Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK AGT

Wat is God se Koninkryk?

Wat is God se Koninkryk?

1. Watter bekende gebed sal ons nou bespreek?

MILJOENE mense ken die gebed wat die Onse Vader genoem word. Jesus het hierdie gebed gebruik om sy dissipels te leer hoe om te bid. Waarvoor het hy gebid? En hoekom is hierdie gebed vandag vir ons belangrik?

2. Wat is drie belangrike dinge waarvoor Jesus ons geleer het om te bid?

2 Jesus het gesê: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemel, laat u naam geheilig word. Laat u Koninkryk kom. Laat u wil plaasvind op die aarde, net soos in die hemel.’” (Lees Matteus 6:9-13.) Hoekom het Jesus ons geleer om vir hierdie drie dinge te bid? – Sien Eindnota 20.

3. Wat moet ons oor God se Koninkryk weet?

3 Ons het geleer dat God se naam Jehovah is. En ons het bespreek wat God se wil vir die mens en die aarde is. Maar wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Laat u Koninkryk kom”? Ons sal leer wat God se Koninkryk is, wat dit sal doen en hoe dit God se naam sal heilig.

WAT IS GOD SE KONINKRYK?

4. Wat is God se Koninkryk, en wie is die Koning daarvan?

4 Jehovah het ’n hemelse regering opgerig en het Jesus gekies om die Koning daarvan te wees. Die Bybel noem hierdie regering God se Koninkryk. Jesus is “die Koning van dié wat as konings regeer en Here van dié wat as here regeer” (1 Timoteus 6:15). Jesus kan meer goeie dinge doen as wat enige menseheerser ooit kan doen, en hy is magtiger as al die menseheersers saam.

5. Waarvandaan regeer God se regering? Waaroor sal dit regeer?

5 Veertig dae nadat Jesus opgewek is, het hy na die hemel teruggekeer. Jehovah het hom later as die Koning van die Koninkryk aangestel (Handelinge 2:33). God se regering sal vanuit die hemel oor die aarde regeer (Openbaring 11:15). Daarom noem die Bybel God se Koninkryk ’n “hemelse Koninkryk”. – 2 Timoteus 4:18.

6, 7. Wat maak Jesus beter as enige mensekoning?

6 Die Bybel sê dat Jesus beter as enige mensekoning is, want “hy is die enigste een wat onsterflikheid het” (1 Timoteus 6:16). Alle menseheersers sterf uiteindelik, maar Jesus sal nooit sterf nie. Al die goeie dinge wat Jesus vir ons sal doen, sal vir ewig duur.

7 Bybelprofesieë sê dat Jesus ’n regverdige en liefdevolle Koning sal wees: “Die gees van Jehovah sal op hom rus, die gees van wysheid en van insig, die gees van raad en van mag, die gees van kennis en van vrees vir Jehovah. En hy sal vreugde daarin vind om Jehovah te vrees. Hy sal nie oordeel net volgens wat sy oë sien nie, en ook nie teregwys net volgens wat sy ore hoor nie. Hy sal die armes met geregtigheid oordeel” (Jesaja 11:2-4). Sal jy so ’n koning wil hê?

8. Hoe weet ons dat Jesus nie alleen sal regeer nie?

8 God het ’n aantal mense gekies om saam met Jesus in sy hemelse regering te regeer. Die apostel Paulus het byvoorbeeld vir Timoteus gesê: “As ons volhard, sal ons ook saam as konings regeer” (2 Timoteus 2:12). Hoeveel persone sal saam met Jesus as konings regeer?

9. Hoeveel persone sal saam met Jesus regeer? Wanneer het God hulle begin kies?

9 Soos ons in Hoofstuk 7 geleer het, het die apostel Johannes ’n visioen ontvang waarin hy Jesus as Koning in die hemel gesien het saam met 144 000 ander konings. Wie is die 144 000? Johannes verduidelik dat “[Jesus se] naam en die naam van sy Vader op hulle voorkoppe geskryf” staan. En hy voeg by: “Dit is hulle wat die Lam [dit wil sê Jesus] bly volg ongeag waar hy gaan. Hulle is uit die mensdom gekoop.” (Lees Openbaring 14:1, 4.) Die 144 000 is getroue Christene wat deur God gekies is om saam met Jesus ‘as konings oor die aarde te regeer’. Wanneer hulle sterf, word hulle tot lewe in die hemel opgewek (Openbaring 5:10). Jehovah kies reeds vanaf die dae van die apostels getroue Christene om deel van daardie groep van 144 000 konings te wees.

