VERHAAL 21
Josef se broers haat hom
KYK hoe hartseer en moedeloos lyk die seun. Dit is Josef. Sy broers het hom so pas aan hierdie mans verkoop wat na Egipte toe op pad is. Daar sal Josef ’n slaaf word. Hoekom het sy halfbroers hierdie slegte ding gedoen? Dit is omdat hulle jaloers is op Josef.
Hulle pa, Jakob, was baie, baie lief vir Josef. Hy het dit gewys deur vir hom ’n pragtige lang kleed te laat maak. Toe Josef se 10 ouer broers sien hoe lief Jakob vir hom is, het hulle jaloers geraak en Josef begin haat. Maar daar was ook ’n ander rede hoekom hulle hom gehaat het.
Josef het twee drome gehad. In albei van Josef se drome het sy broers voor hom gebuig. Toe Josef vir sy broers van hierdie drome vertel, het hulle hom nog meer gehaat.
Terwyl Josef se ouer broers eendag hulle pa se skape opgepas het, vra Jakob vir Josef om te gaan kyk hoe dit met hulle gaan. Toe Josef se broers hom sien aankom, sê party van hulle: ‘Kom ons maak hom dood!’ Maar Ruben, die oudste broer, sê: ‘Nee, moenie dit doen nie!’ Hulle gryp toe vir Josef en gooi hom in ’n droë waterput. Toe gaan hulle sit om te besluit wat om met hom te doen.
Omtrent hierdie tyd kom ’n paar Ismaelitiese manne daar verby. Juda sê vir sy halfbroers: ‘Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete.’ En dit is wat hulle doen. Hulle verkoop Josef vir 20 silwerstukke. Hoe gemeen en wreed was dit tog!
Wat gaan die broers vir hulle pa sê? Hulle maak ’n bok dood en druk Josef se mooi kleed ’n hele paar keer in die bok se bloed. Dan neem hulle die kleed huis toe na hulle pa, Jakob, en sê: ‘Kyk wat het ons gekry. Is dit nie Josef se kleed nie?’
Jakob sien dat dit Josef s’n is. ‘’n Wilde dier moes Josef doodgemaak het’, roep hy uit. En dit is presies wat Josef se broers wil hê hulle pa moet dink. Jakob is baie, baie hartseer. Hy huil baie dae lank. Maar Josef is nie dood nie. Kom ons kyk wat met hom gebeur op die plek waarheen hy geneem is.