Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 55

Jehovah se engel het Hiskia beskerm

Jehovah se engel het Hiskia beskerm

Die Assiriese Ryk het die tienstammeryk van Israel oorgeneem. Toe wou Sanherib, die koning van Assirië, die tweestammeryk van Juda oorneem. Hy het die stede van Juda een vir een begin oorneem. Maar die stad wat hy die meeste wou hê, was Jerusalem. Wat Sanherib nie geweet het nie, was dat Jehovah Jerusalem beskerm het.

Hiskia, die koning van Juda, het Sanherib baie geld betaal om Jerusalem uit te los. Al het Sanherib die geld gevat, het hy in elk geval sy sterk leërmag gestuur om Jerusalem aan te val. Die mense in die stad was bang omdat die Assiriërs nader en nader gekom het. Toe het Hiskia vir hulle gesê: ‘Moenie bang wees nie. Die Assiriërs is sterk, maar Jehovah sal ons selfs sterker as hulle maak.’

Sanherib het sy boodskapper, die Rabsake, na Jerusalem gestuur om die volk te spot. Die Rabsake het buite die stad gestaan en geskree: ‘Jehovah kan julle nie help nie. Moenie dat Hiskia julle bedrieg nie. Daar is geen god wat julle teen ons kan beskerm nie.’

Hiskia het Jehovah gevra wat hy moet doen. Jehovah het gesê: ‘Moenie toelaat dat die Rabsake julle bangpraat nie. Sanherib sal Jerusalem nie oorneem nie.’ Daarna het Hiskia briewe van Sanherib ontvang. Die briewe het gesê: ‘Gee net op. Jehovah kan julle nie red nie.’ Hiskia het gebid: ‘Jehovah, red ons asseblief, sodat almal kan weet dat u die enigste ware God is.’ Jehovah het vir hom gesê: ‘Die koning van Assirië sal nie in Jerusalem inkom nie. Ek sal my stad beskerm.’

Sanherib was seker dat Jerusalem binnekort syne sou wees. Maar een nag het Jehovah ’n engel gestuur na die soldate se kamp buite die stad. Die engel het 185 000 soldate doodgemaak! Koning Sanherib se sterkste soldate was nou dood. Hy het verloor en moes maar huis toe gaan. Jehovah het Hiskia en Jerusalem beskerm, net soos hy belowe het. As jy in Jerusalem was, sou jy op Jehovah vertrou het?

“Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom dié wat Hom vrees, en hy red hulle.”—Psalm 34:7