10. Hoekom is dit liefdevol van Jehovah om Jesus en die 144 000 oor mense te laat regeer?

10 Jehovah gee so baie vir ons om dat hy gereël het dat mense saam met Jesus regeer. Jesus sal ’n goeie heerser wees, want hy verstaan ons. Hy weet hoe dit voel om ’n mens te wees en om te ly. Paulus het gesê dat Jesus verstaan hoe ons voel, dat hy “met ons swakhede kan simpatiseer” en dat hy “in alle opsigte soos ons getoets is” (Hebreërs 4:15; 5:8). Die 144 000 weet ook hoe dit voel om mens te wees. En hulle was ook onvolmaak en het ook siek geword. Daarom kan ons seker wees dat Jesus en die 144 000 ons gevoelens en probleme sal verstaan.

WAT SAL GOD SE KONINKRYK DOEN?

11. Hoekom het Jesus sy dissipels geleer om te bid dat God se wil in die hemel gedoen moet word?

11 Jesus het sy dissipels geleer om te bid dat God se wil in die hemel gedoen moet word. Hoekom? Ons het in Hoofstuk 3 geleer dat Satan die Duiwel teen Jehovah in opstand gekom het. Nadat Satan in opstand gekom het, het Jehovah hom en die ongehoorsame engele, dit wil sê die demone, toegelaat om ’n tyd lank in die hemel te bly. Nie almal in die hemel het dus God se wil gedoen nie. Ons sal in Hoofstuk 10 meer oor Satan en die demone leer.

12. Watter twee belangrike gebeure word in Openbaring 12:10 beskryf?

12 Die Bybel verduidelik dat Jesus teen Satan oorlog sou voer kort nadat hy Koning van God se Koninkryk geword het. (Lees Openbaring 12:7-10.) Openbaring 12:10 beskryf twee baie belangrike gebeure. God se Koninkryk begin regeer met Jesus Christus as Koning en Satan word uit die hemel uitgegooi na die aarde toe. Soos ons sal leer, het hierdie dinge reeds gebeur.

13. Wat het in die hemel gebeur toe Satan uitgegooi is?

13 Die Bybel beskryf hoe bly die getroue engele was nadat Satan en sy demone uit die hemel uitgegooi is. Ons lees: “Wees bly, o hemele en julle wat daarin woon!” (Openbaring 12:12). Daar is nou absolute vrede en eenheid in die hemel, want almal wat daar is, doen God se wil.

Vandat Satan en sy demone uit die hemel uitgegooi is, is daar meer probleme op die aarde. Hierdie probleme sal binnekort tot ’n einde kom

14. Wat gebeur op die aarde omdat Satan uit die hemel uitgegooi is?

14 Maar die lewe op die aarde is baie anders. Verskriklike dinge gebeur met mense, “want die Duiwel het . . . neergedaal en is woedend omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Satan is baie kwaad. Hy is uit die hemel uitgegooi en hy weet dat hy binnekort vernietig sal word. Hy doen alles in sy vermoë om moeilikheid, pyn en hartseer regoor die aarde te veroorsaak.

15. Wat is God se wil vir die aarde?

15 Maar God se wil vir die aarde het nie verander nie. Hy wil nog steeds hê dat volmaakte mense vir ewig op ’n paradysaarde moet lewe (Psalm 37:29). Hoe sal God se Koninkryk dit moontlik maak?

16, 17. Wat sê Daniël 2:44 vir ons oor God se Koninkryk?

16 Die profesie in Daniël 2:44 sê: “In die dae van daardie konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En hierdie koninkryk sal nie aan ’n ander volk oorgedra word nie. Dit sal al daardie koninkryke vernietig en ’n einde aan hulle maak, en dit alleen sal vir ewig bestaan.” Wat leer hierdie profesie ons oor God se Koninkryk?

17 Eerstens, dit sê vir ons dat God se Koninkryk “in die dae van daardie konings” sou begin regeer. Dit beteken dat ander regerings nog op die aarde sou bestaan wanneer die Koninkryk begin regeer. Tweedens, dit sê vir ons dat God se Koninkryk vir ewig sal bestaan en nooit deur ’n ander regering vervang sal word nie. En derdens, daar sal oorlog tussen God se Koninkryk en die regerings van hierdie wêreld wees. God se Koninkryk sal wen en die enigste regering word wat oor die aarde regeer. Dan sal mense die beste regering hê wat daar ooit kan wees.

