Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 38

Die 12 spioene

Die 12 spioene

KYK na die vrugte wat hierdie mans dra. Kyk net hoe groot is daardie tros druiwe. Twee mans moet dit aan ’n paal dra. En kyk net die vye en die granate. Waar kom hierdie mooi vrugte vandaan? Uit die land Kanaän. Onthou, Kanaän is die plek waar Abraham, Isak en Jakob vroeër gewoon het. Maar omdat daar ’n hongersnood was, het Jakob en sy gesin na Egipte toe getrek. Nou, omtrent 216 jaar later, lei Moses die Israeliete terug na Kanaän. Hulle het by ’n plek in die wildernis gekom wat Kades genoem word.

Slegte mense woon in die land Kanaän. Daarom stuur Moses 12 spioene uit en sê vir hulle: ‘Vind uit hoeveel mense daar woon, en hoe sterk hulle is. Vind uit of die grond vrugbaar is. En bring tog van die vrugte saam met julle terug.’

Wanneer die spioene by Kades terugkom, sê hulle vir Moses: ‘Dit is regtig ’n goeie land.’ En om dit te bewys, wys hulle vir Moses van die vrugte. Maar 10 van die spioene sê: ‘Die mense wat daar woon, is groot en sterk. Hulle sal ons doodmaak as ons probeer om die land oor te neem.’

Die Israeliete is bang wanneer hulle dit hoor. ‘Dit sou beter gewees het as ons in Egipte of selfs hier in die wildernis doodgegaan het’, sê hulle. ‘Ons sal in die oorlog doodgemaak word, en ons vrouens en kinders sal gevang word. Kom ons kies ’n nuwe leier in die plek van Moses en gaan terug na Egipte toe!’

Maar twee van die spioene vertrou op Jehovah, en hulle probeer om die volk te kalmeer. Hulle name is Josua en Kaleb. Hulle sê: ‘Moenie bang wees nie. Jehovah is met ons. Ons sal die land maklik oorneem.’ Maar die volk luister nie. Hulle wil selfs vir Josua en Kaleb doodmaak.

Dit maak Jehovah baie kwaad, en hy sê vir Moses: ‘Nie een van die mense wat 20 jaar oud of ouer is, sal in die land Kanaän ingaan nie. Hulle het die wonderwerke gesien wat ek in Egipte en in die wildernis gedoen het, en nogtans vertrou hulle my nie. Daarom sal hulle 40 jaar lank in die wildernis rondtrek totdat die laaste een doodgaan. Net Josua en Kaleb sal in die land Kanaän ingaan.’