Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 62

Moeilikheid in Dawid se huis

Moeilikheid in Dawid se huis

NADAT Dawid in Jerusalem begin regeer het, laat Jehovah sy leër baie gevegte teen hulle vyande wen. Jehovah het belowe om die land Kanaän aan die Israeliete te gee. En nou, met Jehovah se hulp, het die hele gebied wat aan hulle belowe is, uiteindelik hulle s’n geword.

Dawid is ’n goeie koning. Hy het Jehovah lief. Daarom is een van die eerste dinge wat hy doen nadat hy Jerusalem oorgeneem het, om Jehovah se verbondsark soontoe te bring. En hy wil ’n tempel bou om die ark in te sit.

Wanneer Dawid ouer word, maak hy ’n groot fout. Dawid weet dat dit verkeerd is om iets te vat wat aan iemand anders behoort. Maar een aand, terwyl hy op die dak van sy paleis is, kyk hy af en sien ’n baie mooi vrou. Haar naam is Batʹseba, en haar man, Uriʹa, is een van sy soldate.

Dawid wil Batʹseba so graag hê dat hy haar na sy paleis toe laat bring. Haar man is nie daar nie, want hy maak oorlog saam met die soldate. Wel, Dawid slaap by haar, en later vind sy uit dat sy ’n baba verwag. Dawid is baie bekommerd en sê vir Joab, die hoof van sy leër, om Uriʹa heel voor in die geveg te sit waar hy doodgemaak sal word. Wanneer Uriʹa dood is, trou Dawid met Batʹseba.

Jehovah is baie kwaad vir Dawid. Daarom stuur hy sy kneg Natan om vir hom van sy sondes te vertel. Hier kan jy Natan met Dawid sien praat. Dawid is baie jammer oor wat hy gedoen het, en daarom maak Jehovah hom nie dood nie. Maar Jehovah sê: ‘Omdat jy hierdie slegte dinge gedoen het, sal jy baie moeilikheid in jou huis hê.’ En hoeveel moeilikheid het Dawid tog!

Eers gaan Batʹseba se seun dood. Dan sorg Dawid se eersgebore seun, Amnon, dat hy alleen saam met sy suster Tamar is en dwing haar om by hom te slaap. Dawid se seun Absalom is so kwaad hieroor dat hy Amnon doodmaak. Later maak Absalom hom baie gewild onder die volk en laat hy hom koning maak. Uiteindelik wen Dawid die oorlog teen Absalom, wat doodgemaak word. Ja, Dawid het baie moeilikheid.

Intussen het Batʹseba ’n seun met die naam Salomo. Wanneer Dawid oud en siek is, probeer sy seun Adoʹnia homself koning maak. Dan laat Dawid ’n priester met die naam Sadok olie op Salomo se kop gooi om te wys dat Salomo koning gaan wees. Kort daarna gaan Dawid dood wanneer hy 70 jaar oud is. Hy het 40 jaar lank regeer, maar nou is Salomo die koning van Israel.