Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 14

God toets Abraham se geloof

God toets Abraham se geloof

KAN jy sien wat Abraham hier doen? Hy het ’n mes, en dit lyk asof hy sy seun gaan doodmaak. Hoekom sou hy so iets doen? Kom ons kyk eers hoe Abraham en Sara hulle seun gekry het.

Onthou, God het hulle belowe dat hulle ’n seun sou hê. Maar dit het onmoontlik gelyk omdat Abraham en Sara so oud was. Maar Abraham het geglo dat God enigiets kan doen, al lyk dit onmoontlik. Wat het toe gebeur?

Nadat God sy belofte gemaak het, het ’n hele jaar verbygegaan. Toe Abraham 100 jaar oud en Sara 90 jaar oud was, het hulle ’n babaseuntjie met die naam Isak gekry. God het sy belofte gehou!

Maar toe Isak ouer geword het, het Jehovah Abraham se geloof getoets. Hy het geroep: ‘Abraham!’ En Abraham het geantwoord: ‘Hier is ek!’ Toe het God gesê: ‘Neem jou seun, jou enigste seun, Isak, en gaan na ’n berg wat ek jou sal wys. Daar moet jy jou seun doodmaak en hom as ’n offerande bring.’

Hoe hartseer het hierdie woorde Abraham tog gemaak, want Abraham was baie lief vir sy seun. En onthou, God het belowe dat Abraham se kinders in die land Kanaän sou woon. Maar hoe kon dit gebeur as Isak dood was? Abraham het nie verstaan nie, maar hy was nogtans gehoorsaam aan God.

Toe hy by die berg kom, het Abraham vir Isak vasgebind en hom op die altaar gesit wat hy gebou het. Toe het hy die mes uitgehaal om sy seun dood te maak. Maar op daardie oomblik het God se engel geroep: ‘Abraham, Abraham!’ En Abraham het geantwoord: ‘Hier is ek!’

‘Moenie die seun seermaak of enigiets aan hom doen nie’, het God gesê. ‘Nou weet ek dat jy in my glo, want jy het nie jou seun, jou enigste seun, van my teruggehou nie.’

Hoe groot was Abraham se geloof in God tog! Hy het geglo dat niks vir Jehovah onmoontlik is nie en dat Jehovah vir Isak selfs uit die dode kon opwek. Maar God wou nie regtig hê dat Abraham vir Isak moes doodmaak nie. Daarom het God gesorg dat ’n skaap in ’n bos daar naby vassit, en hy het vir Abraham gesê om dit in die plek van sy seun te offer.