Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 76

Jerusalem word vernietig

Jerusalem word vernietig

MEER as 10 jaar het verbygegaan nadat koning Nebukadneʹsar al die geleerdste Israeliete na Babilon toe geneem het. En kyk wat gebeur nou! Jerusalem word verbrand. Die Israeliete wat nie doodgemaak is nie, word as gevangenes na Babilon toe geneem.

Onthou, dit is wat Jehovah se profete gewaarsku het sou gebeur as die mense nie hulle slegte weë verander nie. Maar die Israeliete het nie na die profete geluister nie. Hulle het aangehou om valse gode te dien in plaas van Jehovah. Daarom verdien die mense om gestraf te word. Ons weet dit, want God se profeet Eseʹgiël vertel vir ons van die slegte dinge wat die Israeliete gedoen het.

Weet jy wie Eseʹgiël is? Hy is een van die jong mans wat koning Nebukadneʹsar meer as 10 jaar voor hierdie groot vernietiging van Jerusalem na Babilon toe geneem het. Daniël en sy drie vriende, Sadrag, Mesag en Abedneʹgo, is gedurende dieselfde tyd ook na Babilon toe geneem.

Terwyl Eseʹgiël nog in Babilon is, wys Jehovah vir hom die slegte dinge wat by die tempel in Jerusalem gebeur. Jehovah doen dit deur ’n wonderwerk. Eseʹgiël is eintlik nog in Babilon, maar Jehovah laat hom alles sien wat by die tempel gebeur. En die dinge wat Eseʹgiël sien, is skokkend!

‘Kyk na die gruwelike dinge wat die mense hier by die tempel doen’, sê Jehovah vir Eseʹgiël. ‘Kyk, oral op die mure is prente van slange en ander diere. En kyk hoe aanbid die Israeliete hulle!’ Eseʹgiël kan hierdie dinge sien, en hy skryf neer wat gebeur.

‘Sien jy wat die Israelitiese leiers in die geheim doen?’ vra Jehovah vir Eseʹgiël. Ja, hy kan dit ook sien. Daar is 70 mans, en hulle aanbid almal valse gode. Hulle sê: ‘Jehovah sien ons nie. Hy het uit die land weggegaan.’

Dan wys Jehovah vir Eseʹgiël ’n klompie vroue by die noordelike poort van die tempel. Hulle sit daar en aanbid die valse god Tammus. En kyk na die mans by die ingang van Jehovah se tempel! Daar is omtrent 25 van hulle. Eseʹgiël sien hulle. Hulle buig na die ooste toe en aanbid die son!

‘Hierdie mense het geen respek vir my nie’, sê Jehovah. ‘Hulle doen nie net slegte dinge nie, maar hulle kom doen dit hier by my tempel!’ Daarom belowe Jehovah: ‘Hulle sal uitvind hoe kwaad ek is. En ek sal hulle nie jammer kry wanneer hulle vernietig word nie.’

Dit is net omtrent drie jaar nadat Jehovah hierdie dinge vir Eseʹgiël gewys het dat die Israeliete teen koning Nebukadneʹsar rebelleer. Daarom gaan veg hy teen hulle. Ná ’n jaar en ’n half breek die Babiloniërs deur die mure van Jerusalem en verbrand hulle die hele stad. Die meeste mense word doodgemaak of as gevangenes na Babilon toe geneem.

Hoekom het Jehovah toegelaat dat hierdie verskriklike vernietiging oor die Israeliete kom? Dit is omdat hulle nie na Jehovah geluister het nie en sy wette nie gehoorsaam het nie. Dit wys hoe belangrik dit is dat ons altyd doen wat God sê.

Aan die begin word ’n paar mense toegelaat om in die land Israel te bly. Koning Nebukadneʹsar stel ’n Jood met die naam Gedalʹja oor hierdie mense aan. Maar dan vermoor ’n paar Israeliete vir Gedalʹja. Die mense is nou bang dat die Babiloniërs hulle almal sal kom vernietig omdat hierdie slegte ding gebeur het. Daarom vlug hulle na Egipte toe, en hulle dwing Jeremia om saam met hulle te gaan.

Nou is daar glad nie meer mense in die land van Israel oor nie. Sewentig jaar lank woon niemand in die land nie. Dit is heeltemal leeg. Maar Jehovah belowe dat hy sy volk ná 70 jaar na die land sal terugbring. Wat gebeur intussen met God se volk in die land Babilon waarheen hulle geneem is? Kom ons kyk.