Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 77

Die vrou by die waterput

Die vrou by die waterput

Ná die Pasga het Jesus en sy dissipels deur Samaria gegaan op pad terug na Galilea toe. Jesus het naby die stad Sigar gestop by ’n plek wat Jakob se fontein genoem is. Terwyl hy daar gerus het, het die dissipels in die stad ingegaan om kos te koop.

’n Vrou het na die put gekom om water te skep. Jesus het vir haar gesê: ‘Gee my ’n bietjie water om te drink.’ Sy het gesê: ‘Hoekom praat u met my? Ek is ’n Samaritaanse vrou. Jode praat mos nie met Samaritane nie.’ Jesus het vir haar gesê: ‘As jy geweet het wie ek is, sou jy my gevra het vir ’n bietjie water. Ek sou dan vir jou lewende water gegee het.’ Die vrou het gevra: ‘Wat bedoel u? U het nie eens ’n emmer nie.’ Jesus het gesê: ‘Wie ook al van die water drink wat ek hom gee, sal nooit weer dors word nie.’ Die vrou het gesê: ‘Meneer, gee my hierdie water.’

Toe het Jesus vir haar gesê: ‘Bring jou man na die put toe.’ Sy het gesê: ‘Ek het nie ’n man nie.’ Hy het gesê: ‘Jy praat die waarheid. Jy was al vyf keer getroud en nou bly jy saam met ’n man met wie jy nie getroud is nie.’ Die vrou het gesê: ‘Ek sien dat u ’n profeet is. My volk glo dat ons God op hierdie berg kan aanbid, maar die Jode sê dat ons net in Jerusalem kan aanbid. Ek glo dat die Messias, wanneer hy kom, ons sal leer hoe om te aanbid.’ Toe het Jesus iets gesê wat hy nog vir niemand anders gesê het nie: ‘Ek is die Messias.’

Die vrou het vinnig na haar stad toe gegaan en vir die Samaritane gesê: ‘Ek dink ek het die Messias gevind! Hy weet alles oor my. Kom kyk!’ Hulle het saam met haar na die put toe gegaan en geluister na wat Jesus hulle geleer het.

Die Samaritane het Jesus genooi om in hulle stad te bly. Hy het hulle twee dae lank daar geleer, en baie mense het geloof in hom gestel. Hulle het vir die Samaritaanse vrou gesê: ‘Nadat ons na hierdie man geluister het, weet ons dat hy regtig die redder van die wêreld is.’

“‘Kom!’ En laat enigiemand wat dors is, kom. Laat enigiemand wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”—Openbaring 22:17