Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK SESTIEN

Kies om God te aanbid

Kies om God te aanbid

1, 2. Watter vraag moet jy jou afvra, en hoekom is dit belangrik?

JOU studie van die Bybel het jou geleer dat baie mense wat sê dat hulle God aanbid, eintlik dinge leer of doen wat God haat (2 Korintiërs 6:17). Dit is hoekom Jehovah ons beveel om uit valse godsdiens, “Babilon die Grote”, uit te gaan (Openbaring 18:2, 4). Wat sal jy doen? Elkeen van ons moet ’n besluit neem. Ons moet ons afvra: ‘Wil ek God aanbid op die manier wat vir hom aanvaarbaar is, of wil ek hom aanbid soos ek hom nog altyd aanbid het?’

2 As jy valse godsdiens alreeds verlaat het of daaruit bedank het, is dit goed. Maar dalk hou jy nog van sommige feeste en gebruike van valse godsdiens. Kom ons bespreek ’n paar van hierdie feeste en gebruike en kyk hoekom dit belangrik is om dit te beskou soos Jehovah dit beskou.

BEELDE EN VOOROUERAANBIDDING

3. (a) Hoekom sal dit dalk vir sommige mense moeilik wees om op te hou om beelde in hulle aanbidding te gebruik? (b) Wat sê die Bybel oor die gebruik van beelde om God te aanbid?

3 As jy baie jare lank beelde of altare gebruik het om God te aanbid, sal dit dalk vir jou vreemd of selfs verkeerd voel om God sonder hierdie dinge te aanbid. Maar onthou, Jehovah leer ons hoe om hom te aanbid. En die Bybel sê duidelik vir ons dat Jehovah nie wil hê dat ons beelde in ons aanbidding moet gebruik nie. – Lees Eksodus 20:4, 5; Psalm 115:4-8; Jesaja 42:8; 1 Johannes 5:21.

4. (a) Hoekom moet ons nie ons voorouers aanbid nie? (b) Hoekom het Jehovah vir sy volk gesê om nie met die dooies te probeer praat nie?

4 Party mense spandeer dalk baie tyd en energie daaraan om hulle dooie voorouers tevrede te probeer stel. Hulle aanbid hulle dalk selfs. Maar ons het geleer dat mense wat gesterf het, ons nie kan help of kan seermaak nie. Hulle lewe nie êrens anders nie. Dit is eintlik gevaarlik om met hulle te probeer kommunikeer, want enige boodskap wat lyk asof dit van hulle af kom, kom eintlik van die demone af. Dit is hoekom Jehovah die Israeliete beveel het om nie met die dooies te probeer praat of by enige ander demoniese dinge betrokke te raak nie. – Deuteronomium 18:10-12; sien Eindnota 26 en 31.

5. Wat kan jou help om op te hou om beelde te gebruik om God te aanbid of om op te hou om jou voorouers te aanbid?

5 Wat kan jou help om op te hou om beelde te gebruik wanneer jy God aanbid of om op te hou om jou voorouers te aanbid? Lees die Bybel en dink goed na oor hoe Jehovah hierdie dinge beskou. Hy beskou dit as ‘afskuwelik’, dit wil sê walglik (Deuteronomium 27:15). Vra Jehovah elke dag om jou te help om dinge te beskou soos hy dit beskou en om jou te help om hom te aanbid soos hy aanbid wil word (Jesaja 55:9). Jy kan seker wees dat Jehovah jou die krag sal gee wat jy nodig het om enigiets uit jou lewe te verwyder wat met valse aanbidding te doen het.

MOET ONS KERSFEES VIER?

6. Hoekom is 25 Desember gekies as die dag om Jesus se geboorte te vier?

6 Regoor die wêreld is Kersfees een van die gewildste vakansiedae, en die meeste mense dink dat dit die viering van Jesus se geboorte is. Maar Kersfees hou eintlik verband met valse godsdiens. Een ensiklopedie verduidelik dat heidense Romeine die geboorte van die son op 25 Desember gevier het. Kerkleiers wou hê dat meer heidene Christene moes word, en daarom het hulle besluit om Jesus se geboorte op 25 Desember te vier, al is Jesus nie op daardie dag gebore nie (Lukas 2:8-12). Jesus se dissipels het nie Kersfees gevier nie. ’n Naslaanboek sê: “Vir 200 jaar ná Christus se geboorte het niemand geweet presies wanneer hy gebore is nie, en dit het vir min mense saak gemaak” (Sacred Origins of Profound Things). Mense het eers ’n paar honderd jaar nadat Jesus op die aarde gelewe het, Kersfees begin vier.

