Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 74

’n Man wat nie bang is nie

’n Man wat nie bang is nie

KYK hoe spot die mense met hierdie jong man. Weet jy wie hy is? Dit is Jeremia. Hy is ’n baie belangrike profeet van God.

Kort nadat koning Josiʹa begin het om die afgode uit die land te vernietig, sê Jehovah vir Jeremia om Sy profeet te wees. Jeremia dink dat hy te jonk is om ’n profeet te wees. Maar Jehovah sê dat Hy hom sal help.

Jeremia sê vir die Israeliete om op te hou om slegte dinge te doen. ‘Die gode wat die mense van die nasies aanbid, is valse gode’, sê hy. Maar baie Israeliete wil liewer afgode aanbid as om die ware God Jehovah te aanbid. Wanneer Jeremia vir die volk sê dat God hulle gaan straf omdat hulle sleg is, lag hulle net vir hom.

Jare gaan verby. Josiʹa gaan dood, en drie maande later word sy seun Joʹjakim koning. Jeremia sê oor en oor vir die volk: ‘Jerusalem gaan vernietig word as julle nie julle slegte weë verander nie.’ Die priesters gryp Jeremia en roep uit: ‘Jy behoort doodgemaak te word omdat jy hierdie dinge sê.’ Dan sê hulle vir die vorste van Israel: ‘Jeremia moet doodgemaak word, want hy sê slegte dinge van ons stad.’

Wat gaan Jeremia nou doen? Hy is nie bang nie! Hy sê vir hulle: ‘Jehovah het my gestuur om hierdie dinge vir julle te sê. As julle nie julle slegte lewenswyse verander nie, gaan Jehovah Jerusalem vernietig. Maar hiervan kan julle seker wees: As julle my doodmaak, sal julle iemand doodmaak wat niks verkeerds gedoen het nie.’

Die vorste laat Jeremia lewe, maar die Israeliete verander nie hulle slegte weë nie. Later kom veg Nebukadneʹsar, die koning van Babilon, teen Jerusalem. Uiteindelik maak Nebukadneʹsar die Israeliete sy knegte. Hy neem duisende van hulle na Babilon toe. Dink net hoe dit sal wees as vreemde mense jou van jou huis af na ’n vreemde land wegneem!