Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 30

Ragab steek die spioene weg

Ragab steek die spioene weg

Toe die Israelitiese spioene na die stad Jerigo toe gegaan het, het hulle by die huis van ’n vrou met die naam Ragab gebly. Die koning van Jerigo het hiervan uitgevind en het soldate na Ragab se huis toe gestuur. Sy het die twee spioene op die dak weggesteek en die soldate in ’n ander rigting gestuur. Sy het vir die spioene gesê: ‘Ek sal julle help, want ek weet dat Jehovah aan julle kant is en dat julle die land gaan verower. Belowe my asseblief dat julle my familie sal red.’

Die spioene het vir Ragab gesê: ‘Ons belowe dat niemand in jou huis seergemaak sal word nie.’ Hulle het gesê: ‘Maak ’n rooi tou aan jou venster vas, en dan sal jou familie veilig wees.’

Ragab het die spioene met die tou by haar venster laat uitklim. Hulle het na die berge toe gegaan en drie dae daar weggekruip voordat hulle teruggegaan het na Josua toe. Toe het die Israeliete deur die Jordaanrivier getrek en gereedgemaak om die land oor te neem. Jerigo was die eerste stad wat hulle verower het. Jehovah het vir hulle gesê om ses dae lank, elke dag een keer rondom die stad te marsjeer. Op die sewende dag het hulle sewe keer rondom die stad gemarsjeer. Toe het die priesters op hulle trompette geblaas, en die soldate het so hard geskree as wat hulle kon. Die stad se mure het inmekaargestort! Maar Ragab se huis, wat op die muur was, het bly staan. Ragab en haar familie is gered omdat sy op Jehovah vertrou het.

“Is Ragab . . . nie ook deur werke regverdig verklaar nadat sy die boodskappers gasvry ontvang het en hulle met ’n ander pad weggestuur het nie?”—Jakobus 2:25