Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK VYFTIEN

Die regte manier om God te aanbid

Die regte manier om God te aanbid

1. Wie moet vir ons sê wat die regte manier is om God te aanbid?

DIE meeste godsdienste sê dat hulle mense die waarheid omtrent God leer. Maar dit kan nie wees nie, want godsdienste leer verskillende dinge oor wie God is en hoe ons hom moet aanbid. Hoe kan ons weet wat die regte manier is om God te aanbid? Jehovah is die enigste een wat vir ons kan sê hoe ons hom moet aanbid.

2. Hoe kan jy leer om God op die regte manier te aanbid?

2 Jehovah het vir ons die Bybel gegee sodat ons kan leer om hom op die regte manier te aanbid. Daarom moet jy die Bybel studeer, en Jehovah sal jou help om by sy leringe baat te vind, want hy gee baie vir jou om. – Jesaja 48:17.

3. Wat wil God hê moet ons doen?

3 Party mense sê dat God alle godsdienste aanvaar, maar dit is nie wat Jesus ons geleer het nie. Hy het gesê: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die Koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net die een wat die wil doen van my Vader.” Ons moet dus leer wat die wil van God is en dit dan doen. Dit is ’n ernstige saak, want Jesus het gesê dat mense wat nie aan God gehoorsaam is nie, “wettelose mense” is, met ander woorde, hulle is soos misdadigers. – Matteus 7:21-23.

4. Wat het Jesus oor God se wil gesê?

4 Jesus het ons gewaarsku dat dit nie altyd maklik gaan wees om God se wil te doen nie. Hy het gesê: “Gaan in deur die nou poort, want wyd is die poort en breed is die pad wat na vernietiging lei, en daar is baie mense wat daardeur ingaan, maar nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en daar is min mense wat dit vind” (Matteus 7:13, 14). Die smal pad, dit wil sê die regte manier om God te aanbid, lei na die ewige lewe. Die breë pad, dit wil sê die verkeerde manier om God te aanbid, lei na die dood. Maar Jehovah wil nie hê dat enigiemand moet sterf nie. Hy gee elkeen die geleentheid om van hom te leer. – 2 Petrus 3:9.

DIE REGTE MANIER OM GOD TE AANBID

5. Hoe kan jy mense identifiseer wat God op die regte manier aanbid?

5 Jesus het gesê dat ons die mense kan identifiseer wat God op die regte manier aanbid. Ons doen dit deur te kyk na wat hulle glo en wat hulle doen. Hy het gesê: “Julle sal hulle aan hulle vrugte herken.” En hy het bygevoeg: “Elke goeie boom [dra] goeie vrugte” (Matteus 7:16, 17). Dit beteken nie dat mense wat God aanbid, volmaak is nie. Maar God se knegte probeer altyd om te doen wat reg is. Ons sal nou bespreek hoe ons die mense kan identifiseer wat God op die regte manier aanbid.

6, 7. Hoekom moet ware aanbidding op die Bybel gebaseer wees? Wat leer Jesus se voorbeeld ons?

6 Ons aanbidding moet op die Bybel gebaseer wees. Die Bybel sê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God heeltemal bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 3:16, 17). Die apostel Paulus het vir Christene geskryf: “Toe julle God se woord ontvang het, wat julle by ons gehoor het, het julle dit nie as die woord van mense aanvaar nie. Nee, julle het dit aanvaar vir wat dit waarlik is, die woord van God” (1 Tessalonisense 2:13). Ware aanbidding is net op God se Woord, die Bybel, gebaseer. Dit is nie op mense se idees en tradisies of op enigiets anders gebaseer nie.

7 Alles wat Jesus geleer het, was op God se Woord gebaseer. (Lees Johannes 17:17.) Hy het dikwels uit die Skrif aangehaal (Matteus 4:4, 7, 10). Ware knegte van God volg Jesus se voorbeeld en baseer alles wat hulle ander leer op die Bybel.

