Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 7

’n Dapper man

’n Dapper man

TOE die mense op aarde begin meer word, het die meeste van hulle slegte dinge gedoen, net soos Kain. Maar een man was anders. Sy naam was Henog. Henog was ’n dapper man. Die mense rondom hom het dinge gedoen wat baie sleg was, maar Henog het aangehou om God te dien.

Weet jy hoekom die mense in daardie dae soveel slegte dinge gedoen het? Wel, dink ’n bietjie: Wie het vir Adam en Eva aan God ongehoorsaam laat word en die vrug laat eet wat God gesê het hulle nie mag eet nie? Ja, dit was ’n slegte engel. Die Bybel noem hom Satan. En hy probeer om almal sleg te laat wees.

Eendag het Jehovah God vir Henog gesê om vir die mense iets te vertel wat hulle nie wou hoor nie. Hy moes vir hulle sê: ‘God gaan eendag al die slegte mense vernietig.’ Die mense was seker baie kwaad toe hulle dit hoor. Hulle het dalk selfs probeer om Henog dood te maak. Daarom moes Henog baie dapper wees om vir die mense te vertel wat God gaan doen.

God het Henog nie lank tussen daardie slegte mense laat lewe nie. Henog het net 365 jaar oud geword. Hoekom sê ons “net 365 jaar”? Omdat mense in daardie dae baie sterker was as nou en baie langer gelewe het. Henog se seun Metuʹsalag het dan glad 969 jaar oud geword!

Wel, nadat Henog doodgegaan het, het die mense net al hoe slegter geword. Die Bybel sê dat ‘alles waaraan hulle gedink het, die hele tyd sleg was’ en dat ‘die aarde vol geweld was’.

Weet jy wat is een van die redes hoekom daar in daardie dae soveel moeilikheid op die aarde was? Dit is omdat Satan ’n nuwe manier gehad het om mense te kry om slegte dinge te doen. Ons volgende verhaal vertel hiervan.