Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 99

’n Tronkbewaarder leer die waarheid

’n Tronkbewaarder leer die waarheid

In Filippi was daar ’n slavin wat ’n demoon in haar gehad het. Die demoon het gemaak dat die meisie die toekoms kon voorspel, en sy het baie geld vir haar eienaars hiermee verdien. Toe Paulus en Silas na Filippi toe kom, het sy hulle dae lank gevolg oral waar hulle gegaan het. Die demoon het haar laat skree: ‘Hierdie manne is slawe van die Allerhoogste God.’ Uiteindelik het Paulus vir die demoon gesê: ‘In die naam van Jesus, kom uit haar uit!’ Die demoon het uit die meisie uitgegaan.

Toe die meisie se eienaars agterkom dat hulle nie meer geld uit haar kan maak nie, was hulle baie kwaad. Hulle het Paulus en Silas voor die hof gebring en gesê: ‘Hierdie mans is besig om die wet te verbreek en hulle ontstel die hele stad!’ Die hof het beveel dat Paulus en Silas geslaan en in die tronk gegooi moet word. Die tronkbewaarder het hulle in die diepste, donkerste deel van die tronk gegooi en hulle in blokke vasgemaak.

Paulus en Silas het lofliedere tot Jehovah gesing terwyl die ander gevangenes geluister het. Skielik, in die middel van die nag, was daar ’n groot aardbewing wat die tronk van bo tot onder geskud het. Die tronk se deure het oopgeswaai, en die gevangenes se kettings en blokke het losgekom. Die tronkbewaarder het by die tronk ingehardloop en gesien dat die deure oop was. Hy was doodseker dat al die gevangenes ontsnap het, en daarom wou hy homself met ’n swaard doodmaak.

Maar toe het Paulus uitgeroep: ‘Moenie jouself seermaak nie! Ons is almal hier!’ Die tronkbewaarder het vinnig ingekom en voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle gevra: ‘Wat moet ek doen om gered te word?’ Hulle het vir hom gesê: ‘Jy en almal in jou huis moet in Jesus glo.’ Daarna het Paulus en Silas die woord van Jehovah aan die tronkbewaarder en almal in sy huis geleer, en hulle is almal gedoop.

“Mense [sal] teen julle optree en julle vervolg en julle aan die sinagoges en die tronke oorgee. Julle sal ter wille van my naam voor konings en goewerneurs gebring word. Dit sal daartoe lei dat julle ’n getuienis gee.”—Lukas 21:12, 13