8. Wat het Jesus ons geleer oor die manier waarop ons Jehovah moet aanbid?

8 Ons moet Jehovah alleen aanbid. Psalm 83:18 sê: ‘U, wie se naam Jehovah is, u alleen is die Allerhoogste oor die hele aarde.’ Jesus wou hê dat mense moes weet presies wie die ware God is, en hy het mense God se naam geleer. (Lees Johannes 17:6.) Jesus het gesê: “Jy moet Jehovah jou God aanbid en hom alleen dien” (Matteus 4:10). As God se knegte volg ons Jesus se voorbeeld. Ons aanbid Jehovah alleen, ons gebruik sy naam en ons leer ander ook wat God se naam is en wat hy vir ons gaan doen.

9, 10. Hoe toon ons liefde vir mekaar?

9 God se volk toon opregte liefde vir mekaar. Jesus het sy dissipels geleer om mekaar lief te hê. (Lees Johannes 13:35.) Dit maak nie saak waar ons vandaan kom, wat ons kultuur is en of ons ryk of arm is nie – ons liefde vir mekaar moet ons as broers en susters verenig (Kolossense 3:14). Ons neem nie aan oorlog deel nie en maak nie mense dood nie. Die Bybel sê: “Die kinders van God en die kinders van die Duiwel word aan hierdie feit geken: Elkeen wat nie regverdigheid beoefen nie, het nie sy oorsprong by God nie, en ook nie die een wat sy broer nie liefhet nie.” En dit voeg by dat “ons mekaar moet liefhê. Ons moenie soos Kain wees, wat sy oorsprong by die Duiwel gehad het en sy broer doodgemaak het nie.” – 1 Johannes 3:10-12; 4:20, 21.

10 Ons gebruik ons tyd, energie en materiële dinge om mekaar te help en aan te moedig (Hebreërs 10:24, 25). Ons ‘doen goed aan almal’. – Galasiërs 6:10.

11. Hoekom moet ons aan Jesus gehoorsaam wees?

11 Ons moet gehoorsaam wees aan Jesus, want hy lei ons na God toe. Die Bybel sê: “Daar is geen redding in enigiemand anders nie, want daar is geen ander naam onder die hemel wat aan mense gegee is waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). In Hoofstuk 5 van hierdie boek het ons geleer dat Jehovah Jesus gestuur het om sy lewe as ’n losprys vir gehoorsame mense te gee (Matteus 20:28). Jehovah het Jesus gekies om as Koning oor die aarde te regeer. Dit is waarom die Bybel vir ons sê dat ons aan Jesus gehoorsaam moet wees as ons vir ewig wil lewe. – Lees Johannes 3:36.

12. Hoekom raak ons nie by die politiek betrokke nie?

12 Ons moenie by die politiek betrokke raak nie. Jesus het nie by die politiek betrokke geraak nie. Toe hy voor die Romeinse heerser Pilatus verskyn het, het hy gesê: “My Koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie.” (Lees Johannes 18:36.) Soos Jesus is ons lojaal aan God se hemelse Koninkryk, en daarom raak ons nie by die politiek betrokke nie, maak nie saak waar ons woon nie. Maar die Bybel beveel ons om gehoorsaam te wees aan “die hoër owerhede”, dit wil sê die regerings (Romeine 13:1). Ons is gehoorsaam aan die wette van die land waarin ons woon. Maar wanneer ’n wet met God se wette bots, volg ons die apostels na, wat gesê het: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.” – Handelinge 5:29; Markus 12:17.

13. Wat verkondig ons oor God se Koninkryk?

13 Ons glo dat God se Koninkryk die enigste oplossing vir die wêreld se probleme is. Jesus het gesê dat die “goeie nuus van die Koninkryk” wêreldwyd verkondig sou word. (Lees Matteus 24:14.) Geen menseregering kan doen wat God se Koninkryk vir ons sal doen nie (Psalm 146:3). Jesus het ons geleer om vir God se Koninkryk te bid toe hy gesê het: “Laat u Koninkryk kom. Laat u wil plaasvind op die aarde, net soos in die hemel” (Matteus 6:10). Die Bybel sê vir ons dat God se Koninkryk alle menseregerings sal vernietig en dat ‘dit alleen vir ewig sal bestaan’. – Daniël 2:44.

