Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 60

’n Koninkryk wat vir ewig sal bestaan

’n Koninkryk wat vir ewig sal bestaan

Koning Nebukadnesar het een nag ’n vreemde droom gehad. Dit het hom so gepla dat hy nie kon slaap nie. Hy het sy towenaars laat roep en vir hulle gesê: ‘Verduidelik vir my wat my droom beteken.’ Hulle het gesê: ‘Sê vir ons wat u gedroom het, o koning.’ Maar Nebukadnesar het gesê: ‘Nee! Julle moet vir my vertel wat ek gedroom het, of ek gaan julle doodmaak.’ Hulle het weer vir hom gesê: ‘Vertel ons wat u gedroom het, en dan sal ons dit vir u verduidelik.’ Hy het gesê: ‘Julle almal probeer my bedrieg. Sê vir my wat ek gedroom het!’ Hulle het vir die koning gesê: ‘Daar is nie ’n mens wat dit kan doen nie. Wat u vra, is onmoontlik.’

Nebukadnesar was so kwaad dat hy beveel het dat al die wyse manne in die land doodgemaak moet word. Dit het Daniël, Sadrag, Mesag en Abednego ingesluit. Daniël het die koning vir nog tyd gevra. Toe het hy en sy vriende tot Jehovah gebid en hom gevra om hulle te help. Wat het Jehovah gedoen?

In ’n visioen het Jehovah Nebukadnesar se droom vir Daniël gewys en ook vir hom gewys wat dit beteken. Die volgende dag het Daniël na die koning se kneg gegaan en gesê: ‘Moenie die wyse manne doodmaak nie. Ek kan verduidelik wat die koning se droom beteken.’ Die kneg het Daniël na Nebukadnesar toe gevat. Daniël het vir die koning gesê: ‘God het vir u gewys wat in die toekoms gaan gebeur. Dit is wat u gedroom het: U het ’n baie groot beeld gesien met ’n kop van goud, ’n bors en arms van silwer, ’n maag en heupe van koper, bene van yster en voete van yster en klei gemeng. Toe is ’n klip uit ’n berg gekap, en dit het die voete van die beeld getref. Die beeld is fyn gemaal totdat dit soos poeier was, en die wind het dit weggewaai. Die klip het ’n groot berg geword en dit het die hele aarde gevul.’

Toe het Daniël gesê: ‘Dit is wat u droom beteken: U koninkryk is die kop van goud. Die silwer is ’n koninkryk wat ná u sal kom. Dan sal daar een soos koper wees, wat oor die hele aarde gaan regeer. Die volgende koninkryk sal sterk soos yster wees. Uiteindelik sal daar ’n verdeelde koninkryk wees waarvan party dele sterk soos yster sal wees, en ander dele swak soos klei. Die klip wat ’n berg word, is God se Koninkryk. Dit sal al hierdie koninkryke vernietig en dit sal vir ewig bestaan.’

Nebukadnesar het voor Daniël neergeval met sy gesig na die grond toe. Hy het gesê: ‘Jou God het hierdie droom vir jou gewys. Daar is geen ander God soos hy nie.’ In plaas daarvan om Daniël dood te maak, het Nebukadnesar hom die hoof van al die wyse manne gemaak en hom as heerser oor die provinsie van Babilon aangestel. Kan jy sien hoe Jehovah Daniël se gebed beantwoord het?

“Hulle het hulle bymekaargebring by die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.”—Openbaring 16:16