Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 53

Jefta se belofte

Jefta se belofte

HET jy al ooit ’n belofte gemaak en dit later moeilik gevind om dit te hou? Dit is wat die man in hierdie prent gedoen het, en dit is hoekom hy so hartseer is. Die man is ’n dapper rigter van Israel. Sy naam is Jefta.

Jefta lewe in ’n tyd wanneer die Israeliete Jehovah nie meer aanbid nie. Hulle doen weer slegte dinge. Daarom laat Jehovah toe dat die mense van Ammon hulle sleg behandel. Dit laat die Israeliete tot Jehovah roep: ‘Ons het teen u gesondig. Red ons, asseblief!’

Die volk is jammer oor die slegte dinge wat hulle gedoen het. Hulle wys dat hulle jammer is deur Jehovah weer te aanbid. En daarom help Jehovah hulle weer ’n keer.

Die volk kies vir Jefta om teen die slegte Ammoniete te veg. Jefta wil baie graag hê dat Jehovah hom in die geveg moet help. Daarom belowe hy vir Jehovah: ‘As u vir my die oorwinning oor die Ammoniete gee, sal ek die eerste persoon wat uit my huis kom om my te verwelkom wanneer ek van die oorlog af terugkom, aan u gee.’

Jehovah luister na Jefta se belofte en help hom om die geveg te wen. Weet jy wie eerste uitkom om Jefta te verwelkom wanneer hy by die huis kom? Dit is sy dogter, sy enigste kind. ‘O, my dogter!’ roep Jefta uit. ‘Hoe hartseer maak jy my tog. Maar ek het ’n belofte aan Jehovah gemaak, en ek kan dit nie terugtrek nie.’

Wanneer Jefta se dogter van sy belofte hoor, is sy ook eers hartseer. Want dit beteken dat sy van haar pa en vriende sal moet weggaan. Maar sy sal Jehovah die res van haar lewe by sy tabernakel in Silo dien. Daarom sê sy vir haar pa: ‘As u ’n belofte aan Jehovah gemaak het, moet u dit hou.’

Daarom gaan Jefta se dogter na Silo toe, en sy dien Jehovah die res van haar lewe daar by sy tabernakel. Elke jaar gaan kuier die vroue van Israel vier dae lank daar vir haar, en hulle geniet hulle tydjie saam. Die volk is lief vir Jefta se dogter, want sy is so ’n goeie kneg van Jehovah.