14. Wie dink jy aanbid God op die regte manier?

14 Noudat jy hierdie punte deurgegaan het, kan jy jou afvra: ‘Wie baseer hulle leringe op die Bybel? Wie vertel vir ander van God se naam? Wie betoon ware liefde aan mekaar? Wie glo dat God Jesus gestuur het om ons te red? Wie raak nie by die politiek betrokke nie? Wie verkondig dat net God se Koninkryk ons probleme kan oplos?’ Dit is net Jehovah se Getuies. – Jesaja 43:10-12.

WAT GAAN JY DOEN?

15. Wat moet ons doen as ons wil hê dat God ons aanbidding moet aanvaar?

15 Dit is nie genoeg om net te glo dat God bestaan nie. Selfs die demone glo dat God bestaan, maar hulle is nie gehoorsaam aan hom nie (Jakobus 2:19). As ons wil hê dat God ons aanbidding moet aanvaar, moet ons nie net glo dat hy bestaan nie, maar ook doen wat hy sê.

16. Hoekom moet ons valse godsdiens verwerp?

16 As ons wil hê dat God ons aanbidding moet aanvaar, moet ons valse godsdiens verwerp. Die profeet Jesaja het geskryf: “Gaan uit haar uit, bly rein” (Jesaja 52:11; 2 Korintiërs 6:17). Daarom moet ons enigiets verwerp wat met valse godsdiens te doen het.

17, 18. Wat is “Babilon die Grote”, en hoekom is dit belangrik om niks daarmee te doen te hê nie?

17 Wat is valse godsdiens? Dit is enige godsdiens wat ons leer om God op ’n manier te aanbid wat teen sy Woord is. Die Bybel noem alle valse godsdiens “Babilon die Grote” (Openbaring 17:5). Hoekom? Baie valse godsdiensleringe het ná die Vloed van Noag se dag in die stad Babilon ontstaan. Daardie valse leringe het regoor die wêreld versprei. Byvoorbeeld, die mense van Babilon het groepe van drie gode aanbid. Vandag leer baie godsdienste ook dat God ’n Drie-eenheid is, maar die Bybel leer duidelik dat daar net een ware God, Jehovah, is en dat Jesus sy Seun is (Johannes 17:3). Mense in Babilon het ook geglo dat ’n deel van ’n mens aanhou lewe nadat die liggaam gesterf het en dat daardie deel in die hel kan brand. Maar dit is nie waar nie. – Sien Eindnota 14, 17 en 18.

18 God het voorspel dat alle valse godsdiens binnekort vernietig sal word (Openbaring 18:8). Verstaan jy waarom dit so dringend is om valse godsdiens te verlaat? Jehovah God wil hê dat jy dit moet doen voordat dit te laat is. – Openbaring 18:4.

As jy Jehovah saam met sy volk aanbid, sal jy deel word van ’n wêreldwye gesin

19. Hoe sal Jehovah vir jou sorg wanneer jy besluit om hom te dien?

19 Wanneer jy besluit om valse godsdiens te verlaat en Jehovah te dien, sal party van jou vriende of familie dalk nie jou besluit verstaan nie. Hulle sal dalk selfs die lewe vir jou moeilik maak. Maar Jehovah sal jou nie verlaat nie. Jy sal deel word van ’n wêreldwye gesin van miljoene mense wat werklik lief is vir mekaar, en jy sal die hoop hê om vir ewig in God se nuwe wêreld te lewe (Markus 10:28-30). Miskien sal party van jou vriende en familie wat nie saamstem met jou besluit om Jehovah te dien nie, later besluit om die Bybel te studeer.

20. Hoekom is dit belangrik om God op die regte manier te aanbid?

20 Binnekort sal God alle goddeloosheid vernietig, en sy Koninkryk sal oor die aarde regeer (2 Petrus 3:9, 13). Dit sal ’n wonderlike tyd wees! Almal sal Jehovah aanbid op die manier wat Jehovah goedkeur. Daarom is dit belangrik dat jy nou optree en God op die regte manier aanbid.