Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK TWEE

Die Bybel – ’n Boek wat van God af kom

Die Bybel – ’n Boek wat van God af kom

1, 2. Hoekom is die Bybel ’n wonderlike geskenk van God?

HOE voel jy wanneer ’n vriend jou met ’n geskenk verras? Jy kan nie wag om dit oop te maak nie en jy is bly dat jou vriend aan jou gedink het. Jy bedank hom daarvoor.

2 Die Bybel is ’n geskenk van God. Dit gee vir ons inligting wat ons nêrens anders kan vind nie. Dit sê byvoorbeeld vir ons dat God die hemel, die aarde en die eerste man en vrou geskep het. Dit gee vir ons beginsels wat ons kan help wanneer ons probleme het. In die Bybel leer ons wat God sal doen om die aarde ’n beter plek te maak. Die Bybel is beslis ’n wonderlike geskenk!

3. Wat sal jy leer terwyl jy die Bybel studeer?

3 Terwyl jy die Bybel studeer, sal jy uitvind dat God wil hê dat jy sy vriend moet wees. Hoe meer jy van hom leer, hoe sterker sal jou vriendskap met hom word.

4. Wat beïndruk jou omtrent die Bybel?

4 Die Bybel is al in meer as 3 200 tale vertaal, en duisendmiljoene Bybels is al gedruk. Meer as 90 persent van die mense in die wêreld kan die Bybel in hulle eie taal lees. En elke week kry meer as ’n miljoen mense ’n Bybel! Ja, daar is geen ander boek soos die Bybel nie.

5. Hoekom kan ons sê dat die Bybel “deur God geïnspireer” is?

5 Die Bybel is “deur God geïnspireer”. (Lees 2 Timoteus 3:16.) Maar sommige mense dink dalk: ‘Die Bybel is dan deur mense geskryf, so hoe kan dit van God af kom?’ Die Bybel antwoord: “Mense het God se woorde bekend gemaak terwyl hulle deur heilige gees gelei is” (2 Petrus 1:21). Dit is soos ’n sakeman wat vir sy sekretaresse sê om ’n brief te skryf. Van wie af kom die brief? Van die sakeman af, nie van die sekretaresse nie. Net so kom die Bybel van God af, nie van die mense wat hy gebruik het om dit te skryf nie. God het hulle gelei om sy gedagtes neer te skryf. Die Bybel is werklik “die woord van God”. – 1 Tessalonisense 2:13; sien Eindnota 2.

Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel is in baie tale beskikbaar

DIE BYBEL IS AKKURAAT

6, 7. Hoekom kan ons sê dat al die dele van die Bybel ooreenstem?

6 Dit het meer as 1 600 jaar geneem om die Bybel te skryf. Die skrywers daarvan het in verskillende tydperke gelewe. Sommige was geleerd en ander was nie. Byvoorbeeld, een van hulle was ’n dokter. Ander was boere, vissermanne, herders, profete, regters en konings. Al was daar verskillende skrywers, stem al die dele van die Bybel ooreen. Dit sê nie een ding in een hoofstuk en die teenoorgestelde in ’n ander hoofstuk nie. *

7 Die eerste hoofstukke van die Bybel verduidelik hoe die wêreld se probleme begin het. En die laaste hoofstukke sê vir ons hoe God hierdie probleme gaan oplos deur die aarde ’n paradys te maak. Die Bybel dek duisende jare van die mens se geskiedenis en toon dat God altyd doen wat hy sê hy gaan doen.

8. Gee voorbeelde wat wys dat die Bybel wetenskaplik akkuraat is.

8 Die Bybel is nie geskryf om mense oor die wetenskap te leer of om ’n skoolhandboek te wees nie, maar wat dit oor wetenskaplike sake sê, is altyd akkuraat. Dit is wat ons sou verwag van ’n boek wat van God af kom. Byvoorbeeld, die boek Levitikus bevat God se instruksies oor hoe die Israeliete kon keer dat siektes versprei. Dit is geskryf lank voordat mense geweet het hoe kieme siektes veroorsaak. Die Bybel leer ook dat die aarde aan niks hang nie (Job 26:7). En toe baie mense geglo het dat die aarde plat is, het die Bybel gesê dat dit rond is. – Jesaja 40:22.

9. Wat wys die eerlikheid van Bybelskrywers vir ons?

9 Wanneer die Bybel oor die geskiedenis praat, is dit altyd akkuraat. Maar baie geskiedenisboeke is nie heeltemal akkuraat nie, want die skrywers was nie eerlik nie. Byvoorbeeld, hulle het nie altyd geskryf oor die kere toe hulle volk ’n geveg verloor het nie. Maar Bybelskrywers was eerlik, selfs wanneer die Israeliete ’n geveg verloor het. Hulle het ook oor hulle eie foute geskryf. In die boek Numeri sê Moses byvoorbeeld vir ons dat hy ’n ernstige fout gemaak het en dat God hom daarvoor gedissiplineer het (Numeri 20:2-12). Die eerlikheid van Bybelskrywers wys vir ons dat die Bybel van God af kom. Dit beteken dat ons die Bybel kan vertrou.

’N BOEK VOL GOEIE RAAD

10. Hoekom kan die Bybel se raad ons vandag help?

10 Die Bybel is “deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel” (2 Timoteus 3:16). Ja, die Bybel se raad kan ons vandag help. Jehovah weet hoe ons gemaak is, en daarom verstaan hy hoe ons dink en voel. Hy ken ons beter as wat ons onsself ken, en hy wil hê dat ons gelukkig moet wees. Hy weet wat goed is vir ons en wat sleg is vir ons.

11, 12. (a) Watter goeie raad het Jesus in Matteus hoofstuk 5 tot 7 gegee? (b) Wat kan ons nog uit die Bybel leer?