7. Hoekom vier ware Christene nie Kersfees nie?

7 Baie mense weet dat Kersfees, en die tradisies wat daarmee gepaardgaan, soos om partytjie te hou en geskenke te gee, ’n heidense oorsprong het. Byvoorbeeld, daar was ’n tyd toe die viering van Kersfees in Engeland en dele van Amerika verbied is omdat dit ’n heidense oorsprong het. Enigiemand wat dit gevier het, is gestraf. Maar mense het uiteindelik weer Kersfees begin vier. Hoekom vier ware Christene nie Kersfees nie? Omdat hulle God gelukkig wil maak in alles wat hulle doen.

MOET ONS VERJAARSDAE VIER?

8, 9. Hoekom het vroeë Christene nie verjaarsdae gevier nie?

8 Baie mense hou daarvan om hulle verjaarsdag te vier. Behoort Christene verjaarsdae te vier? Die enigste verjaarsdagvieringe wat in die Bybel genoem word, is dié van mense wat Jehovah nie aanbid het nie (Genesis 40:20; Markus 6:21). Verjaarsdae is gevier om valse gode te vereer. Daarom het vroeë Christene “die viering van enigiemand se geboorte as ’n heidense gebruik beskou”. – The World Book Encyclopedia.

9 Die eertydse Romeine en Grieke het geglo dat elke persoon se geboorte met die verjaarsdag van ’n god saamgeval het. Volgens die boek The Lore of Birthdays het hulle geglo dat ’n gees, wat ’n spesiale verhouding met die god gehad het, teenwoordig was by die geboorte van die persoon. Om die beskerming van die gees te ontvang, moes die persoon sy verjaarsdag vier.

10. Hoekom moet Christene nie verjaarsdae vier nie?

10 Dink jy dat Jehovah vieringe wat met valse godsdiens te doen het, goedkeur? (Jesaja 65:11, 12). Nee, hy keur dit nie goed nie. Daarom vier ons nie verjaarsdae of enige vakansiedae wat te doen het met valse godsdiens nie.

MAAK DIT REGTIG SAAK?

11. Hoekom vier sommige mense vakansiedae? Wat moet vir jou die belangrikste wees?

11 Sommige mense weet dat Kersfees en ander vakansiedae ’n heidense oorsprong het, maar hulle vier dit nog steeds. Hulle voel dat vakansiedae maar net ’n goeie geleentheid is om tyd saam met hulle familie te spandeer. Voel jy ook so? Dit is nie verkeerd om tyd saam met jou familie te wil spandeer nie. Jehovah het die familiereëling ingestel, en hy wil hê dat ons ’n goeie verhouding met ons familielede moet hê (Efesiërs 3:14, 15). Maar om ’n goeie verhouding met Jehovah te hê, moet vir ons belangriker wees as om ons familielede tevrede te stel deur vakansiedae te vier wat met valse godsdiens verband hou. Dit is hoekom die apostel Paulus gesê het: “Hou aan om seker te maak van wat vir die Here aanvaarbaar is.” – Efesiërs 5:10.

12. Wat maak ’n vakansiedag vir Jehovah onaanvaarbaar?

12 Baie mense voel dat die oorsprong van ’n vakansiedag nie regtig saak maak nie, maar Jehovah voel nie so nie. Hy keur nie vakansiedae goed wat van valse godsdiens af kom of wat mense of nasionale simbole verheerlik nie. Byvoorbeeld, die Egiptenare het baie vieringe vir hulle valse gode gehad. Nadat die Israeliete Egipte verlaat het, het hulle ’n fees gehou wat soos een van die Egiptenare se vieringe was en dit “’n fees vir Jehovah” genoem. Maar Jehovah het hulle daarvoor gestraf (Eksodus 32:2-10). Soos die profeet Jesaja gesê het, moet ons “aan niks raak wat onrein is nie!” – Lees Jesaja 52:11.

WEES LIEFDEVOL TEENOOR ANDER

13. Watter vrae sal jy dalk hê wanneer jy besluit om op te hou om vakansiedae te vier?

13 Wanneer jy besluit om op te hou om vakansiedae te vier, sal jy dalk baie vrae hê. Byvoorbeeld: Wat moet ek doen as my werksmaats my vra hoekom ek nie Kersfees saam met hulle vier nie? Wat moet ek doen as iemand vir my ’n Kersgeskenk gee? Wat moet ek doen as my huweliksmaat van my verwag om ’n vakansiedag te vier? Hoe kan ek my kinders help om nie te voel dat hulle iets mis omdat hulle nie ’n vakansiedag of hulle verjaarsdag vier nie?

