Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 39

Aäron se staf kry blomme

Aäron se staf kry blomme

KYK na die blomme en ryp amandels aan hierdie staf, of stok. Dit is Aäron se staf. Hierdie blomme en die ryp neute het in net een nag uit Aäron se staf gegroei! Kom ons kyk hoekom.

Die Israeliete trek nou al ’n hele ruk lank in die wildernis rond. Party mense dink nie dat Moses die leier moet wees of dat Aäron die hoëpriester moet wees nie. Korag is een van die mense wat so dink, en so ook Datan, Abiʹram en 250 leiers van die volk. Hulle kom almal na Moses toe en sê: ‘Hoekom hou jy jou belangriker as ons?’

Moses sê vir Korag en sy volgelinge: ‘Neem môre-oggend vuurbakke en sit reukwerk daarin. Kom dan na Jehovah se tabernakel toe. Ons sal sien wie Jehovah kies.’

Die volgende dag kom Korag en sy 250 volgelinge na die tabernakel toe. Baie ander kom saam om hierdie mans te ondersteun. Jehovah is baie kwaad. ‘Maak dat julle wegkom van die tente van hierdie slegte mans’, sê Moses. ‘Moenie aan enigiets raak wat aan hulle behoort nie.’ Die volk luister en gaan weg van die tente van Korag, Datan en Abiʹram.

Dan sê Moses: ‘Hieraan sal julle weet wie Jehovah gekies het. Die grond sal oopgaan en hierdie slegte mans insluk.’

Sodra Moses ophou praat, gaan die grond oop. Korag se tent en besittings en Datan en Abiʹram en almal saam met hulle val daarin, en die grond gaan oor hulle toe. Toe die volk die geskreeu hoor van die mense wat in die skeur val, roep hulle uit: ‘Hardloop! Die aarde sal ons miskien ook insluk!’

Korag en sy 250 volgelinge staan nog steeds naby die tabernakel. Toe stuur Jehovah vuur, en hulle word almal doodgebrand. Daarna sê Jehovah vir Aäron se seun Eleaʹsar om die vuurbakke van die dooie mans te vat en ’n dun oortreksel vir die altaar daarvan te maak. Hierdie altaaroortreksel moet vir die Israeliete ’n waarskuwing wees dat niemand behalwe Aäron en sy seuns priesters vir Jehovah mag wees nie.

Maar Jehovah wil baie duidelik wys dat dit Aäron en sy seuns is wat hy as priesters gekies het. Daarom sê hy vir Moses: ‘Laat ’n leier uit elke stam van Israel sy staf bring. Vir die stam van Levi moet Aäron sy staf bring. Sit dan al hierdie stawwe in die tabernakel voor die verbondsark. Die staf van die man wat ek as priester gekies het, sal blomme kry.’

Toe Moses die volgende oggend gaan kyk, het hierdie blomme en ryp amandels uit Aäron se staf gegroei! Sien jy nou hoekom Jehovah blomme uit Aäron se staf laat groei het?