11 In Matteus hoofstuk 5 tot 7 kry ons baie goeie raad wat Jesus gegee het oor hoe om gelukkig te wees, hoe om met ander oor die weg te kom, hoe om te bid en hoe om geld te beskou. Al het hy hierdie raad omtrent 2 000 jaar gelede gegee, kan dit ons vandag nog help.

12 In die Bybel leer Jehovah ons ook beginsels wat ons help om ’n beter gesinslewe te hê, om goeie werkers te wees en om in vrede met ander te lewe. Bybelbeginsels kan ons altyd help, maak nie saak wie ons is, waar ons woon of watter probleme ons het nie. – Lees Jesaja 48:17; sien Eindnota 3.

JY KAN BYBELPROFESIEË VERTROU

Die Bybelskrywer Jesaja het voorspel dat Babilon verower sou word

13. Wat het Jesaja gesê sou met die stad Babilon gebeur?

13 Baie Bybelprofesieë het alreeds waar geword. Jesaja het byvoorbeeld voorspel dat Babilon vernietig gaan word (Jesaja 13:19). Hy het beskryf presies hoe die stad verower sou word. Die stad is beskerm deur ’n rivier en groot deure by die stad se ingange. Maar Jesaja het voorspel dat die rivier opgedroog sou word en die deure oopgelos sou word. Die aanvallers sou die stad sonder ’n geveg inneem. Jesaja het selfs voorspel dat Babilon deur ’n man met die naam Kores verower sou word. – Lees Jesaja 44:27–45:2; sien Eindnota 4.

14, 15. Hoe het Jesaja se profesie waar geword?

14 Tweehonderd jaar nadat die profesie geskryf is, het ’n leërmag by Babilon opgedaag, gereed om die stad aan te val. Wie was die leier van die leërmag? Dit was Kores, die koning van Persië, net soos die profesie voorspel het. Nou kon die res van die profesie ook waar word.

15 Die Babiloniërs het die aand van die aanval ’n fees gehou. Hulle het veilig gevoel omdat hulle deur massiewe mure en ’n rivier beskerm is. Buite die stad het Kores en sy leërmag ’n sloot gegrawe om die rivier se water te laat sak. Die water het soveel gesak dat die Persiese soldate daardeur kon loop. Maar hoe sou die leërmag verby Babilon se mure kom? Net soos die profesie gesê het, is die stad se deure oopgelos, en die soldate het die stad sonder ’n geveg ingeneem.

16. (a) Wat het Jesaja oor die toekoms van Babilon voorspel? (b) Hoe weet ons dat Jesaja se profesie waar geword het?

16 Jesaja het voorspel dat daar uiteindelik niemand in Babilon sou woon nie. Hy het geskryf: “Sy sal nooit bewoon word nie, en sy sal tot in alle geslagte nooit weer ’n woonplek wees nie” (Jesaja 13:20). Het dit waar geword? Op die plek waar Babilon was, ongeveer 80 kilometer suid van Bagdad, Irak, is daar net oorblyfsels van die stad. Selfs vandag woon niemand daar nie. Jehovah het Babilon met “die besem van vernietiging” weggevee. – Jesaja 14:22, 23. *

Die oorblyfsels van Babilon

17. Hoekom kan ons al God se beloftes vertrou?

17 Die feit dat so baie Bybelprofesieë alreeds waar geword het, beteken dat ons kan vertrou wat die Bybel oor die toekoms sê. Ons kan seker wees dat Jehovah sy belofte sal nakom om die aarde ’n paradys te maak. (Lees Numeri 23:19.) Ja, ons het die hoop op “ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, lank gelede belowe het”. – Titus 1:2. *

DIE BYBEL KAN JOU LEWE VERANDER

18. Hoe beskryf Paulus “die woord van God”?

18 Ons het geleer dat daar geen ander boek soos die Bybel is nie. Al die dele daarvan stem ooreen, en wanneer dit kom by wetenskaplike sake of geskiedenis, is dit altyd akkuraat. Dit gee ons ook goeie raad en bevat baie profesieë wat alreeds waar geword het. Maar dit is nie al wat die Bybel doen nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Die woord van God is lewend en kragtig.” Wat beteken dit? – Lees Hebreërs 4:12.

19, 20. (a) Hoe kan die Bybel jou help om te weet watter soort persoon jy is? (b) Hoe kan jy wys dat jy dankbaar is dat God die Bybel vir ons gegee het?

19 Die Bybel kan jou lewe verander. Dit kan jou help om te weet watter soort persoon jy regtig is. Dit kan jou help om jou diepste gedagtes en gevoelens te verstaan. Byvoorbeeld, ons dink dalk dat ons lief is vir God. Maar om te bewys dat ons lief is vir hom, moet ons toepas wat die Bybel sê.

20 Die Bybel is beslis ’n boek wat van God af kom. Hy wil hê dat jy dit moet lees, dit moet studeer en dit moet liefhê. Wees dankbaar vir hierdie geskenk en hou aan om dit te studeer. Dan sal jy verstaan wat God vir die mens in gedagte het. Ons sal in die volgende hoofstuk meer hieroor leer.

^ par. 6 Party mense sê dat nie al die dele van die Bybel ooreenstem nie, maar dit is nie waar nie. Sien hoofstuk 7 van die boek Die Bybel – God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 16 As jy graag meer oor Bybelprofesieë wil leer, kan jy bladsy 27-29 lees van die brosjure ’n Boek vir alle mense, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 17 Die vernietiging van Babilon is net een van baie Bybelprofesieë wat waar geword het. Jy kan inligting oor profesieë oor Jesus Christus in Eindnota 5 vind.