God se nuwe wêreld woon, die “ewige lewe” sal ontvang (Markus 10:30). Wat moet ons doen om hierdie geskenk te ontvang? Lees Johannes 3:16 en 17:3 om die antwoord te vind. Kom ons kyk nou na wat die Bybel sê oor hoe die lewe op die aardse Paradys sal wees.

17, 18. Hoe weet ons dat daar regoor die aarde vrede sal wees en dat ons veilig sal voel?

17 Goddeloosheid, oorlog, misdaad en geweld sal nie meer bestaan nie. Daar sal nie meer slegte mense op die aarde wees nie (Psalm 37:10, 11). God sal ‘regoor die aarde ’n einde maak aan oorloë’ (Psalm 46:9; Jesaja 2:4). Die aarde sal vol mense wees wat lief is vir God en wat hom gehoorsaam. Daar sal vir ewig vrede wees. – Psalm 72:7.

18 Aanbidders van Jehovah sal veilig voel. Toe die Israeliete in Bybeltye aan God gehoorsaam was, was hulle veilig omdat hy hulle beskerm het (Levitikus 25:18, 19). In die Paradys sal ons vir niks of niemand bang wees nie. Ons sal altyd veilig voel! – Lees Jesaja 32:18; Miga 4:4.

19. Hoekom kan ons seker wees dat daar oorgenoeg kos in God se nuwe wêreld sal wees?

19 Daar sal oorgenoeg kos wees. “Daar sal volop graan op die aarde wees. Op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees” (Psalm 72:16). Jehovah, “ons God, sal ons seën”, en “die aarde sal sy opbrengs lewer”. – Psalm 67:6.

20. Hoe weet ons dat die aarde ’n paradys sal word?

20 Die hele aarde sal ’n paradys word. Mense sal pragtige huise en tuine hê. (Lees Jesaja 65:21-24; Openbaring 11:18.) Die hele aarde sal so pragtig wees soos wat die tuin van Eden was. Jehovah sal ons altyd alles gee wat ons nodig het. Die Bybel sê oor hom: “U maak u hand oop en bevredig die begeerte van alles wat lewe.” – Psalm 145:16.

21. Hoe weet ons dat daar vrede tussen mense en diere sal wees?

21 Daar sal vrede tussen mense en diere wees. Diere sal mense nie meer seermaak nie. Selfs klein kindertjies sal nie bang hoef te wees vir diere wat vandag vir ons gevaarlik is nie. – Lees Jesaja 11:6-9; 65:25.

22. Wat sal Jesus vir die siekes doen?

22 Niemand sal siek wees nie. Toe Jesus op die aarde was, het hy baie mense genees (Matteus 9:35; Markus 1:40-42; Johannes 5:5-9). Maar as die Koning van God se Koninkryk sal Jesus almal genees. Niemand sal ooit sê: “Ek is siek” nie. – Jesaja 33:24; 35:5, 6.

23. Wat sal God doen vir mense wat gesterf het?

23 Die dooies sal weer lewe. God belowe dat hy miljoene mense wat gesterf het, sal opwek. Daar sal “’n opstanding van die regverdiges en die onregverdiges . . . wees”. – Lees Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.

24. Hoe voel jy daaroor om in die Paradys te lewe?

24 Ons almal het ’n keuse. Ons kan kies om van Jehovah te leer en hom te dien of om te doen net wat ons wil. As ons kies om Jehovah te dien, kan ons ’n wonderlike toekoms hê. Toe ’n man Jesus gevra het om hom ná sy dood te onthou, het Jesus hom belowe: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Kom ons leer meer van Jesus Christus en hoe hy God se wonderlike beloftes waar sal laat word.