Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 11

’n Toets van geloof

’n Toets van geloof

Abraham het sy seun Isak geleer om Jehovah lief te hê en om op al Jehovah se beloftes te vertrou. Maar toe Isak omtrent 25 jaar oud was, het Jehovah Abraham gevra om iets te doen wat vir hom baie moeilik sou wees. Wat moes hy doen?

God het vir Abraham gesê: ‘Neem asseblief jou enigste seun na ’n berg in die land Moria en offer hom daar as ’n offerande op.’ Abraham het glad nie verstaan hoekom Jehovah hom gevra het om dit te doen nie. Maar hy was nogtans gehoorsaam aan Jehovah.

Abraham het vroeg die volgende oggend saam met Isak en twee van sy knegte na Moria toe begin reis. Ná drie dae kon hulle die berge van ver af sien. Abraham het vir sy knegte gesê om te wag terwyl hy en Isak verder gegaan het om ’n offerande te bring. Abraham het vir Isak vuurmaakhout gegee om te dra, en Abraham het ’n mes saamgeneem. Isak het vir sy pa gevra: ‘Waar is die dier wat ons gaan offer?’ Abraham het geantwoord: ‘My seun, Jehovah sal ’n dier voorsien.’

Toe hulle uiteindelik by die berg aankom, het hulle ’n altaar gebou. Abraham het toe Isak se hande en voete vasgemaak en hom op die altaar gesit.

Abraham het die mes opgetel. Op daardie oomblik het Jehovah se engel uit die hemel geroep: ‘Abraham! Moenie die seun seermaak nie! Nou weet ek dat jy in God glo, want jy was bereid om jou seun op te offer.’ Abraham het toe ’n ram gesien wat aan sy horings in ’n bos vasgesit het. Hy het Isak toe vinnig losgemaak en eerder die ram geoffer.

Van daardie dag af het Jehovah Abraham sy vriend genoem. Weet jy hoekom? Abraham het alles gedoen wat Jehovah hom gevra het, selfs wanneer hy nie verstaan het hoekom Jehovah dit gevra het nie.

Jehovah het weer vir Abraham belowe: ‘Ek sal jou seën en jou kinders, of nageslag, vermeerder.’ Dit het beteken dat Jehovah Abraham se familie sou gebruik om alle goeie mense te seën.

“God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom stel, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16