Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 67

Die mure van Jerusalem

Die mure van Jerusalem

Kom ons gaan so ’n paar jaar terug. Nehemia, ’n kneg van koning Artasasta, was ’n Israeliet wat in die Persiese stad Susan gebly het. Nehemia se broer het slegte nuus van Juda af gebring: ‘Die mense wat teruggegaan het Jerusalem toe, is nie veilig nie. Die stad se mure en hekke wat deur die Babiloniërs vernietig is, was nooit reggemaak nie.’ Nehemia was ontsteld. Hy wou graag Jerusalem toe gaan om te gaan help, en daarom het hy gebid dat die koning hom sou toelaat om te gaan.

Later het die koning gesien dat Nehemia hartseer lyk. Hy het gesê: ‘Ek het jou nog nooit so gesien nie. Wat pla jou?’ Nehemia het gesê: ‘Ek is hartseer, want my stad, Jerusalem, is afgebreek en lê stukkend.’ Die koning het gevra: ‘Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?’ Onmiddellik het Nehemia stilletjies gebid. Toe het hy gesê: ‘Laat my asseblief na Jerusalem toe gaan om die mure weer te bou.’ Koning Artasasta het vir Nehemia gesê dat hy kan gaan, en die koning het seker gemaak dat hy veilig sou wees op die lang pad soontoe. Hy het Nehemia ook as die goewerneur van Juda aangestel en vir hom hout gegee om hekke vir die stad te maak.

Toe Nehemia in Jerusalem aankom, het hy gaan kyk hoe die stad se mure lyk. Daarna het hy die priesters en die heersers bymekaar laat kom en vir hulle gesê: ‘Dit is verskriklik. Ons moet aan die werk spring.’ Die mense het saamgestem, en hulle het begin om die mure weer te bou.

Maar party van die Israeliete se vyande het hulle gespot en gesê: ‘As ’n jakkals teen die muur spring wat julle bou, sal dit omval.’ Die werkers het net gemaak asof hulle niks hoor nie en aangehou om die muur te bou. Die muur het hoër en sterker geword.

Hulle vyande het besluit om Jerusalem skielik van verskillende kante af aan te val. Toe die Jode van die plan hoor, het hulle bang geword. Maar Nehemia het gesê: ‘Moenie bang wees nie. Jehovah is met ons.’ Hy het wagte aangestel om die werkers te beskerm, en die vyande kon die stad nie aanval nie.

Ná net 52 dae was die mure en die hekke klaar. Nehemia het al die Leviete na Jerusalem toe gebring om dit te vier. Hy het hulle in twee groepe verdeel. Hulle het teen die trappies by die Fonteinpoort opgeklim tot bo-op die muur, en toe het hulle in teenoorgestelde rigtings rondom die stad geloop. Hulle het op trompette, simbale en harpe gespeel en vir Jehovah gesing. Esra het saam met die een groep gegaan en Nehemia saam met die ander groep, totdat hulle weer by die tempel bymekaargekom het. Al die mense—mans, vrouens en kinders—het offerandes aan Jehovah gebring en feesgevier. Hulle vreugdevolle stemme kon van ver af gehoor word.

“Geen wapen wat gemaak word om jou aan te val, sal enige sukses hê nie.”—Jesaja 54:17