Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 48

Die wyse Gibeoniete

Die wyse Gibeoniete

BAIE van die stede in Kanaän maak hulle nou klaar om teen Israel te veg. Hulle dink dat hulle kan wen. Maar die mense in die nabygeleë stad Giʹbeon dink nie so nie. Hulle glo dat God die Israeliete help, en hulle wil nie teen God veg nie. Weet jy wat die Gibeoniete nou doen?

Hulle besluit om dit te laat lyk asof hulle baie ver daarvandaan woon. Daarom trek party van die mans geskeurde klere en stukkende sandale aan. Hulle laai stukkende sakke op hulle donkies en vat ou, droë brood saam. Dan gaan hulle na Josua toe en sê: ‘Ons kom van ’n baie ver land af, want ons het van julle groot God, Jehovah, gehoor. Ons het gehoor van alles wat hy in Egipte vir julle gedoen het. Ons leiers het vir ons gesê om padkos te vat vir ’n reis en na julle toe te kom en te sê: “Ons is julle knegte. Belowe dat julle nie teen ons sal oorlog maak nie.” Julle kan sien dat ons klere stukkend is van die lang reis en dat ons brood oud en droog geword het.’

Josua en die ander leiers glo die Gibeoniete. Daarom belowe hulle om nie teen hulle te veg nie. Maar drie dae later vind hulle uit dat die Gibeoniete eintlik daar naby woon.

‘Hoekom het julle vir ons gesê dat julle van ’n ver land af kom?’ vra Josua hulle.

Die Gibeoniete antwoord: ‘Ons het dit gedoen omdat ons gehoor het dat julle God Jehovah belowe het om hierdie hele land Kanaän aan julle te gee. Daarom was ons bang dat julle ons sal doodmaak.’ Maar die Israeliete hou hulle belofte, en hulle maak nie die Gibeoniete dood nie. Hulle maak hulle eerder hulle knegte.

Die koning van Jerusalem is kwaad omdat die Gibeoniete vrede gemaak het met Israel. Daarom sê hy vir vier ander konings: ‘Kom help my om teen Giʹbeon te veg.’ En dit is wat hierdie vyf konings doen. Was dit wys van die Gibeoniete om met Israel vrede te maak, iets wat hierdie konings nou teen hulle laat kom veg? Ons sal sien.