Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 83

Jesus gee duisende mense kos

Jesus gee duisende mense kos

Net voor die Pasga in die jaar 32 HJ het die apostels teruggekeer van ’n predikingsreis. Hulle was moeg, en daarom het Jesus hulle met ’n boot na Betsaida geneem sodat hulle kon rus. Maar toe die boot naby die land kom, het Jesus gesien dat duisende mense hulle daarheen gevolg het. Al wou Jesus alleen saam met sy dissipels wees, was hy vriendelik met die mense. Hy het die siek mense gesond gemaak en hulle almal begin leer. Jesus het hulle die hele dag oor God se Koninkryk geleer. Toe dit aand word, het sy dissipels na hom te gekom en gesê: ‘Die mense is seker honger. Stuur hulle weg sodat hulle iets kan gaan kry om te eet.’

Jesus het gesê: ‘Hulle hoef nie weg te gaan nie. Laat hulle hier iets eet.’ Die apostels het gevra: ‘Wil u hê dat ons vir hulle brood moet gaan koop?’ Filippus, een van die apostels, het gesê: ‘Al het ons baie geld gehad, kan ons nie genoeg brood vir hierdie klomp mense koop nie.’

Jesus het gevra: ‘Hoeveel kos het ons?’ Andreas het gesê: ‘Ons het vyf brode en twee vissies. Dis veels te min.’ Jesus het gesê: ‘Bring vir my die brood en die vis.’ Hy het vir die mense gesê om in groepe van 50 en van 100 op die gras te sit. Jesus het die brood en die vis geneem, na die hemel opgekyk en gebid. Toe het hy die kos vir die apostels gegee, en hulle het dit vir die mense uitgedeel. Die 5 000 mans en die vrouens en kinders het almal geëet totdat hulle vol was. Daarna het die apostels alles wat oorgebly het, bymekaargemaak sodat daar nie kos gemors word nie. Daar was 12 mandjies vol! Was dit nie ’n groot wonderwerk nie?

Die mense was so beïndruk dat hulle Jesus hulle koning wou maak. Maar Jesus het geweet dat dit nie Jehovah se tyd was vir hom om koning te wees nie. Daarom het hy die groep mense weggestuur en vir sy apostels gesê om na die anderkant van die See van Galilea te gaan. Hulle het in hulle boot geklim, en Jesus het alleen teen ’n berg opgegaan. Hoekom? Omdat hy tyd wou hê om tot sy Vader te bid. Jesus het altyd tyd gemaak om te bid, maak nie saak hoe besig hy was nie.

“Moenie werk vir die voedsel wat sleg word nie, maar vir die voedsel wat nie sleg word nie en wat ewige lewe gee. Die Seun van die mens sal vir julle hierdie voedsel gee.”—Johannes 6:27