18. Wat is die naam van die finale oorlog tussen God se Koninkryk en die regerings van hierdie wêreld?

18 Hoe sal God se Koninkryk beheer oor die aarde oorneem? Voor die finale oorlog, wat die oorlog van Armageddon genoem word, sal die demone “die konings van die hele aarde” mislei om “hulle bymekaar te bring vir die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”. Ja, menseregerings sal teen God se Koninkryk veg. – Openbaring 16:14, 16; sien Eindnota 10.

19, 20. Hoekom het ons God se Koninkryk nodig?

19 Hoekom het ons God se Koninkryk nodig? Daar is ten minste drie redes. Eerstens, ons is sondaars, en daarom word ons siek en sterf ons. Maar die Bybel sê dat ons onder God se Koninkryk vir ewig sal lewe. Johannes 3:16 sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie, maar die ewige lewe kan hê.”

20 ’n Tweede rede waarom ons God se Koninkryk nodig het, is omdat die wêreld vol slegte mense is. Baie mense lieg, is skelm en is seksueel onsedelik. Ons kan niks doen om hulle te verwyder nie, maar God sal. Mense wat aanhou om slegte dinge te doen, sal gedurende Armageddon vernietig word. (Lees Psalm 37:10.) ’n Derde rede waarom ons God se Koninkryk nodig het, is omdat menseregerings swak en dikwels wreed of korrup is. Hulle stel nie daarin belang om mense te help om God te gehoorsaam nie. Die Bybel sê dat “die mens oor die mens heers tot sy nadeel”. – Prediker 8:9.

21. Hoe sal die Koninkryk seker maak dat God se wil op die aarde gedoen word?

21 Ná Armageddon sal God se Koninkryk seker maak dat God se wil op die aarde gedoen word. Byvoorbeeld, dit sal Satan en sy demone verwyder (Openbaring 20:1-3). Uiteindelik sal niemand siek word of sterf nie. As gevolg van die losprys sal alle getroue mense vir ewig in die Paradys kan lewe (Openbaring 22:1-3). Die Koninkryk sal God se naam heilig. Wat beteken dit? Dit beteken dat alle mense Jehovah se naam sal eer wanneer God se regering oor die aarde regeer. – Sien Eindnota 21.

WANNEER HET JESUS KONING GEWORD?

22. Hoe weet ons dat Jesus nie Koning geword het toe hy op die aarde was of onmiddellik nadat hy opgewek is nie?

22 Jesus het sy dissipels leer bid: “Laat u Koninkryk kom.” Dit was dus duidelik dat God se regering in die toekoms sou kom. Jehovah sou eers later sy regering oprig en Jesus die Koning daarvan maak. Is Jesus dadelik Koning gemaak toe hy na die hemel toe teruggekeer het? Nee, hy moes wag. Petrus sowel as Paulus het dit duidelik gemaak toe hulle, ’n ruk ná Jesus se opstanding, die profesie in Psalm 110:1 op hom toegepas het. In die profesie sê Jehovah: “Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande ’n voetbank vir jou voete maak” (Handelinge 2:32-35; Hebreërs 10:12, 13). Hoe lank moes Jesus wag voordat Jehovah hom Koning gemaak het?

God se Koninkryk sal seker maak dat God se wil op die aarde gedoen word

23. (a) Wanneer het Jesus as Koning van God se regering begin regeer? (b) Wat sal ons in die volgende hoofstuk leer?

23 Baie jare voor 1914 het ’n groep opregte Christene reeds besef dat 1914 volgens Bybelprofesieë ’n belangrike jaar sou wees. Wêreldgebeure vanaf 1914 het bewys dat hulle reg was. Jesus het in daardie jaar as Koning begin regeer (Psalm 110:2). Kort daarna is Satan uit die hemel uitgegooi na die aarde toe, en nou het “hy min tyd” oor (Openbaring 12:12). In die volgende hoofstuk sal ons meer bewyse sien dat ons in daardie tyd lewe. Ons sal ook leer dat God se Koninkryk binnekort seker sal maak dat God se wil op die aarde gedoen word. – Sien Eindnota 22.