Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 3

Die eerste man en vrou

Die eerste man en vrou

WAT is anders in hierdie prent? Ja, daar is mense daarin. Hulle is die eerste man en vrou. Wie het hulle gemaak? Dit was God. Weet jy wat sy naam is? Dit is Jehovah. En die man en vrou is Adam en Eva genoem.

Hoe het Jehovah God vir Adam gemaak? Hy het stof van die aarde gevat en ’n volmaakte liggaam, ’n man se liggaam, daarmee gemaak. Toe het hy in die man se neus geblaas, en Adam het lewendig geword.

Jehovah God het ’n werk vir Adam gehad. Hy het vir Adam gesê om vir al die soorte diere name te gee. Adam het die diere dalk lank dopgehou sodat hy die beste name vir almal van hulle kon kies. Terwyl Adam vir die diere name gegee het, het hy iets opgemerk. Weet jy wat dit was?

Die diere het almal maats gehad. Daar was pappa-olifante en mamma-olifante, en daar was pappa-leeus en mamma-leeus. Maar Adam het nie ’n maat gehad nie. Toe het Jehovah Adam vas aan die slaap laat raak en ’n ribbebeen uit sy sy geneem. Van hierdie rib het Jehovah ’n vrou vir Adam gemaak.

Hoe gelukkig was Adam tog nou! En dink net hoe gelukkig Eva moes gewees het omdat sy in so ’n pragtige tuin kon lewe! Nou kon hulle kinders hê en gelukkig saamlewe.

Jehovah wou hê dat Adam en Eva vir ewig moes lewe. Hy wou hê dat hulle die hele aarde so mooi soos die tuin van Eden moes maak. Hoe gelukkig moes Adam en Eva tog gewees het toe hulle hieraan gedink het! Sou jy graag saam met hulle die aarde in ’n mooi tuin wou verander? Maar Adam en Eva se geluk het nie lank geduur nie. Kom ons vind uit hoekom nie.