Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 66

Esra het God se Wet aan ander geleer

Esra het God se Wet aan ander geleer

Dit was omtrent 70 jaar vandat die meeste Israeliete na Jerusalem teruggegaan het, maar party van hulle het nog steeds in verskillende dele van die Persiese Ryk gebly. Een van hulle was ’n priester met die naam Esra, wat Jehovah se Wet aan ander geleer het. Esra het uitgevind dat die mense in Jerusalem nie gehoorsaam is aan die Wet nie, en hy wou hulle gaan help. Die Persiese koning Artasasta het vir hom gesê: ‘God het jou wys gemaak sodat jy sy Wet aan ander kan leer. Gaan en vat enigiemand wat wil gaan, saam met jou.’ Esra het almal bymekaargeroep wat na Jerusalem toe wou teruggaan. Hulle het tot Jehovah gebid om hulle op die lang reis te beskerm, en toe het hulle in die pad geval.

Vier maande later het hulle in Jerusalem aangekom. Die leiers daar het vir Esra gesê: ‘Die Israeliete was ongehoorsaam aan Jehovah en het met vroue getrou wat valse gode aanbid.’ Wat het Esra gedoen? Hy het voor die volk op sy knieë gegaan en gebid: ‘Jehovah, u het al so baie vir ons gedoen, maar ons het teen u gesondig.’ Die volk was jammer, maar hulle het nog steeds verkeerde dinge gedoen. Esra het ouer manne en regters gekies om hierdie sake te ondersoek. Gedurende die drie maande daarna is die mense wat Jehovah nie aanbid het nie, weggestuur.

Twaalf jaar het verbygegaan. Intussen is die mure rondom Jerusalem weer gebou. Esra het die volk op die openbare plein bymekaargebring om God se Wet vir hulle te lees. Toe Esra die boek oopmaak, het die mense opgestaan. Hy het Jehovah geloof, en hulle het hulle hande opgelig om te wys dat hulle saamstem. Toe het Esra die Wet gelees en verduidelik, en die mense het mooi geluister. Hulle het erken dat hulle weer opgehou het om Jehovah te dien, en hulle het begin huil. Die volgende dag het Esra weer vir hulle uit die Wet gelees. Hulle het geleer dat hulle binnekort die Huttefees moet hou. Hulle het dadelik vir die fees begin voorberei.

Gedurende die sewe dae van die fees was die volk baie bly en het hulle vir Jehovah dankie gesê vir die goeie oes. Dit was die eerste Huttefees wat hulle sedert Josua se tyd gehou het. Ná die fees het die volk bymekaargekom en gebid: ‘Jehovah, u het ons uit slawerny gered, u het ons in die woestyn kos gegee en u het hierdie pragtige land vir ons gegee. Maar ons was oor en oor ongehoorsaam aan u. U het profete gestuur om ons te waarsku, maar ons het nie geluister nie. Maar u was geduldig. U het u belofte aan Abraham gehou. Nou belowe ons dat ons u sal gehoorsaam.’ Hulle het hulle belofte neergeskryf, en die leiers, die Leviete en die priesters het hulle seël daarop gesit.

“Gelukkig is dié wat die woord van God hoor en doen wat dit sê!”—Lukas 11:28