Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 85

Jesus maak iemand op die Sabbat gesond

Jesus maak iemand op die Sabbat gesond

Die Fariseërs het Jesus gehaat en het ’n rede gesoek om hom gevange te neem. Hulle het gesê dat hy nie siek mense op die Sabbat gesond moet maak nie. Eenkeer het Jesus op die Sabbat ’n blinde man gesien wat op straat bedel. Hy het vir sy dissipels gesê: ‘Kyk hoe God se krag hierdie man gaan help.’ Jesus het sy spoeg met grond gemeng en toe het hy dit op die man se oë gesit. Jesus het vir hom gesê: ‘Gaan was jou oë in die bad Siloam.’ Die man het dit gedoen, en toe kon hy vir die eerste keer in sy lewe sien.

Mense was geskok. Hulle het gesê: ‘Is dit die man wat altyd gesit en bedel het of is dit net iemand wat soos hy lyk?’ Die man het gesê: ‘Ek is die een wat blind gebore is!’ Die mense het hom gevra: ‘Hoekom is jy nie meer blind nie?’ Toe hy vir hulle vertel wat gebeur het, het hulle hom na die Fariseërs toe geneem.

Die man het vir die Fariseërs gesê: ‘Jesus het klei op my oë gesit en gesê dat ek dit moet gaan afwas. Ek het dit gedoen, en nou kan ek sien.’ Die Fariseërs het gesê: ‘As Jesus mense op die Sabbat gesond maak, kan sy krag nie van God af wees nie.’ Maar ander het gesê: ‘As sy krag nie van God kom nie, sou hy mense glad nie gesond kon maak nie.’

Die Fariseërs het die man se ouers gaan roep en gevra: ‘Hoe is dit dat julle seun nou kan sien?’ Sy ouers was bang omdat die Fariseërs gesê het dat enigiemand wat geloof in Jesus stel, uit die sinagoge gegooi sou word. Daarom het hulle gesê: ‘Ons weet nie. Vra vir hom.’ Die Fariseërs het die man nog vrae gevra totdat hy gesê het: ‘Ek het vir julle alles gesê wat ek weet. Hoekom hou julle aan om my te vra?’ Die Fariseërs was kwaad en het hom uitgegooi.

Jesus het die man gaan soek en hom gevra: ‘Glo jy in die Messias?’ Die man het gesê: ‘Ek sou as ek geweet het wie hy is.’ Jesus het gesê: ‘Ek is die Messias.’ Was dit nie liefdevol van Jesus nie? Hy het die man nie net gesond gemaak nie, maar hy het hom ook gehelp om geloof te hê.

“Julle misgis julle, want julle ken nie die Skrif nie, en ook nie die krag van God nie.”—Matteus 22:29