Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 32

Die 10 plae

Die 10 plae

KYK na die prente. Elkeen wys ’n plaag waarmee Jehovah Egipte getref het. In die eerste prent kan jy sien hoe Aäron met sy stok op die Nylrivier slaan. Toe hy dit doen, het die water in die rivier in bloed verander. Die visse het doodgegaan, en die rivier het begin stink.

Daarna het Jehovah paddas uit die Nylrivier laat kom. Hulle was oral—in die oonde, die bakpanne, in mense se beddens—oral. Toe die paddas doodgaan, het die Egiptenaars hulle in groot hope bymekaargemaak, en die land het daarvan gestink.

Toe het Aäron met sy stok op die grond geslaan, en die stof het in muggies verander. Dit is klein vlieënde goggatjies wat byt. Die muggies was die derde plaag wat die land Egipte getref het.

Die res van die plae het net die Egiptenaars getref, nie die Israeliete nie. Die vierde plaag was groot vlieë wat in swerms in die huise van al die Egiptenaars ingevlieg het. Die vyfde plaag het die diere getref. Baie van die Egiptenaars se beeste en skape en bokke het doodgegaan.

Toe het Moses en Aäron as gevat en dit in die lug gegooi. Dit het groot swere op die mense en die diere laat kom. Dit was die sesde plaag.

Daarna het Moses sy hand in die lug opgesteek, en Jehovah het donder en hael gestuur. Dit was die ergste haelstorm wat daar nog ooit in Egipte was.

Die agtste plaag was ’n groot swerm sprinkane. Nog nooit tevore of daarna was daar soveel sprinkane nie. Hulle het alles geëet wat die hael nie vernietig het nie.

Die negende plaag was donkerte. Drie dae lank was dit baie donker in die hele land, maar die Israeliete het lig gehad waar hulle gewoon het.

Uiteindelik het God vir sy volk gesê om die bloed van ’n jong bok of ’n jong skaap op hulle deurposte te spat. Toe het God se engel deur Egipte getrek. Wanneer die engel die bloed gesien het, het hy niemand in daardie huis doodgemaak nie. Maar in al die huise waar daar geen bloed aan die deurposte was nie, het God se engel die eersgeborenes van mens sowel as dier doodgemaak. Dit was die 10de plaag.

Ná hierdie laaste plaag het Farao vir die Israeliete gesê hulle moet gaan. God se volk was reg om te gaan, en daardie selfde nag het hulle uit Egipte begin trek.