Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 19

Jakob het ’n groot gesin

Jakob het ’n groot gesin

KYK net na hierdie groot gesin. Dit is Jakob se 12 seuns. En hy het ook dogters gehad. Ken jy die name van party van die kinders? Kom ons leer ’n paar van hulle.

Lea het geboorte gegee aan Ruben, Siʹmeon, Levi en Juda. Toe Ragel sien dat sy geen kinders kry nie, was sy baie hartseer. Daarom het sy haar diensmeisie Bilha aan Jakob gegee, en Bilha het twee seuns gehad, naamlik Dan en Nafʹtali. Toe het Lea ook haar diensmeisie Silpa aan Jakob gegee, en Silpa het geboorte gegee aan Gad en Aser. Lea het eindelik nog twee seuns gehad, Isʹsaskar en Seʹbulon.

Uiteindelik het Ragel ’n kind gehad. Sy het hom Josef genoem. Later sal ons baie meer oor Josef leer, want hy het ’n baie belangrike man geword. Dit was die 11 seuns wat vir Jakob gebore is terwyl hy by Ragel se pa, Laban, gewoon het.

Jakob het ook ’n paar dogters gehad, maar die Bybel gee die naam van net een. Haar naam was Dina.

Eendag het Jakob besluit om van Laban af weg te gaan en terug te gaan na Kanaän toe. Toe het hy sy groot gesin en al sy troppe skape en beeste bymekaargemaak en met die lang reis begin.

Nadat Jakob en sy gesin ’n ruk lank in Kanaän terug was, het Ragel nog ’n seun gehad. Dit het gebeur terwyl hulle op reis was. Ragel het baie swaar gekry, en sy het uiteindelik doodgegaan terwyl sy besig was om die baba te kry. Maar die babaseuntjie was gesond. Jakob het hom Benjamin genoem.

Ons wil die name van die 12 seuns van Jakob onthou, want die hele nasie Israel het van hulle afgestam. Om die waarheid te sê, die 12  stamme van Israel is na 10 seuns van Jakob en twee seuns van Josef vernoem. Isak het nog lank gelewe nadat al hierdie seuns gebore is, en dit moes hom bly gemaak het om soveel kleinseuns te hê. Maar kom ons kyk wat met sy kleindogter Dina gebeur het.