Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 42

’n Donkie praat

’n Donkie praat

HET jy al ooit gehoor van ’n donkie wat kon praat? ‘Nee’, sê jy dalk. ‘Diere kan mos nie praat nie.’ Maar die Bybel vertel van ’n donkie wat gepraat het. Kom ons kyk hoe dit gebeur het.

Die Israeliete is amper gereed om in die land Kanaän in te gaan. Balak, die koning van Moab, is bang vir die Israeliete. Daarom laat hy ’n slim man met die naam Biʹleam kom om die Israeliete te vervloek. Balak belowe om vir Biʹleam ’n klomp geld te gee, en daarom klim Biʹleam op sy donkie en gaan hy na Balak toe.

Jehovah wil nie hê Biʹleam moet Sy volk vervloek nie. Daarom stuur hy ’n engel met ’n lang swaard om in die pad te staan en Biʹleam te keer. Biʹleam kan nie die engel sien nie, maar sy donkie kan. Daarom probeer die donkie aanhoudend om weg te draai van die engel af, en uiteindelik gaan lê dit in die pad. Biʹleam is baie kwaad en slaan sy donkie met ’n stok.

Dan laat Jehovah Biʹleam hoor hoe sy donkie met hom praat. ‘Wat het ek aan jou gedoen dat jy my slaan?’ vra die donkie.

‘Jy maak ’n gek van my’, sê Biʹleam. ‘As ek ’n swaard gehad het, het ek jou doodgemaak!’

‘Het ek jou al ooit voorheen so behandel?’ vra die donkie.

‘Nee’, antwoord Biʹleam.

Jehovah laat Biʹleam dan die engel met die swaard in die pad sien. Die engel sê: ‘Hoekom het jy jou donkie geslaan? Ek het gekom om jou te keer, want jy moet Israel nie gaan vervloek nie. As jou donkie nie van my af weggedraai het nie, sou ek jou doodgemaak het, maar ek sou nie jou donkie seergemaak het nie.’

Biʹleam sê: ‘Ek het gesondig. Ek het nie geweet dat u in die pad staan nie.’ Die engel laat Biʹleam gaan, en Biʹleam gaan na Balak toe. Hy probeer nog altyd om Israel te vervloek, maar in plaas daarvan laat Jehovah hom Israel drie keer seën.