14, 15. Wat kan jy doen as iemand jou feesgroete toewens of vir jou ’n geskenk gee?

14 Dit is belangrik om goeie oordeel te gebruik wanneer jy besluit wat om in elke situasie te sê en te doen. As iemand jou byvoorbeeld ’n geseënde Kersfees of Paasfees toewens, hoef jy hulle nie te ignoreer nie. Jy kan net dankie sê. Wanneer iemand meer wil weet, kan jy besluit om te verduidelik hoekom jy nie ’n vakansiedag vier nie. Maar wees altyd liefdevol, taktvol en respekvol. Die Bybel sê: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord” (Kolossense 4:6). Jy kan miskien verduidelik dat jy dit wel geniet om tyd saam met ander te spandeer en geskenke te gee, maar dat jy verkies om dit nie te doen wanneer dit met vakansiedae verband hou nie.

15 Wat moet jy doen as iemand vir jou ’n geskenk gee? Die Bybel gee ons nie ’n lys reëls nie, maar dit sê wel dat ons ’n goeie gewete moet behou (1 Timoteus 1:18, 19). Die persoon wat die geskenk gee, weet dalk nie dat jy nie daardie vakansiedag vier nie. Of hy sê miskien: “Ek weet dat jy nie die vakansiedag vier nie, maar ek wil dit nog steeds vir jou gee.” In albei gevalle kan jy besluit of jy die geskenk sal aanvaar of nie. Maar wat jy ook al besluit, maak seker dat jy ’n goeie gewete behou. Ons wil niks doen wat ons verhouding met Jehovah sal benadeel nie.

JY EN JOU FAMILIE

Die mense wat Jehovah dien, is gelukkig

16. Wat moet jy doen as jou familie vakansiedae wil vier?

16 Wat moet jy doen as jou familie ’n vakansiedag wil vier? Dit is nie nodig om met hulle te baklei nie. Onthou, hulle het die reg om te kies wat hulle wil doen. Wees liefdevol en respekteer hulle besluite net soos jy wil hê hulle joune moet respekteer. (Lees Matteus 7:12.) Maar wat moet jy doen as jou familie wil hê dat jy op die vakansiedag tyd saam met hulle moet spandeer? Voordat jy besluit wat om te doen, moet jy tot Jehovah bid om jou te help om die regte besluit te neem. Dink aan die situasie en doen navorsing daaroor. Onthou, jy wil Jehovah altyd gelukkig maak.

17. Wat kan jy doen om jou kinders te help om nie te voel dat hulle iets mis wanneer ander vakansiedae vier nie?

17 Wat kan jy doen om jou kinders te help wanneer hulle sien dat ander vakansiedae vier? Wel, van tyd tot tyd kan jy iets spesiaals vir hulle reël of hulle met ’n geskenk verras. En een van die beste geskenke wat jy vir jou kinders kan gee, is jou tyd en jou liefde.

BEOEFEN WARE AANBIDDING

18. Hoekom moet ons Christelike vergaderinge bywoon?

18 As ons Jehovah gelukkig wil maak, moet ons niks te doen hê met valse godsdiens en die gebruike en vakansiedae wat daarmee verband hou nie. Maar ons moet ook ware aanbidding beoefen. Hoe? Een manier is om Christelike vergaderinge gereeld by te woon. (Lees Hebreërs 10:24, 25.) Die vergaderinge is ’n baie belangrike deel van ware aanbidding (Psalm 22:22; 122:1). Ons kan mekaar aanmoedig wanneer ons saam vergader. – Romeine 1:12.

19. Hoekom is dit belangrik om ander te vertel van die Bybelwaarhede wat jy geleer het?

19 Nog ’n manier waarop jy kan wys dat jy ware aanbidding kies, is om met ander te praat oor wat jy uit die Bybel geleer het. Baie mense is bekommerd oor die slegte dinge wat op die aarde gebeur. Dalk ken jy mense wat so voel. Vertel hulle van jou wonderlike hoop vir die toekoms. Wanneer jy Christelike vergaderinge bywoon en ander van Bybelwaarhede vertel, sal dit vir jou makliker word om los te breek van valse godsdiens en die gebruike daarvan. Jy kan seker wees dat jy gelukkig sal wees en dat Jehovah jou pogings grootliks sal seën wanneer jy kies om hom op die regte manier te aanbid. – Maleagi 3:10.